Selfs ná byna vier dekades in Gauteng was Danny Titus steeds in murg en been ’n Wes-Kapenaar wat sy vroeë opvoeding by die ou dae se kerkskole op sy geboortedorp Worcester ontvang het en sport en toneelspel beoefen het.
Dié dorp, is hulle op skool geleer, is in 1820 gestig en was omring deur “majestueuse” berge. “Majestueuse” was ’n woord só beskrywend mooi wat hy nooit sou vergeet nie. Taal het het sy lewe lank sy hartsnoere geroer.
Die dorp sou in sy DNS bly, en telkens wanneer hy karre met die CW-registrasienommer in sy nuwe noordelike tuiste gesien het, was daar iets wat hom sou pluk na die plek van sy grootword.
Maar politieke ontwaking het hom ook onder die indruk gebring dat hy op ’n Bolandse dorp opgegroei het met ’n totale naïwiteit van wat in jou onmiddellike omgewing gebeur – totdat jy later begin besef daar is ’n ding soos apartheid rondom jou.
Geworteldheid was in sy DNS.
Maar eweneens het Nederland, en die Nederlandse taal, weens sy sewe jaar of so se verblyf daar, ’n ewige vastrapplek in sy diepste wese gekry. Hierheen het hy aan die begin van die negentigerjare uitgewyk vir verdere studie nadat hy sowat ’n dekade vroeër sy LLB-graad (in 1982) aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal het en die jaar daarna as ’n advokaat tot die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat is.
In Nederland het hy in 1991 sy Doctorandus Juris (LLM) aan die Rijksuniversiteit Leiden verwerf, en in 1993 ’n sertifikaat in internasionale verhoudinge en diplomatieke praktyk aan die Clingendael International Relations Institute in Den Haag behaal. Dit was ter voorbereiding van ’n moontlike loopbaan in Suid-Afrika se ná-apartheid diplomatieke diens, ’n geleentheid wat hom egter altyd sou ontwyk.
Die verwerwing van sy doktorsgraad in die regte (LLD), ook aan die Rijksuniversiteit Leiden, het die weg voorberei vir ’n rol in die akademie en uiteindelik tog ook, hoewel ompad langs, ’n betrokkenheid in internasionale verhoudinge en diplomatieke praktyk in strukture van die Verenigde Nasies vir die belange van inheemse volkere. Die titel van sy doktorale verhandeling was dus nie verniet “The applicability of the international norms of human rights to the South African legal system – with specific reference to the South African Judiciary” nie.
Menseregte was waarvoor hy hom ook later as ’n kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sou beywer; bepaald ook as stigtersvoorsitter van die DAK Netwerk, ’n organisasie vir agtergestelde Afrikaanssprekende gemeenskappe met ’n naam wat ontleen is aan die Khoisan-ikone Doman, Autshomao en Krotoa, laasgenoemde deur die Nederlandse kolonialiste herdoop tot Harri die Strandloper en Eva.
Maar veel soos wat hy gewalg was deur die vergrype – identiteitsroof en uitwissing – waaraan die inheemse groeperinge in Suid-Afrika gedurende die Nederlandse besetting (en ook dié deur die Britte) onderwerp is, het dit hom nie verbitterd gelaat nie, maar eerder weetgierig(er). Hy wou meer weet, verstaan, begryp, om dit vir homself te ontleed en ander daarvan te vertel deur sy rubrieke op nuusplatforms en in praatjies en toesprake.
Hiervoor sou hy boeke soos Bart de Graaff se Ware mense (oor die afstammelinge van die Khoi-Khoin – die “ware mense” van suidelike Afrika) opslurp; ook die lywige Good Hope – South Africa and the Netherlands from 1600, saamgestel deur Martine Gosselink, Maria Holtrop en Robert Ross vir die Rijksmuseum; en mees onlangs nog het hy in gesprekke sy opgewondenheid gedeel oor sy ontdekking van Ewald Vanvlugt se Roofstaat – Wat iedere Nederlander moet weten oor “de gruweldaden van Nederland door de jaren heen”. Dit is deur de Volkskrant ’n “belangwekkende radicale herschrijving van de vaderlandse geschiedenis” genoem en hy het hom hieraan “verkneuter”.
“Verkneuter” was een van sy gunstelingwoorde in die Nederlandse taal. Dit sou hom ook altyd goed te pas kom dat hy, naas sy moedertaal Afrikaans en Engels, ook Nederlands bemeester het ten tye van sy verblyf in Nederland.
Net so het hy hom dan vroeër verkneuter aan my aanhaling in ’n Nuusvinke-bydrae van ’n spesifieke verwysing na “ruiltransaksies” in Good Hope, waarvan ek ’n eksemplaar by hom geleen het, naamlik dat die vroeë Europese ontdekkingsreisigers die Khoekhoe met tabak en brood omgekoop het om vir hulle te dans – én hul private dele te ontbloot. “Kutkykum” was dit genoem. “Jy kan dit nog hou,” e-pos hy agterna. “Veral omdat jy die intimiteite nie kon weerstaan nie.”
’n Ondeundheid wat vir baie dalk verberg was agter sy ernstige omgaan met kwessies wat met kultuur en erfenis en ménse te make het, word hier blootgelê. Dié wat hom goed geken het, het ook sy selfspot gewaardeer. Dit was in sy glimlag én in sy intense kyk gesetel – en dat dit toe ’n operasie aan sy oë was wat hom uiteindelik sou verhoed om sy leeswerk voort te sit, sy hart laat staan het, sy einde beteken het.
Maar ek kan my indink hoe hy dit sou geniet het om ’n nuwe boek, plaaslik deur Tafelberg uitgegee, onder hande te neem. In The lie of 1652 deur Patric Tariq Mellet word korte mette gemaak met talle van die konvensionele waarhede oor die geskiedenis van wat sedert die vroegste tye afgespeel het in die skadu van die “Tafel Bergh”, wat Hoerikwaggo deur die Khoisan gedoop is. Soos dat dit nooit ’n niemandsland was soos wat die oorspronklike Europese seevaarders en Nederlandse aankomelinge dit wou hê nie. Dit was in werklikheid, sou ’n mens deur ’n woordspeling kon sê, ’n iemandsland.
Oor sy eie (omgekeerde) “ontdekkingstog” na Nederland sou hy liries raak as hy terugdink aan die genotvolle ervarings daar met sy jong gesin, soos geïllustreer deur die foto’s in ’n TV-profiel uit 2019. Wat hom wel die meeste sou bybly van sy tydelike aangenome tuiste, was “die vryheid van denke” wat hy daar ervaar het; “die ruimte wat daar was om jou opinies te kon huldig”.
Die Hollanders is “mense wat vir jou sê”, vertel hy aan die onderhoudvoerder asof hy op ’n manier sy eie postuur en ruimdenkendheid beskrywe: “We hebben ’n klein land, maar ’n grote buiteland.”
Wat ’n vriend had Nederland in Danfred James Titus, gebore 19 Mei 1957 en heengegaan op 18 September 2020.
Buro: MvH