Die Afrikaanse filmbedryf sedert 2010: Beteken meer ook beter?

  • 0

Suid-Afrika se filmbedryf is een van die oudstes ter wêreld. ’n Skrale vier jaar ná die Lumière-broers hul kinematograaf in 1895 gepatenteer het, is die eerste beduidende filmopnames reeds hier gemaak, hoewel oor ’n neerdrukkende onderwerp: die slagvelde van die Anglo-Boereoorlog. Die eerste Afrikaanse film was De Voortrekkers (1916), met dialoog in Afrikaans en Nederlands op flitskaarte:

Sedertdien het die Afrikaanse filmbedryf bestendig gegroei tot sy hoogtepunt van 129 vrystellings in die dekade vanaf 1970. Die meeste films wat in ’n enkele jaar vrygestel is, was 23 in 1975 – feitlik twee per maand! Dié hoogbloei het egter getaan ná die koms van televisie in 1976. Dit was ook die jaar van die Soweto-opstande teen die afdwing van Afrikaans as onderrigtaal in swart skole, wat die begin van die einde vir die apartheidsregering ingelui het.

Die 1980’s was ’n uiters onstuimige tydperk in Suid-Afrika, met die verskerping van die oorlog aan die Namibiese grens sowel as ’n laegraadse burgeroorlog in die land se townships wat gelei het tot die afkondiging van twee noodtoestande soos wat die Nasionale Party verbete aan sy magsposisie probeer klou het. Die getal Afrikaanse filmuitreikings het gedaal tot 32, waarvan net een werklik noemenswaardig was: Fiela se kind (1988), die regiedebuut van Katinka Heyns, gebaseer op die topverkoperroman deur Dalene Matthee.

Die 1990’s het die bevryding van Nelson Mandela en die eerste demokratiese verkiesing in 1994 meegebring, maar in dié dekade het dit waarlik beroerd gegaan met Afrikaanse films, met slegs 12 nuwe uitreikings. Die enigste ligpunte was weer te danke aan Heyns, wat saam met haar man, Chris Barnard, as draaiboekskrywer twee pragprente gelewer het: Die storie van Klara Viljee (1992) en Paljas (1997). Laasgenoemde was die eerste Afrikaanse film wat vir die Oscars se kategorie beste buitelandse film ingeskryf is.

Hierdie droewe fliekdroogte het voortgeduur in die dekade vanaf 2000, met net 13 uitreikings. Volgens die gevierde filmresensent Leon van Nierop was slegs twee daarvan noemenswaardig: Skilpoppe (2004) en Ouma se slim kind (2006). Die Afrikaanse filmbedryf het dus geval van sy 1975-hoogtepunt van feitlik twee films per maand tot skaars meer as een film per jaar – en dié laagtepuntfase het 20 jaar voortgeduur!

Bostaande verteenwoordig ’n gemiddelde kyk na die stand van sake; in werklikheid het die situasie reeds teen 2007 begin verbeter, met twee nuwe uitreikings, gevolg deur drie in 2008 en vier in 2009. Teen 2010 was dit duidelik dat die gety uiteindelik gedraai het, met agt vrystellings, onder meer Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, gegrond op die jeugroman deur Marita van der Vyver, en Susanna van Biljon met die rock-ster Karen Zoid in die hoofrol.

Die 2010-fliekjaar is egter oorskadu deur twee uiteenlopende films: Skoonheid en Liefling: die movie. Laasgenoemde was ’n soort herlewing van die musiekprent wat so gewild was in die 1950’s, en dit het tot 2015 die rekord gehou as die Afrikaanse topverkoper by die loket met ’n inkomste van R14 miljoen (sien voetnoot). Skoonheid, wat met sy gaytema en eksplisiete verkragtingstoneel beskou kan word as die eerste ernstige kunsfilm in Afrikaans, is by Cannes met die Queer Palm Award bekroon.

Dis ironies dat die herlewing van die Afrikaanse filmbedryf aangehelp is deur dieselfde faktor wat dit byna gekelder het, naamlik televisie. In 2011 stig kykNET, die Afrikaanse arm van die betaalkanaal M-Net, onder leiding van Karen Meiring die Silwerskermfees, ’n wyse en versiende belegging in die ontwikkeling van nuwe talent in die bedryf. Ná die fees se piepklein begin word die kortfilmprojek in 2012 geloods met tien films van ongeveer 25 minute elk, deur kykNET befonds. Dié projek word ’n behoorlike broeikas vir die bedryf, met ’n opwindende hoeveelheid kruisbestuiwing tussen nuut en ervare, jonk en oud, beginner en veteraan. Soos Jan du Plessis, direkteur van M-Net-kanale, dit stel: “Vir ons is Silwerskerm nie net ’n fees nie, dis ’n kreatiewe beweging.” In die eerste twee jaar van die kortfilmprojek is daar nog heelwat dowwe kolle, maar vanaf 2014 styg die gehalte konsekwent, en teen 2017 het die projek uitgebrei na 20 films van 12 en 24 minute lank (10 in elke kategorie). Daarby word die Silwerskermtoekennings in 2014 ingestel, Suid-Afrika se eerste volwaardige Afrikaanse-film-toekennings.  

Regisseur Katinka Heyns sorg in 2012 vir ’n film van internasionale gehalte met Die wonderwerker, oor die begaafde skrywer Eugène Marais. Ander noemenswaardige films uit dié jaar se agt vrystellings is die romantiese komedie Semi-soet (’n lokettreffer met ’n verdienste van R9,6 m) en die baie vermaaklike Fanie Fourie’s lobola. 2013 lewer 16 nuwe films op, maar die enigste werklik uitstaande een is die dokumentêr Ek, Afrikaner deur Annalet Steenkamp, met Lien se lankstaanskoene en Musiek vir die agtergrond wat ook die kyk werd is.

In 2014 daal die aanbod na tien films, met die romantiese Pad na jou hart wat die loket verower (R12,4 miljoen). Konfetti, oor ’n troue waarop alles verkeerd loop, wys nogmaals hoe goed Afrikaanse komedie kán werk.

2015 sorg vir ’n uitsonderlike fliekjaar, met 18 vrystellings, die belangrikste daarvan Abraham deur Jans Rautenbach, ná ’n regisseurstilte van 30 jaar. Rautenbach, wat in die laat 1960’s gesorg het vir polities betrokke werk soos Die kandidaat en Katrina, bied met Abraham ’n indringende blik op die onreg en ellende van apartheid, terwyl dit as kunsfilm kan saampraat met van die bestes in die wêreld. Net soveel lof verdien Dis ek, Anna, die skrynende verhaal van ’n jong meisie wat deur haar stiefpa gemolesteer word. Op ’n ligter noot was daar Hollywood in my huis, oor ’n matriekmeisie wat droom van ’n lewe soos Charlize Theron s’n.  

2016 bied die beste fliekjaar van die nuwe bedeling, met 18 vrystellings wat ’n wonderlike verskeidenheid verteenwoordig, die mees uitstaande daarvan die aangrypende drama Sink. Die res wissel van ’n donker komedie (’n Pawpaw vir my darling), ’n gangsterfliek (Noem my Skollie) en ’n historiese sportdrama (Modder en bloed) tot die romantiese treffers Vir altyd (wat met R15,9 miljoen Afrikaans se grootste loketverdiener is) en Vir die voëls.

In 2017 daal die fliekaanbod tot 12, waarvan vier noemenswaardig is: die dramas Tess, Johnny is nie dood nie en Vaselinetjie, en die heerlike aksiekomedie Vuil wasgoed, wat uit die bekroonde kortfilm by die 2014-Silwerskermfees ontwikkel het.

Die afgelope agt jaar het 96 Afrikaanse films opgelewer, wat uitwerk op ’n gemiddeld van een per maand. Dit is weliswaar net die helfte van die bedryf se 1975-hoogtepunt, maar die standaard én verskeidenheid is beduidend hoër. Beste-lyste is uiteraard subjektief, maar ’n mens sou met gemak agt van dié oes kon uitsonder as swaargewig films, een vir elke jaar – en vir ’n klein bedryf in ’n klein taalgemeenskap, wat boonop naas die wêreldtaal Engels ’n eie plek probeer handhaaf, is dit geen geringe prestasie nie.

Voetnoot:

Loketinkomste is bepaal volgens die totale dollarwaarde wat op die webruimte Box Office Mojo vir die spesifieke film gelys is, bereken volgens die gemiddelde rand-dollar-wisselkoers vir die betrokke jaar, met die bedrag in rand afgerond.

Bronne:

Daar doer in die fliek deur Leon van Nierop; Internet Movie Database; Box Office Mojo; Silwerskermfeesgidse

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top