Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.
- Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850” (2012) deur Archie Dick. In hierdie artikel word meer vertel van die eerste Moslemskool, koplesboeke, imam Tuan Guru, die verspreiding van Islam, ghoemaliedjies en Arabies-Afrikaanse skrifte.
Die Kaapse Moslemgemeenskap en Arabiese Afrikaans
Max du Preez het in sy bespreking verwys na twee historiese figure in die Kaapse Moslem-gemeenskap wat prominente rolle in die vestiging van die Arabiese Afrikaanse skryftradisie in die Bo-Kaap gespeel het: imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, oftewel Tuan Guru (“Mister Teacher”), en Abu Bakr Effendi.
Om hulle prominente rol binne historiese konteks te plaas, volg hier ’n kort bespreking van die geskiedenis van die vestiging van die Kaapse Moslemgemeenskap in die Bo-Kaap. Arabiese Afrikaans word ook bespreek.
- Die Kaapse Moslemgemeenskap
In 1658 het die VOC slawe na die Kaap gebring; so het die eerste groep Moslems in die Kaap aangekom. Die Bo-Kaap se oorwegend Moslem-gemeenskap was teen die 1930’s goed gevestig.
- Wat is Arabiese Afrikaans?
Volgens Achmat Davids is Arabiese Afrikaans die Kaapse Moslem-variëteit van Kaapse Afrikaans (’n gekreoliseerde Nederlands) wat in Arabiese skrif geskryf is. Teen 1815 het Afrikaans Maleis as die onderrigtaal in Moslemskole (madrassas) vervang, en teen die 1840’s was Arabiese Afrikaans in hierdie skole goed gevestig as onderrigmedium.
- Wie was Tuan Guru?
Tuan Guru, ’n prins van die Ternate-eilande in Oos-Indonesië, is in 1780 as politieke banneling na die Kaap gebring. Hy was vir 13 jaar ’n gevangene op Robbeneiland (in die 1770’s het hy die sogenaamde Nederlandse indringers in Indonesië teengestaan). Tydens sy aanhouding het hy die Koran uit sy geheue geskryf. Hy het ook ’n manuskrip in 1781 hier saamgestel: die Ma`rifat al-Islām wa ’l-Imān was die hoofhandboek van die eerste Moslemskool (sien onderstaande paragraaf) en was ’n prominente godsdienstige teks onder die Kaapse Moslem-gemeenskap tydens die 19de eeu.
In 1793 het Tuan Guru die eerste Moslemskool (Dorp Street Madrasah) gestig. Hy was die eerste imam van hierdie eerste opvoedkundige instelling van die Kaapse Moslems. Hy het gevolglik die eerste moskee, die Auwal-moskee, in 1795 gestig weens die groei in studentegetalle. Die skool en moskee was die eerste instellings van die Kaapse Moslem-gemeenskap. Teen 1842 was Islam die godsdiens van ’n derde van die bevolking in Kaapstad.
Tuan Guru is begrawe in die Tana Baru-begraafplaas in die Bo-Kaap. Tana Baru is die oudste Moslem-begraafplaas. Ook Abu Bakr Effendi is hier begrawe.
- Wie was Abu Bakr Effendi?
Abu Bakr Effendi, ’n teoloog gebore in Turkse Koerdistan, het Uiteensetting van die godsdiens geskryf. Hierdie 1869-teks is ’n Kaaps-Hollandse vertaling van Bayān al-Dīn (Exposition of the religion) en is binne die Kaapse Moslem-gemeenskap versprei. Effendi is in 1862 deur die Kaapse regering na die Kaap gebring as ’n godsdienstige raadgewer (rakende meningsverskille tussen plaaslike imams in die Kaapse howe). Effendi se boek is die eerste gepubliseerde Arabiese Afrikaanse boek. Hierdie boek is in 1869 voltooi en in 1877 in Turkye gedruk.
Lees ook op LitNet en Voertaal:
- Afrikaans: the language of dissent
- Afrikaans: 10 kitsfeite
- Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!
- Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"
- Die vrystelling van slawe, uit die argief: Ons slawe-erfenis – 'n Foto-toer
Bronne
- Bo-Kaap Museum
- Davids, Achmat. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims. Pretoria: Protea Boekhuis.
- Gosselink, Martine, Maria Holtrop en Robert Ross (reds). Good Hope: South Africa and the Netherlands from 1600. Rijksmuseum, Vantilt Publishers, 2017.
- Jansen, Ena. “Afrikaans: a language on the move.” In Good Hope: South Africa and the Netherlands from 1600, geredigeer deur Martine Gosselink, Maria Holtrop en Robert Ross, ble 335–43. Rijksmuseum: Vantilt Publishers, 2017.
- Odendaal, Beatrix Gertruida. “Die herstandaardisering van Afrikaans: ’n Praktiese benadering met die AWS as gevallestudie.” Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch, 2012. SUNScholar. https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/71820.
- Van Rensburg, Christo. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa, 2012.