Die dans van die diere van die Kamdeboo

  • 0

Die Oos-Kaap

Oos-Kaap se pragtige landskappe rondom en in Graaff-Reinet is nie net die tuiste van die Vallei van Verlatenheid en mooi historiese geboue nie. Hier op ’n wildreservaat sowat 53 km buite die dorp is ’n familie stadig maar seker besig om die natuur tot sy voormalige glorie te herstel en dit boonop met groot elegansie en luuksheid te vermag.

Ons ry die paar uur van die Dawid Stuurman-lughawe in Gqeberha af. Daar is ’n Mark vir die Huisvrou op Jansenville en ek brand om te weet wat alles daarin is. Laat dink my aan daardie advertensies van die vyftigs en sestigs, toe huisvrou-wees die oorheersende tema in elke tydskrif was.

Dramaties mooi

Links van ons gaan die son effe dikbek en triesterig in die verte oor die Vallei van Verlatenheid onder. Ons swenk links weg na Samara Karoo-reservaat en binne die eerste grensdrade van die reservate wat hier in die klowe lê, staan drie koedoes met ore wat soos groot pierings vorentoe gedraai is. “Wil ook niks mis nie,” kom dit ewe kordaat van agter in ons kombi.

Daar is ook ’n paar Ludwigse poue wat geruisloos oor die lang geel gras – wat soos eindelose koringlande tussen die doringbome uitstrek – vlieg. Later in my kamer sal ek lees dis ’n bedreigde spesie en ons was gelukkig om hulle in vlug te sien. Daar is vlieswolkies wat vaalwit teen die blou hemel vasklou. Die koue kom sit op my knieë soos ’n stout, onwelkome kind.

Ons verwelkomingskomitee

Hekke deur, en vyf kameelperde is ons verwelkomingskomitee neffens die pad. Hulle is só rustig en verpoos vir ’n wyle teen die vaal grondpad dat ons stadsjapies ons eerste onhandige foto’s kan neem. Die atmosfeer in die voertuig het verander: Ons oë fokus nie meer op verkeer en rigtingaanwysers nie, maar kyk eerder stip vir wild.

’n Drinkdingetjie

Toe ons voor die lieflike Manor stilhou, verwelkom ’n rytjie paraffienlampies, ’n vriendelike glimlag, ’n warm lappie om die koue te verdryf en ’n drinkdingetjie ons. Die kaggel brand, die kos is uit die boonste rakke en die wynlys stel nie teleur nie.

Salig

Maar ons is moeg van die vlugte en reis. Na aandete verkas almal kamer toe. Ek steek ’n kers aan, bring ’n glas wyn en tap ’n bad. Die stilte suis in jou ore.

So hoort dit

Na dié deeglike skoon week maak ek tee en gaan sit in die pikdonker op my stoep. Hoe raar om geen ligte te sien nie. ’n Uil roep iewers in die verte.

Lekker slaap

Mens voel hoe jou ou bekende self weer terugklim in jou vel. Die gestreste, gejaagde jy het iewers op die lughawe soos verlore bagasie verdwyn.

Vroegoggend

Die volgende oggend met die eerste lig is ek op my stoep. Koffie en beskuit en voëlgeluide. Die koppies in die verte met bome en savanna tot aan hul voete maak ’n mooi skildery. Die veld is bedrieglik stil tot ’n koedoe geruisloos agter die lae elektriese heining verbyloop. Ek het die vorige aand gehoor voëlsang is verder hoorbaar as daar baie vog in die lug is.

Die windjie wat die peperboom se takke laat wieg, bedaar en die bewolktheid wyk. Die dag het waarlik begin.

Ons kry elkeen ’n Karoobossietakkie.

Ek kan nou hier net bloot vertel dat jy elke oggend voor sonop en elke aand voor sononder met twee baie bekwame gidse, Christiaan Swanepoel en sy verkenner, Elroy Pietersen, kan veld toe gaan. Ervaar hoe hulle hul kennis oor die veld en sy biome en sy reënval en die wilde diere deel. Christiaan noem Elroy Klippies, “want hy is ons rots. Hy is ons klippers. Hy is tough.” Die kameraderie tussen die jonger man en sy ouer metgesel, is deerniswekkend. Christiaan het ’n pragtige bry. Hy sê sy “r” is gebreek. Ons almal eet uit sy hand, want hy is ingelig, snaaks en selfversekerd.

Samara is baie ryk aan voëlspesies.

Hy en Klippies noem tarentale “wilde Nando’s” en vlakvarke is “Pumbas” en hul kleintjies is “bacon bits”. Die twee se waarnemingsvermoë is vlymskerp en hul veldkennis verbysterend. Jy moet jou nie deur die gekorswel laat mislei nie. Jy is in goeie hande in die veld as jy saam met hierdie tweemanskap gaan verken.

Christiaan Swanepoel en Elroy Pietersen

Daar is ook ander wild te sien, waaronder die swart renosters wat in 2013 hier hervestig is, die olifante wat in 2017 en die leeus wat in 2019 weer hier vrygelaat is – sowat 130 jaar nadat hulle laas hierdie vlaktes bewoon het.

Pret

Ek kan vertel hoe die bestuurder, Marnus Ochse, wat al vir agt jaar hier werk, se oë blink as hy vertel dat met elke nuwe wilde dier wat hier hervestig word, dele van die ekosisteem heeltemal herstel – sonder veel ingryping. Aasvoëls is een groot hoop. Die voëls kom net terug as die ekosisteem gunstig is vir hul oorlewing.

“Samara se storie is dié van ’n passievolle projek om wild te hervestig wat in 1997 begin het. Samara se stigters, Mark en Sarah Tompkins, is geïnspireer deur die verhale van ’n lank verlore Karoo – ’n wildernis waarin miljoene springbokke vroeër gewei het, die nou uitgestorwe kwagga rondgeloop het en die swartmaanhaar Kaapse leeu koning was. Die verlies van hierdie biodiversiteit deur jag, vee-oorbeweiding en ander menslike aktiwiteite het ’n reuse uitdaging voor ons voete kom lê: Kan die Karoo na sy voorheen wilde toestand herstel word?

Marnus vertel van groot drome wanneer die vlaktes van die Kamdeboo weer oortrek sal wees met duisende bokke – die suidpunt van Afrika se eie Serengeti. “Dis hoe dit eeue gelede was. As ons al die grensdrade wegneem en boere saamstaan in die projek, kan ons weer daardie getalle en wildskouspel hier kry.”

Ek kan vertel van die lekkerte van ’n warmwatersak en lieflike ponchoagtige jassie wat breistof aan die binnekant het, wat jou lyf teen die ysige windjie beskerm. Die stop vir koffie en beskuit in die veld, of die sonsaksopies laatmiddag terwyl die son patrone teen die hemele verf met die berge wat waghou. Tandjiesberg met sy skurwe tandjies in die verte; anderkant die Samarabordjie vir die herehuis wink die Sneeuberge op 2 000 m. Hoog en dramaties. Of die Amarula-koffie by die uitkykpunt sowat 1 390 m bo seespieël wat as Eagle Rock bekend is.

Peter Afrika wag ons in die veld in met yskoue drankies, ’n waskom en beker vir “handjieswas” voor ontbyt.

Van ontbyt op ’n hoë plato met ’n uitkykpunt waar dit voel asof jy verder as die horison kan sien. Waar ’n waskom met water en seep en iemand wat met ’n handdoek en handeroom wag die natuurlikste ding op ’n oggend in die veld is. Van blikkies met varsgebakte ontbytgoete en yskoue vonkelwyn en vrugtesap, terwyl die sonnetjie op jou rug bak en die windjie jou kuif liggies roer. Luuksheid, maar altyd met jou voete plat op Moeder Aarde, sodat jy die Karoo kan ruik en beleef.

Die stilte is orals.

Christiaan vertel van die Karoo, want daar is mense van ver af op die voertuig: “Dis ’n uitgestrekte semiwoestyn wat oor byna 400 000 km² (’n gebied groter as Duitsland) oor vier provinsies strek. Die Karoo word in ongeveer twee dele, die Groot Karoo in die noordooste en die kleiner Klein Karoo in die suidweste, verdeel. Samara Karoo-reservaat lê in die Groot Karoo op die kruispunt van vyf van Suid-Afrika se nege biome. Dit is hierdie verstommende diversiteit van topografieë, plantegroei en dorheidsaangepaste wild wat Samara uniek maak, en onmiskenbaar anders as ander Oos-Kaapse wildreservate.

Elroy luister waar hy die jagluiperds se halsbande kan hoor biep.

“Bergspitsgrasvelde, soortgelyk aan ’n mini-Serengeti, is vermeng met digte spekboombedekte valleie, kronkelende rivierstelsels en plat vlaktes met bergpieke om een ​​van Suid-Afrika se mees diverse safaribestemmings te skep.”

Die jagluiperds

Samara bestaan uit 14 000 hektaar waar gevaarlike diere loop en 13 000 waar geen roofdiere is nie.

Dis altyd lekker as daar nuwelinge op die voertuig is. Hulle kyk met ander oë na die natuur en maak mens weer nederig. Jy hoef nie leeus en renosters te sien om te besef hoe bevoorreg jy is om ure in die veld deur te bring nie.

Terug by die ervaring: Ek kan ook swymelend vertel van lampies by die swembad as jy vroegaand sou wou gaan afkoel; die gawe personeel wat saans nie net briefies en sjokolade op jou kussing laat nie, maar ook jou bad tap en kerse aansteek as jy na ete wil kom week.

Of van die staptoere wat jy met gidse in die veld kan gaan doen voor jy by die boma onder die bome eindig en langs reuse vure die sterrehemel kan bewonder en Afrika waarlik in jou are hoor bruis.

Of ek kan vertel van die ervaring wat my die langste van al die heerlikhede by hierdie reservaat sal bybly.

Kom ek doen dit.

Sommer net, omdat ek soms weer na my foto’s moet kyk om seker te maak dit het regtig gebeur.

Die veld

Ons ry in die veld met onweerswolke wat grys oor die vlaktes trek. Die reuk van die reëndruppels op die stofpad trek in jou neus oop. Aards, eg, ru, vol belofte. Elroy het ’n antenne en probeer ’n jagluiperdgesin opspoor. Op die vlaktes gewaar ons ’n trop gemsbokke en een verlore springbok wat rustig wei en stadig aanstap. Elroy hoor die sagte gebiep van die jagluiperds se halsbande en sê die springbok is onbewus van die gevaar, want hy voel heel moontlik veilig met die trop gemsbokke so naby.

Elroy klim van die voertuig af en begin voetslaan. Daar sit ’n tarentaalveer in sy hoed. Die windjie is koud, die druppels val saggies op die seildak van ons wildkykvoertuig. Die jagluiperds is skielik in volle spoed sigbaar toe hulle ’n vlakvarkgesinnetjie begin jaag. Stertjies in die lug maak die ouers met hul werpsel ’n stofstrepie in die verte.

Ons almal slaak ’n sug van verligting. Niemand wil eintlik sien hoe ’n roofdier iets vang nie. Of wil mens? Ek het nog nooit die jag en plattrek beleef nie, maar al verskeie male minute later op die feesmaal afgekom en in dankbaarheid besef dat ek nie die arme dier se doodsnikke wil beleef nie.

Een oomblik is die springbok aan’t koue; die volgende oomblik jaag die jagluiperds – ’n wyfie en vier jong welpies van 18 maande oud – die springbok in ’n hoefysterpatroon aan. “Die dans van die diere van die Kamdeboo” is die gedagte wat deur my kop flits.

Terwyl ons nader ry, is daar ’n klein stofwolkie en dan stilte. Christiaan bring die voertuig nader na waar Elroy vir ons in die veld wag. ’n Jakkals draf sku ’n entjie van ons verby. Ons stap in gelid nader. Skaars tien meter van ons sien ons die vyf jagluiperds. Aanvanklik wonder jy waar die springbok is, want dit lyk of die lenige katte in die lang gras lê en rus.

Dan verander ons ons posisie en sien die katte maak beurte om te vreet – agterkant van die springbok eerste, waar die sagter vleis is. Die reën kom in ’n vaal gordyn oor die vlaktes aan. Dis soos die rekenaargegenereerde sandwalle in flieks.

Ons staan terwyl die druppels sagkens op die sand om ons plof. Al jou sintuie is ingespan, want jy is te voet, ’n klipgooi van vyf jagluiperds wat beslis baie vinniger as jy kan hardloop en slimmer in die veld is as jy. Die ysterreuk van bloed meng met die aardse reuk en die reuk van nat gras, en in die verte hoor jy ’n trop swartwildebeeste “tjirp”. Alles in die nabye omgewing is bewus van wat gebeur het.

Die maag bly onaangeraak.

Die maag bly onaangeraak om te verhoed dat ander roofdiere naderkom om te aas, vertel Elroy in ’n fluisterstem.

Daar is baie te sien.

Die tyd gaan staan stil. Die wind in jou ore verdoof. Die natuur wat so ongefiltreerd voor jou afspeel, word ’n wonderwerk. Die aanvanklike fotonemery en fluisteringe onder mekaar word stil.

Dis net ons, die veld, die diere, die reën. Ek weet hierdie oomblik het my vir altyd verander. Het die Karoo in my beenmurg laat intrek.

Skaaptjoppies

Op die vlug huis toe die volgende dag soek ek ’n sakdoek. ’n Droë Karoobostakkie kom lê in my palm. Christiaan het vir ons elkeen ’n takkie gegee: “Dis dié bossie wat aan skaaptjoppies daai unieke smaak gee.”

Ek maak my oë toe en herbeleef die magiese minute in die veld.

Ons het spekbome geplant.

Ek dink ook aan die laaste aktiwiteit voor ons kombi na die lughawe vertrek het: Ons het spekbome op ’n barre stuk grond geplant. Dis ’n Samara-tradisie, vertel Klippies. Die grond is droog en hard.

“Dis omdat die grond so oorbewei was. Die water hardloop sommer oor die kaalgevrete grond. Maar elke spekboom met ’n walletjie om maak ’n verskil, want dit gee die saadjies wat afgespoel word, kans om wortel te skiet en goed te vestig. Die barre grond sal weer ontluik.”

Die Manor

Dis die wonder van ’n droom wat deur ’n handjievol se visie bewaarheid word.

Een spekboompie en een olifant/leeu/renoster/jagluiperd op ’n slag.

Kitsfeite: Nuutste verwikkelinge by Samara

Na ons besoek is ’n pragtige tentkamp met vier tente ingewy. Daar word gefokus op na aan die aarde leef: staptoere saam met gidse, sterre kyk, om die vuur sit buite, stort terwyl die vlaktes en berge oor jou waghou.

Die Manor

As jy nie in die tente wil bly nie, is die pragtige Manor, ’n luukse villa, net die plek, of die Karoo Lodge met sy uitsig op die berge, ook ’n goeie alternatief.

Die swembad

Bespreek by Samara by www.samara.co.za.

  • Foto’s: Maryke Roberts en verskaf
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top