- Skrywer en regisseur: Lauren Scholtz
Brasse Vannie Kaap, ’n dokumentêr oor die groep met dieselfde naam, stroom nou op Showmax.
Kevin Kriedeman, die publisiteitsbeampte van Showax, het my vertel wat gebeur het toe die film by die Silwerskermfees gedebuteer het: “This was my favourite screening at Silwerskerm, with the whole crowd singing along and giving it a standing ovation at the end. It took me straight back to the ’90s.”
Ek het Brasse Vannie Kaap nou aanlyn gekyk. Die gehoor se reaksie is te verstane.
Hip-hop in Afrikaans
In die middel-’90’s het ’n nuwe klank die radiogolwe getref. Brasse Vannie Kaap het musiek in Afrikaans gemaak soos ons nog nie tevore gehoor het nie.
Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en mense soos Bernoldus Niemand het ’n eerste golf nuwe musiek gemaak. Dié golf, die tweede golf, was anders. Brasse Vannie Kaap, dikwels ook BVK genoem, was vannie Kaap en hulle het hul ding gedoen in ’n taal vannie Kaap – dié taal het geruk as hulle die bas gooi.
Ek het BVK die eerste keer op Geraas gehoor. In Pietermaritzburg was ek ver van als wat in Afrikaans gebeur het, maar danksy Jacques du Preez en sy span kon ek byhou met van die nuwe klanke in die Afrikaanse musiekwêreld. Kort daarna kon ek BVK op die groot feeste hoor. In die ope lug op ’n groot verhoog was BVK nie bloot ’n klanksensasie nie – die b-boys met hulle ongelooflike vertonings saam met die musiek het dinge vir Afrikaans gedoen het wat nie tevore vir ons taal se mense beskore was nie.
Afrikaans en die nuwe reënboog
Om BVK te verstaan, moet ons eers ’n treetjie terug gee.
DJ Ready D was ’n lid van Prophets of Da City, ook bekend as POC, wat in 1990 hul eerste album, Our world, vrygestel het. Ready was ’n scratcher – hy het dus die plate heen en weer gemanipuleer op maat van die musiek. Ishmael Morabe het gerap en Mark Heuvel was hulle danser. Hulle Suid-Afrikaanse hip-hop, meestal in Engels, het die radiostasies laat regop sit.
Hip-hop het ook mense oor die rasgrense heen bymekaar gebring. Demokrasie het gewink, groot apartheid se einde was naby, en in die Kaapse klubs het mense saam begin dans op Suid-Afrikaanse hip-hop.
Our world was in Engels, behalwe een snit: “Dala flet” het hip-hop laat Afrikaans praat.
Om te “dala” is om te doen en “flet” is goed – dink aan “flat out”.
Kaaps is skielik lugtyd gegee.
In die BVK-dokumentêr, wat nou op Showmax wys, gesels D (sy regte naam is Deon Daniels) daaroor dat hy begin wonder het of die tyd nie reg is om ’n Afrikaanse hip-hop-groep te stig nie. POC was gewild, al is hulle musiek deur die SAUK verban, maar dit was die enkele snitte in Afrikaans wat mense laat praat het.
Hy het toe strategies begin beplan en het Mr Fat (Ashley Titus) aan boord gebring.
Mr Fat was ’n strateeg en het ’n koel kop gehad. Saam met het hulle die nuwe groep, Brasse Vannie Kaap, gestig en afgerig.
BVK het hard gewerk. Hulle musiek was uitstekend en die dansers het gekook. In die dokumentêr verduidelik van die sprekers hoe hard daar agter die skerms gewerk is, hoe lank die ure was.
D was die aanstigter, maar Fat was die strateeg. Daar is ’n wonderlike oomblik wanneer iemand (ek dink dis D), verwys na Fat as BVK se “dik stuk”. In enige ander konteks sou mense kon aanstoot neem, maar in Kaaps beteken dit “belangrike ou”.
D en Fat het bewustelik wegbeweeg van POC se harde politieke boodskap en was veel meer strategies om kommersiële musiek subtiel te gebruik om mense saam te laat dans.
In die film gesels hulle byvoorbeeld oor “Potjiekos” – ’n lied wat boeremusiek, scratching en hip-hop saamgooi. Dit het nie gegaan nie oor die pot nie, sê D. Dit het gegaan oor die samelewing.
Karen Zoid vertel dat ’n deel van die video (die oomblikke met plate teen die muur) in haar huis geskiet is.
BVK se strategie het gewerk.
Soos die gigs begin inkom het, was dit Fat wat daarop aangedring het op gelyke betaling met wat ander groepe kry, en Fat wat geweier het om in die mindere tydgleuwe op te tree.
Die harde werk, die musikale vernuwing en die beter tydgleuwe waarin die groep gespeel het, het gewerk. BVK het naam gemaak, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op feeste soos Pukkelpop in Nederland.
BVK het voortdurend moeite gedoen om ander kunstenaars saam met hulle te laat optree, en op dié manier het hulle ander opgelei, maar ook hul eie voetspoor verbreed.
Bekende kunstenaars het hulle ook raakgesien. Coenie de Villiers het byvoorbeeld na BVK uitgereik en hulle ingesluit met “Desiderata” op sy album Hooglied, wat in 2000 uitgereik is.
In die film gesels D en Coenie oor laasgenoemde se hopelose pogings om te leer scratch. Gelukkig is D steeds een van die beste scratchers in ons bedryf. “Desiderata” met rap, uitstekende scratching en Coenie se eiesoortige koortjie was ’n nuwe gebeurtenis in Afrikaans.
Die nuwe hip-hoppers in Afrikaans
Jack Parow vertel in die film dat BVK die groep was wat hom laat besef het dat hy ’n loopbaan in Afrikaans sou kon volg.
Early B verduidelik ook die invloed van BVK op sy loopbaan.
Ditto met Youngsta CPT – selfs sy naam is ’n kopknik aan BVK, en sy beroemde “Dala wat jy moet” het nie sonder ’n duidelike interteks gebeur nie.
Die tweede deel van die Showmax-film gaan veral oor ’n nuwe, jonger generasie wat hip-hop omarm. Daar is byvoorbeeld ’n konsert verfilm waar talle kunstenaars hulde gebring het aan Mr Fat; hy is in 2007 op die ouderdom van 36 jaar oorlede. Ná sy oorlye het BVK nie meer lank aangehou bestaan nie.
Dié konsert was bewustelik ook ’n poging om BVK weer aan jonger mense bekend te stel. Youngblood Africa, die kunsgalery in die Kaapse middestad, is daarvoor gekies. Dis ’n lieflike ruimte, maar ’n mens wonder of dit nie dalk net te klein was nie. Hoe ook al, in die film hoor ’n mens byvoorbeeld vir Hakkiesdraad met sy bry wat daar optree. Lekker.
Ballies van die Kaap?
Lauren Scholtz, wat bekend is vir haar werk met Arendsvlei, Diepe waters en Skemergrond, het die dokumentêr Brasse Vannie Kaap geskryf, geregisseer en vervaardig. Sy is ook die stigter van Dala Films.
Dit wil voorkom of die konsert by Youngblood Africa gereël is as ’n gepaste einde vir die film. Op dié manier sien ons ook hoe ver die onderskeie nuwe lote wat uit BVK ontstaan het, nou kon groei en nou hul eie ding doen.
Gaan BVK herrys? Die film het ons gewys dat daar nuwe telge is wat die fakkel nou dra. In die film word spottenderwys gevra of BVK dan “Ballies Vannie Kaap” sal heet.
Ek sou hoop dat D weer ’n nuwe groep gaan stig en ons dalk “Prophets Vannie GNU” kan kry om weer sosiale kohesie te bewerkstellig soos toe BVK bekend geword het.
Intussen sou ek almal wat belangstel, aanraai om ’n uur af te staan en Brasse Vannie Kaap op Showmax te kyk.
Lees ook:
Spinners is trots Suid-Afrikaans, ’n eerste by die Cannes-filmfees