Die driejaarlikse kongres van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN), Windhoek, 8–10 Julie 2024

  • 0

Inleiding

Van 8 tot 10 Julie 2024 het die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) se driejaarlikse kongres in Windhoek plaasgevind. Dié kongres sou reeds in 2020 by die Departement Afrikaans van die Universiteit van Namibië (UNAM) plaasgevind het, maar weens die Covid-19-pandemie is dit uitgestel. In 2022 het die SAVN-bestuur voorgestel dat die SAVN-kongres saam met die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) se IVN-kongres gehou word. Die IVN-kongres, met ’n spesiale been van die SAVN-kongres, het van 22–26 Augustus 2022 in Nijmegen plaasgevind.

Voorbereidings

Annika van der Linde (UNAM), dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Namibië, was die skakelpunt vir vanjaar se SAVN-kongres in Windhoek. Die SAVN-bestuur vir die termyn 2021–2024, bestaande uit Adri Breed (NWU), Nerina Bosman (UP), Sonja Loots (UK), Alwyn Roux (Unisa), Gonneke Groenen (NWU), Marni Bonthuys (UWK), Marius Swart (US) en Kobie de Kamper (penningmeestersassistent), moes dus twee kongresse in hierdie bestuurstydperk reël. Hoewel dit groot werk was, het die kollegialiteit en lewenslange vriendskappe wat hieruit voortgespruit het, dit die moeite werd gemaak.

Die openingsaand

Die openingsaand van die Windhoek-kongres was reeds die aand vantevore, 7 Julie, met ’n verwelkomingsborreltje in die voorportaal van die hoofgebou van die UNAM. Van der Linde en haar span, sowel as die Vlaamse Verteenwoordiging, onder leiding van Nicolas Vandeviver, het vir die heerlike versnaperinge gesorg. Herman Beyer, ’n taalkundige aan die UNAM, het die kongreslede hartlik verwelkom en die SAVN-bestuur bedank vir die geleentheid om die SAVN-kongres in Windhoek te hou. Hy beklemtoon die rol van Nederlands in die geskiedenis van Namibië, ’n geskiedenis wat weens die Duitse koloniale verlede nie in die voorgrond staan nie en baie keer misgekyk word. Tog wys hy op die groot invloed wat Nederlands op die taallandskap van Namibië gehad het, met Afrikaans as een van die amptelike tale in Namibië. ’n Groot hoogtepunt van die eerste aand was die eenvrouvertoning Zus van, geskryf deur Lot Vekeman en gespeel deur Chrisna Beuke-Muir in die Space Theatre van die Universiteit van Namibië.

Figuur 2. Verwelkomingsborreltje

Figuur 3. Herman Beyer heet die kongreslede welkom.

Figuur 4. Chrisna Beuke-Muir in Zus van

Die kongressessies

Die kongres is in die seminaarlokale van die Mövenpick Hotel gehou, wat die groot aantal kongresgangers – ongeveer 45 mense – gemaklik geakkommodeer het. Die programbestuurders, Marni Bonthuys en Marius Swart, moes twee parallelle sessies inruim sodat die referate in die twee en ’n half dae van die kongres aangebied kon word. Dit is opmerklik dat die aanbieders ongeveer vyftig-vyftig taal- en letterkunde-navorsers was, wat die indeling van die referate heelwat vergemaklik het.

Figuur 5. Marni Bonthuys en Marius Swart werk aan die kongresprogram tydens die SAVN-bestuursvergadering.

In hierdie oorsig gee ek ’n blik op meestal die letterkunde-aanbiedings, alhoewel ek onder die voorlaaste punt ’n kort oorsig van die referate gee wat ek nie self aangehoor het nie.

Die kongresverrigtinge en die eerste hoofspreker

Die verrigtinge sou reeds 08:30 die volgende oggend begin, maar weens die skielike siekte van hoofspreker Toni Bandov (Universiteit Zagreb, Kroasië), het die verrigtinge ’n uur later begin. Sy referaat, “‘’n Drywende wêreld’ – Hoogtij en zwanenzang van het Nederlandse bewind aan de Kaap in vier historische romans: Eilande, Skepelinge, Verkenning en 1795”, kon dus nie aangehoor word nie. Die plan is wel dat ons hom in 2025 gaan nooi om sy referaat hier ter plaatse te kom lewer.

Maandag se oggendsessies

Sonja Loots (UK) het die Namibiese SAVN-kongres gepas geopen met haar referaat, getiteld “Die Nederlandstalige uitgawe van Die dagboek van Hendrik Witbooi as epistemiese geweld”, waarin sy die konsep epistemiese geweld gebruik om die 1929-uitgawe van Die dagboek van Hendrik Witbooi te ontleed en die gevolge daarvan vir Witbooi-studies bespreek. Hierop volg Reinhardt Fourie (Unisa) se referaat, getiteld “‘Dikwels sit ek en die Nederlander sy aan sy’: Transnasionale diskoerse en postkoloniale betreding in Azille Coetzee se In my vel (2019)”, wat die resepsie van Coetzee se boek analiseer en die wisselende ervarings van die verteller in Nederland en Suid-Afrika verken. Mathilda Smit (UV) se referaat, “‘Dis mooi man, Jan van Riebeeck rap nou saam die Khoisan’ – Rap as transnasionale podium-fenomeen?”, ondersoek die transnasionale samewerking in rapmusiek, spesifiek die samewerking tussen Jack Parow en De Kraaien, en hoe dit as brugbouend beskou kan word rakende taal, kultuur en sosiopolitieke omstandighede. Hier is ’n skakel na hul musiekvideo, “Kattenkwaad”.

Figuur 6. Reinhardt Fourie lewer sy referaat oor Azille Coetzee se roman.

Maandag se middagsessies

Andries Visagie (US) het ’n referaat gelewer, getiteld “Voëls en die liriek: Breyten Breytenbach en Benno Barnard”, waarin hy die simboliek van voëls in die poësie van Breytenbach en Barnard vergelyk en die Europese en Suid-Afrikaanse kontekste waarin hulle werk bespreek. Ihette Senekal (Unisa) het haar referaat, “Lucebert en Loftus Marais: ’n Poëtikale beskouing”, aangebied en die invloede van die Nederlandse Vyftigers op Loftus Marais se poësie ontleed, veral hoe hulle eksperimentele benaderings die moderne Afrikaanse poësie gevorm het. Ekself het my en Yves T’Sjoen se referaat oor “Ontlaering in Samespraak” gelewer, waarin ons die proses van ontlaering en die skep van ’n meertalige navorsingsplatform in die digitale era van die Neerlandistiek bespreek het, en hoe hierdie nuwe benadering die rol van Afrikaans en Nederlands beïnvloed.

Figuur 7. Ihette Senekal lewer haar referaat oor Lucebert en Loftus Marais.

Jaarvergaderings

Die SAVN bestaan uit twee forums, naamlik die Noordelike Kennisnetwerk (NKN) en die Kaapse Forum (KFN). Dié forums se onderskeie jaarvergaderings is na afloop van die eerste dag se lesings behartig. By die NKN, waarby ek betrokke is, siende dat ek by Unisa geaffilieer is, het Renée Marais (UP) as voorsitter uitgetree, en Gonneke Groenen is as voorsitter vir die volgende termyn aangestel. Die universiteite wat tot die NKN behoort, is die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), die Universiteit van Johannesburg (UJ), Noordwes-Universiteit (NWU), die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Sol-Plaatjie-Universiteit (SPU) en die Universiteit van Namibië (UNAM). Die universiteite wat tot die KFN behoort, is die Universiteit Kaapstad (UK), Universiteit Stellenbosch (US), Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), Nelson Mandela-Universiteit (NMU), Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), Rhodes-Universiteit (RU) en die Universiteit van Fort Hare (UFH).

Die tweede hoofspreker

Dinsdag, 9 Julie, se oggendsessie begin met die tweede hoofspreker, Ernst Kotzé (NMU), se referaat, getiteld “Stemme uit die Ooste – die kaleidoskoop van die Kaap”. Hy bespreek hoe Nederlands, beïnvloed deur Maleissprekende slawe en VOC-amptenare, vroeë kenmerke van Afrikaans ontwikkel het en stel dat hierdie tweestroom-beïnvloeding ’n katalisator was in die ontwikkeling van Afrikaans.

Figuur 8. Ernst Kotzé lewer die eerste hoofrede van die kongres.

Dinsdag se oggendsessies

In Tycho Maas (Utrecht-Universiteit) en Thys Human (NWU) se “Denken over gedeeld erfgoed. Een virtuele internationale samenwerking over Kaapse teksten uit de 17e en 18e eeuw” het hulle die didaktiese en pedagogiese beginsels van ’n virtuele samewerkingsprojek bespreek. Mieke Struwig se referaat, “Jan Bouws: ’n Nederlandse Vriend ‘Sonder gelyke vir sy tyd’”, het die invloed van Jan Bouws op Suid-Afrikaanse musiekstudies en sy bydrae tot Afrikaanse musiekhistoriografie ondersoek. Ongelukkig moes ek Marni Bonthuys en Marius Swart se referaat, “Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans as bemiddelaar: Die evolusie van ’n akademiese gesprek tussen die Lae Lande en Suid-Afrika”, misloop, maar het ten minste die skyfies ontvang waarin hulle ’n deeglike oorsig gee van die tydskrif se rol as bemiddelaar. Karen Benjamin-van Lierop se “Poëzie van zwarte Nederlandse dichteressen in literatuuronderwijs in Kaapstad” handel oor die rol van swart, vroulike Nederlandse digters in die literatuuronderrig in Kaapstad, asook die vertaaluitdagings van hul werke. Die laaste van die oggendsessie was “Herlezen en herschrijven als ‘de ander’. De ruimte voor dialoog en nieuwe betekenisvorming in de context van de Nederlandstalige literaire canon”, deur Martina Vitackova (UGent), wat feministiese en postkoloniale herskrywing as ’n subversiewe strategie in die literêre kanon ontleed het.

Figuur 9. Tycho Maas (Utrecht- Universiteit) bespreek die didaktiese en pedagogiese beginsels van ’n virtuele samewerkingsprojek.

Dinsdag se middagsessies

Wannie Carstens het ’n referaat gelewer, getiteld “Variasie in Afrikaans en Nederlands: ProVARIA kan deure ontsluit”, wat die potensiaal van ProVARIA om deure vir taalkundige navorsing te ontsluit bespreek het. Nerina Bosman se referaat, “’n Kontrastiewe kognitiewe analise van lopen / loop”, maak ’n analise van die kognitiewe verskille tussen die Nederlandse en Afrikaanse werkwoorde lopen en loop. Ongelukkig het ek die taalkunde-been misgeloop, aangesien ek die letterkunde-been bygewoon het.

Gosia Drwal (UAM) se referaat, “Links Richten en kameraad Adekom: Nederlandse bijdrage aan transnasionale proletarische literatuur”, fokus op die Nederlandse arbeidersskrywerskollektief Links Richten en hul bydrae tot die internasionale sosialistiese literatuur, spesifiek deur die werk van Anton de Kom (Adekom). Ilse de Korte en Andrew Sutton se referaat, getiteld “Die invloed van Nederlandse traumanarratiewe op Afrikaans”, ondersoek die wyse waarop Nederlandse traumanarratiewe Afrikaans kan help om plaaslike trauma beter uit te druk, met spesifieke verwysing na die Kaapse trilogie van Henk van Woerden en De aanslag van Harry Mulisch. 

Die derde hoofspreker

Die derde hoofspreker, Margriet van der Waal (UvA/RUG), lewer hiernaas haar referaat, getiteld “‘Denkend aan Holland zie ik… heel veel Zuid-Afrika’: wat denkbeelden over Zuid-Afrika ons oor ‘Nederlandse’ identiteit (en identiteitspolitiek) vertel”. Sy pas egter haar referaattitel effens aan as “Tussen ‘spiegelland’ en ‘voorland’: Zuid-Afrika in het politieke debat over het Nederlands koloniaal verleden”. In hierdie referaat ondersoek Van der Waal hoe denkbeelde oor Suid-Afrika in die Nederlandse openbare diskoers figureer.

Figuur 10. Margriet van der Waal lewer haar referaat. Sy is die tweede hoofspreker van die SAVN-kongres.

SAVN-ledevergadering

Die SAVN-ledevergadering vind hierna plaas. Hiertydens spreek Karlijn Waterman van die Taalunie die SAVN-lede via Teams toe. Daarna word spreekbeurte gegun aan Berto Bosscha van die Ambassade van die Nederlande in Suid-Afrika, Nicolas Vandeviver, die diplomatieke verteenwoordiger van Vlaandere in Suid-Afrika, en Anne Sluijs, die direkteur van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek.

Figuur 11. Anne Sluijs, IVN-direkteur, oorhandig ’n boek oor die IVN aan Alwyn Roux.

Figuur 12. Nicolas Vandeviver, die diplomatieke verteenwoordiger van Vlaandere in Suid-Afrika.

Die portefeuljeverslagdoening by die SAVN-jaarvergadering van 2024 het verskeie sleutelareas gedek. Die penningmeester, Gonneke Groenen, het verslag gedoen oor die suksesvolle winterskole en finansiële aansoeke. Nerina Bosman het oor die gasdosentskappe en die wisselleerstoel terugvoer gegee, insluitend die onsuksesvolle aansoek by die Taalunie in 2024. Ek het self die kommunikasie en nuwe projekte hanteer, insluitend die gereelde opdatering van die SAVN-webblad, Samespraak en die reëlings vir die Alfred Schaffer-erelesing. Sonja Loots het oor ledegetalle en sekretariële sake gepraat, terwyl Adri Breed die voorsittersverslag gelewer het, met verwysing na veranderings aan die statuut en toekomstige kongresse. Marni Bonthuys en Marius Swart het verslag gedoen oor die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans (TNA), met ’n fokus op die inhaal van agterstande en indeksering van artikels.

Die dinee en erelidmaatskap

Tydens die dinee het die kongresgangers tyd gehad om te ontspan en die vrugte van hul arbeid te pluk. Dit is ’n gebruik dat erelidmaatskap toegeken word aan dié wat ’n groot rol gespeel het in die uitbouing van die Neerlandistiek in ’n Suider-Afrikaanse konteks. Twee belangrike lede het hierdie toekenning vanjaar ontvang: Nerina Bosman en Wannie Carstens. Nerina Bosman het Wannie Carstens se commendatio voorgedra. Adri Breed het Nerina Bosman se commendatio voorgedra.

Figuur 13. Wannie Carstens en Nerina Bosman ontvang erelidmaatskap van die SAVN.

Die vierde hoofspreker

Die volgende oggend lewer die laaste hoofspreker, Reinhild Vandekerckhove (Universiteit Antwerpen), haar referaat, getiteld “Het jonge Nederlands in online interactie: taalcontact, variatie en accommodatie”. Die referaat fokus op die variëteite van geskrewe Nederlands wat gebruik word in informele aanlyn kommunikasie deur jong Vlaminge, insluitend die integrasie van jongeretalig-Engels en minderheidstale.

Figuur 14. Die laaste hoofspreker, Reinhild Vandekerckhove (Universiteit Antwerpen)

Woensdag se oggendsessies

Die laaste drie referate wat ek luister, is Neil van Heerden (Unisa) se referaat, getiteld “Mobiliteit in Tommy Wieringa se De dood van Murat Idrissi”. Die referaat ondersoek verskillende vorme van mobiliteit, insluitend fisiese en transnasionale beweeglikheid, (onwettige) immigrasie en transkulturele mobiliteit, in Wieringa se roman wat oor twee Marokkaans-Nederlandse vroue gaan wat ’n verstekeling na Spanje neem, met rampspoedige gevolge. Daarnaas is Jané de Wet (NMU) aan die woord met een van die mees vermaaklike dog insiggewende referate, getiteld “#digkuns: ’n Ondersoek na Afrikaanse en Nederlandse Instagram-digters en hul werk binne die era van metamodernisme”. Hierdie referaat ondersoek die opkoms en literêre status van Afrikaanse Instagram-digkuns, met spesifieke verwysing na die invloed van die metamodernistiese konteks op die skryfstyl en die impak daarvan op die identiteit en voorstelling van die Zoomer-generasie. Laaste maar nie die minste nie, was Joris Geelen se referaat (in samewerking met Karin Benjamin-van Lierop) oor “Poësieprojek / Poëzieproject CPUT-UCT-HAN”. Hierdie internasionale poësieprojek, wat in 2022 tussen die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Kaapstad en HAN University of Applied Sciences in Nijmegen begin is, beoog om ’n volhoubare samewerking op te bou wat jaarliks studente uit Suid-Afrika en Nederland met mekaar in verbinding bring om poësie te analiseer en lesse oor Nederlandstalige en Afrikaanse poësie te ontwerp. Geelen het verslag gegee oor die afgelope werkswinkel, insluitend die poësie-analises en lesmateriaal wat deur die studente ontwerp en op ’n openbare weblog gepubliseer is.

Figuur 15. Neil van Heerden lewer sy referaat op die laaste oggend van die SAVN-kongres.

Referate wat ek nie self aangehoor het nie

Ek moet vriendelik verskoning vra dat ek nie die volgende referate kon bywoon nie, maar dit is tog vir my belangrik om hulle in die oorsig te noem, want sonder hierdie referate sou die SAVN-kongres in Windhoek nie volledig gewees het nie. Die referate wat ek nie persoonlik kon bywoon nie, sluit in:

Timothy Colleman se “Het Beknopt Nederlands Woordeboek voor Zuid-Afrika (1908): Een experiment in pluricentrisme?”, wat die eksperimentele aard van die 1908-woordeboek ondersoek het; Terrence Carney se “Bezoeken is nog geen exploiteren: ’n Verkenning van instrumentaliteit en Langacker se aksieskema by wetsuitleg”, wat die toepassing van kognitiewe linguistiek op wetsinterpretasie bespreek het; en die groepaanbieding deur Adri Breed, Timothy Colleman, Anneke Butler, Gerhard B van Huyssteen, Maristi Partridge, Suléne Pilon, Monique Rabé, Roald Eiselen en Lande Botha oor “Onbepaaldevoornaamwoordnabepaler-kontaminasie in Afrikaans en Nederlands”.

Verder was daar ook Przemysław Paluszek se referaat “Woonerven in Polen – een mislukte kans veroorzaakt door een surface structure transfer”; Gonneke Groenen se “De resultatief constructie in het Nederlands en hoe werkt zij door in het Afrikaans”; Gerald Groenewald se “Why Afrikaans? The Rise and Fall of Languages in the Dutch Colonial Empire”; en Lida Krüger se “Die metamorfose van die metafoor: Aars! in Afrikaans”.

Ek kon ook nie Marni Bonthuys en Marius Swart se “Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans as bemiddelaar: Die evolusie van ’n akademiese gesprek tussen die Lae Lande en Suid-Afrika”; Michelle de la Harpe se “Die gebruik van Metamorfoze om ’n Nederlandse versameling in Suid-Afrika te digitiseer”; Renée Marais se “Onderwys en opvoeding aan die hand van die sosiaal-realistiese trilogieë Ciske (Piet Bakker) en Ampie (Jochem van Bruggen)”; Wannie Carstens se “Variasie in Afrikaans en Nederlands: ProVARIA kan deure ontsluit”; Nerina Bosman se “’n Kontrastiewe kognitiewe analise van lopen / loop”; Roné Wierenga se “Adposisionele konstruksies in Afrikaans: Nederlandse literatuur as ’n brug tussen Afrikaanse variëteite”; of Gerard de Kamper se “Herontdek navorsingsgeleenthede” bywoon nie.

Besoek aan Windhoek

Ons het ’n laaste middagete saam geniet en daarna het die meeste kongresdeelnemers Windhoek gaan besoek. Besienswaardighede het onder andere die Christuskirche en die Onafhanklikheidsgedenkmuseum ingesluit. Soos dit taalmense betaam, was die eerste stop die boekwinkel, The Book Den, vanwaar ons die stad verder verken het.

Slot

Ten slotte wil ek graag die uittredende voorsitter, Adri Breed, van harte bedank vir alles wat sy vir die SAVN oor die afgelope termyn (2021–2024) beteken het. Dit was ’n groot plesier om saam met haar as deel van hierdie fantastiese bestuurspan te kon werk. Ons groet ook Nerina Bosman (voorsitter vir drie termyne, sedert 2014–2021; ondervoorsitter 2021–2024) en Kobie de Kamper (penningmeestersassistent). Dit gaan voorwaar ’n moeilike taak wees om sonder hulle voort te gaan, maar die nuwe SAVN-bestuur sal baie by julle kom kers opsteek.

Kommentaar van die SAVN-bestuur (2021–2024)

Adri Breed: Die kongres was weer eens ’n hoogtepuntaktiwiteit van die SAVN. Aanvanklik was die beplanning om een kongresvenue vir die drie dae te bespreek, maar ná ons so ’n groot aantal uitstekende referaatvoorstelle uit taalkunde, vertaalkunde, letterkunde en ook ander Neerlandistiekvelde ontvang het, het ons besef dat ons die hele kongres in parallelle sessies sal moet aanbied. Dit getuig van hoe goed dit tans met die Neerlandistiek in Suider-Afrika gaan.

Nerina Bosman (ondervoorsitter): Die 2024-SAVN-kongres was weer eens ’n gedenkwaardige gebeurtenis. Terwyl ek die woord gedenkwaardig neerskryf en wik en weeg of dit eerder heuglik moet wees, tref dit my opnuut hoe verrassend eenders én anders Nederlands en Afrikaans is. Ons het dit in sommige taalkundige referate gesien en gehoor; ook in die ander referate uit ’n wye spektrum van die geesteswetenskappe. En natuurlik ook in ons omgang met vriende uit die Lae Lande, Pole en (volgens herkoms) Tsjeggië. Om na die wêreld te kan kyk en luister deur die gedeelde venster van ons geskiedenis en kultuur, veral in hierdie verre uithoek, bly vir my merkwaardig en verblydend. Ek lig ’n glasie op hierdie verbintenis – laat hy val waar hy wil!

Sonja Loots: Opvallend van die SAVN-kongres was dat dit bygewoon is deur ’n akademiese gemeenskap wat met groot kundigheid en belangstelling na mekaar luister en konstruktiewe terugvoer gee. Dit beteken dat ’n mens in hierdie forum werk kan deel in die wete dat jou navorsing sal baat by die insette en kommentaar van mede-kongresgangers.

Gonneke Groenen: Dit was wonderlik om tydens die SAVN-kongres te sien en te hoor dat die tema “Uithoeken van die Neerlandistiek” baie mense aangespreek het. Daar was nie net referate oor taal en letterkunde nie, ook ander velde soos onderwys, twee fantastiese samewerkingsprojekte, geskiedenis en kultuur is verteenwoordig. Die internasionale karakter het ook gewys deur die deelnemers wat uit verskeie lande gekom het. Verder was dit lekker om baie nuwe mense te leer ken en te kan gesels oor Neerlandistiek.

Alwyn Roux: Dit is altyd vir my lekker om saam te werk aan die beplanning van ’n SAVN-kongres (die Windhoek-kongres is hierdie SAVN-bestuur se tweede in ons termyn). Dit gaan nie net oor die administratiewe sake nie; dit is ’n bysaak. Vir my gaan dit oor die sinergie tussen die bestuurslede en om te sien hoe alles bymekaarkom gedurende die kongres self. Die mense wat jy tydens die kongres ontmoet, van die professore wat hoofsprekers is, soos Ernst Kotzé, tot die IVN-direkteur, Anne Sluijs, en ander akademici soos Tycho Maas. In watter ander konteks sou ons hierdie mense kon ontmoet? Wat ’n voorreg!

Marni Bonthuys: Die feit dat die SAVN-kongres in Namibië aangebied is, was sonderling en belangrik. Afgeleë areas soos die Noord-Kaap in Suid-Afrika en Namibië is die hartland van Afrikaans en is ruimtes waar akademiese navorsing in Afrikaans maar ook in Nederlands verder uitgebou kan word. Deur die kongres daar aan te bied is internasionale navorsers se aandag gevestig op moontlikhede hier en geïsoleerde navorsers van hierdie areas se netwerke is verbreed.

Marius Swart: Die 2024-kongres was my eerste SAVN-kongres, maar dit was heerlik bekend, soos om by ’n familiekuier aan te kom. Ons het referate van hoogstaande gehalte gehoor, lekker gesprekke gevoer, en weer onder die indruk gekom van die vakgebied se belang en reikwydte. Nuwe bande is gesmee, ou verbintenisse is bevestig, en ’n opwindende era vol vars moontlikhede en potensiaal vir samewerking en navorsing is ingelui. Nou sien ons uit na die TNA-uitgawe met kongresbydraes!

Figuur 16. Die SAVN-bestuur (2021–2024) se laaste bestuursvergadering in Windhoek by Joe’s Beerhouse.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top