Die IVN-kongres in Nijmegen 2022

  • 0

Die kongres van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) het van 22 tot 26 Augustus 2022 in Nijmegen plaasgevind. Dit was ’n mengelmoes mense van oor die wêreld (33 lande) met ongeveer 200 referate, panele, gesprekke, hooflesings of werkswinkels om aan deel te neem of by te woon. Dit was inderdaad ’n reusekongres en die sessies is verdeel in ses afdelings, naamlik letterkunde, kultuur, taalkunde, didaktiek, vertaling en die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN). Die aande is ook gevul met kultuurverrykende gebeurtenisse om by te woon.

Die groot aantal sessies maak dit moeilik om ’n spreker te kies om na te luister. Dit was effens lastig om die program te volg, omdat daar slegs ’n spreker se naam by hulle sessie geplaas is. Jy moes deur die program soek na die titel van die referaat. Om ’n opsomming van ’n referaat te lees, moes jy aanlyn gaan en die betrokke persoon se voorstel aflaai. Vir sommige sprekers was die gehoor maar redelik klein. Jong navorsers was in die minderheid en ek het nie ’n enkele student raakgeloop wat Nederlands studeer nie – en dit is ’n jammerte, want kongresse soos dié is iets wat vir studente van onskatbare waarde sou wees. Óók vir nuwe nagraadse studente wat nog dink oor hulle navorsingsonderwerp. Baie sprekers was slegs tydens hulle eie referaat by die kongres, wat dit moeilik gemaak het om met hulle kennis te maak of verder oor ’n betrokke tema te praat. Dit is ’n jammerte, tog is dit te verstane, aangesien nie almal die voorreg het om die hele kongres by te woon nie. Vir baie deelnemers was hierdie ’n geleentheid om uiteindelik ou kollegas en vriende te sien en weer akademies te verkeer (en kuier).

Alle Suid-Afrikaanse voorstelle word by die SAVN-afdeling ingedeel. Die SAVN was, soos genoem, ’n afdeling op sy eie binne die IVN-kongres. Die Covid-inperkings het verhoed dat die SAVN-kongres in 2020 in Namibië plaasvind, daarom het dit ’n onderdeel van die IVN-kongres geword. Die tema van die SAVN was “Het leven van tekens ... en teksten”, terwyl die IVN-kongres oop is vir enige voorstelle sonder die beperking van ’n spesifieke tema. Die SAVN-afdeling het apart gevoel van die res van die kongres. Die saamvoeging van die SAVN-kongres met die IVN-kongres was die beste oplossing om te vergoed vir die verlore tyd (en meer internasionale besoekers het dus ook die geleentheid gehad om die SAVN-sessies by te woon), maar tog voel dit asof daar meer uit hierdie geleentheid ontgin kon gewees het. Die SAVN-sessies het gevoel soos ’n Afrikaanse kongres, met die verskil dat dit in Nederland plaasvind. Dit was meestal gevul met Suid-Afrikaners, alhoewel gesiene akademici wel ’n wyer gehoor lok.

Sessies waarin daar vergelykend gefokus word op Afrikaanse en Nederlandse letterkunde sou deur ’n wyer Nederlandse gehoor baat vind, aangesien hulle ’n beter idee het van die Nederlandse letterkunde en dus interessante terugvoer kan gee. Die paneel waarby ek betrokke was, stuur ’n oproep om Nederlandse paneellede. In die paneel was die idee om saam met ander navorsers te praat oor hedendaagse tendense in Afrikaanse en Nederlandse toekomsfiksie. Daar was geen terugvoer van die Nederlandse kant nie – dus het die paneel voortgegaan met die fokus op Afrikaanse toekomsfiksie. Die afwesigheid van Nederlandse paneellede en toehoorders beperk die potensiaal van die paneel, omdat daar slegs terugvoer op die Afrikaanse deel gegee is. Daar is geen insig, idees of voorstelle gegee wat die navorsers kon help met nuwe kennis van Nederlandse toekomsromans nie.

Ten spyte van die bogenoemde hindernisse was die IVN-kongres 2022 baie suksesvol. Dit was professioneel en ek is seker daar sal goeie artikels en navorsing uit die kongres spruit. Die referate was insiggewend en interessant en strek oor ’n wye reeks onderwerpe. Dit is veral interessant om die verskillende (en eenderse) onderwerpe van die diverse groepe te vergelyk. Die IVN het ook gesorg dat die kongresgangers interessante figure ontmoet, onder meer die rektor van Radboud Universiteit (Nijmegen), die outeurs Jaap Robben, Sholeh Rezazadeh, Mira Feticu en Vivien Wazink, Nijmegen se burgemeester, en Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland. Daar was ook ’n geleentheid vir uitgewerye, akademiese instansies en netwerkgroepe om hulleself te bemark. Die IVN en Taalunie het ook bymekaar gekom om terug te kyk op die afgelope paar jaar, maar ook om planne vir die toekoms te maak.  

Die IVN-kongres was ’n waardevolle en insiggewende geleentheid vir die betrokke akademici, navorsers en deelnemers. Tesame met die akademiese sy, was daar ’n poging om die deelnemers ’n gevoel van die Nederlandse kultuur te gee. In die middae het ons broodjies met kaas geniet – ’n tradisionele Nederlandse middagete. Die stad is verken en die ou geboue het ruimtes vir ontmoetings geword. Die kongres het geëindig met ’n dinee in Huize Heyendael. Dit is ’n praglokaal en dit was ’n fantastiese manier om die kongres mee af te sluit. Die dinee sluit ook aan by die aftrede van die IVN-direkteur, Iris van Erve, en die bestuursvoorsitter Henriëtte Louwerse.

Dit is duidelik dat die organiseerders hard gewerk het om ’n suksesvolle kongres te reël. Hulle het regtig baie moete gedoen om seker te maak dat die kongres vlot verloop en dat die deelnemers ’n lekker tyd het.

Die volgende IVN-kongres is in 2025 en ek hoop om ou en nuwe navorsers daar te sien, want dit is beslis die moeite werd vir enige Neerlandikus.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top