Die Jongerenprojek-reis 2024

  • 0

Die Jongerenprojek se deelnemers vanuit Nederland en België het vanjaar na Suider-Afrika (Suid-Afrika en Namibië) gereis as deel van dié akademiese en kulturele uitwisselingsprogram. Die besoek het plaasgevind tussen 23 Julie en 13 Augustus 2024, en die 14 deelnemers saam met twee begeleiers het die geleentheid gehad om verskeie streke in Suid-Afrika (Gauteng, Noordwes, Kaap, Boland) en Namibië (Windhoek en Swakopmund) te besoek.

Elke onderdeel van die program het ten doel om die deelnemers bekend te stel aan die veelsydige kultuur-, taal- en natuurlandskap van die verskillende streke. Die Jongerenprojek steun sterk op die taalbande tussen Afrikaans en Nederlands wat met redelike min moeite wedersyds verstaanbaar is om die deelnemers bekend te stel aan die diverse aanbod van Suid-Afrika en Namibië.

As deel van die Gauteng-program het die deelnemers onder meer besoek afgelê aan die Voortrekker-monument, die Hector Pieterson-museum, die Engelenburghuis-museum by die SAAWK, die UP-museums, Maroela Media, Daybreak House en die Diplomatieke Verteenwoordiging van Vlaandere in Suider-Afrika. Buiten die begeleide toere en inligtingsessies wat die deelnemers bygewoon het, is daar ook ’n lesing oor die geskiedenis van Suid-Afrika tot 1652 deur Xander Antonites aangebied en ’n lesing deur een van die begeleiers Francine Maessen oor ’n inleiding tot die vergelykende benadering tussen Afrikaanse en Nederlandse letterkunde met ’n fokus op poësie. Laasgenoemde lesing is as ’n gaslesing vir die tweedejaar-BEd-studente by Akademia aangebied. Tydens dié lesing het daar ’n aansteeklike energie geheers waar die Suid-Afrikaanse studente en die deelnemers uit die Lae Lande met mekaar kennis kon maak. ’n Hoogtepunt van die Gauteng-program was die oggend wat die groep saam met die ATKV deurgebring het, waartydens Magon Mouton die deelnemers meer vertel het oor die werkinge van die ATKV en ook bekendgestel het aan die Global Changemakers-inisiatief. Suzie Mathlola het ook kortliks vir die deelnemers vertel van die Vorentoe-projek in Soweto, waarna die deelnemers die klaskamer vir hierdie projek in Soweto besoek het.

Die JP-deelnemers bring die dag saam met die ATKV-span deur en skop die oggend af met ’n laat ontbyt by Goddess Café in Linden.

Na afloop van die Gauteng-program, het die deelnemers skoene uitgeskop by die FAK Udolpho Rivierplaas vir die aand voordat die besige program weer voortgesit is in Noordwes. Die deelnemers het die oggend in Parys op die grens van die Vrystaat deurgebring en met ’n begeleide toer die Vredefortkoepel-Wêrelderfenisgebied as deel van die program verken. Uiteindelik het die deelnemers verskeie lesings op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus bygewoon, wat onderwerpe oor digitale humaniora, Suid-Afrikaanse landbou, die geskiedenis van Potchefstroom, Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en ’n inleiding tot die Afrikaanse grammatika ingesluit het. Hulle het egter ook ’n geleentheid gekry om die besige studentelewe hier te ervaar deur middagete te geniet by die alombekende Drakenstein-restaurant (beter bekend as die Draak) en te luister na ’n sêroptrede deur Villagers-manskoshuis. Een van die aktiwiteite wat die deelnemers meegemaak het op dié kampus, was ’n interaktiewe poësiesessie saam met die bekende skrywer Pieter Odendaal, en die deelnemers het die geleentheid gekry om gedigte in groepsverband te skryf.

Die JP-deelnemers verken die Vredefortkoepel-Wêrelderfenisgebied.

Die deelnemers is weer onderweg, en dié keer na Namibië. Daar het hulle besoek afgelê aan die Universiteit van Namibië en het kennis gemaak met verskeie onderwerpe wat sielkunde, letterkunde, taalkunde en bemarking in Namibië insluit. Die deelnemers het ook die geleentheid gekry om interessante plaaslike disse by die Kapanamark uit te toets, en die waaghalsiges weet nou selfs hoe ’n mopaniewurm smaak. Die deelnemers kon ook tydens hul besoek aan Namibië ’n skemerkelkie by die Windhoek Sky-restaurant geniet met ’n ongelooflike sonsonderganguitsig, en het daarna heerlik saam met Netwerk vir Afrikaans gekuier. In Swakopmund het die deelnemers ’n historiese staptoer meegemaak en ook die gewilde sandduine besoek deur middel van ’n begeleide toer deur Living Desert Tours, waar hulle die fyn balans van die ekosisteem in die Namib-woestyn (die wêreld se oudste woestyn) ontdek het, veral die sogenaamde Klein Vyf.

Die JP-deelnemers geniet ’n skemerkelkie by die Windhoek Sky-restaurant

Terug in Suid-Afrika is die deelnemers met ’n uitsig van Tafelberg verwelkom. As deel van die Kaapstad-program het die deelnemers soos tipiese toeriste ’n rooibustoer meegemaak sodat hulle hulself makliker deur die stad kan oriënteer, en hulle is ook bekendgestel aan van die bekende gesigte van die Kaap. Die deelnemers het ook besoek afgelê aan die Iziko-museum (Slave Lodge) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, die Zeitz Mocca-museum, asook die welbekende Company Gardens. Verder is die deelnemers ook deur SASNEV ontvang om meer te vertel oor die sentrum se projekte en hoe hulle die kulturele belange van Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika bevorder. Tydens hul besoek aan Kaapstad moes hulle ook hul stapskoene aantrek om Leeukop uit te klim, en alhoewel dit ’n stewige staproete is, het die ongeëwenaarde uitsigte oor die stad dit beslis die moeite werd gemaak.

Die JP-deelnemers maak 'n rooibustoer in Kaapstad mee.

Ná byna twee en ’n half weke het die deelnemers vertrek na die Boland-streek, wat ook die laaste been van die program was. Die deelnemers is deur die prentjiemooi Stellenbosch verwelkom, en soos regte studente het hulle deelgeneem aan ’n vasvra-aand by Aandklas. Die toer sou ook nie volmaak wees sonder om ’n wynplaas te besoek en om meer te leer oor die gesogte wyne wat in Suid-Afrika geproduseer word nie. Deur middel van ’n begeleide toer het die deelnemers Babylonstoren besoek om meer te leer oor die wynmaakproses en kon hul ook van dié wynmaker se versnitte proe. Vir verdere kulturele blootstelling het die deelnemers ’n toneelstuk, wat deur leerders van Paul Roos Gimnasium opgevoer is, genaamd Kantlyn, bygewoon. Hulle het ook besoek afgelê aan die Rupert-kunsmuseum. By Kayamandi, ’n plaaslike restaurant, is deelnemers ook aan heerlike hoenderpote bekendgestel. Tydens hul besoek aan Stellenbosch het die deelnemers ’n fietstoer meegemaak wat besienswaardighede van die stad ingesluit het. Dié dag is afgesluit met ’n kookklas waar hulle geleer het hoe om egte Suid-Afrikaanse bobotie te maak. Hierdie besoek het ook gepaardgegaan met verskeie lesings wat onderwerpe insluit oor die staats- teenoor privaat gesondheidsdienste, verkiesingsisteme en munisipale uitleg, inheemse gewoontereg en die verskillende variëteite van Afrikaans.

Die JP-deelnemers leer meer oor die wynmaakproses by Babylonstoren.

Ná drie weke was dit tyd om afskeid te neem en het die deelnemers weer teruggekeer na die Lae Lande.

Ek sal graag van die geleentheid gebruik wil maak om aan elke persoon en instelling wat betrokke was, ons groot dank uit te spreek. Sonder elke vrywilliger, gasouer, ouddeelnemer en vanjaar se borge sou hierdie uitwisselingsprogram nie moontlik gewees het nie. Dankie aan die gasouers wat tydens die verskillende streke die deelnemers so tuis laat voel het. Aan die borge wat op verskeie maniere bygedra het, hetsy in die vorm van ’n finansiële bydrae of andersins. Ons stel dit hoog op prys. By name sal ons graag die volgende borge wil bedank: die ATKV, die SAAWK, die Van Ewijck-stigting, die Noordwes-Universiteit, die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Namibië, die FAK, InteliGro, Netwerk vir Afrikaans en SASNEV.

Aan die medeorganiseringskomiteelede in die suide vir hierdie jaar se Jongerenprojek, Natasja Schellaars-Le Roux (Gauteng), Monique Rabé (Noordwes), Hardus Ludick (Noordwes), Petronella Genis (Namibië), Sanet Prinsloo (Namibië), Annika van der Linde (Namibië), Shawna-Leze Meiring (Kaap) en Emma Wiehman (Boland), ’n groot dankie vir die tyd wat julle afgestaan het om die program saam te stel, asook julle moeite om die deelnemers te ontvang en in die verskillende streke te begelei. Ons sou dit natuurlik ook nie kon laat realiseer sonder die organiseringskomitee in die noorde nie, en ’n groot dankie aan die span by die Zuid-Afrika Huis Nederland (ZAHN) en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Vereniging vzw – in die besonder Bernard Slaa, Frank Judo, Francine Maessen (begeleier 2024) en Jurijn de Vos (begeleier 2024).

Volgende jaar is dit weer deelnemers vanuit Suider-Afrika se beurt om die Lae Lande te besoek, en meer inligting oor die Jongerenprojek en die organiserende instelling, die Jongerenprojek Netwerk, kan by die volgende skakel gevind word: https://jpnsa.co.za/

  • Foto’s verskaf

DJ Cloete is die Jongerenprojek Netwerk (JPN) Voorsitter en Gauteng-streekskoördineerder.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top