Dolfje Weerwolfje en De kikkerbilletjes van de koning in Afrikaans

  • 0
Eendag was daar ’n koning wat mal was oor paddaboudjies. Die koningin het somtyds vermoed hy hou meer van paddaboudjies as van haar. ’n Paar keer was sy op die punt om te sê: Weg met daai paddaboudjies of dis weg met my!

Drie Nederlandse sprokies is in Afrikaans beskikbaar: Die koning se paddaboudjies deur Janneke Schotveld, deur Jaco Jacobs vertaal, en twee boeke van die Dolfie-reeks, Dolfie Weerwolfie en Dolfie Weerwolfie: Volmaan deur Paul van Loon, wat Shawna-Leze Meiring vertaal het.

Die vertalings is deur die Nederlandse Letterenfonds befonds en word deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Cliffordene Norton gesels met Shawna-Leze Meiring, kinderboekuitgewer en vertaler van die geliefde Dolfie-reeks.

Shawna-Leze Meiring (Foto: verskaf)

Hoe het die projekte begin? 

Die meeste uitgewerye is gedurig op die uitkyk vir boeke wat vermaak vir lesers gaan verskaf. Dit is daarom ook interessant om te sien wat ander uitgewerye (plaaslik en internasionaal) doen. Hierdie boeke was in Nederlandse katalogusse en het so ons oog gevang.

Waarom het LAPA Uitgewers besluit om hierdie sprokies te vertaal?

Die Dolfje Weerwolfje-reeks is baie gewild in Nederland en ons het gereken Suid-Afrikaanse lesers sal ook die stories geniet. Die stories gaan oor ʼn skynbaar gewone outjie, Dolfie, wat in ʼn weerwolf verander op sy sewende verjaarsdag en dan allerlei avonture het. Ek het die vertaling vir hierdie twee boeke gedoen.

..........

Reeks: Dolfie Weerwolfie
Skrywer: Paul van Loon
Illustreerder: Hugo van Look
Vertaler: Shawna-Leze Meiring
Uitgewer: LAPA Uitgewers

Oorspronklike titel en uitgewer: Dolfje Weerwolfje: Volle maan, WPG Kindermedia.

Dolfie Weerwolfie kom Suid-Afrika toe! Hierdie hoogs gewilde Nederlandse reeks oor ’n jong seuntjie wat op sy sewende verjaarsdag ’n weerwolf word, is vir die eerste keer in Afrikaans vertaal! Kinders sal mal wees oor Dolfie en sy vriende se humoristiese avonture. ’n Opwindende reeks wat hope pret waarborg!

Dolfie Weerwolfie

Toe Dolfie wakkerword is dit nog pikdonker. Die maan skyn deur die venster. Dis ’n spesiale nag. 
Sewe, dink Dolfie. Uiteindelik is ek sewe jaar oud! 
Dan skrik hy. Skielik het hy hare regoor sy lyf! Sy hande en voete is nou pote. En hy het sowaar ’n stert! Hy is … ’n weerwolf! 
Toe sy vriend Timmie opdaag, kla Dolfie: “Ek wil nie ’n weerwolf wees nie!” 
“Dalk gaan dit vanself weg,” stel Timmie voor. 
“Ja, jy kan maklik praat,” grom Dolfie. “En wat as dit nie weggaan nie? Wat dan?”

Dolfie Weerwolfie: Volmaan

Dolfie is saam met sy klasmaats op ’n skoolkamp. Hope pret en kattekwaad wag net om die draai … 
Een aand sit al die kinders om die kampvuur. Dis volmaan, en die onderwyser vertel ’n storie. 
Skielik begin Dolfie kriewel. Hy is weer besig om wolf te word! Hy hardloop geskok in die bos in. Niemand mag weet wat hy is nie! 
Maar Noura kom agter iets is fout en besluit om vir Dolfie te agtervolg …

..........

Die koning se paddaboudjies het ons belangstelling gewek omdat dit so aweregs en oorspronklik is. Sprokies is nog altyd gewild en belangrik in kinderliteratuur, en in ons huidige boekkultuur waar meer mense graag oor “diverse” onderwerpe wil lees, is hierdie boek perfek. Dit daag die “gewone” storielyne en karakters wat in sprokies te vinde is, ’n bietjie uit. Jaco Jacobs het ingestem om hierdie boek te vertaal.

Hoe het jy die Nederlandse sprokies ontdek?

In die katalogus van die Nederlandse uitgewer Van Holkema & Warendorf (ʼn druknaam van Uitgeverij Unieboek / Het Spectrum).

Hoeveel kort sprokies bevat die boek Die koning se paddaboudjies?

Daar is 15 sprokies in die boek.

..........

Titel: Die koning se paddaboudjies
Skrywe: Janneke Schotveld
Illustreerder: Verskeie
Vertaler: Jaco Jacobs
Uitgewer: Wenkbrou

Oorspronklike titel en uitgewer: De kikkerbilletjes van de koning en andere sprookjes, Holkema & Walendorf.

Hierdie moderne sprokiesboek bevat 15 moderne sprokies deur die topskrywer Janneke Schotveld. Die verhale handel onder andere oor die kleine Oek, wat dapper genoeg is om die bos binne te gaan waar ’n gevaarlike reus woon. Oor die ridder wat besluit om die prins van haar drome uit die kasteel van sy ouers te bevry. Oor die heks, Hettie, wat ’n besem vir haar verjaardag kry, maar nie durf vlieg nie. Oor prinses Lupine wat haar bruidegom uit 700 prinse moet kies, maar geen skoenlappers op haar maag voel met een van hulle nie. En oor die koning wat daarvan hou om paddaboudjies te eet – totdat hy self skielik in ’n padda verander.

Die koning se paddaboudjies is ’n bundel geestige en roerende sprokies wat net effens van die tradisionele sprokiesresep afwyk. Met elke verhaal is daar pragtige tekeninge van ’n ander topillustreerder, onder wie Martijn van der Linden, Thé Tjong-Khing, Linde Faas, Milja Praagman en Annet Schaap.

..........

Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy ervaar het tydens die vertaling van hierdie werke?

In die Dolfie Weerwolfie-boeke was dit vir my nodig om mooi te dink oor hoe om sekere elemente wat eie is aan Nederland en die Nederlandse kultuur te vertaal. Kinders in Suid-Afrika moet nog steeds met die stories kan identifiseer – gelukkig was daar nie te veel sulke probleme nie.

Neem ons deur die vertaalproses van ’n kinderreeks?

Wanneer uitgewers oorweeg watter boek om te vertaal, dink hulle aan dinge soos: Gaan hierdie storie vermaak bied vir die ouderdomsgroep? Is die tema gepas vir die ouderdomsgroep? As die uitgewer seker is van die antwoorde op hierdie vrae, kan die vertaalproses begin.

Dit is eerstens nodig om deur die teks te lees sodat mens ʼn gevoel vir die skrywer se styl kry. Tweedens moet jy doodgewoon sit en vertaal. Dis belangrik om op te let na veral die sinskonstruksies – tekste vir jonger lesers het dikwels korter en eenvoudiger sinne. Laastens kan mens nagaan of jy nie iets gemis (of verkeerd verstaan) het nie.

Hoe het die ooreenkomste/verskille tussen Nederland en Afrikaans die proses beïnvloed?

Ek moes net seker maak ek verstaan die stories reg sodat ek reg kan vertaal (maw ek moes let op die woordgebruik). Gelukkig vertaal ek na my moedertaal en nie andersom nie, anders sou ek vir seker nie die werkswoordtye reggekry het nie.

..........

’n Uittreksel uit die eerste sprokie, die titelverhaal,Die koning se paddaboudjies”

“Pappa, daar’s ’n padda in die tuin en hy sê ...” 
“’n Padda? Regtig? ’n Vars, wilde padda?” val die koning haar in die rede. 
Begonia knik. 
Die koning tuur oor die grasperk en sien die padda. Hy sit nog op presies dieselfde plek, reg langs die water. 
“’n Vars, wilde padda,” herhaal die koning en lek sy lippe af. 
“Pappa?”
Maar haar pa sien haar nie meer nie. Hy loop asof gehipnotiseerd buitentoe, reguit na die padda toe. 
“Pappa!” Begonia hardloop agter hom aan. 
En toe gebeur alles blitsvinnig. Die padda kwaak en daar kom ’n lang pienk tong uit sy bek te voorskyn. Asof die koning ’n vlieg is, skiet die tong op hom af. Die koning deins terug, maar die padda is te vinnig vir hom. En eensklaps is die koning weg. Poef, verdwyn, soos ’n borrel wat met ’n naald geprik is. Net sy kroon en sy klere bly op die gras lê. 
Die padda spring met ’n sierlike boog in die water en verdwyn. 
Begonia bly verbysterd agter. Sy staar na die hopie klere waarin haar pa ’n oomblik gelede nog was. Die mou van sy koninklike gewaad roer liggies. ’n Padda kruip daaruit. Hy kwaak wanhopig. 
“Pappa?” vra Begonia. 
“Kwaak,” sê die padda treurig. 
Begonia buk en maak ’n kommetjie met haar hande. Die paddakoning spring daarin. 
Begonia ril ’n bietjie, want hy is maar erg glibberig en grillerig.

“Genugtig! Wat doen jy met hierdie vieslike padda?” vra die koningin toe Begonia ’n paar minute later haar pa vir haar ma wys. 
“Dis nie ’n vieslike padda nie, dis Pappa!” roep Begonia uit. 
Haar ma bekyk die padda van naderby. “A, nou sien ek dit. Dieselfde dik neus.” 
Die padda kwaak verontwaardig. 
“Ja-nee, dit kom nou daarvan.” Die koningin skud haar kop. “Ek moes geweet het dinge gaan een of ander tyd skeefloop. Nou ja, daar’s net mooi niks wat ons daaraan kan doen nie. Ons moet hom maar in die paddaboudjiekelder gaan sit.” 
Daar is ’n harde gekwaak op Begonia se hand. 
Die koningin leun vorentoe tot haar kop reg by die padda is. “Wat is fout met die paddaboudjiekelder? Jy’t tog self gesê die paddas daar geniet hulle gate uit. En buitendien, jy wou mos hê Begonia moet môre die paddaboudjiekelder met haar eie oë sien. Een ou daggie vroeër sal tog nie saak maak nie. Sy gaan mal wees daaroor.” 
“Moet ons nie ’n towenaar vra om hom te help nie?” vra Begonia. 
“Ken jy miskien ’n towenaar?” 
Begonia aarsel ’n oomblik. 
“Sien?” sê haar ma. “Toe nou, kom.”

Die koning se paddaboudjies (Illustrasie: Thé Tjong-Khing)

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top