As jy die land van vuur en ys in die Noord-Atlantiese Oseaan aan die voete van Groenland besoek, moet jy natuurlik albei ervaar: vuur en ys, skryf Maryke Roberts ná tien magiese dae in dié ongerepte wildernis.
Dis laatoggend toe ons die stoordeur vir bagasie by ons Airbnb in Reykjavik oopsluit. Dis neffens ’n restaurantjie en my maag maak sulke draaie, omdat ons ontbyt van tunfisk (tuna-eier-mayonnaise-broodjies) en koffie by ’n petrolstasie onderweg, ure terug voel.
Ons moet ons huurmotor effe buite die stad afgee en dit het omtrent beplanning gekos om te reël dat ons daar opgelaai word deur die Destination Blue Lagoon-bussie (deel van Reykjavik Sightseeing) wat tussen Reykjavik en die Blue Lagoon ry. By hul depot elders in die stad laai ons nog mense op en hier is dit ’n geroesemoes van mense wat pas geland het en van ander wat op pad lughawe toe is, ná ’n wonderlike vakansie.
Iemand in daardie kantore hou goed kop, want almal is flink en vinnig in hul regte bus op pad.
Die plat Karooagtige vlaktes op pad na Blue Lagoon Iceland net buite Grindavík gee niks weg van wat op jou wag nie.
Vir baie besoekers is dit net ’n wêreldberoemde natuurlike vulkaniese warmwaterbron, luukse spa en vyfsterhotel, maar vir sommige is dit die tuiste van van die beste kookkuns en wyne wat in Ysland te kry is, met asemrowende uitsigte oor die vulkaniese horison.
Die drie restaurante op die perseel, die twee Michelin-ster Moss, Lava en die spa-restaurant, bied verskillende kulinêre ervarings, maar alles is luukse wyn- en koskombinasies. Vasgestelde spyskaarte bevat die beste vars en seisoenale bestanddele, ’n uitgebreide veganistiese spyskaart is beskikbaar, en sommeliers is byderhand om bekroonde wyne by gaste aan te beveel.
Die Yslandsgebore sjef Aggi Sverrisson se kookloopbaan het op die ouderdom van 18 begin en hy het onder meer in Engeland by Raymond Blanc aangesluit, by Le Manoir aux Quat'Saisons, die oudste twee Michelin-ster restaurant in die land. Hy word hoofsjef in 2005, stuur sy eie onderneming in 2007 van stapel, en word die sjefbeskermheer en baasbrein van Londen se bekende Texture Restaurant & Champagne Bar. Texture, wat in 2010 met ’n Michelin-ster vereer is, het sy gesogte toekenning vir tien merkwaardige jare behou.
In 2020 het Aggi na sy geboorteland teruggekeer en die uitvoerende sjef-posisie by Moss Restaurant ingeneem, waar hy Asiatiese geure integreer, terwyl hy Ysland se kulinêre grense verken en seisoenale bestanddele in tydlose fynproewer-ervarings omskep.
Die wynlys is omvangryk en beskik oor Australiese wyne, ’n wye verskeidenheid wit en rooi, en champagne uit Frankryk uit die wynstreke van Bordeaux, Languedoc, Champagne, die Rhône en Elsas; Italiaanse wyne van Piedmont, Veneto en Toskane, en Nieu-Seelandse wyne.
Ons het ’n BBP-kaartjie wat ons heeldag toegang tot die warmwaterbron en drie gesigmaskers gee en een gratis drankie in die warm water. Ons verklee in ons swembroeke en japonne en stap uit die reuse-ligdeurdrenkte gebou in die vaalblou water in. Dis soos badwater en met die ysige windjie wat oor die vlaktes waai, die beste plek om ’n middag te verwyl.
Die water is verryk met silika, alge en minerale en help met hernuwing en ontspanning. Jy dryf in klein inhammetjies in met jou glas wyn of yskoue bier en kort-kort gaan stop ons by die stalletjie waar die jong vrou vir ons handevol kleiagtige masker gee; dit word dan op jou gesig droog terwyl jy ontspan.
Ná drie uur se dryf en ons velle wat soos gedroogte pruime begin lyk, is dit tyd vir stort en aantrek vir ete in Lava Restaurant. Ons sit by die venster net soos die ikoniese foto wat oral in die wêreld gebruik word en kyk deur die spyskaart.
Ek is trots toe my oog die Mullineux Old Vines White 2019 van die Swartland raaklees. Ons probeer drink egter soveel moontlik wyne van ander lande as ons reis, om net weer te verstaan hoe lekker en watter goeie kwaliteit ons eie wynlande se vrug is.
Ons geniet die Louis M Martini Sonoma Coast Cabernet Sauvignon 2018 en Laroche Chablis Les Chanoines 2021. Die lawasout saam met ons varsgebakte brood met geklopte botter is maar net die begin van die feesmaal van garnaalsop en Yslandse forel as voorgereg, en gebraaide lam en vis uit die hawe as hoofgereg.
Voor of ná die ete kan gaste die ondergrondse wynkelder besoek, waar bottels netjies in lae teen eeue-oue lawarots gestapel is. Die Retreat se wynkelder is ’n ondergrondse heiligdom drie meter onder die grond. ’n Grot van veelkleurige, bevrore lawa wat in 1226 uitgespu is, word temperatuurbeheer en roep beelde van antieke grotskilderye op. Dis ’n wonderlike afsluiting van ’n uitsonderlike dag.
Die volgende dag is ons weer vroeg uit die vere; hierdie maal as deel van ons skip, die nuwe Norwegian Cruise Line (NCL) Prima, se komplimentêre uitstappie voor ons uit Ysland vertrek.
Van die gaste gaan Blue Lagoon toe en my hart trek ’n punt, maar ek weet ons dag gaan net so opwindend wees. Daar is in elke hawe waar die skip vasmeer, verskeie uitstappies.
Die wonderwerke van die Golden Circle was ons keuse. Ons gids is Robert Bentiason, wat nie net mal oor die geskiedenis is nie, maar ook ’n kranige fotograaf en hy verstaan dat ons oral wil stop vir mooi foto’s.
“Ysland is van die lande met die hoogste ekonomiese vryheid, ’n eerste vroulike president, die hoogste geslagsgelykheid in die werksplek en die minste politiese oneerlikheid,” vertel hy trots.
Die land het geen spoorlyn nie, maar die regering oorweeg tans ’n spoedtrein van die lughawe na Reykjavik.
Hy vertel voorts dat minder as 2% van Ysland se landmassa uit woude bestaan, omdat die Vikings die bome ’n 1000 jaar gelede vir huise en bootbou en vuurmaakhout gebruik het. Met 59 gletsers in Ysland sou ek ook maar droog en warm wou wees.
Ons eerste stop is by Geysir, sowat 90 minute se ry uit Reykjavik in die Haukadalur-vallei teen die hange van die Laugarfjall-heuwel.
Dié spuwende en spuitende kookwatergat in die middel van nêrens is die eerste wat moderne Europeërs teëgekom het en die woord “geysir” is afgelei van die Yslandiese werkwoord “geysa” (om te spuit). Die lug is soet en skoon en die dag helderblou.
Geysir is nie (tans) meer aktief nie, maar elke 7–10 minute spuit Strokkur sowat 50 meter verder en dis waar ons vasgenael staan.
Gelukkig het ons ’n gids, want dié wat sonder ’n gids daar is, wag by die verkeerde borrelende gate naby Geysir.
Die klein plat stukkie aarde waarin die water die een oomblik begin borrel en draai, verander binne sekondes in ’n luide uitspoeg meters die lug in. As jy jou oë knip, is dit verby en die water weer onheilspellend stil. Daardie eerste Europeërs moes hulle wind weggeskrik het vir die geraas!
Al wat vir ’n paar sekondes nog agterbly, is die reuk van gekookte eier van die ondergrondse mineraalryke water.
Die mense om jou praat nie maklik met jou nie, so ek is verbaas toe ’n lang blonde man langs my opmerk dat die omwentelinge in die water hom herinner aan sy grommende en kreunende maag ná ’n sterk kerrie van die vorige aand...
Terug in die bus vir ons volgende stopplek: die Gullfoss-waterval in die Hvítá-rivier. Die water kom van die Langjökull-gletser wat op die horison te sien is. Gullfoss beteken “goue valle” en daar is verskeie fabels oor waar dié naam vandaan kom: een is dat daar goud begrawe is en die ander dat die goue reënboog wat laataand oor die valle sigbaar is, die rede is vir die naam.
Die waterval is in totaliteit 32 meter hoog, maar het twee hoofvalle en die hoogste hiervan is 21 meter. Dis uitgesprei en lyk soos ’n reusebruidsluier.
As jy afstap om nader aan die valle te kom, stap jy by die standbeeld van Sigríður Tómasdóttir verby.
Robert vertel: “In 1907 het ’n Engelse sakeman, ene Howell, probeer om die waterval se energie te benut om ’n hidro-elektriese aanleg aan te dryf. Die waterval was op die boer Tómas Tómasson se plaas. Tómas het Howell se aanbod om die grond te koop van die hand gewys, maar dit wel aan hom verhuur, sonder die wete van ’n skuiwergat wat Howell in staat sou stel om voort te gaan met sy planne.
“Dit was Tómas se dogter Sigríður Tómasdóttir wat die hardste sou baklei teen die ontwikkeling. Sy het op haar pa se skaapplaas grootgeword en gehelp om die eerste pad na Gullfoss te plavei en haar eie geld gespaar om ’n prokureur te huur.”
Robert sê die heen en weer binne en buite die hof het vir jare aangehou en Sigríður gedwing om baie keer te voet na Reykjavík (meer as ’n 100 km ver) te reis.
Toe dinge nie in haar guns wou uitwerk nie, het Sigríður gedreig om haarself in die waterval te gooi as enige bouwerk begin.
“Haar deursettingsvermoë het egter vrugte afgewerp. In 1929 het Howell aan die huurkontrak onttrek, nie in staat om tred te hou met die koste en probleme van sy plan nie. Die waterval het dus weer in die hande van die Yslanders geval.
“Vandag word Sigríður erken vir haar volharding om Gullfoss te beskerm en sy word dikwels as Ysland se eerste omgewingskundige beskou. As sodanig is sy een van die bekendste figure in Ysland se geskiedenis. Haar bydrae is hier vir ewig in klip gemerk.”
Ek lees later dat die prokureur wat Sigríður bygestaan het, Sveinn Björnsson, in 1944 die eerste president van ’n onafhanklike Ysland geword het.
Naby aan haar standbeeld staan ek stil. Die waterval het al die gesels uitgedoof. Die ligte windjie dra die sagte misreën na my gesig. Ek steek my tong uit soos my klein standbeeldjie tuis van Frank van Reenen se Rain taster. Kop agteroor, oë opgeslaan.
Klein wurmpies loop oor die geplaveide paadjies. Heelwat is platgetrap.
’n Klein dogtertjie sit gebukkend en gooi die lewendiges terug gras toe. Haar pa kom haal haar en sê sy moet die wurmpies los, dis die natuur se manier, maar sy wil niks weet van die waterval nie.
’n Klein Sigríður is aan’t ontwikkel.
Ons smul vir middagete aan tamatiesop en Yslandse forel voordat die laaste stop in die Golden Circle aanbreek: een van slegs drie UNESCO Wêrelderfenisgebiede in Ysland, die Thingvellir-park waar die Yslandiese – en die wêreld – se eerste parlement in 930 gestig is.
Jy stap ver in die skeur in die grond langs voordat jy met houttrappies uitklim oor die rotse en afkyk op die groen grasperk waar alles begin het. Robert lag en sê: “Jy het geen visa, geen paspoort en geen rye om tussen Eurasië en die Amerikas te reis nie.” Die skeur tussen die twee kontinente, wat deur tektoniese plaat-verskuiwing veroorsaak is, is die enigste plek op aarde waar dit bogronds sigbaar is.
Die ervarings was verrykend en insiggewend. ’n Mens voel klein in die geskiedenis as jy op soveel plekke in Ysland sien wat miljoene jare gelede gebeur het en hoe die aarde se kors verskeur en verander het.
Ons dink dalk ons is opgewasse om die natuur teë te staan, maar sy laat haar nie voorskryf nie!
Kitsfeite
- Bespreek jou vervoer tussen Reykjavik en Blue Lagoon Iceland, of enige ander toere deur die land, deur Reykjavik Sightseeing wat onder meer lughawebussies en vervoer tussen Reykjavik en Blue Lagoon Iceland bedryf: https://www.reykjaviksightseeing.is/
- Bespreek jou kuiertyd, spabehandelings of etes by Blue Lagoon Iceland: https://www.bluelagoon.com/. Geen toegang sonder besprekings word toegelaat nie.
> Woorde: Maryke Roberts
> Foto’s verskaf: Clifford Roberts