............
“Wat ek sien is soveel wêrelde verwyderd van wat ons beleef het bo die grond, daar waar hulle geklee is van kop tot tone. Stiller, dalk selfs skamer. Hier word luidkeels gekuier – hare los, vry, laggend, kaal en duidelik baie gemaklik in hulle eie velle. Hulle kuier só lekker, ek wens vir ’n oomblik ons kan saamgesels.”
............
Die vroue in Marokko sien of hoor jy selde. Hulle is in agterkamers en in kombuise besig om stilweg te werkskaf. Dis die mans wat die praatwerk en transaksies doen, op reklameborde verskyn, selfs die kos bedien. Koning Mohammed VI se gesig sien jy orals. Hier en daar vang jy ’n vrou se oog waar sy skaamweg uit potte skep of aartappels skil. En jy knik en glimlag vir haar in die hoop dat sy sal weet jy is dankbaar vir die heerlike warm bord kos.
Een van die vele flambojante mans wat ons bedien in Marokko, die keer in ’n restaurant in die Dadesvallei.
Ons koop heerlike dadels. Die winkels word meestal deur mans beman.
Ons reis een April deur die land en ontmoet net een keer ’n vrou met wie ons ’n sinvolle gesprek kon hê – in ons hostel in Fez. Fez se medina, oftewel ou stad, betree ons laat die aand na ons in die stad arriveer uit die noorde van die land, waar ons deur Chefchaouen en Meknes gereis het. Die medina in Fez is een van Marokko, en klaarblyklik die wêreld, se grootste karlose sones. Dis ’n doolhof soos ek nog nooit weer beleef het nie. Ons vaar hom te voet in met ons rugsakke op ons rûe, toe dit reeds donker is. Dit sluk jou behoorlik in en verdwaal is onafwendbaar, selfs met Google Maps. Steeg op steeg, die een nou straat op die volgende wat in ’n doodloop eindig, of ’n houtdeur wat lei na of iemand se voorkamer of net nóg ’n hoë-bemuurde steeg. Die ouwêreldse atmosfeer laat jou dink dis hoe Jerusalem ook moet voel en lyk. Ek wag vir ’n ramshoring om iewers te blaas.
Ons neem ’n foto saam met die kelner van ’n restaurant wat ons in die Dadesvallei besoek.
Tot jy uiteindelik, wonder bo wonder, voor ’n groot ou deur te staan kom, klop en die eienaar van die hostel die deur oopmaak. Dis ook hier in ons hostel in Fez waar ons vir Sukjena ontmoet. Sy is jonk, studeer by Fez Universiteit en werk deeltyds as ontvangsdame hier by Dar El Yasmine. En sy praat Engels met ’n pragtige middel-Oosterse aksent.
Sy bring dadelik die pepermenttee in ’n blink teepot met klein glas glasies op ’n soortegelyke blink skinkbord, soos die gebruik is waarookal in die land jy arriveer. Dit word gegooi met ’n lang straal dat die stoom trek en is elke keer heerlik verfrissend.
Hoe die pepermenttee bedien word in Marokko – Staalketel en skinkbord, klein glasies en suikerblokkies.
’n Paar Marokkaanse mans geniet 'n koppie pepermenttee in die agtermiddag op ’n stoep in Imlil.
Dit is dadelik duidelik dat Sukjena (ons onthou dit as Soek jy na?) alles weet van die stad en ook Fès-Meknès, die provinsie waarin ons ons toe bevind. Ons vra alles wat ons graag wil weet: Hoe vind ons die pad na die naaste plek vir kos? Het hulle vir ons ’n kaart van die ou stad. Waarvoor moet ons pasop? Hoe laat word ontbyt bedien? Kan ons water uit die kraan drink? Ons hang aan haar lippe; die eerste Marokkaanse vrou met wie ons ’n gesprek het in die land van melk en heuning.
Ons vind uiteindelik ons hostel, Dar El Yasmine.
Ons ontmoet vir Sukjena en sy vertel ons alles wat ons moet weet oor ’n koppie pepermenttee.
Een ding maak sy duidelik: daar is ’n besienswaardigheid wat ons absoluut nie mag misloop nie – die hammam. Dis die Marokkaanse bad wat ’n groot deel uitmaak van die kultuur hier, vertel sy, omdat hulle in die Islam-geloof gereeld moet reinig voordat hulle bid. Moet mens heeltemal kaal wees?, is ons eerste vraag. En dan, is die bad vir mans én vrouens? Nee, antwoord sy beslis op albei vrae. Julle kan julle onderklere of swembroek aanhou – dis soos ’n sauna by ’n gim. Sy kan môre-aand saam met ons na een toe gaan. Daar is ’n paar goeie opsies in die omtes. Ons skrik nie vir koue patat nie … afgespreek!
Charmaine, Anna en ek verken Fez die dag voor ons groot badsessie.
Die volgende aand kom ons terug by die hostel met elke intensie om saam met Sukjena na die bad te verkas. Dit was ’n lang dag van die stad verken, verdwaal en leerlooierye en matwinkels besoek. Wat sal nou beter wees as ’n stomerige sauna-ervaring? Charmaine het al Turkye se baddens ervaar en terdeë geniet, ek het al ’n paar keer die Koreaanse jimjilbangs beleef. En ons het boonop nou al die storie gegoogle – dit lyk luuks en lekker. Dis ’n kulturele ervaring wat ons nie wil misloop nie.
Ons verken die leerlooiery in Fez. Dis een van die groot aantreklikhede van die stad. Hulle gee jou ’n mentblaar as jy arriveer, om by jou neus te hou. Dit help met die stank!
Sukjena is egter skoonveld. Ons vra na haar en wag so ’n rukkie. Maar, Ismail die eienaar wil nie hê ons moet wag nie en besluit om ’n plan te maak. Kort voor lank word ons geroep na die voordeur en Ismail stel ons voor aan sy goeie vriend wat ons sal neem na die poorte van die bad. Ons kan net vir hom ons kontant gee. Hy kan nie juis Engels praat nie, maar hy sal mooi na ons kyk.
’n Foto van die beligte stegies wat ons in Fez se medina probeer navigeer.
Ons volg vir Naamloos deur die stegies en bedrywige strate. Dis ’n laatwintersaand in April en mense sit en eet sop op straat of maak die laaste aankope vir die dag. Kort voor lank staan ons voor ’n toe deur en Naamloos klop drie keer. ’n Ouerige tannie met ’n stortkep maak die deur oop. Daar word geredekawel vir ’n wyle, terwyl ons drie met ons rugsakke en poniesterte op ’n ry staan en wag. Dan word ons ingenooi en verduidelik dat Stortkep ons verder sal neem. Naamloos sal ons later weer hier ontmoet. Dis vinnig duidelik dat niemand hier ’n woord Engels praat nie. En vir die rekord, nie een van ons kan ’n woord Arabies verstaan, lees of praat nie.
Ons volg vir Stortkep na ’n stomende ondergrondse spasie – dadelik oorval met walms van seep en opknapper. Sover nog nie ’n sauna in ’n gym of hotel nie. Dit kom dalk nog.
Dan kom daar twee ou tannies nader – kaal bolywe, los hare. Stortkep verduidelik aan hulle dat ons nou deur so-en-so hier afgelaai is. Een ding besef ons redelik vinnig – dis nie ’n toeristebad met aanwysings in Engels nie. Ons is gebring na die buurt se hamman, Dis soos die algemene handelaar, die real Makoya. Dié dat ons hulle so onkant vang. Hier was waarskynlik nog nie veel, indien enige, buitelanders hier nie.
Ons is so dik van die lag, maar so onseker oor wat nou op ons wag, dat ons nog ons asems ophou. Ons wil ook graag enige rituele wat hier mag afspeel ten diepste respekteer.
Swart Pantie links, wys ons na ’n kamer onder die trappe, vra dat ons moet uittrek en wys waar om ons goed te bêre. Ons trek uit tot by ons panties en sportbra’s (dis wat Sukjena gesê het is aanvaarbaar), vou handdoeke om ons middels. Dan kom Swart Pantie weer in en druk haar hand tussen my rug en my bra in. Julle moet kaal bolyf wees, sê sy kwaaierig. Dis nou so, vanaand sien ons mekaar en al die Marokkaanse tannies in hierdie bad kaal. Daar is geen omdraaikans meer nie.
Dan neem sy ons by die hand en lei ons om die draai deur een stomende vertrek (vol babbelende tannies) na die volgende. Ek kan skaars my oë glo. Wat ek sien is soveel wêrelde verwyderd van wat ons beleef het bo die grond, daar waar hulle geklee is van kop tot tone. Stiller, dalk selfs skamer. Hier word luidkeels gekuier – hare los, vry, laggend, kaal en duidelik baie gemaklik in hulle eie velle. Hulle kuier só lekker, ek wens vir ’n oomblik ons kan saamgesels.
’n Vrou op straat in Imlil is mooi getooi in blou en pers hijab.
Die kamers is nat en stomend. Teelvloere en kleimure is ouwêrelds, met reuke van laventel en kokosneutolie. Het ons ’n stil spa met wit slippers en kamerjasse verwag? Dalk, maar dié is soveel beter. Hoeveel geslagte kom bad al vir jare hier?, wonder ons.
Dan neem sy ons na ’n stiller kamer in die hoek. Al wat daar is, is ’n vont of fontein waar die water geskep word, en in die ander hoek ’n tannie wat besig is om te was. Sy maak ons sit op ’n ry, terwyl die tannies die vloer in gereedheid bring.
Die warm water word in die hoek van die vertrek in verskeie emmers geskep en nader gebring. Die tannies is oud (60, 70?) en loop gebukkend met bakbene, skuifel-skuifel. Ek bied aan om ’n emmer of twee self te skep, maar tevergeefs, die tannie is kwaai en sê ons moet sit.
Teen dié tyd kan ons glad nie ophou lag nie. Dis alles bietjie meer intiem as wat ons ons voorgestel het en ons het geen idee wat volg nie. Ons probeer saam sin maak van haar instruksies. Sy wil hê Anna moet gaan lê, maar eers vra sy die tannie oorkant ons (wat intussen klaar gewas het) of ons haar matjie kan leen. Ons is werklik gemaklik op die teels, probeer ons verduidelik en keer. Drie totale vreemdelinge wat nou kaalbas op hierdie matjie gebad gaan word? Natuurlik, sê die tannie en bring hom nader. Swart Pantie wink, wys na die tannie en sê ons moet dankie sê. Sy red ons duidelik van bad op ’n kaal vloer. Ons knik vriendelik. Shukran, shukran.
Anna is op die mat en ek en Charmaine sit kruisbeen en wag. Anna praat ons deur die proses soos ’n rugbykommentator – Arabies na Afrikaans. Dis een of ander olie wat Swart Pantie eerste op haar lyf smeer. Sy vermoed dis argan oil, dit ruik heerlik en voel lekker. Dis nou seker die spa-deel wat Sukjena van gepraat het? Ouens, sy wás nogal hoor. Hier word met mening gesmeer en gevryf. Eers op jou rug, dan jou bene en jou arms. Wanneer sy reg is, word jy twee keer op die boud geslaan – tyd om om te draai.
Intussen kom Rooi Pantie terug met ’n hele string Pantene sachets vol sjampoe en opknapper. Ons maak later die som dat jy jou eie seep ensomeer moet saambring. Ons, nikswetend, het niks gebring nie, toe maak hulle ’n plan en stuur iemand oor die pad om te gaan koop. Gewas moet dié kinders gewas word.
Toe Charmaine weer gaan sit vir ’n volgende rondte, wys Rooi Pantie na die seep sachet in haar hand en dan na haar tande wat nie meer daar is nie. Sy trek haar skouers op en lig haar wenkbroue om te sê: “Ek gaan hulle nie oopkry met my nat hande nie en ek weet jy weet dis onmoontlik sonder tande. Jy moet help.” Vandaar gee hulle elke keer die sakkies vir ons aan om te help oopmaak. Seep in die mond, maak nie saak nie. Na elke skrop of wassessie word ’n emmer warm water oor jou uitgekeer. Dit voel met tye soos waterkaskenades.
Toe Charmaine ’n volgende keer opstaan om gewas te word (sy toring behoorlik bo die tannies uit, wat alles soveel snaakser maak) en gebukkend staan om te hoor wat die instruksies is, vat sy Charmaine by die hand en sê iets herhaaldelik. Fatima, hand op die bors, Harira, hand op Rooi Pantie se bors. Dis hulle name, snap Charmaine, en stel ons voor deur stadig ons name uit te spreek. Hulle het nou ook saam met ons begin ontspan en lag.
Ek is byvoorbeeld intussen bloedrooi verkleur van die hitte (of dalk die bloos), en Fatima vind dit baie amusant. Sy vat aan my wange en skiet sterretjies met haar vingers om te wys sy kan sien ek is rooi. En dan lag sy lekker uit haar maag. Sy moet seker dink hierdie liewe Europeërs is verlore.
Na die olie en seep word ons met ’n growwe seep gewas en geskrop. Ek lê op my rug en kyk op. Al wat ek sien is tande en tiete. Ek sê dit vir Charmaine en Anna en ons kreun van die lag. Dit is een van daai oomblikke wat jy wonder wat jou ma sou dink as sy jou nou moet sien. Hier’s ons nou onder die grond in Fez in ’n Marokkaanse bad, besig om gebad te word deur twee liewe tannies.
Later moet ons regop sit sodat ons hare gewas en gekam kan word. Ook dít doen hulle met mening. Soveel so dat ons vir ’n paar dae nie weer ons hare hoef te was nie!
Daar is ’n finale afspoel en ons besef alles kom nou tot ’n einde. Net voor ons loop bring Harira en Fatima ’n jong meisie na ons toe wat Frans en bietjie Engels kan praat. Ons probeer verduidelik dat ons van Suid-Afrika is en dat dit ’n wonderlike ervaring vir ons was. Ek skryf dit later ook op ’n papiertjie sodat sy dit kan vertaal en oordra aan Fatima en Harira. We had a wonderful time here with you all. We’re from South Africa. Thank you for washing us and for being so kind.
Maar, die woorde is oorbodig. Toe Fatima en Harira ons by die deur groet, groet ons terug met ’n soen op die wang, ’n druk en niks meer nie. Hulle weet, ons weet.
Naamloos wag getrou by die deur toe ons uitkom, nogal met drie botteltjies water. Ek bly rooi geskrop vir ’n goeie uur of wat en by die hostel is dit ’n behoorlike show and tell. Ons trane rol van die lag – ook vir die dae hierna soos ons die ervaring herleef.
Anna en Charmaine lag weer vir ons badstorie toe ons dit vir die soveelste keer oorvertel.
Een wonderlike besef het dit wel gebring: Die geskenk was uiteindelik dat Sukjena nie beskikbaar was nie, want sy sou ons sonder twyfel na die beste toeriste hammam in die area geneem het. As jy werklik ’n land se binnekamer kan sien, sonder die betoeisels en vertalings, dan is dit ’n voorreg wat vir min gegun word. Om jouself kaal uit trek, spreekwoordelik, of dan werklik, gun jy jouself die kans om te sien wat nie op die oppervlake te siene is nie.
Die saamkomplek, die samehorigheid en die eenstemmigheid gebeur dalk onder die grond.
’n Straatkunstenaar in Fez verf iets op straat. Die kleure van Marokko is iets merkwaardig.
Groot matwinkels is oral in Fez en in Marokko en dis ’n wonderlike ervaring om hier matte te koop en te bekyk.
Ons proe heerlike nougat in Fez.
Straatkafees verkoop lam- en groentebredies wat lank in Marokko se bekende tagines kook. Hier wag ’n vrou vir kliënte in Imlil (ek neem dit af, want jy sien dit selde).
Ons verken Fez se kleurvolle strate en ’n paar straatkunstenaars kom verby.
Die vroue in Marokko dra soms die heel mooiste lap as ’n hijab.