’n Paar jaar gelede het ons op jag na die noorderligte (aurora borealis) in die Arktiese Sirkel in Finland bykans ’n huispaaiement betaal vir twee – op die ou einde heerlike – hot dogs (Finse styl, natuurlik). Geen natuurskouspel nie, maar darem mosterd- én tamatiesous, dankie. Nou het twee heerlike pannekoeke in Ysland weer só ’n duur uitstappie geword, skryf Maryke Roberts.
Wag, laat ek nie die storie so in die “middelt begint” soos my ouma altyd gesê het nie. Die storie met die hot dogs gaan so: jy gaan saam met ’n toeroperateur in die middel van die nag vanuit Rovaniemi (ja, daar waar Kersvader woon) en wag dan in die stikdonker nag in die sneeubedekte woud vir die ligte om hul magiese dans oor die hemelruim te kom doen.
As die toeroperateur, ná ’n uur of wat se rondstap en “oe” en “aa” en sneeuballe gooi, sien die toeriste raak ongedurig, want daar kom niks van die ligte nie want die wolke hang te laag in die lug, sit jy om ’n vuur en braai wors op ’n stok. Jy ontmoet die mense langs jou, julle sing lekker om die kampvuur, drink koffie, warmsjokolade en vertel spookstories tot die 3,5 uur om is en dan gaan jy huis toe. Dus: ’n huispaaiement vir twee hot dogs.
Ja, OK, ek weet, die ervaring is een wat my vir altyd sal bybly, die naghemel só ver noord, die stilte tussen die bome waarvan die takke kreun onder die sneeu, my sneeuskoene wat sulke ongeskikte “burp”-geluide maak as ek tot by my knieë wegsak in die sneeu, en die voorreg om in Finland te wees met ’n yspakkie wat my soos ’n Michelin-mannetjie laat lyk, is emmerlysstoffasie. Maar om al daai geld te betaal...
Goed, draai die horlosie vyf jaar aan. Ons is in die noordweste van Ysland.
Almal wat hoor van ons reisbestemming, vra opgewonde of ons die noorderligte gaan jaag, maar nee, dankie, sê dié gansie. Het klaar in daai strik getrap en weet iewers sit Moeder Natuur op ’n reuseklip en lag vir ons.
Ons gaan die noordelikste park in die land Hornstrandir-natuurreservaat besoek vir ’n heerlike stap van 14 kilometer en op soek na die ontwykende of skugter Arktiese vos. Ja, ek weet, die woorde “ontwykende of skugter” laat flikker waarskuwingsligte, maar ’n mens leef mos maar in hoop.
Dis een van die min plekke op aarde waar die vosse hul welpies sonder vrees kan grootmaak, want die eiland word nie voltyds bewoon nie.
Dis ’n stappersparadys en die getalle word streng beperk, so daar is nooit meer as ’n handjievol stappers wat mag kamp en oornag in die gerestoureerde plaashuis naby die vasmeerplek nie.
Permitte word uitgereik en net gekwalifiseerde gidse en geregistreerde toeroperateurs mag tussen die eilande werk.
Ander toeriste deel gereeld hul foto’s van die vosse as hul uit hul grondtonnels kruip om met laagwater krappies en krefies op die strand te kom jag.
Die uitstappie neem die hele dag en jy vertrek van Ísafjörður per ferrie. Die rit tot by Kvíar duur ongeveer ’n rapsie meer as ’n uur, maar ons het enjinprobleme gehad en moes deur ’n ander skip in die ysige waters van die Yslandsee “gered” word.
Ons rugsak is gepak met vars tunabroodjies, koffie en Besta Settið, ’n drop en melksjokolade dubbeldekker wat ons by ’n garage-winkel langs die pad gesien en toe deur die gawe winkelassistent, Fríđa Birna Þràinsdòttir, oortuig is dat dit “crazy good” sjokolade is. Ons is toe al op ons vyfde plak hiervan in die kort tydjie in Ysland, want dis buitengewoon maar heerlik.
Ons gids vir die dag, Luke Miller, ’n Kanadese wetenskaplike wat navorsing doen vir ’n meestersgraad en bedags toere vir Borea Adventures behartig, neem ons groepie van vyf eenkant en verduidelik hoe die dag gaan verloop: voormiddag stap ons lekker ver en soek nie net vir die vosse nie, maar leer meer oor die plantegroei, die gletsers en die fjords (die lang gleuwe in die aarde wat deur gletsers gevorm is).
Dan is dit tyd vir middagete en as almal ’n bietjie ontspan het, durf ons die middagstap aan, wat ’n stap na die ou walvisstasie is.
Hy stop kort-kort en wys ons onder meer seeroketbossies (deel van die mosterdfamilie) en engelwortel en sê dis algemeen in Ysland en mense trek ’n tee of maak olie daarvan, om allerhande virusse af te weer.
Ons sien heelwat vars vosspore in die pikswart sand. Jy kan die opwinding in die klein groepie voel.
Hy vertel: “Die Arktiese vos hou van die kosgeleenthede wat laaggety bied, omdat alles wat krioel en kruip, dan uit die nat sand kom. Hulle is ook opportunistiese snuffelaars en versamelaars en stoor kos soos voëleiers in hul den. Die den het soms tot vier of vyf afdraaie en lang tonnels en kan tot 50 vierkante meter groot wees binne.
“Kos is skaars in Ysland en vosse het 5, 6 welpies, maar net 1 of 2 oorleef. Die ouerpaar grawe die den en verkies die suidelike kant van die duine, wat vir langer periodes warm bly, omdat dit langer in die son bak.”
Ons kyk uit oor die see en in die verte wink die Drangajökull-gletser en Luke beduie dat “jökull” “gletser” in Yslandies is, daarom is dit agteraan elkeen van dié eiland se gletsername.
Die lug is amper soet so vars is dit. Die blousel bo ons koppe, die seevoëls wat af en toe verbyswiep en die klotsende water is vredig.
Maar die vosse bly buite sig.
“Hoekom kan ons hulle nie net met ons padkos voer en wag dat hulle kom eet nie?” vra die 10-jarige, outistiese, Britse seuntjie in ons geselskap. Al die grootmense val oor mekaar om hom te antwoord oor ’n mens meng nie met die natuur in nie en al die goed wat jou logika jou vertel. Maar ek moet erken, vir ’n oomblik of drie dink ek presies dieselfde gedagte. Die teleurstelling wil my amper (weer) oorweldig.
Maar helaas, die soeke na die Arktiese vos kom teen middagete tot ’n einde. Ons gaan sit agter die gastehuis en eet ons peuselgoed en wag vir twee ander groepe en hul gidse, wat op verskillende ontdekkingstogte was. Een paartjie het bo in die berg verloof geraak en die jong verloofde meisie kom met ’n groot glimlag (én diamant) en blink oë vir almal wys.
Uit die kombuis kom daar ’n vertroostende soet reuk: pannekoek! Saam met die koffie terwyl ons tekkies en sokkies uitdroog en die watervalle om ons teen die grasgroen heuwels afstroom, is dit sekerlik so na aan perfek as kan kom. Tussen die soet happe deur kom vertel Luke die Yslanders het ’n ding met pannekoeke en het selfs ’n pannekoekdag in Junie om die koms van die son te vier as dit in Solgata, een van Ísafjörður se groot strate, skyn.
Die middagstap is na die ou walvisstasie. Die vorige paar dae se reën het die brug weggespoel en dis kaalvoet oor die rivier. Ek begin deurloop, maar draai om en gaan slaan eerder bergop voet. Hoe verder jy stap, hoe sagter word die watervalle en rivier, wat al kleiner langs jou word.
Ek is heeltemal alleen bo teen die berg. Daar is lang gras en ek gaan lê daarin, maak my oë toe en ervaar die ongekende stilte. ’n Mens kan jou verbeel jy is op ’n ander planeet.
Ek moes ingesluimer het, want ’n vrou se stem maak my wakker. Sy sit kruisbeen in die lang gras en eet iets. Ek sit regop en kyk na haar. Sy pluk bloubessies! Sy vertel al kouend dat dit hul “somer”-tydverdryf is hier en dat ek moet meedoen. Ek laat my nie twee maal nooi nie.
Ek is later knuppeldik en begin die terugtog na die gastehuis op die wal toe ek die ferrie in die verte sien.
Voor ons die reservaat groet, is daar lekker sop en brood.
Die vaart terug is stil. Almal is besig met hul eie gedagtes, effense seer spiere, maar dankbaar vir die 24 500 treë wat my slimfoon wys ek dié dag gestap het.
As jy laatmiddag in die stikdonkerte weer in Ísafjörður aan wal gaan, is jy dankbaar vir die heerlike ete wat by Restaurant Tjöruhúsið (Teerhuis) op jou wag. Die lae, pikswart geboutjie was in sy vorige gedaante ’n teerfabriek en nou een van Westfjords – en die land – se bekendste eetplekke.
Die restaurant is nie heeljaar oop nie, want sonder behoorlike isolasie en met baie dik sneeu kan dit nie in die hoogwinter gebruik word nie en is hulle dus baie vol bespreek. Toe ek op Facebook navraag doen, kom die antwoord ewe kordaat: “As jy buite seisoen by ons wil kom eet, moet jy navraag doen of ons oop is – maar ons is heel moontlik nie.”
Gaste sit skouer aan skouer by ’n hele paar lang tafels in drie vasgestelde tydgleuwe vir die dag. Die restaurant is geliefd vir sy vis en seekos wat in reusepanne bedien word. Daar is nie ’n formele spyskaart of drankieslys nie – jy kry wat die vissersbote daardie dag ingebring het of soos die kelner verklaar: julle gaan nou Oliver Twist-styl sop kry (gaan weer en weer terug vir meer), maar die vis is só vars, ons weet nog self nie eers wat dit is nie!
Wyn en bier is in ’n emmer met ys by die voordeur. Jy betaal vir alles so tussen die gesels deur, wanneer jy drie uur later groet.
Die ete is nie net ’n klankkakofonie nie, maar ook ’n geur- en kleurmalligheid. Jy skep soveel keer jy wil en die vis is op elke denkbare manier gaargemaak. Daarby is slaaie en bykosse.
Die personeel het die gaste in die palm van hul hand. Hulle weet die geleentheid gaan om meer as net kos en samesyn; dis kosteater hierdie. Hul kwinkslae laat skater ons kort-kort van die lag, en as jy tussen die gedreun probeer uitmaak watter taal mense praat, is dit Hongaars, Japannees, Yslandies, Duits en Frans wat om jou dreun.
’n Rakkie met langspeelplate en ’n draaitafel staan in die hoek en speel al die ou treffers, maar die stemme en samesyn is al musiek wat jy hoor.
In die donker tonnel – wat voel of dit uit ’n ander eeu dateer – tussen Ísafjörður en Flateyri waar ons tuisgaan, gee ek my gedagtes vrye teuels. Ek herkou die dag. Nog ’n hoop geld vir iets kleins soos twee pannekoeke; geen Arktiese vos nie.
Maar hoeveel mense ken jy wat twee huispaaiemente aan die uithoeke van die wêreld uitgegee het en net ’n mondvol lekkerte daarvoor kon wys?
Gaan verken ook:
- Die nuwe observasiedek op die Bolafjallberg by Bolungarvík het op 1 September amptelik geopen en die 60-ton-staalstruktuur gee jou die geleentheid om heelbo op een van die hemelhoë inhamme in die land te staan.
- Met ons besoek was die wind stormsterk en dié uitstappie nogal ’n adrenalienavontuur, maar om 636 meter bo die see te staan en uit te kyk oor Ísafjarðadjúp, Jökulfirðir en die Hornstrandir-natuurreservaat is ’n belewenis. Sommige sê op ’n mooi dag kan jy tot sover as Groenland sien. Die loopvlak is rolstoelvriendelik.
- Die Westfjords Geskiedenismuseum naby die Restaurant Tjöruhúsið op die klein dorpsplein neffens die toerismekantoor. Gunnar Smári Rögnvaldsson is die museumman wat ons daar rondwys en stories oor die omgewing vertel. Daar is wit lapskerms waarop ou films en dokumentêre filmgrepe uit die 1900’s gespeel word en die insig in die lewe op hierdie onherbergsame eiland ’n 1000 jaar gelede is verstommend. ’n Mens kan nie glo dat die mense vasgebyt en oorwin het nie.
Op die eerste vloer kan jy ou klere aantrek en selfies neem en in die hoek ’n interessante film kyk oor die geskiedenis van Ysland se vissers.
Klim in die klein kloktoring en kyk uit oor die dorp en berge voor jy groet.
Borea Adventures in Ísafjörður bied verskeie uitstappies van een dag tot 12 dae aan. Jy kan fietsry, kajak, walvisse of voëls gaan kyk en vele meer doen. Die meeste daguitstappies sluit iets te ete in en wie weet, dalk sien jy die Arktiese vos!
- Woorde: Maryke Roberts
- Foto’s: Clifford Roberts