Die plek waar ons voorsate geleef het

  • 0

Sedert die Taung-kind 96 jaar gelede in Suid-Afrika gevind is, het die land deurlopend bygedra tot die bou van die mensdom se evolusionêre storie. Van die rykste en uiteenlopende fossielterreine op aarde is hier.

Hy was nie ’n dier nie. Sy maaltande is groot en die tipiese lang snytande van ’n aap is weg, dis klein soos dié van ’n mens.

En die belangrikste van alles: Hy het sy kop regop gehou, en daarom het hy op twee bene geloop. Dié skedel, wat die hele wêreld van paleontologie sou begin verander, is klein: So groot soos ’n pomelo, lê hy in die hand. Australopithecus africanus.

Vandag is die oorspronklike Taungskedel weggesluit in ’n kluis en net soms kan ’n mens dit op uitstalling by Maropeng in die Wieg van die Mensdom sien.

Die Taung-kind was drie jaar oud toe hy dood is. Die melktande sit nog in die skedel, het X-strale gewys. In die graslandskap wat min verander het in meer as drie miljoen jaar, was die enigste skuilplekke grotte, maar dit is ook daar waar hulle soms gesterf het en nou gevind kan word. Die kloumerke sit steeds in sy oogkaste waar die roofvoël hom destyds opgetel en doodgemaak het.

Raymond Dart (31), ’n Australiër, was pas aangestel as hoof van anatomie by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) toe die Taung-kind (480 km van die Wieg van die Mensdom naby Kimberley) in 1924 aan hom gegee is, nadat myners dit gevind het.

Die Taung-kind word bewaar in ’n kluis by Wits. Foto: Elsabé Brits

Vir die verkramptes hier en oorsee wat geglo het die mens moes in Europa ontstaan – wat beteken ons voorsate is wit en nie van Afrika nie – was Dart se publikasie in die vaktydskrif Nature in 1925 skreiend. Mense het geglo hul voorsate kom uit Asië of Europa, maar nié Afrika nié.

Tog het Charles Darwin in 1871 in The Descent of Man geskryf, sonder dat hy ooit ’n hominied-fossiel gesien het, die mens se gemeenskaplike voorsaat het in Afrika ontstaan. Hy was reg. Die fossiele in Suid-Afrika en Oos-Afrika het net gelê en wag om deur die regte mense ontdek te word.

Dart is verguis en die kritiek was baie traumaties vir hom. Die eksentrieke Robert Broom, ’n Skot, het in Dart geglo en begin soek. ’n Man van groot kontraste, ’n evolusionis wat ook in geeste geglo het.

Tussen 1936 en 1947 het hy fossiele van hominiede in die Sterkfontein-omgewing gevind. Altyd in sy swart pak en gestyfde boortjie daag Broom by die terreine op. En toe blaas hy Mev. Ples, wat hy aanvanklik Plesianthropus transvaalensis noem, uit die rots met dinamiet – nie juis die beste tegniek nie.

Maar by nadere ondersoek het hy gevind dit is net soos Taung, ’n Australopithecus africanus, en dit word geherklassifiseer. Dit was die deurbraak waarvoor gewag is. Die wêreld het anders begin dink, maar nie Suid-Afrika nie, want in 1948 het die land teruggeval in die donker eeue van denke. Broom het aan die einde van sy lewe fanaties gewerk om ’n wetenskaplike verslag hieroor te voltooi.

Op 6 April 1951 skryf hy in sy dagboek: “Now that’s fi-nished ... and so am I.” Hy is dieselfde aand dood. Jan Smuts, die eerste minister wat sy amp verloor het toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind kom, was ’n ywerige botanis en vriend van Broom. Hy het die opgrawings gesteun en gehelp om Sterkfontein teen mynbedrywighede te beskerm.

Die nuwe NP-regering was uitgesproke gekant teen evolusie en kinders het nie op skool daarvan geleer nie totdat die regime in 1994 verander het.

Honderde wetenskaplikes van die uithoeke van die aarde stroom sedert die 1940’s hierheen om na fossiele te kyk. Moedig het Phillip Tobias en talle ander die werk in Suid-Afrika voortgesit, en honderde fossiele in die Wieg van die Mensdom en Makapansgat opgegrawe.

Hulle het ook ons fossiele aan die wêreld bekendgestel. Intussen is daar deur die jare ook ander belangrike spesies in Oos-Afrika ontdek. Die genetika het bygekom en sy stempel afgedruk: Die mens ís van Afrika en het van hier gemigreer in twee groot uittogte. Miljoene klipwerktuie en gereedskap is al oor die land heen gevind, ook van die oudste simboliese gebruike, wat dui op gevorderde begrip en kultuur.

Lee Berger, aan die Instituut van Evolusionêre Studies aan Wits, het in 2008 ’n grot op die Malapa-terrein in die Wieg gevind met nog ’n spesie, Australopithecus sediba. Twee redelik volledige fossiele van dié nuwe hominiedspesie van 1,97 miljoen jaar gelede het ongekende nuwe inligting oor die mens se evolusie ontsluit.

Van links die skelette van ’n moderne mens; Australopithecus sediba; en ’n mannetjie-sjimpansee. Skets: Wits.

Die skedel van Australopithecus sediba. Foto: Wits

Primitief dog gevorderd: Al die bene van dié hand van die Homo naledi-spesie aan die regterkant is gevind, buiten een. Die gewrig wys hulle sou gereedskap kon maak, terwyl die gekromde vingers meer primitief is. Foto: Peter Schmid/Wits

Daar is ook minstens vyf ander individue gevind en opgrawings duur steeds voort. Dit was die eerste nuwe spesie in Suid-Afrika sedert Mev. Ples in 1947 gevind is.

Die eerste twee fossiele is naby mekaar gevind in ’n gedeelte van die grotstelsel wat van aasvreters beskerm was, dus is die fossiele baie goed bewaar. Die unieke kenmerke is die bekken en klein tande. Op grond van hulle liggaamsbou, dui dit aan dat die nuwe spesie van Australopithecus africanus afstam, en die hominiede se voorkoms dui op die begin van meer energiedoeltreffende loop en hardloop. Dit is ’n mooi voorbeeld van ’n mosaïekfossiel.

Dit is steeds nie die einde nie. In 2013 is derduisende fossiele, weer deur Berger en sy span, ook in die Wieg gevind in ’n haas onbegaanbare grotstelsel, genaamd Rising Star. Nóg ’n nuwe spesie is ontdek: Homo naledi.

Die gange was so nou, Berger moes adverteer vir “klein geboude vroue” met kennis in die vakgebied om tydens veldekspidisies in die tonnels rond te kruip.

Die grotkamer waar dit gevind is, is Dinaledi gedoop. Naledi, die spesienaam, beteken “ster” in Sotho. Daar was geen ander fossiele nie, buiten dié van ’n paar voëls.

Lee Berger, aan die Instituut van Evolusionêre Studies aan Wits, met ’n replika van die skedel van Homo naledi. Foto: Elsabé Brits

Nadat hulle alle ander moontlikhede uitgeskakel het, het die groep van meer as 60 internasionale kenners van verskeie lande tot die bevinding gekom dat dié menslike voorsate hul dooies in die grot gegooi of gesleep het. Maar daar is geen bewyse van ’n ander opening nie en hulle moes moeite gedoen het om die dooies – van piepklein babas tot bejaardes – in die grot te kry, weg van diere af.

Dit beteken hulle het ’n begrip van sterflikheid en die dood gehad. Dus het nie net moderne mense hul dooies op ’n manier begin begrawe nie. Olifante begrawe nie hul dooies nie, dit is ’n mite. Hier het ons die eerste keer ’n ander dier as die mens wat dit doen en dit gaan ons hele begrip van wie en wat ons is verander. Die liggame het nie ingeval nie en daar is nie beserings aan hulle nie. Hulle het hul dooies opsetlik daar kom plaas.

Hoewel hul brein klein was, is die skedelvorm baie modern en lyk dit baie soos dié van moderne mense. Die tande is baie modern. Hulle was sowat 1,5 m lank en het tot 50 kg geweeg. Uniek aan die fossiele is dat hulle baie dieselfde lyk. Dit is moontlik dat hulle aan mekaar verwant was.

Die vorm van die hand is so dat hulle moontlik gereedskap kon gebruik het. Die skouers, borskas en bekken is primitief. Die hande en voete is redelik modern.

Hulle sou lang afstande kon loop, wys die voetbene – en hulle sou ook nog ’n bietjie boom geklim het. Altesaam 300 fossiele is op die Dinaledi-grotkamer se vloer opgetel en 1 200 is opgegrawe.

Vier jaar later in 2017, is nog ’n aankondiging gemaak dat daar in ’n tweede grotkamer, Lesedi (wat lig in Sotho beteken), nog 131 fossiele gekry is. Die nuwe vonds het ook een van die volledigste skelette van ’n menslike voorsaat ingesluit, wat die span Neo (wat geskenk in Sotho beteken) gedoop het.

Die ouderdom van Homo naledi is jonk: Tussen 335 000 en 236 000 jaar. Jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë Homo sapiens kon geleef het.

Berger se span is steeds hier besig met opgrawings en nog fossiele word gereeld gevind.

In 2020 maak hy weer ’n ontdekking, nie ver van Rising Star af nie. Hoewel dié grot maklik bereikbaar is, lê dié fossiele nie net op die grotvloer nie. Dit is vas in groot rotsblokke en moet uit die rots bevry word deur tegnici nadat die span dit uitgehaal het. Wéér ’n hominiedterrein, hoewel Berger nog nie gesê het watter spesie dit is nie.

Dit is ’n groot grotstelsel met drie hoofkamers en kleineres aan die kant. Tientalle rotsblokke ryk aan fossiele is reeds uitgehaal. Dit staan nog net bekend as die 105-terrein.

Verlede week het hulle iets baie interessant gekry: ’n Moontlike stuk beengereedskap. Dit is baie belangrik indien jy fossiele van hominiede saam met hulle gereedskap kry. Ons wag vir die analise om te hoor wie dit was.

Suid-Afrika met sy talle spesies hominiede, en diere wat lank gelede op die grasvlaktes geleef het, was inderdaad een van die plekke waar ons voorsate geleef en, belangriker, oorleef het. ’n Erfenis wat steeds ontdek word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top