Die reuk van rook en die kuns van langsaam kuier: VUUR Goose Island

  • 0

Dit is ’n Saterdagmiddag en ons vleg deur Stellenbosch-verkeer. Sypaadjies is stampvol geparkeer om uitgelate skoolkinders op sportvelde te ondersteun. Die dorp gee ’n lae dreuning – amper ’n gezoem – af van die toeriste wat geselsend foto’s neem van kuns en historiese gewels en by straatkafees lag en gesels.

Ons is laat. ’n Mens se hart klop ’n bietjie vinniger in jou keel, die spanning van die week nog vars in jou skouers, terwyl jy haastig soek na ’n parkeerplek – bewus daarvan dat mense vir jou wag.

Dan, in ’n oogknip, verander alles.

Remhoogte se wyn

By die ingang van die Remhoogte Wynlandgoed se proelokaal wag ’n jong kelner met ’n breë glimlag. Sy merk jou naam op die lys af en gee vir jou ’n glas yskoue First Light Chenin Blanc. Anderkant die heining, op die groen rif, wei ’n trop impalas rustig in die lang gras.

Skielik raak die wêreld stil. Die pas van die lewe vertraag, jou hart klop stadiger en die wyn dans op jou tong. Die VUUR Dining with fire by Shaun Scrooby-ervaring het begin – en jy het nog nie eens naby die restaurant gekom nie.

Hier gaan dit nie oor haas nie; hier gaan dit oor die luuksheid van tyd. Soos die span dit self stel: “Ons bied nie middagete of aandete aan nie. Ons bied ’n ervaring.”

Goose Island

Ons ontmoet van die ander gaste en raak aan die gesels. Toe almal arriveer het, stap ons saam die paar treë na Goose Island, ’n gebou wat lyk of dit gewigloos bo die plaasdam dryf.

Shaun Scrooby

Agter hierdie unieke konsep staan Shaun Scrooby, ’n selfopgeleide sjef wat sy kinderdae op sy ouma en oupa se suiwelplaas aan die Weskus deurgebring het. Dit was daar – rondom die braaivleisvuur – waar sy liefde vir kos en vlamme gebore is.

Braaibroodjies

Voor hy egter sy pad na die kombuis gevind het, het Shaun 17 jaar as ’n safarigids in die Afrika-bos deurgebring. Toe die wêreld in 2020 weens die pandemie tot stilstand gekom het en toerisme in duie gestort het, het Shaun teruggekeer huis toe. Hy het elke dag gekook en besef dat hy sy passie vir kos moes volg. Oor ’n glas goeie wyn saam met die Boustred-broers van Remhoogte is ’n plan gebore.

Rob Boustred het hom na ’n vervalle ou perdestal geneem wat weggesteek lê onder ’n magiese eeu-oue eikeboom. Waar ander net ’n bouval gesien het, het Shaun die potensiaal raakgesien. Hy het die stal oor ’n tydperk van 90 dae met sy eie hande gerestoureer, met niks meer as die hoop dat mense sou kom eet nie.

Sy agtergrond in die bosveld vloei vandag onmiskenbaar deur elke aar van VUUR. Vir Shaun gaan kosmaak oor storievertel – die oudste tradisie van Afrika.

By VUUR is daar geen elektriese stowe of moderne gasbranders nie. Die kombuis word ten volle deur vuur aangedryf. Daar is ’n groot braaiplek en pizza-oond, elk met sy eie hout onder gestapel. Shaun beskou hout nie bloot as brandstof nie, maar as ’n deurslaggewende bestanddeel wat geur aan die kos verleen.

Die sjefs gebruik tot ses verskillende soorte hout tydens ’n enkele diens, elk gekies vir die spesifieke karakter wat dit na die bord bring. Die maaltyd begin met sagter, minder geurige houtsoorte wanneer die vis liggies oor die kole gehaas word – dink aan vangste uit die oseaan vervleg met die subtiele rook van swartwattel. Soos die spyskaart vorder na die ryker vleisgeregte, skuif hulle oor na die harde houtsoorte soos kameeldoring, wat standvastige kole en ’n diep, ryk geur aan die spogvleis gee. Soms word selfs preie doelbewus verkool en geïnfuseer met die geur van bloekom.

Ons hoor hoe die middag gaan verloop: “hidrasiemeesters” gaan ons glase vol hou en “braaimeesters” gaan ons mae vol hou. Daar is geen vaste spyskaart nie. Shaun en sy span hanteer slegs een tafel per dag by die oorspronklike restaurant ’n paar treë verder weg, om absolute eksklusiwiteit te verseker. Terwyl ons luister na hoe ons middag gaan verloop, land twee helikopters met gaste vir die oorspronklike restaurant.

Ons hoor verder: “Die span kyk weekliks na wat die plaaslike boere, slagters en veldkossnuffelaars beskikbaar het, en bou dan ’n sewegang-maaltyd rondom die beste bestanddele. Elke enkele gereg dra die handtekening van die vuur, en die sjefs bedien die kos self om die storie agter die bord met die gaste te deel.

Een van die braaimeesters vertel ons meer van die hoofgereg se twee soorte biefstuk en ek merk op dat dié ete regtig ’n ervaring is wat op stories geskoei is. Hy sê dis doelbewus: “Shaun het in sy loopbaan in die safaribedryf gesien wat storievertel vir gaste beteken. Dit is die manier waarop stories van generasie tot generasie in Afrika oorgedra word. Dit is hoe ons geskiedenis oordra, mekaar van tradisies en kulture leer en vir mense wys van waar jy is.”

As gevolg van die eksklusiewe aard van die restaurant – wat aanvanklik net groepe van ses tot tien mense op ’n slag kon akkommodeer – was dit moeilik vir individuele kosliefhebbers om ’n plek te bespreek. Dit het die vonk verskaf vir Shaun se nuutste skepping: VUUR Goose Island.

Die storie van die eiland is net so organies soos die kos self. Na strawwe skofte het Shaun en een van die Boustred-broers gereeld oor boomstompies na ’n klein eilandjie in die dam geloop om met ’n koue bier in die hand oor die lewe te gesels. Dit het die idee laat ontstaan om ’n piekniekdek daar te bou. Toe dink Shaun, as dit reën, het hulle ’n dak nodig en as die wind waai, het hulle mure nodig.

Vandag is VUUR Goose Island ’n pragtige gemeenskaplike sjefstafel op die water. Gaste kan nou bloot ’n enkele stoel by die sosiale tafel of die sjefstoonbank bespreek. Die atmosfeer op die dam is pure betowering. Terwyl die vlamme binne knetter en die rook lui oor die water trek, kyk jy uit oor die Simonsberg en die oop veld waar sebras, springbokke, blouwildebeeste en njalas vrylik rondloop.

Ons twee sit by die toonbank (volgens ons die beste sitplekke, want ons kan lekker sien wat op die kole en in die pizza-oond gemaak word). Die ysterplaatjie om aan te kondig VUUR is opgeneem in die Wêreld se 101 Beste Steakrestaurante 2024 en 2025 – die hoogste plasing van ’n Afrika-restaurant – pryk teen die muur.

Hulle het pas die nuus ontvang dat hulle vanjaar weer ingesluit is en die 52ste plek op dié gesogte lys beklee.

Die Wêreld se 101 Beste Steakrestaurante is in 2018 deur Ekkehard Knobelspies gestig en het vinnig dié gerespekteerde lys vir steakrestaurante geword. ’n Totaal van 1 200 restaurante word besoek, waarvan net 300 op die kortlys kom, voor die finale 101 aangewys word.

Die paneel beoordeel restaurante volgens 29 gedetailleerde kriteria, waaronder vleisgehalte, verkryging, veroudering, kooktegniek, diens, wynlys, atmosfeer en algehele egtheid. ’n Wêreldwye netwerk van 24 anonieme Steak-ambassadeurs – almal ervare professionele persone in gastronomie, gasvryheid en vleis – doen persoonlike evaluerings om die hoogste redaksionele integriteit en geloofwaardigheid dwarsdeur die proses te verseker.

Die restaurante wat op die lys verskyn, verteenwoordig die hoogste vlak van internasionale steak-uitnemendheid. Hulle staan ​​vir uitsonderlike produkgehalte, verkrygingsintegriteit, tegniese vaardigheid, gasvryheid, identiteit en konsekwentheid.

Die beoordelaars sê van VUUR: “VUUR – geleë tussen die wingerde van Stellenbosch, op ’n rustige eiland binne die Remhoogte-wynlandgoed – bied ’n buitengewone eetervaring waar vuur, landskap en menslike verbintenis mekaar ontmoet. Onder die visie van Shaun Scrooby is vuur nie net ’n kookmetode nie, maar die restaurant se sentrale taal wat bestanddele, plek en emosie belyn.

“Scrooby se benadering is tegelykertyd oeroud en modern. Sy instinktiewe talent vir kook oor oop vlamme skep geregte wat die integriteit van die Wes-Kaap se plase, waters en bodem eer. Die ervaring balanseer verfyning met rou egtheid; geure kry ruimte om  asem te haal, sonder onnodige fieterjasies.

“Hierdie toekenning plaas die Suid-Afrikaanse braaikultuur stewig op die wêreldverhoog. Kaapstad en die omliggende wynlande word toenemend as ’n wêreldklas- kulinêre bestemming erken en VUUR wys dat tradisionele oopvuur-kosmaak kan meeding met die heel beste restaurante in Parys, Londen of New York.

“Dit voel nie soos ’n strak, formele restaurant nie; dit voel – soos Shaun sê – of jy kuier by ’n goeie vriend wat toevallig baie goed kan kook en sy beste wyne met jou deel.”

Die klein houtbruggie

Die klein houtbruggie oor die water eindig in die pikante badkamer en ons hoor dié kort stappie word ewe kordaat die “Long walk to peedom” genoem. Ek stap terug met die herfsson op my gesig. Die bome wat die klein geboutjie omarm, laat val saggies hul blare. Die een sjef maak ’n grappie en sê iemand skuil op die dak en laat die geel en oranje blaartjies op die houtdek reën sodra ’n gas uitstap. “Dis alles deel van ons ervaring!” vertel hy met ’n knipoog.

Mens kan hom amper glo, want niks is aan toeval oorgelaat nie. Shaun se vrou, Diana Rubio, is Spaans en daarom is daar kort-kort Spaanse invloed op ’n baie eg-Afrikaanse spyskaart. Ek is haar ewig dankbaar vir haar paspoort, want die Basque-kaaskoek wat met Mascarpone gemaak word, is hemels.

As jy daar sit, met die hitte van die kole op jou gesig, ’n glas Remhoogte-wyn in die hand en die klank van die water rondom Goose Island, verstaan jy Shaun se filosofie ten volle: “Ons moet nie net met ons sintuie eet nie, maar met begrip. ’n Begrip van hoekom, deur wie en van waar. Dit is dán dat jy die kos onthou, die ervaring onthou, omdat jy ’n ware konneksie daarmee het.”

Deur die loop van die middag word ons ook sommer lojale aanhangers van Remhoogte se wyne: van die First Light Chenin Blanc, Free to Be Weisser Riessling, Free to Be Orange, Vantage Point Pinotage tot by die Cabernet Sauvignon, is elkeen gekies om perfek by die dis te gaan; of dit nou klein individuele broodjies met gerookte biltong, murgbotter en konfyt is, of sewe-dag-gedroogte geelstert of murgsagte biefstuk of kaaskoek.

Teen die tyd dat moerkoffie – ja, in emaljeketeltjies op die vlamme berei – bedien word, sit ons buite onder die bome en gesels. Eende en bleshoenders gly stadig oor die dam se oppervlak en die son hang laag oor die heuwels en wingerde. Ons kyk hoe die lug pienk verkleur en die liggies in die verte op plase aankom.

VUUR trek mense in soos motte na ’n vlam. Dit herinner ons daaraan dat kos nie net brandstof vir die liggaam is nie, maar ’n anker vir die siel. In die hartjie van die Stellenbosse wynlande hou Shaun Scrooby en sy span daardie vuur sterk aan die brand.

Remhoogte is deel van die Stellenbosch Wynroetes wat pas hul 55ste verjaardag gevier het. Van ’n handjievol wynroete-lede in 1971, het die roetes (vyf subroetes ingesluit) gegroei tot meer as 130 lede wat wêreldwyd gesog is. 

Die 55ste bestaansjaar word gevier met die Wine Town Stellenbosch-fees vanaf 25 Julie tot 2 Augustus. Vir nege dae lank word die Eikestad omskep in ’n paradys vir kos- en wynliefhebbers – van gesoute fynproewers tot beginners. Kuier sommer langer in die Eikestad – laat VUUR jou sintuie wakker maak vir meer!

Sean met sy toekenning

Die dorpsrestaurante en dié op wynplase op die Stellenbosch Wynroetes het by die 2026 LUXE Restaurant-toekennings die gesogste kategorieë verower. VUUR verower die Braairestaurant van die Jaar en kry een ster. By die Eat Out Woolworths-toekennings vir 2026 het VUUR twee sterre verower. Ek kan nie wag om te sien wat volgende op ons wag nie!

  • Foto’s: Clifford Roberts en Claire Gunn
Lees ook:

Brick Lane, bagels, Engelse beesvleis, Londen en ander stories

Goeie brood is gesond: Twee bakkers word kampvegters vir suurdeegkwaliteit

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top