Terwyl Afrikaans besig is om sy laaste stuiptrekkings as taal van hoër onderrig aan die Universiteit van Pretoria (UP) te gee, het die minister van finansies, Tito Mboweni, dit reggekry om met ’n enkele twiet nuwe lewe in die taalkwessie by universiteite te blaas.
Die vonk in die kruitvat was toe Mboweni hom in die openbaar in sy persoonlike hoedanigheid op Twitter gedistansieer het van UP se besluit om Afrikaans uit te faseer as medium van onderrig. “As ’n land, skiet julle julself af. Julle sal dit oor dertig jaar berou,” het die Minister, wat bekend is vir sy omstrede twiets, van hom laat hoor.
I publicly, and in my personal capacity, DISAGREE, with the phasing out of Afrikaans as one of the mediums of teaching at the University of Pretoria. As a country, you are shooting yourselves down. You will regret it in 30 years’ time. pic.twitter.com/qNe43ErSQz
— Tito Mboweni (@tito_mboweni) January 24, 2019
Volgens talle waarnemers is Afrikaans ook by die Universiteit Stellenbosch (US) en Noordwes-Universiteit (NWU) op sy sterfbed. By die Universiteit van die Vrystaat (UV), Universiteit van Johannesburg (UJ) en Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het die doodsklokke vir Afrikaans reeds hard en duidelik gelui.
Die stortvloed reaksies op Mboweni se twiet van veral swart Suid-Afrikaners het die lig laat skyn buite die kampvuurlig waar die taaldebat hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes gevoer word.
Net soos wat die klippe in 1976 op Soweto gereën het oor Afrikaans as onderrigtaal by skole, het die twiets soos klippe op Mboweni gereën oor sy onlangse uitlating oor Afrikaans by UP.
Hy is onder meer uitgekryt as ’n verraaier van die “struggle” en dat hy vergeet het waaroor die Soweto-opstande in 1976 gegaan het.
Die subteks van baie kommentare op Mboweni se twiet was egter die kompleksiteit en gebrek om veeltaligheid in ’n veeltalige land soos Suid-Afrika te bevorder.
Die frustrasie van swart Suid-Afrikaners omdat hulle nie ook in hulle eie tale dieselfde voorregte kan geniet as Afrikaans- en Engelssprekendes nie, loop soos ’n goue draad deur die gesprek.
“Wat veral verontrustend is in Mboweni se twiet is dat hy nie die bevordering en ontwikkeling van inheemse tale bepleit om op dieselfde vlak op sekondêre en tersiêre vlak te funksioneer as Afrikaans en Engels nie,” het ene Afrika geskryf.
https://twitter.com/Thami42876171/status/1088665933370085376
Van die swart studente wat aan voorheen Afrikaanse universiteite studeer het, wou by Mboweni weet of hy al ooit in ’n lesingsaal was waar die handboeke in Engels is maar die klasse in Afrikaans aangebied word. “Dit is soos om na ’n Chinees te luister. Jy moet 2 000 keer harder werk as ’n Afrikaner,” het een van die studente gesê.
Die gebrek aan en die “onhaalbaarheid” van veeltaligheid het telkens in die warm Twitter-debat na vore gekom. Dit onderstreep die probleem wat Mboweni opper, merk iemand op. “In die meeste skole word ons nie in ons moedertale onderrig nie. Dit is duidelik wanneer ons nie die woorde reg kan spel nie en tog word Afrikaans telkens geprioriseer en in die laer- en hoërskool kan mens nie daarsonder slaag nie.”
“Swart mense moet twee nuwe tale naamlik Afrikaans en Engels aanleer maar hoeveel tale moet Afrikaanse mense aanleer om opgevoed te word? Baie van hulle kan nie eers Engels praat nie. Wanneer gaan ons ophou om agteroor te buig sodat daar in die naam van verdraagsaamheid oor ons geloop word?” het The Dude sy mening gelug in reaksie op Mboweni se twiet.
Vir baie mense is dit eenvoudig onhaalbaar en onprakties om te verwag dat tersiêre onderrig in al 11 die land se amptelike tale beskikbaar moet wees. Hoeveel koshuise, en universiteite, moet gebou word om dit te bereik? wou van die deelnemers weet.
Selfs Afrikaanse studente het laat blyk dit is meer prakties om Engels as onderrigtaal op universiteit te gebruik. Anton Roos sê op Mboweni se twittervoer dit is dalk beter om Engels as die voorkeurtaal van onderrig aan universiteite te hê. “Ek gebruik nie Afrikaans by die werk nie en kan nie sien hoe Afrikaans my kan help om internasionale besigheid te bekom nie.”
Willie Burger, hoof van die Departement Afrikaans aan UP, het aan LitNet gesê dat die verengelsing aan universiteite wêreldwyd voorkom.
Burger staan op die vooraand van sy vertrek na Nederland om in die eerste semester vanjaar in Leiden te gaan klasgee. “Dit is interessant dat hierdie debat oor verengelsing selfs in Nederland woed. Hulle bied nagraadse modules in Engels aan ter wille van uitwisseling en internasionalisering en al meer mense begin ook daarteen in verset kom. Die punt is dat die verengelsing van universiteite wêreldwyd ’n fenomeen is – nie iets wat slegs hier gebeur nie.”
Burger staan geensins onverskillig teenoor oor die verdwyning van Afrikaans by UP nie. Hy sê dit is beslis nie ’n goeie ding nie. “Ek glo in diversiteit en die eensydige oorheersing van Engels is verarmend vir die hele land en die wêreld. Dit is gewoon ’n ekologiese standpunt.”
Hy sê dit is ook ’n groot terugslag as daar nie meer akademiese gesprekvoering en terminologieskepping in Afrikaans voortduur nie. Dit bring ’n verskraling mee wat dit waarskynlik al minder moontlik sal maak dat Afrikaans ’n taal is waarin intellektuele gesprek sal plaasvind – wat dit weer al minder waarskynlik maak dat Afrikaanse mense in Afrikaans sal wil en kan intellektuele gesprek voer.
“Dit is droewig as mens in Afrikaans net oor die rugby kan praat, of skinder, terwyl gesprekvoering oor ekonomie, politiek, filosofie, sielkunde, al die bevraagtekening van vooroordele en oopmaak van denkmoontlikhede slegs in Engels gedoen word,” sê Burger.
Wat hy wel probeer weergee, sê Burger, is die komplekse situasie – dat dit ook nie help om net “die bose universiteite of rektore” uit te kryt vir hul “kortsigtigheid of kwaadwilligheid” nie.
In groepe soos die ingenieurs byvoorbeeld, waar daar by UP gewoonlik sowat 1 500 eerstejaars was waarvan so 400 Afrikaanssprekend, het dit sin gemaak om ook ’n Afrikaanse klas aan te bied. Maar in biochemie op derdejaarsvalk was daar gewoon te min in ’n klas (die afsnypunt is gewoonlik rondom 20 gestel) om ’n afsonderlike Afrikaanse klas te regverdig. Afrikaanse klasse is dus in die verlede aangebied "waar prakties moontlik". En enige departement kon redes aanvoer waarom dit nie prakties moontlik was nie en die Afrikaanse lesings afskaf. Dit was ten minste reeds sedert 2010 die geval.
Boonop kry universiteite finansieel ontsettend swaar. Die fees het ge-fall, die subsidies van die staat word nie groter nie, maar die aantal studente neem toe. Universiteite moet gevolglik al meer met al hoe minder geld doen. Die druk op hulpbronne is enorm. Terwyl veeltaligheid ’n mooi ideaal is, word geen hulpbronne beskikbaar gestel om tolkdienste te verskaf of om vertaaldienste te lewer of om die voordele van veeltaligheid te versprei nie.
Dit het onvolhoubaar geword om groot Engelse klasse en krimpende Afrikaanse klasse te hê wat deur dieselfde dosente aangebied moet word.
Baie van die Afrikaanse studente het ook toenemend die Engelse klasse bygewoon, om hoofsaaklik twee redes:
- Daar is dikwels veel interessanter besprekings in die Engelse klasse waar mense vanuit verskillende agtergronde aan besprekings deelneem.
- Die persepsie dat hulle in Engels gaan werk en dan beter af is om in Engels opgelei te word.
Nog iets wat in gedagte gehou moet word, is die EFF se #FeesMustFall-veldtog wat onder meer protes aangeteken het teen onderrig in Afrikaans. Dit het nie vir hulle soseer oor Afrikaans as sodanig gegaan nie, maar oor die bevoorregting van wit studente wat in klein groepies kan klas loop en meer voordele kry as dié in groot groepe. Of die persepsie nou waar is of nie, maak nie saak nie, maar dit was ’n stok om mee te slaan en dit is gebruik.
Dosente met wie LitNet gesels het, sê hoe dit ook al sy, die Afrikaanse klasse het baie klein geword. Die ander groot probleem is dat universiteite natuurlik nie dosente aanstel op grond van tweetaligheid nie, maar op grond van akademiese kennis en vaardigheid en probeer om die beste aan te stel. Ook uit internasionale aansoeke. Gevolglik is daar al minder Afrikaanssprekende dosente (wat meestal tweetalig kan klasgee) as deel van die gehele dosentekorps.
Wat gebeur het, is dat die paar Afrikaanssprekende dosente dikwels hulle kollegas uit die buiteland, of eentalige deskundiges van hier, se lesings moes aanbied of vertaal. Dit het tot gevolg gehad dat die gehalte van die Afrikaanse lesings nie altyd gelykstaande aan dié van die Engelse lesings was nie. (Dit is nie noodwendig die Amerikaanse deskundige in mikrobiologie wat die klas aanbied nie, maar sy Afrikaanssprekende kollega wat moet vertaal en tweedehands aanbied.)
Intussen het die Afrikaanse dosente ook al meer onder die druk begin swig. Hulle wil natuurlik ook akademies mededingend wees en verloor navorsingstyd as hulle hul eie én hul kollegas se lesings moet aanbied of aantekeninge moet vertaal.
Die regering het ook nie enige finansiële steun aan die universiteite gebied om aan die idee van meertaligheid steun te gee nie.
Daar is al minder hulpbronne beskikbaar om bloot die universiteite se intekening op internasionale akademiese joernale vol te hou, om boeke te koop vir die biblioteek en om salarisse te betaal. Geld vir onderhoud is teruggesny. Van nuwe geboue is daar byvoorbeeld by die UP nie sprake nie. En die probleem is dat die groeiende getalle reeds enorme druk op die bestaande geriewe geplaas het. Om boonop op die roosters plek te maak vir herhaallesings het vir baie ’n logistieke nagmerrie geword.
Die geskiedenis van die land en van wit bevoorregting maak alles nóg ingewikkelder, soos wat blyk uit die reaksies op Mboweni se twiet. Al is dit wat baie mense graag wil hê, weet niemand skynbaar regtig hoe om veeltaligheid by universiteite ’n lewensvatbare werklikheid te maak nie.
Lees ook
Buro: MvH