Persvrystelling: Die Van Ewijck-stigting se Prestasieprys aan Nicol Stassen

  • 0

Wium van Zyl, Nicol Stassen en Chris van der Merwe

Nicol Stassen, direkteur van Protea Boekhuis, het vanjaar die prestasieprys van die Van Ewijck-stigting ontvang. Die prys, wat R75 000 bedra, word toegeken vir prestasies by die versterking van die kulturele verbintenis tussen Suid-Afrika en Nederland.

Hy is reeds jare lank besonder aktief betrokke by die bewaring van die Nederlandse kultuurerfenis in Suid-Afrika en die versterking van kultuurbande tussen Nederland en Suid-Afrika.

In sy commendatio by die oorhandiging van die prys het Wium van Zyl gewys op Stassen se inisiatief by die vertaling en publikasie van boeke van Nederlandse en Vlaamse skrywers in Afrikaans, sowel as in ander Afrikatale. Dit beloop reeds minstens 145 titels teen ’n gemiddeld van 20 per jaar. Hierby span hy vertalers soos Daniel Hugo in, maar hy het self ook ’n aantal boeke vertaal.

Volgens Van Zyl oortref Stassen die meeste Suid-Afrikaanse Neerlandici met die noukeurigheid waarmee hy die Nederlandstalige boekebedryf dophou. Hy het ook in die proses ’n netwerk geskep met ’n groot aantal Nederlandse en Vlaamse uitgewers met wie hy noue bande onderhou.

Protea Boekhuis het verder ’n aantal jare gelede ’n studiehandleiding vir aanleerders van Nederlands uitgegee: Pieta van Beek se Oranje Boven. Protea is ook die uitgewer van Eenders & Anders, die reeks publikasies van Sasnev wat daarop gerig is om opnuut Afrikaanstalige leerders aan die Nederlandse taal en kultuur bekend te stel. 

’n Belangrike deel van die boeke wat Stassen oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gepubliseer het, bestaan uit werke oor die VOC-tydperk. Dit sluit Karel Schoeman se agtdelige, besonder keurig gepubliseerde Kolonie-reeks in. Dit sluit ook ’n herdruk in van Dan Sleigh se Die Buiteposte asook De Wet, Visagie en Hattingh se omvattende Die VOC aan die Kaap, 1652–1795.

Al Protea Boekhuis se vertalings uit Nederlands word aan die Nederlandse Biblioteek in Pinelands geskenk. Terselfdertyd skenk die uitgewery ook al sy publikasies wat vir Nederland van belang is, aan die biblioteek van Zuid-Afrika Huis in Amsterdam.

Stassen is lid van die bestuursraad van Sasnev en in dié hoedanigheid onder meer nou betrokke by die besoeke van Nederlandse skrywers wat jaarliks deur Sasnev gereël word. Terselfdertyd is hy baie aktief as lid van die Kaapse tak van die Nederlandse kultuurorganisasie De Orde van de Prince. By meer as een universiteit stel hy ook beurse beskikbaar vir studente in Afrikaans en Nederlands.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top