Die werklike dialoog tussen Nederlands en Afrikaans as anderselwige gelykes begin nou eers. – Breyten Breytenbach

  • 0

Breyten Breytenbach het aan Willem de Vries vertel van sy ervaring van ’n Nederland gerig op groter verruiming en bevryding en hoedat “Afrikaanse-Suid-Afrikaanse-Afrikane se inherente rykdom bestaan in die feit dat ons inheemsheid kom deur ons vermenging”.

Breyten Breytenbach (Foto: Tessa Louw)

Vertel asseblief van jou vriendskap met die Vijftigers. Watter van hulle se werk het jou die meeste beïndruk?

My eerste kontakte met die Vijftigers, oftewel die Generatie van Experimentelen, het op ’n natuurlike wyse gebeur. Jan Rabie, toe net terug van ’n lang verblyf in Parys – ek praat nou van die laat vyftigerjare in die Kaap – het vir my ’n aantal ontmoetings bewerkstellig wat sou kon dien as raakpunte toe ek vir die eerste keer weg is uit die land. Karel Appel in Parys byvoorbeeld. Later ook Corneille. Rudy Kousbroek het soos baie van daardie groep redelik maklik beweeg tussen Nederland en Frankryk en mettertyd ook verder suid soos in die geval van Lucebert. Vir iemand met ’n Suid-Afrikaanse paspoort was dit moeiliker: ek onthou dat ek by verskeie geleenthede die grense onwettig en met ompaadjies oorgesteek het. Gerrit Kouwenaar, met sy gestroopte vakmanskap, was vir my ’n vormende invloed. Bert Schierbeek miskien nog meer. Sy skryfwerk het wyer ruimtes bestryk en was dalk meer bewustelik polities internasionaal en betrokke. ’n Bietjie later ook Simon Vinkenoog, meer van ’n beat en hallusionis as sy tydgenote.

Dit was ’n ryk en geskakeerde tydperk waartydens heelwat grense en kontoere sou wegval. Dié tussen visuele en woordwerk onder andere, soos so baie van die COBRA-beweging se produksies. Of die oewers tussen tale. Of die vanselfsprekende saamvloeiing van politieke en sosiale en selfs revolusionêre aktiwiteite en ’n soms dieplopende belangstelling in verre maar gelykwaardige kulture, die bevraagtekening van kolonialismes, ’n herbesinning oor die Bolsjewisme (veral in die lig van Stalin met die ruie moestas en die verdorde pootjie se terreurbeleid); die eksistensialisme dus, maar tegelykertyd ook ’n verdiepende ontginning van woordontleding, semiologie, die psigologie en die onderbewuste en die absurde, bewussynsverruiming, tekstuurverkenning, omverwerping van kodes en norme. Wat in gedagte gehou moet word, was dat dit alles ’n aaneenvloeiende proses was. Mense het nog in hulle knokke en knakke onthou van die oorlog se afgryslikhede, massamoord, verset en “onderduiking”, en gewéét van ontluikende bevrydingsoorloë. Hulle het aansluiting gevind by Camus en Sartre en Éluard, natuurlik ook die groot Russe en die stemme wat opgestyg het uit die Spaanse Burgeroorlog en van daar na die Latyns-Amerikaanse ruimtes, die Italianers, die Grieke, die herskepping en die herwaardering van Duitse denkers en kreatiewe mense, Oos én Wes.

Elke dag was die begin van ’n skeppingsdaad. Vir my was dit die oopmaak en -gaan van ’n verstrengeling wat veel verder sou reik en op ’n manier nog steeds voortgaan. Soos my verbintenis met Eva Bendien en Rutger Noordhoek-Hegt se Galerie Espace in Amsterdam, wat sy oorsprong gehad het in die bekendmaking van COBRA-kunstenaars. Later die opgaan in aktiwiteite van Poetry International en die blootstelling aan kontemporêre digters se werk (dié van Hans ten Berge, Remco Campert, Hans van de Waarsenburg …) en Nederlandse uitgewers (Laurens van Krevelen, Rob van Gennep), boekwinkels en boekhandelaars, publikasies, uitstallings in ander dorpe en stede. Alles was vervleg en altyd gerig op ’n groter verruiming en bevryding. Amsterdam veral was werklik internasionaal. Maar dit sou ’n veel langer beskrywing verg om selfs ook maar net oppervlakkig ’n beeld te probeer gee van die oorvleueling en wedersydse verryking. Dit was voor die aantog van die yuppies en die afstomping van aktivistiese betrokkenheid. Voor Syn versuip het in Skyn. Voor die klaterbeskawing van Verbruikerswaansin en van die Kerk van Reklame. Voor Kommunikasie as horison. Ons was jonk en idealisties en heppie, en baie, baie naïef.

Betreklik onlangs het die Afrikaanse PEN ’n vertaalfonds aangekondig en in Amerika is onlangs ’n lansie gebreek vir transnasionale letterkunde: die National Book Foundation gaan ’n nuwe prys uitreik vir vertaling. Wat beteken hierdie soort inklusiwiteitskepping vir skrywers en boeke in die huidige tydsgees? Bly vertaling ’n nodige, nuttige of etiese instrument vir inklusiwiteit, vir die teksture van belewing, teen die verharding van identiteite waarvan die nuus so vol van is?

Een van die redes waarom daar so ’n kulturele en skeppende opbloei was in Nederland, was juis dat daar toe al soveel deeglike vertalings beskikbaar was uit taalgebiede van heinde en ver. (En dis glad nie so maklik om ’n Hollander uit sy of haar parogiale en moralistiese gemaksone na vore te bring vir ’n onbevange omgang met die wêreld nie.) Elke stuk skryfwerk is natuurlik ’n “vertaling” – uit die orale of die gedeelde skat en dissipline van die maakbehoefte wat so eie aan die mensdom is – die begrip en dalk selfs die werklikheid bestaan nie tensy ons dit maak staan met en uit verbeelding nie. Dit opskryf is ook al manier om dit weer te kan vergeet. Begrip ingepraat deur nuuskierigheid en verdraagsaamheid is moeilike dissiplines. Die taal waarin ons skryf (waarin ons geskryf word) is ’n interaktiewe sintuig – elke keer uniek met ’n vandaan en ’n so, en om dit op te sê (al sy dit in die naam van kopgekoloniseerde pragmatisme – Skellumbôjaniïtis) is om ’n sintuig te verloor. Dis ook in die ware betekenis van die begrip ’n “misdaad teen die geskiedenis en die vermoë om die geskiedenis te verstaan en miskien weer anders te maak”.

Vertaling is ’n herinnering aan die mensekondisie en spesifisiteite wat ons deel. Ons is dieselfde en gelyk (nie plat nie) omdat ons so anders en eie en wedersyds aanvullend is. Veel meer verrykend en kenniswerwend as die zombifiëring van die sogenaamde sosiale media (wat ons laat glo die wolke beweeg omdat ons teen die wind gepoep het) is die boek, die teks, die vergestalting wat so diep aan die donker stroom van alle “beskawings” ooit en alle soeke na die sin en onsin van syn lê. Miskien uitgespoel uit daardie stroom. Om ’n boek te vertaal – ’n skeppingsdaad – is ’n betuiging van piëteit teenoor die lig en duisternis van menswees. Dis ’n daad van ontginning én herkenning.

Indien kultuur ons erns was (ek bedoel die falsafa van denke en skepping en van etiese verbeelding) – indien ons ’n ministerie van kultuur in hierdie land had wat werklike versoening (én aanspreeklikheid) voorop kon stel, deurlopend, omvormend, binne die geskiedkundige en aktuele verband van één nasie bestaande uit ’n feestafel van volke – dan sou vertaling ’n prioriteit wees. Dan sou vertaling net so belangrik wees vir die nasionale psige as sport en skinner en populustige rassisme en verdomming en die lekkerte van op die ander ou te trap as hy teen die grond is. My rooi onderrok hang uit. Ek vra om verskoning vir die heiligskennis … die volksverraad … die antimajoritarianisme …

Vertaling het ’n rigtende rol in die bekendstelling en uitbou van jou skryfwerk gehad. Jy beskou die weergee van jou eie werk in ’n ander taal as verskillende tekste eerder as vertaalde tekste. Vertel asseblief van jou benadering tot hoe jy jou eie werk herskryf of hergiet in ’n ander taal.

Elke taal het ’n eie geskiedenis en spesifieke eienskappe. Die mate waartoe ’n skrywer (dit geld ook vir die vertaler) kennis neem van die unieke potensiaal van ’n taal, gaan ook die seggingspotensiaal bepaal – en die gehalte (of betekenis, of doel) van sy of haar interaksie met die Ontvanger van Woorde. Mens moet dit wat jy/julle gemeen het, kan gebruik, desnoods op gemene manier (!), om uit te kom by wat miskien nie so gemaklik of familiêr vir die leser is nie. Ek sien uit na die lewensbelydenis van die makhulu Gupta – maar dan verkieslik in sy eie taal geskryf. Die brontaal is dikwels net ’n ekstra gegewe – ’n dieper klank – vir die vertaler. Maar ek gaan natuurlik uit van die bewegende standpunt dat ’n woord veel meer gestalte aanneem deur die omliggende en voorafgaande, die ritme en kleur en tekstuur en spronge en assonansies, uiteindelik die dinamiese andersmaak wat harmonie is – as deur die powere totalitarisme van etimologiese betekenis. Betekening is betekenis.

Oor jare heen het ’n belangrike wisselwerking tussen jou en Nederlandse skrywers ontstaan, te omvattend om hier te noem, maar dit sluit in vertalings van jou werk deur Adriaan van Dis tot onlangs weer Laurens van Krevelen (jou Nederlandse keur gebundel as De zingende hand). Die rigtende steun van die tydskrif Raster onder HC Ten Berge, die groot Poetry International-fees wat een jaar aan jou werk gewy is. Op jou beurt was jy daarby betrokke om skrywers uit die Lae Lande meermale aan die Suid-Afrikaanse boekepubliek te kom bekend stel (die Dansende Digtersfees by Stellenbosch meer onlangs en via die Goree-instituut al vir lank). Jy is al vir dekades deel van die oper maak van ’n groter inklusiwiteit, die uitbou van transnasionale letterkundige bande. Hoe voel jy vandag daaroor? Wat ervaar jy as groeipunte?

Eerder: Wat sou ek onthou as belangrike momente en manifestasies? Niks gaan ooit verlore nie. Gebeure sink net weg om bindingsmateriaal te word vir ander verskynsels. Vir dié wat belangstel: dit sou die moeite loon (dink ek – maar dis stadige werk) om te gaan kyk na Made in Holland, ’n renga waaraan ek help saamskryf het met Edoardo Sanguineti en Yehuda Amichai en Bert Schierbeek en Vasco Popa en nog enkele niksnutte. Digters is waardelose mense. Of om te gaan kyk na die Graf van die Onbekende Digter aan die skaduvoet van ’n boom der bome in Rotterdam. Of miskien selfs om Woorde teen die wolke te lees en te sien hoe woorde jou toelaat om jouself in die vel van die ander te brei.

Dat Afrikaans as ’n gelykwaardige letterkunde in byvoorbeeld Gent gedoseer word, onbevange en sonder die plaaslike siek vooroordele en narsistiese selfverlustiging van skuld – is ’n groeipunt. (Skuld is ’n wit be-voorreg-ting. Dit het niks met die verantwoordelikheid begryp-en-aanvaar of met bewussynsverruiming uit te waai nie.) Groeipunt is: Imagine Africa en ons virtuele uitgewery, Island Position, die werklik uitstekende vertaalde digbundels in ons Pirogue Poets-reeks. Groeipunt vir my persoonlik sou wees: die Lappesait-boekdoeke waar beeld en bek saambeweeg en die een die ander nie na die mond praat nie, en die eer wat ek kon betoon in die Oermoeders & Abbavaders-huldiging van ons mensmense – Dirk Opperman, Piet Philander, Ingrid Jonker-in-die-donker, en so verder. Groeipunte sou wees wanneer iedereen sélf verder sou wil gaan as wat sy of hy dink toebestem is of toegestaan word. En die besef: die enigste werklike toegang tot die universele is die lokale. Vergeet van universiteite. Alles berus op uitruiling. Jy kan maar net hoop om ruimte te help skep. ’n Waarde (toegevoeg of te not) bestaan nie as abstraksie nie, maar slégs in die toepassing daarvan. En: die middele maak en vorm en ís die doel.

Die fokus op letterkunde waar taal die "plek" vorm eerder as ’n geografiese ruimte, beweeg op ’n terrein wat jy noem die Middelwêreld. (In die Middelwêreld is daar dan ook byvoorbeeld die gedagte van nieburgerskap.) Watter raakpunte en oorvleuelings bestaan daar vir jou tussen die transnasionale gesprek in die letterkunde en die Middelwêreld?

Meer presies dalk: Waar jou verhouding met taal, jou opstel teen die begrip taal en daarom jou verkleurvroutjie-aanpassings by die omgewing (en die vraag of “na-doen” nie miskien meer outentiek is as die “oorspronklike” nie – maw, die trefkrag van die rituele, van die dans), die oorgange en die vermenigvuldiging van “ekke” dan die “plek” vorm. Maar nou probeer ek dalk plastiekrenosterhorings verkwansel aan ou en lendekragbenadeelde Oosterse wysgere. Of die vel van die sondebok nog voor hy geslag is om winddroog te word … Die “Middelwêreld” is die ideale navorsings- en uitruilingsruimtes van wyses waarop ons onsself maak en gemaak word deur ons maaksels. Met wat ons – hierdie “ons” in dié geval die witter bruines, die Afrikaners (elke huis het sy kruis) – opgegaar het aan voordele en voorspronge en kapitaal danksy apartheid, en veral waar dieselfde mense nou nog voorgee hulle is bekommerd oor die doodsmoor van diversiteit, die afdwing van die hegemoon van vervlakking – sou ons die Middelwêreld-enklawes kon laat floreer as heenkome vir byvoorbeeld skeppende residensies vir die oordra van agentskap. Deur die vestiging van “’n Bedestring van eilande” haalbaar te maak. Om vir Jan Rabie (verkeerd) aan te haal: “Sonder die omvormende agentskap-potensiaal as Afferkaner is ek niks.” Ek is egter bevrees ons word ore aangesit deur die vroom pronkers en ander parakiete met die hoë poepholle van kerkbanke blink sit, hulle wat beswaarde gevoelens oor Afrikaans soos bossies verkoop. Hulle voel vere vir enigiets anders as hulle belangewaan.

Jou publikasies het wat verspreiding en samestelling betref, ook iets van ’n nomadiese aard. Yves T'Sjoen skryf onlangs oor The Windcatcher / Die windvanger / De windvanger wat in drie taalgebiede sirkuleer en spreek sy nuuskierigheid uit oor die totstandkoming van die boeke in drie taalgebiede. Die Nederlandse weergawe is ’n bloemlesing en is geen vertaling van die Afrikaanse boek nie. Nou stel hy die vraag: Het die teksseleksie op voorstel van die uitgewer gebeur of is dit die resultaat van ’n seleksieproses wat jy self gedoen het? Welke kriteria het gegeld? Daar is opmerklike verskille, sê hy. Watter oorwegings het ’n rol gespeel in die keuse? Bestaan kortom ’n ander beeld, deur uitgewers en/of die skrywer self ontwerp, van die digter Breyten Breytenbach in Engels, Afrikaans en Nederlands?

Wat opgedoek in ’n boek beslag kry, is altyd die resultaat van ’n organiese proses. Wat opgeneem word en wat wegval, word tot ’n mate bepaal deur watter verse vlerke kan groei in ’n nuwe taalgebied (nie alles is vertaalbaar nie en sommige dinge werk beter in vertaling as in die “oorspronklike” – trouens, sommige gedigte bestaan slegs in vertaling); deur teikenmarkoorwegings, publikasiegeskiedenis en so. Die vertaler of redakteur is my gelyke – selfs ék is my gelyke wanneer ek my eie gedigte hergiet in Engels of Frans – en bepaal die keuse en volgorde na gelang van eie denke. Daar word nie aan die individuele verse getorring nie, maar soms wel aan die keuse. Soos jy behoort te weet kan ek die agterbene van ’n donkie stomp onderkant die stert afpraat, so daar is altyd te véél goed. (En sleg.)

Die vertaler/digter beoefen ’n pynlik presiese wetenskap van oëverblindery. Ek was tot dusver werklik gelukkig in die vind van vertaler en uitgewer. Daar is byna niks op die spel nie. Niemand word ryk of enigsins wyser nie. Die “beeld” word seker gedeeltelik deur verwagting gekondisioneer. Niks gebeur in ’n lugleegte nie. In Amerika is mens deel van ’n multikulturele aanbieding. In Nederland word dit interessant, want ons dring ook aan op die spieëlpublikasie van die Afrikaans (hulle sê nog “Zuid-Afrikaans”) teenoor die effens meer presentabele Nederlandse gedaanteverwisseling. In Moerland word die beeld veel meer verskraal en versimpeld – ons het ’n soet tand vir duidelike verwysings. Ek het die rooiborsduif nou al hoefel keer gaan probeer afgee by die bôrdienghuis; as ek my weer kom kry kyk sit sy op die balkon en wil weet wat van my groen jersey geword het. (Nou moet ek toegee dat dit veel moeiliker is om mense wat jou taal uit borsvoeding ken weg te stuur met ’n kluitjie in die riet.)

Dit nou wat betref tale waarvan ek ’n bietjie benul het. Ek het ook al bundels van my werk teëgekom in Euskadies of Pools of Bulgaars en as dit nie was vir ’n herkenbare naam wat soms opduik in ’n voetnota nie, sou ek nooit weet watter verse dit is nie.

Die Lae Lande is ’n leserswêreld, met boekkopende publieke waar onder andere werke van ’n skrywer soos JM Coetzee al eers in vertaling te lees was voordat dit in Engels verskyn het. T'Sjoen sê dat die literêre ruimte in die Nederlande ’n "crucial transit zone" na ander Europese letterkundes is. Hoe maak vertaling grense tussen mense ongedaan?

In die Lae Lande is dit normaal om oorspronklike kunswerke in woonhuis en woonstel aan te tref, en mense koop boeke en daar is toeganklike literêre bylaes en tydskrifte. Aan die ander kant weer: hulle het nie bloedsports of 50 moorde per dag of Guptas vir Afrika nie, en hulle televisieprogramme is so belaglik dis om van skaam te kry. Hoe maak poësie die grense tussen mense ongedaan? Eerstens omdat dit nié literatuur is nie en daarom kan troos of besweer of beweeg sonder dat dit begryp hoef te word. Dis die mees basiese oerbeliggaming van die mens wat haarself posisioneer onder die sterre met die wete dat dit nog altyd en oral so was. Tweedens, omdat die donker vlam om ons woorde algemene besit is en mense weer laat besef dat hulle familie is van Hikmet en Lorca en Neruda en Szymborska, dat die elders altyd hiér is. En mense daaraan herinner hóé dit is om na kamermusiek te luister in die reën langs die see.

Yves T’Sjoen is ’n baie deeglike en dapper vegter vir die ruimte en die funksionaliteit en relevansie van poësie. Hy en ander soos hy word nie monddood gemaak deur die vrot tonge van gedienstigheid en “askies my baas dat ek lewe”-tonge nie. Waarom sou hy ook? Sou Nederlands ’n oorgangsgebied vir Afrikaans kon wees? ’n Veilige grenspos? Ek weet nie. Ek sou skat Afrikaans lê nader aan patois en pidgin, aan Maleis en Boesmanlands. Of ten minste net so lepel soos die Europese nôintjie. Ons is kinders van die dansende trapsoetjies. Yves T’Sjoen en sy kollegas wéét die hele wêreld sal armer wees wanneer Afrikaans verdwyn het. Nie slegs omdat ’n wêreld-wat-woord-geword-het onherroeplik uitgevee sal word nie, maar daarmee saam ons vindingrykheid om nuut te skep.

Jy het op ’n keer gesê die land word aanhoudend gemaak, dis ’n konstruk in wording wat ons nie kan ignoreer nie. Sou jy sê ’n konstruk soos dié het soms ’n struktuur wat so groot is dat dit op ’n voldonge feit lyk, maar by nader verkenning is ingrypende verandering moontlik? Watter rol het Afrikaanse skrywers vandag in die afbreek/herbou/verkenning van daardie konstruk in wording? (Ek vra dit omdat Afrikaans deur jou werk ’n werklik internasionale gehoor ontwikkel het en waarvoor tans bepaald groter aandag is in die Lae Lande.)

Indien ons wyse en deurleefde toonaangewende mense in Suid-Afrika gehad het, sou ek jou gelyk gee. Daar word nie ag geslaan op wat inheems is nie. Wie sien om na die potensiaal van ’n jonger generasie Afrikaanstaliges – selfs in die Boland, waar dit die ma-taal van byna driekwart van die mense is? Die “konstruk” word vir ons in China gemaak. Ons bewindhebbers is vervreemd van hulle eie empatie en ervaring. Miskien moet ons dit oorweeg om ’n sterk internasionale fonds te stig en die politici deurlopend omkoop om die unieke verryking van ons mengelmoesland se samestelling te waardeer, in stand te hou, dit voor te hou as ’n moontlikheid vir die wêreld. Jy kan tog nie kos met ’n ander man se monde eet nie. Dit gaan immers om die soepelheid van oorlewing, en al het ons ook ’n konsistorie broers en susters dood aan die waardering van “geleerdheid”, moet ons tog instinktief besef dat ons al die vaardighede wat ons kan opvorder nodig het om te verhoed dat die “konstruk” nie ’n kultuurmoord word nie. As voorbeeld: Waar sou ons ’n meer skeppende mens kon kry as sê nou maar Marlene van Niekerk om komplekse konsepte te ontsluit? Dit sou so min verg om gelykheid te verduidelik en bevorder! Ons is egter te lamsakkig om self iets omtrent die uitskakeling en uiteindelike verdwyning van minderhede te doen. Die Nederlanders kan ons nie red van ons eie lafhartigheid nie.

Jy sê in "Van die os op die jas", jou bydrae tot die Gentse Universiteit se kollokwium in 2014 met as tema "Die taal se stiltes", dit is belangrik om te onthou dat mens nie net "aanhou beweeg om gedig te maak nie maar dat jy ’n agent vir verandering is en dat dit die moeite werd is". My vraag neig dalk in die rigting van die ou vraag oor die rol/taak van die skrywer: Watter agentskap is hier te vinde vir die Afrikaanse skrywer vandag? (Ek dink hier ook aan die nuwe bande en groter aandag vir Suid-Afrika uit die Nederland.)

Die rol is nog altyd dieselfde, al is die uitlewe daarvan ook hoe ikonoklasties en sonder ’n “buite” om ’n impak te kan maak: om die wêreld te ontdek en asem te haal asof dit die heel eerste keer is; om die onderlinge, wedersydse afhanklikheid tussen die estetiese (of die soeke daarna) en die etiese (of die soeke daarna) te bly verken; om aan te hou beweeg na die stilte. Dis nie omdat jy weet ’n saak is verlore dat jy nie gaan aanhou baklei daarvoor nie.

In "Van die os op die jas" skryf jy: "Beweging vloei na verandering, na saam-mekaar-andersmaak, na kreolisering en metamorfose." Jy praat elders van "die Afrikaanse tale". Watter soort beweging sou jy meer van wil sien in die Afrikaanse tale en gemeenskappe onderling? En is daar ten spyte van die magskuiwe onder die vaandel van Engels nuwe lewe en moontlikheid in gedeelde taalbelange tussen die Afrikaanse en Nederlandse tale nou? Hoe beskou jy die talesituasie?

Die eerste en beste vorentoe beweeg uit die verlammende en leedvermakerige impasse sou wees indien daar daadwerklik inhoud gegee word aan die besef dat Afrikaanse-Suid-Afrikaanse-Afrikane se inherente rykdom bestaan uit die feit dat ons inheemsheid kom deur ons vermenging, dat dit ’n toegevoegde en duur verworwe en konfliktuele waarde is, dat tot-niet-making deur uitskakeling ’n selfvernietiging is. Ons kan vergeet van internasionale ranglyste. Ons moet onsself vertaal, ook van die een Afrikaans na en van die ander Afrikaanse tale. Dit behoort die eerste prioriteit van ’n vertaalfonds te wees. (Die Nederlandse taalgebied beskik oor meer as genoeg bronne en fondse om die bekendmaking van werke uit Afrikaans vertaal ekonomies te kan dra en verantwoord.)

Ons moet met mekaar leer praat, leer luister, en dit moet struktureel in stand gehou word. Ons moet besef dat ons, soos koloniale onderdane, lankal agter geraak het by die wêreld se besef dat “globalisering” nie die paradys gaan wees nie en dat ons die verkeerde trollie probeer vang as ons dink ons kan versalig word in ’n kapitalistiese wêreld van elektroniese bedwelming en ’n miljoen-“vriende”-eensaamheid. En dit met ons tweedeklas en gebrekkige “Engels” nogal. En dat daar altyd genoeg vis in die see sal wees om bokkoms van te maak. (Ons weet darem intussen die perlemoen is daarmee heen, by die goiingsak.)

Ons het die voor die hand liggende gegewens om diversiteit en geworteldheid en direkte verantwoordelikheid – ook teenoor die natuur, net soos teenoor ons moeilike geskiedenis – te koester en ontwikkel. Holisties en met die lewenskragtigheid van medemenslikheid. Dit is wat ons sou kon voorhou as bydrae tot ’n wêreld vol probleme. Ons het genoeg ordentlikheid om ordentlike onderlinge omgang te vestig en bevorder. Ons sal moet probeer sorg dat gemeenskappe besit neem van hulle en ons volwaardige burgerskap. Ons sal op vindingryke wyses moet meehelp aan die ontwikkeling tot selfstandigheid van Afrika. En verder kom as elitistiese voorkamergesprekke. G’n mens is van nature minderwaardig nie. Die verwesenliking hiervan vereis ’n vermenigvuldiging van plaaslike inisiatiewe en strukturering en skakeling. Al is dit ook om nie water te vermors nie.

Die Nederlanders en Vlaminge (behalwe nou ’n klompie verdwaalde fasciste) dink nie aan Afrikaans in imperialistiese terme of op neerbuigende manier nie. Dis lankal nie meer net ’n “leuke taaltje” nie. En glo my, Europa is nou eers in die voorportaal van ’n brandende gebou wanneer dit kom by die saambestaan van konfliktuele gelowe en gebruike, en die gevolge van hulle kolonialisme. Dis waar ons veel het om by te dra. Die werklike dialoog tussen Nederlands en Afrikaans as anderselwige gelykes begin nou eers. Op voorwaarde, dink ek, dat ons hand uit die mou steek (en dat dit gesien word daardie hand is ook bruin, selfs merendeels so); en in die proses van outonomieskepping die skoothondjies wat so kef-kef die trollie probeer vang identifiseer as die gewetenlose en skaamtelose taal- en mensveragters wat hulle in feite is.

Buro: MvH
  • 0
Top