Die wit Afrikaner se hardkoppige dwarstrekkery en wantroue in ’n entstof

  • 0

Foto van Elsabé Brits: verskaf; foto van Covid-partikel: Pixabay

........

Is dit die wit Afrikaner se hardkoppige dwarstrekkery en wantroue wat ons nou in ’n anti-entstof-sop laat beland het? Heel moontlik is daar ’n genetiese streep wat veroorsaak dat daar weer “Ek is ’n vry mens, jou moer!” gedurig van die Drakensberg se pieke af geskreeu word.

..........

Die verhaal van die wit Afrikaner se dwarstrekkery en vasskop teen gesag het seker begin toe hulle nog nie eens voet aan wal in die Kaap gesit het nie. Nog lank voor hulle Afrikaners geword het, was hulle seker daartoe bestem om onwrikbare korrelkoppe te word.

Die verhaal van “ons voorsate” is allermins romanties, en om neus in die lug te loop daaroor is om siende blind te wees oor wat die genetika en herkoms wys.

Immigrante het vanaf 1685 in die Kaap aangekom. Teen dié tyd was hier 142 wit mense aan die Kaap. Baie van die mans wat hierheen gekom het, was arm Duitse werkers en soldate en Nederlandse amptenare, gevolg deur die eerste groep van ewe geknelde Franse Hugenote van 1688. Dié bevolking het in die laaste dekade van die 17de eeu bestaan uit 10% bedelaars, 50% feitlik-bedelaars en ’n verdere 30% armes, aldus Karel Schoeman in sy Patrisiërs en prinse (bl 120).

Teen 1702 was hier sowat 230 Franse Hugenote uit ’n totaal van sowat 1 370 Europeërs in Suid-Afrika. Nie naastenby almal wat na die land gekom het, was dus Protestantse vlugtelinge, of ryk, soos wat graag vertel word nie. Hulle kon kwalik ’n bestaan hier maak.

Die Franse Hugenote was so kwaad toe hulle na die Kasteel moes gaan om die eed van getrouheid aan die VOC af te lê dat hulle geweier het. Die enigste eed en toewyding is aan God, was die antwoord. Hulle uiterste vorm van geloof het egter diep wortel geskiet in die bewussyn van die plaaslike mense.

.........

Jy hoef net Schoeman se niefiksieboeke te lees om te besef “ons is beslis geen uitverkore volk” soos die latere nasionaliste en die kerke ons graag wou vertel nie, maar ’n saamgeflanste bondel weglopers, vlugtelinge, wandelaars en hoogs bedenklike wesens wat ’n laaste blyplek en uitkoms hier kom soek het. Mense wat hulle hele lewe lank met skuld gesukkel het.

...........

Teen 1740 was hier sowat 840 “Afrikaner”-mans en net meer as 600 “Afrikaner”-vroue – mense wat toe reeds die Afrikaner-familiename gehad het. Kort ná 1710 was hier veel meer slawe aan die Kaap as wit mense.

Toe die genetika ontleed is, is gesien dat die Europese bydrae tot die genepoel gemiddeld 95,2% was, met die meeste mense wat hulle herkoms aan Nederland (34–37%), Duitsland (27–34%) en Frankryk (13–26%) kon toeskryf. Die res van die wit Afrikaner se genetika van 4,8% is afkomstig van Khoi-San, Wes-Afrika, Indië, Indonesië, Maleisië, Japan, Borneo en Filippyne – dus die spore van slawerny

Die mense wat uiteindelik vryburgers geword het, was van meet af in konflik met die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) en die Khoi. Oor grond, hulle regte, weiding, beeste, skape, slawe, handel, misdaad en uiteindelik identiteit ná ’n paar generasies. ’n “Vryheidsideaal” gekoppel aan Calvinisme het posgevat.

Al hoe meer het na die binneland getrek omdat hulle gemeen het hulle sal die “wildernis kan tem”. Dit was glo hulle reg en hulle voorreg. Dit is trouens hulle “Godgegewe opdrag”.

Tydens die Groot Trek van 1834–1838 foeter verskeie leiers elkeen in sy eie rigting in, en redekawel met die ander. Die “Gelofte” wat hulle “met God ooreengekom het” se arrogansie resoneer tot vandag toe. Dit is nou as jy die saak soos ek sien, dat kant kies in ’n oorlog deur ’n bonatuurlike wese, wat tog vir almal sou lief wees, uiters onredelik is.

Ons skiet eerder duisende Zoeloes dood en vra iemand wat nie kan lees of skryf nie om ’n traktaat te teken, in ’n oneweredige ruiltransaksie, as om “ons vryheid” prys te gee.

Dan trap en kap jy maar jou plek uit in die “wilde land”. Tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) is daar aan die een kant op die meeste 70 000 plaasboere en seuns wat kans sien om oorlog te maak teen die wêreld se supermoondheid, met sy oormag van 450 000 soldate.

Uiteindelik is hulle bereid om 30 000 plase in puin te laat lê. Alles is verskroei – die huise, landerye, boorde, veld en die vee is keelaf gesny ter wille van ’n ideologie. Derduisende vroue en kinders sterf op die vlaktes in konsentrasiekampe.

Tot die bitterste bittereinde: “Want ek is ’n Afrikaner en ek is vry!”

Ons weet nie wanneer om op te hou nie, wanneer om te erken ons was toe die hele tyd verkeerd nie.

Kyk, niemand het meer empatie en deernis met die lyding van die Anglo-Boereoorlog as ek nie. My familie aan beide vaders- en moederskant was in die oorlog. Die plase is afgebrand, die vroue was in die kampe en die mans was almal krysgevangenes. Van die intense lyding tydens en ná die oorlog is ek deeglik bewus – ek spandeer al jare lank tyd aan navorsing oor Emily Hobhouse. Die lyding van die oorlog, ook vir die derduisende swart mense wat daarin dood is, is nie my punt nie.

........

Dié oorlog het egter net daartoe gelei dat nasionalisme ons voorland sou word, aangevuur deur die kerke en die latere Broederbond. Wat ’n onheilige drie-eenheid was hulle nie.

..........

Dié oorlog het egter net daartoe gelei dat nasionalisme ons voorland sou word, aangevuur deur die kerke en die latere Broederbond. Wat ’n onheilige drie-eenheid was hulle nie.

En presies daar het van ons vasgesteek. Net soos die vroue in die kampe van die ABO vasgesteek het met hulle boererate en mense steeds vandag daarin glo. Dit is tyd om dit te erken.

Die afgelope 18 maande het daar derduisende mense in ons land aan COVID-19 gesterf en miljoene elders. Soveel wat siek was en is.

........

Al die bewyse is daar dat dieremedisyne, soos ivermektien, nie werk teen ’n virus nie; inteendeel, dit is gevaarlik. Die wetenskap het oor en oor bewys die entstowwe teen COVID-19 is veilig en effektief en voorkom hospitalisasie, ernstige siekte en die dood.

Maar ’n groot groep mense wat hulself as Afrikaners beskryf, skop was. Hulle is weer vryburgers, trekboere, Voortrekkers en Bittereinders. Tot almal se nadeel.

Dalk sit dié afkeer in die owerheid, die teenstand teen alles, die totale blinde geloof, die skaamkwaad woede en die hardnekkige voortploeter in ons gene. Ek weet nie, maar dis tyd om te laat los.

Onthou net, toe Hendrik Bibault in 1707 geskree het “Ik ben een Africaander”, was hy lekker dronk.

Lees ook:

Met een miljard inentings gaan China dalk die eerste land sonder maskers wees!

https://www.litnet.co.za/commendatio-kyknet-rapport-boekprys-vir-niefiksie-2017-emily-hobhouse-geliefde-verraaier-elsabe-brits/

https://www.litnet.co.za/covid-19-jeremy-nel-on-vaccines-returning-to-normal-and-ivermectin/

https://www.litnet.co.za/covid-19-die-jongste-the-latest/

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top