Dis nou vlieg of val vir SAL

  • 0

As die reeds bankrot Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie letterlik binne die volgende paar dae R2 miljard in die hande kry om in die lug te bly nie, sal daar geen ander keuse wees as om SAL se vlerke te knip nie.

Die kabinet het Donderdag dringend vergader om oor SAL se toekoms te besin. Die lugdiens is op die rand van finale ineenstorting en slegs ’n wonderwerk kan dit nog red.

Foto: Pixabay.com

Die minister van finansies, Tito Mboweni, en die minister van staatsondernemings, Pravin Gordhan, is twee van die sleutelfigure wat dié week moes besin of die regering enige verdere waarborge durf gee om die SAL van ondergang te probeer red.

Die ekonoom Magnus Heystek het op Twitter gesê as die regering weer eens ’n reddingsboei aan die SAL gee om uit sy finansiële gemors te probeer kom, kan Suid-Afrika maar totsiens sê vir sy volgende beleggingsgradering in Maart volgende jaar. Die vraag is of die ANC hoegenaamd daarvoor omgee, wou Heystek op Twitter weet.

Die lugdiens se benarde situasie het die afgelope twee weke verder agteruitgegaan. Dit is op die spits gedryf weens die staking deur werknemers wat aangedring het op ’n agt persent salarisverhoging terwyl daar nie eers geld is om hulle gewone salarisse te betaal nie.

Die staking het aanleiding gegee tot die kansellasie van honderde passasiers se vlugte. Slegs die helfte van SAL-werkers se salarisse is Woensdag betaal.

Business Day het Donderdag berig die SAL is besig met intense beraadslaging tussen die tesourie en die departement van openbare werke oor die vraag of daar ’n laaste reddingsboei aan SAL gegee moet word om die lugdiens van likwidasie te probeer red. Die koerant berig dat die SAL onmiddellik R2 miljard benodig net om sy salarisse en skuldeisers te betaal anders kan daar nie verder handel gedryf word nie.

Baie Suid-Afrikaners wat op die nuus reageer het, meen die SAL is besig om die land se finansies te melk en dat iets drasties gedoen moet word, of dat die besigheid vir eens en altyd gesluit moet word.

Baie mense het die vakbonde wat op salarisverhogings aandring die skuld gegee en sê vakbonde gee nie ’n flenter om vir die werkers nie. Hulle waarsku dat die lugdiens binnekort in duie sal stort en al die werknemers werkloos sal wees. “Mens kan nie salarisverhogings met geleende geld betaal nie.”

Die departement van openbare werke sê in sy verklaring hulle werk saam met die SAL om dringend ’n manier te probeer vind vir die lugdiens om met sy werksaamhede voort te gaan, maar dat die SAL nie soos tans kan voortgaan nie.

Volgens die verklaring wil Gordhan probeer verseker dat die lugdiens op korttermyn gestabiliseer word, die bestuursprobleme reggestel word en die lugdiens op medium- en langtermyn weer op ’n gesonde finansiële basis geplaas word.

Die meeste ekonome meen egter die SAL kan nie gered word solank dit in die staat se hande alleen is nie, maar Gordhan is glo nie ten gunste van privatisering of sakeredding nie.

Die vakbond Solidariteit het reeds verlede week ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om te vra dat die SAL in sakeredding geplaas word.

Die vakbond sê indien die aansoek suksesvol is, sal dit beteken dat die hof ’n sakereddingspraktisyn met omvattende magte kan aanstel om die lugredery te red. Indien Solidariteit se aansoek slaag, sal dit die eerste keer wees dat ’n staatsonderneming in sakeredding geplaas word.

Lees ook

Bankrot SAL se dae is getel

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top