"Dit vat nie veel om voor DC se sjarme te swig nie"

  • 0

......

“Ek het nooit gedink ek gaan die mens wees wat
snikkend deur sekuriteit gaan nie.”

......

Heloïse van Huyssteen het onlangs sak en pak saam met haar man, Ian, Washington, DC in die VSA toe verhuis waar sy tans as vryskutskrywer met vreemdelinge geselsies aanknoop op soek na haar volgende storie. Sy gesels met Cliffordene Norton.

Heloïse van Huyssteen

Heloise, jy het onlangs na Washington, DC verhuis. Wat was jou eerste indrukke toe jy van die vliegtuig afklim?

Die eerste ding wat ek onthou in die harwar, was toe ek en my man, Ian, Starbucks op die lughawe besoek het. Ons het ’n cappuccino bestel en weens ons dik Afrikaanse aksent het hulle verkeerd gehoor en vir ons ’n kaasbroodjie gegee. Dus was my eerste indrukke: “Bok, ons gaan aan ons Engels moet begin werk.”

Wat was die uitdagings en hoogtepunte van die verhuisingsproses?

Daar was heelwat uitdagings. Ian moes ’n paar weke ná ons visumafspraak begin werk. Dus moes ons voor die afspraak ons besittings begin verkoop en ons werke bedank. Indien dinge nie uitgewerk het nie, was ons werkloos, huisloos en karloos.

Buiten al die admin was dit ook nie lekker om ons geliefdes te groet nie. Ek het nooit gedink ek gaan die mens wees wat snikkend deur sekuriteit gaan nie.

Die hoogtepunt is dat ons ’n wonderlike geleentheid gekry het om die wêreld te sien, nuwe kulture te ervaar en stories te versamel wat ons eendag vir ons kinders kan vertel. DC is ook een van die mooiste en geskiedkundigste plekke in Amerika – dit sal ’n sonde wees om hier verveeld te wees. Ons paadjies het ook met dié van ’n paar Suid-Afrikaners gekruis wat saam met ons oor biltong, koeksisters en droëwors droom.

Watter alledaagse verskille is daar tussen hoe mense in Washington, DC leef in vergelyking met hoe Suid-Afrikaners leef?

Spasie, spasie, spasie! Ek het eers besef hoeveel spasie ons as Suid-Afrikaners het toe ek my tas in ons eenslaapkamerwoonstel op die negende vloer uitpak. Dis ook juis weens beperkte spasie dat die restaurantkultuur baie groter hier is as in Suid-Afrika. ’n Mens moet net versigtig wees – soms kan ’n voorgereg ’n gesin van vier voed.

Die lewenskostes in DC is ook baie hoër as in Johannesburg (’n mens moet maar probeer om nie alles om te skakel nie – jy sal grys word voor jou tyd).

Jefferson-gedenkteken in DC

Die meeste mense wat ek ken, het nie ’n kar nie. DC het ’n groot stap-/trein-/Uberkultuur. Ek was altyd die persoon wat die naaste parkering aan ’n winkel gesoek het, en deesdae stap ek sonder om te wik of te weeg ’n paar myl na my bestemming.

Wat is van die dinge/aktiwiteite wat jy al gedoen het of besienswaardighede wat jy al besoek het?

Ons het die geleentheid gehad om die New York-deelstaat te verken, en die Niagara-waterval het my asem weggeslaan.

Die Groot Appel

Ons het ook ’n drie weke lange road trip deur onder meer die weskus van Amerika gedoen saam met ’n paartjie wat ons op die toer ontmoet het. Ek is mal oor Los Angeles, en het veral ons besoek aan die stelle van Friends en The Big Bang Theory geniet, siende dat ek ’n groot aanhanger van die reekse is. Ek het ook my hart op Yosemite Nasionale Park verloor en sal graag eendag wil teruggaan soontoe.

......

“DC is ook een van die mooiste en geskiedkundigste plekke in Amerika – dit sal ’n sonde wees om hier verveeld te wees.”

......

Ons het ook onlangs ’n twee weke lange road trip deur ’n deel van die ooskus gedoen en ek kon nie my opgewondenheid beteuel toe ek Nashville van my bucket list kon aftiek nie.

Nashville: Gedoen. Geniet!

Het jy al enigiets nuuts oor die land se kultuur geleer?

Die Amerikaners hou van networking. Dit gaan nie altyd oor jou vermoëns nie, maar oor wie jy ken. Hier is ook ’n baie groot sportkultuur en ek het al ’n bofbal-, yshokkie- en NFL-wedstryd bygewoon. Hoewel ek nie die grootste sportaanhanger is nie, sal ek weer gaan – bloot oor die ongelooflike gees.

Ian en Heloïse in Shenandoah

Nog iets waarop die Amerikaners gesteld is, is om te tip. Moenie dink iemand bied aan om jou tas te dra omdat hulle omgee oor jou wat swaardra al aan die eenkant nie. Jy gaan moet opdok.

Het jy al enige interessante geregte geëet?

Ek het nog nie gogga-interessante disse geëet nie, maar ek en ’n paar vriende het eenkeer besluit om ’n poutine-restaurant ’n kans te gee. Ons kelner het ons grootogig aangekyk toe ons elkeen ’n kaasburger-poutine met skyfies bestel het. Die kyk het sin gemaak toe ons poutine by die tafel aankom. Poutine is skyfies met sous, wat beteken ons het skyfies met skyfies bestel. Boonop was die skyfies so olierig, dit was basies ’n hartaanval op ’n bord.

Poutine (Foto: Pixabay.com)

Ons het ook ons eerste Thanksgiving-ete gehad, en die geroosterde kalkoen het my aangenaam verras. Boonop het ek vir die eerste keer kalkoen-vulsel en pampoentert gemaak en niemand was siek na die tyd nie.

Beef jerky is ook nie te sleg nie, maar dit kom nie naby biltong nie.

Wat is sommige van jou hoogtepunte in Washington, DC tot op hede?

Dit vat regtig nie veel om voor DC se sjarme te swig nie. Daar is so baie hoogtepunte in hierdie geskiedkundige stad, dis moeilik om een uit te sonder. Ek is mal oor museums en het al ’n paar van die Smithsonian-museums besoek, soos die National Air & Space Museum en The United States Holocaust Memorial Museum, asook die National Gallery of Art en die International Spy Museum.

Lincoln Memorial Reflecting Pool – byna so bekend soos die Withuis.

Ek is ook ’n gereelde besoeker aan die National Mall-park waar al die monumente en gedenktekens is, soos die Jefferson-gedenkteken, die Washington-monument en die Reflecting Pool waar Forrest met Jenny herenig is in die fliek Forrest Gump. ’n Besoek aan die Library of Congress, die grootste biblioteek in die wêreld, is ook een van my hoogtepunte.

  • Foto’s: verskaf, tensy anders aangedui.
Lees ook 

"’n Stukkie van my het nooit saam teruggekom nie"

"I say 'baie lekker' a lot now"

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top