"’n Stukkie van my het nooit saam teruggekom nie"

  • 0

Ena Stegmann het vir ’n jaar lank in Nederland gaan au pair en werk tans in die Kaap as bemarkingsassistent by LAPA Uitgewers. Sy gesels met Cliffordene Norton oor haar ervaring in Nederland, valse vriende en waarom sy haar tong-die-kies blog, Memoirs van ’n Millennial, begin het.

Jy het onlangs vir ’n jaar in Nederland gewoon. Wat was jou eerste indrukke van Nederland toe jy van die vliegtuig afgeklim het?

O, koud is die windjie en skraal!

Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse taal en kultuur geleer?

Baie mense dink dit is maklik om Nederlands te praat omdat dit eintlik soos Afrikaans is. Dit is egter vrek moeilik. Mens dink jy kan Nederlands praat totdat jy ’n cappuccino wil bestel en die kelner nie verstaan wat jy bedoel nie. Of as jy vra vir ’n slippie en jy kom agter dit is eintlik ’n g-string!

Wat is die grootste verskille tussen Afrikaans en Nederlands?

Die Nederlanders hou daarvan om te dink Afrikaans is “Dutch for Dummies”, maar Afrikaans is ’n ryk taal wat teen ’n vinnige tempo hoё hoogtes bereik het. Ek dink die grootste verskil is grammaties. Die woordeskat is baie dieselfde, alhoewel daar ’n paar valse vriende is.

Wat was jou gunsteling- Nederlandse dorp / stad / besienswaardighede?

Die mystic boer van Europa, my liewe Amsterdam, was by verre my gunstelingstad. Ek en ’n vriendin het mekaar Sondae graag daar ontmoet. Die stegies, die gragte en die skewehuisies dra by tot ’n sekere gebrokenheid waarmee ek kan vereenselwig. Anne Frank se huis is ook in Amsterdam geleё – een van die mees besonderse ervarings. As mens klaar is met die toer deur Anne Frank se huis, dan gaan troos jy jouself maar met ’n koffie en ’n stuk appeltert.

Wat was jou gunsteling- Nederlandse gesegde?

Ek het iemand gesien wat ’n hemp dra met die woorde “Het leven is geen ponykamp” op. ’n Ponykamp is ’n perdrykamp wat tipies gesien word as ’n plek waar meisies mekaar se hare vleg, heeldag perdry (sonder om af te val) en waarskynlik pienk valhelms dra. Hierdie uitdrukking is soos die Afrikaanse gesegde: “Dis nie altyd maanskyn en rose nie.”

Sal jy graag weer in Nederland wil woon?

Ek dink ’n stukkie van my het nooit saam met my teruggekom nie, maar ek is baie gelukkig in die Kaap.

Het jy tydens jou tyd daar in enige valse-vriend-slaggate getrap? 

Afgesien van die verwarring tussen ’n slippie en ’n g-string was daar ’n paar keer gewees wat ek my vasgeloop het. Ek onthou spesifiek dat iemand by die kerk vir my gesê het ek lyk “opgef*kt”. Dit beteken ek lyk ’n bietjie kwaad. ’n Ander een was “dadelik”, wat in Nederlands “later” beteken.

  • Valse vriende is woorde met naastenby dieselfde spelling en uitspraak wat in beide Afrikaans en Nederlands voorkom, maar heeltemal verskillende betekenisse het.

Het jy enige wenke vir iemand wat ’n jaar in Nederland wil woon?

  • Al manier waarop jy die taal kan leer, is deur dit te praat (al klink jy vir jouself baie dom). 
  • Maak vriende met die Nederlanders. Moenie aan die Suid-Afrikaanse emigrante klou nie. 
  • Niemand gaan dit vir jou lekker maak nie. Het leven is geen ponykamp!

Wat het jou geïnspireer om die blog Memoirs van ’n Millennial te begin?

Voordat ek Nederland toe gegaan het, het iemand vir my gesê ek doen die tipiese “millennial”-ding om oorsee te gaan en of ook ek nou ’n blog gaan begin. Ek kon dit nie ontken nie, en ek het besluit om tong-in-die-kies oor hierdie milieu te skryf. Ek neem die blog nie ernstig op nie. Ek is vol nederlandismes wat my taaltuin besoedel!

Wat was jou top 10-hoogtepunte van jou Nederlandse besoek?

  • Ek het saam met my Nederlandse vriende gaan kamp by die jaarlikse “Opwekking”. Dit is ’n Christelike konferensie tydens Paasnaweek. 
  • Ek het ’n Nederlandse Alpha-kursus voltooi en in die proses lewenslange vriende gemaak. Hulle het vir my ’n afskeidspartytjie gehou voor ek teruggekom het na Suid-Afrika. 
  • Dagmar en haar ma, Marianne, ook Nederlandse vriende, het dit goedgedink om my hare in hulle kombuis te sny met gebruik van ’n stomp skêr en ’n liniaal. 
  • ’n Vriend van my het gevra of ek hom nie wil help om sy huis in te rig nie. Hy’t gesê dit lyk ’n bietjie rof. Ons het mure geskuur, gepleister en geverf, en daarna het ons tussen die tulpe gaan loop terwyl my hare byna teen my kop gesement was. 
  • Daar is ’n bar in Arnhem met die naam Freaky Piano. Nadat ’n Limburgse ou sy liefde aan my verklaar het, en ’n Italianer ons danspartner geword het, het ons besluit om huis toe te gaan. Twee van ons fietse was toegesluit in ’n winkel en ek moes een van my vriendinne agter op my fiets laai terwyl sy huil oor haar gesin. Ons lag nou lekker daaroor.
  • Die aand ná Freaky Piano het ek en dieselfde huilende vriendin Duitsland toe “gefiets”. Heerlik! 
  • De Hemel is ’n restaurant in Nijmegen waar mens gesellig onder bome kan sit en kuier en ’n glasie wyn geniet. Jy moet natuurlik sorg dat jy saam met die regte mense gaan. 
  • Ek het die fietsry vreeslik geniet. Ek het baie verdwaal, maar dit het die reis soveel mooier gemaak. Soms het ek aspris die verkeerde afdraai gemaak. 
  • Ek moes ’n vriend in Nederland agterlaat. Hy het my tyd in Nederland regtig kosbaar gemaak. Dit was glad nie ’n hoogtepunt om hom te groet nie; die hoogtepunt lê in die feit dat ek braaf genoeg was om my eie pad te volg. 
  • Ek het my eie beste vriendin geword.

♦ Foto’s: verskaf, tensy anders aangedui.

Lees ook 

Skreeusnaakse Nederlandse woordeskat en valse vriende

"I say 'baie lekker' a lot now"

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top