Dromers
Irize Loots
Naledi
ISBN: 9781928426462
In die debuutroman van Irize Loots word Marleen in die nag wakker gehou deur die sogenaamde verdwaaldes.
Voor sy vir die ou Gideon om raad kan vra, loop sy – letterlik – sy seun Dirk teen die lyf.
Irize Loots is ’n veelsydige Suid-Afrikaner wat in Nederland woon en werk.
Haar studies in musiek, teaterbestuur en Gestalt-terapie, asook haar skilderkuns, het meegewerk om haar met sagte oë na mense te leer kyk.
In Dromers – wat in Afrikaans geskryf is en by die Suid-Afrikaanse uitgewery Naledi verskyn het – kry die leser die geleentheid om deur ’n niepolitieke bril na ’n grepie van die lewe in Suid-Afrika, en in besonder in die klein Suid-Kaapse dorpie Riviersonderend, te kyk.
Politiek oorheers so dikwels in werk oor Suid-Afrika dat Dromers eintlik aangename afwisseling bied. Hier word die karakters eenvoudig as mense uitgebeeld, mense wat elkeen ’n storie het.
Elke mens het ’n storie
Die bejaarde Gideon is blind, maar hy kan dinge sien wat ander mense nie kan sien nie. Hy ervaar nie noodwendig sy blindheid as die grootste ramp nie, want hy voel “hy help nou nog mense op ’n ander manier. [...] Nou is dit regtig sy tyd vir daardie dienste aan sy medemens. Vroeër in sy lewe het hy soos die meeste mense werkdae gehad en is hy in die mooiste ure van die dag deur sy destydse werk opgeslurp. Nou het hy tyd en ruimte om net te wees en dit te geniet.”
Marleen (Lena) is sy kleindogter se vriendin en voel ’n intense verbintenis met Gideon aan. Omdat sy nie vrede met haar gawe het nie, kan sy nie die moed bymekaar skraap om met hom daaroor te gaan praat nie. Sy voer ’n oënskynlik rustige lewe met baie vryheid op die dorpie, hoewel sy daarvan bewus is dat die dorpenaars haar vreemd vind. Haar werk as die skrywer van ’n positiewe rubriek vir ’n alternatiewe tydskrif plus ’n erflating van ’n tante maak haar finansieel onafhanklik en sy bring haar dae, buiten haar skryfwerk, hoofsaaklik in haar tuin en met wandelinge met haar hond deur. “Dit is hoe Marleen is – soms is sy net ’n aardsrealis (sic) met nugter, praktiese gedagtes en sy geniet altyd die natuur ...”
Irize Loots (Foto: verskaf)
Die begin van die roman, wat Marleen se onrustige binnelewe uitbeeld – ten spyte van haar oënskynlik idilliese kleindorpse bestaan – bevat sonder twyfel die rykste prosa in die boek. Die skrywer se agtergrond as skilder kan duidelik waargeneem word in die beskrywings van mense – veral die oë – en die omgewing. Kleure word telkens in die fynste besonderhede beskryf en verleen ’n besonderse stemming aan die verhaal. Gideon en Marleen se onderskeie tuine staan sentraal en bind dié twee karakters aan mekaar.
Marleen is nie bang vir die gevare wat haar daaglikse wandelinge mag inhou nie, maar sy vrees die besoekers – die “verdwaaldes” – wat snags in haar drome kom aanklop. Deur die loop van die verhaal leer sy om raak te sien wat die besoekers in haar drome vir haar wou sê en kry sy die geleentheid om die lewendes daardeur te help, soos Gideon lank reeds leer doen het.
Gideon se laatlamseun Dirk dra die romantiese element in die verhaal in. Hy het, net soos Marleen, reeds groot verliese gely en is nog in die proses om sy pyn só te verwerk dat hy weer vir die lewe kans sien en homself vir die liefde kan oopstel.
’n Paar opmerkings
Verskeie mediese onderwerpe kom in die verhaal ter sprake, onder andere slaapapnee, makulêre degenerasie en Guillain-Barré-sindroom. Die simboliek van die lotusblom en sekere aspekte van Boeddhisme word ook aangeraak.
Marleen se labrador, Toeks, word ’n simbool van die lojaliteit en vriendskap wat diere aan die mens kan bied en die genesende waarde wat dit kan hê. Dit is dus gepas dat Marleen se gewetenlose eks, Leon, ook die een is wat aan Toeks skade doen en nie verantwoordelikheid daarvoor neem nie. Ook tussen Dirk as romantiese held en Leon as die antiheld word ’n verband gelê, wat meewerk om die storie hegter te bind.
Die roman bevat grepies besonder mooi prosa wat die gevoelige leser se hart sal verbly. Op ander plekke is die hoeveelheid “vertelling” egter hinderlik, veral wanneer feitelike inligting oorgedra moet word.
Die boek is mooi versorg, met ’n treffende buiteblad wat die twee hoofkarakters se verbondenheid uitbeeld, hoewel enkele klein goedjies hinderlik op die oog val. Een hiervan is die spasies wat tussen paragrawe oopgelaat is en wat die leeservaring onderbreek. ’n Paar onverwagte spronge in vertelperspektief verbreek ook die eenheid van die verhaal.
Méér as net ’n romanse
Dromers is ’n interessante debuutroman wat ’n leser wat na romanse op soek is, sal bevredig, maar wat ook heelwat kan bied aan die leser wat méér as romanse verwag. Hoewel die paranormale sentraal staan in die verhaal, hoef lesers wat nie noodwendig hierin belang stel nie, nie daardeur afgeskrik te word nie. Die gegewe oor Gideon en Marleen se gawes word nooit oorweldigend nie en daar is genoeg ander faktore wat lesers ook kan interesseer.
Buro: IG