Maryke Roberts resenseer die Suid-Afrikaanse boek, How to fix (unf*ck) a country deur Roy Havemann.
Titel: How to fix (unf*ck) a country
Skrywer: Roy Havemann
ISBN: 9781776193417
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers, Mei 2024
Ek sit op kantoor met die dramas rondom ons president oor die omstrede Bela-wetgewing en NGV-wetgewing wat deur een mediahuis as ’n verkiesingsfoefie afgemaak word. Ek voel skoon moedeloos oor die potensiaal van ons land, maar politici se onwilligheid om dit te ontsluit.
Dis toe dat die opname van Jonathan Ball Uitgewers oor Roy Havemann se boek, How to fix (unf*ck) a country: six things to reboot South Africa, in my inboks beland. Ek los alles en begin luister. Op die opname waar hy met Twanji Kalula gesels, word my belangstelling genoeg geprikkel om die boek te begin lees.
Die basiese strekking van die boek wat op die omslag beskryf word, lui as volg: “Na staatskaping is Suid-Afrika (gef*k) nie op ’n goeie plek nie. Die stelsel is van lyn. Hoe herlaai ons?
“Ons is nie die eerste land wat in ’n moeilike plek is nie. China, Indië, Suid-Korea, Viëtnam en vele ander het van ekonomiese ‘malletjies’ tot kragtige moondhede gegaan, wat miljoene uit armoede gelig het. So hoe kan ons onsself optel en dinge regmaak?
“In hierdie boek argumenteer Roy Havemann dat ons op die oomblik op ses basiese punte moet fokus: Eskom, onderwys, omgewing, uitvoere, etiek en gelykheid.
“Havemann verduidelik hoe ons prakties lesse van ander lande kan gebruik en uit hul prestasies en foute kan leer, byvoorbeeld hoe China, Griekeland en Colombië beurtkrag opgelos het; hoe verskillende Suid-Amerikaanse lande ongelykheid hanteer; en hoe Brasilië en Kenia hul onderwysstelsels opgradeer het.
“Hy wys dat ons stadigaan in die regte rigting beweeg. Ons eie ‘Operasie Vulindlela’, ’n gesamentlike inisiatief van die Presidensie en die Tesourie, implementeer verandering waar dit nodig is, maar meer kan gedoen word om hervormings te versnel, om Suid-Afrika ’n sukses te maak. Soms is die oplossings vir ons probleme net hier in ons eie land – al wat nodig is, is dat ons dit erken en inspan.”
Voor ek die boek begin lees, dink ek aan ’n toneelstuk wat in Mei by die Baxter op die planke was en waaroor ek ’n resensie geskryf het: https://www.litnet.co.za/as-jy-net-een-teaterstuk-gaan-kyk-laat-dit-the-king-of-broken-things-wees/. Die klein seuntjie wat na hom en sy pa verwys as die konings van gebreekte goed, verklaar dat hy op die radio gehoor het die omroeper sê die land is gebreek, maar hy wonder hoe ’n land gebreek kan wees? “Dit kan reggemaak word. Die grond is nog hier. Die mense is nog hier. Maak net die klein gebreekte goed reg en dan is dit nie meer stukkend nie.”
Hierdie gedagte bly my by terwyl ek Havemann se boek lees.
Die insigte dat mense baie slimmer as ek dit ook besef, kom reeds in die voorwoord deur die voormalige finansiesminister, Tito Mboweni, waar hy noem dat met sy eerste maande as finansiesminister, hy ekonome en beleidsbepalers geraadpleeg het oor hoe om Suid-Afrika se welstand te verbeter. Maar hy het gou besef dat hul definisie van ekonomiese groei radikaal van byvoorbeeld ’n boer verskil. Hy het goeie arbeid en ’n goeie infrastruktuur nodig om sy produkte suksesvol te kweek; te oes; te vervoer na ’n hawe of lughawe toe, en dan goeie uitvoerbetrekkinge en werkende hawens nodig om dit uit te voer.
Die uiteinde was ’n omvangryke verwysingsdokument, “Towards a growth agenda for South Africa”. Ná vele teenkanting is die plan deur die kabinet aanvaar. “Maar in die afgelope paar jaar het baie gebeur en hierdie boek bied die geleentheid om die pas te makeer en weer te groepeer en vorentoe te kyk. Hoeveel van die plan het ons aanvaar en wat moet ons nog doen?”
Havemann skryf in sy inleiding oor lande wat eens magtig was en nou nie meer is nie, soos Argentinië en Noord-Korea, en ook die teenoorgestelde, soos Suid-Korea wat nou floreer. “Nie een van die lande wat suksesvol is of faal, kan dit aan hul lot toeskryf nie [...] Ons Suid-Afrikaners weet watter tipe land ons wil hê: die suksesvolle tipe. Die boek handel oor hoe ons daar gaan uitkom.”
Hy skryf: “In 2022 was die gemiddelde jaarlikse inkomste per persoon in Thailand $21 000, en in Viëtnam $13 500. Maar in Laos was dit $9 400, en in Mianmar net meer as $5 000. Maleisië, ook naby, het ’n bruto binnelandse net-produk (BBP) per kapita van $33 500. Wat is dit met hierdie lande – almal baie naby aan mekaar, met soortgelyke geografie en mense – wat ’n mens sewe keer ryker maak as ’n ander?
“Die BBP per kapita vir die hele wêreld is ongeveer $21 000, terwyl dit vir Suid-Afrika slegs $16 000 is. So, as ons Suid-Afrikaners net die gemiddelde wêreld BBP per kapita kon bereik, sou ons ekonomie een derde groter word. Ons het ’n ekonomie omtrent dieselfde grootte as dié van Maleisië en Singapoer. Maar Maleisië het net meer as die helfte van die aantal mense wat ons het (33 miljoen). Singapoer het net vyf miljoen mense. Hulle is baie ryker per persoon as wat ons is.”
Dis hier waar hy terugkom na die ses pilare waarop ons toekomstige welvaart moet staan (Eskom, onderwys, omgewing, uitvoere, etiek en gelykheid), wat in Engels as die ses E’s afgekort word.
Voor mens verder hieroor dink, hou in gedagte dat Roy Havemann onder meer die SA Presidensie, die Tesourie, die Wêreldbank en private maatskappye adviseer. Nadat hy makro-ekonomie doseer het, het hy in 2002 by die Nasionale Tesourie aangesluit en deur die geledere gestyg om hoof van die Wes-Kaapse begrotingskantoor en Tito Mboweni se toespraakskrywer te wees. Tans is hy by Krutham betrokke.
Hy ontvou die eenvoud van ons beurtkragkrisis met die oplossing dat ander lande ’n eenvoudige strategie ontplooi het: Hou ’n gedeelte van Eskom onder staatsbeheer en deel die ander gedeelte aan die privaatsektor toe. Ons moet ’n kragstasie bou wat 6GW krag kan opwek, in plaas daarvan om die verkrummelende stasies wat ons het te probeer instandhou. Dis bloot te duur en oneffektief.
Hy kom ook terug na daardie boere wat destyds deel van Tito Mboweni se dinkskrum was. As ons meer kan uitvoer, kan die stygende gety inderdaad die hele land se skippies laat dryf. En hoewel baie mense aan Afrika as arm en agterlik dink, is ons steeds deel van ’n groeiende ekonomie op ’n kontinent met een biljoen mense. Ondernemings soos Shoprite en MTN het hierdie gaping raakgesien en doen baie suksesvolle besigheid in Afrika.
Hy haal voorbeelde aan van die afskaffing van rompslomp, regulasies en dokumentasie sodat die klein sakeman ook kan floreer, en hou onder meer Indië as sprekende voorbeeld aan. Hy kyk na Suid-Korea se leierskap wat dié sakemanne wat hulle aanvanklik wou vervolg omdat hulle verdink is van korrupsie, hul bondgenote gemaak het om die ekonomie te laat groei. Hier is name soos LG, SsangYong, Samsung en Hyundai ter sprake.
Maar hoewel hy Asiese lande as voorbeelde gebruik, is hy baie ferm daaroor dat Afrika nie probeer om Asië na te doen nie. Maar dat ons die basiese goed moet regkry, tegnologie, kapitaal, arbeid en instellings, is gewis. En twee beginsels uit China kan ewe goed in Suid-Afrika werk: Open ons uitvoermark en probeer nuwe projekte op kleinskaal. As dit werk, brei uit; as dit faal, probeer iets anders. Maar die kersie op hierdie sukseskoek: Fokus op dit wat jy goed kan doen, grondstowwe wat jy het. Selfs die Olimpiese Spele is bewys daarvan dat lande met baie water se watersport-sterre sterk staan. Jy verwag tog nie van Botswana om die wêreldkampioene in sneeuski te wees nie?
Hy lig Kenia se uitmuntende onderwysstelsel uit. Die rimpel-effek wat goed geskoolde skoolverlaters op die ekonomie het, verbysterend. En natuurlik het ’n hoë geskooldheid ’n radikale invloed op misdaad en werkskepping. Colombië – eens die gevaarlikste plek op aarde – word nou veiliger as Suid-Afrika gereken.
Havemann skryf dat Suid-Afrika tog stadig maar seker in die regte rigting beweeg. Mense word jaarliks uit armoede gelig. Raar maar waar.
Sy verwysing na Operasie Vulindlela (https://www.stateofthenation.gov.za/operation-vulindlela/summary-of-operation-vulindlela) bewys dat die voornemens daar is, maar die dade nog nie vinnig genoeg volg nie. Hy glo die oplossing vir ons probleme is hier in ons eie land – maar ons moet dit in die gesig staar en dan skouer aan die wiel sit.
Carol Paton skryf op die boek se voorblad dat die boek jou sal slimmer maak. Dit het my dalk slimmer – of meer ingelig en ook meer oorsigtelik bewus – gemaak, maar beslis positiewer, veral as ek aan die groei in Afrika waarvan hy op bladsy 29 praat dink. “Teen 2020 was Afrika se storie een van ongelooflike optimisme.
“Die Instituut vir Ekonomiese Sake in die Verenigde Koninkryk skat dat die BBP in Afrika suid van die Sahara in die jare tussen 2000 en 2020 verdriedubbel het; die gemiddelde inkomste verdubbel het; babasterftes gehalveer het; en lewensverwagting met 10 jaar gegroei het. Teen 2020 kon 136 miljoen meer Afrikane lees en skryf as in 2000. Op die oomblik is daar beide op- en afdraandes, veral as gevolg van die styging in voedselpryse ná die aanvang van die Rusland-Oekraïnse konflik en die voortslepende gevolge van die COVID-19-pandemie.
“Maar oor die algemeen het Afrika ’n groot sprong vorentoe geneem. Die verhaal van Afrika se verbetering is plek-plek duidelik. Nie alle lande floreer nie. Sommige het goed gevaar, terwyl ander steeds misluk.”
Ja, nie alle lande het gebaat nie, want daar is nie een resep vir almal nie. Maar soos hy in die laaste bladsye opsom: Hy het vir ’n redelik eenvoudige Jamie Oliver-resep gegaan vir Suid-Afrika, “want soms is die antwoord op ’n baie moeilike vraag doodeenvoudig.
“Die resep wat ek hier voorhou, is pizza waarvan almal hou, met ’n Suid-Afrikaanse kinkel en ’n soliede Pinotage van die Wes-Kaap: Goeie kos vir goeie mense. Iemand moet dit net maak.”
Die gedagte wat my dus sal bybly – lank nadat ek die fynere detail van hierdie boek sal onthou – is die ongelooflike vermoë van een sterk leier. Hy gebruik onder meer Deng Xiaoping van China om sy punt te illustreer: Sedert hy in 1978 aan bewind gekom het, tot en met sy dood in 1997, het hy China omvorm. Die Wêreldbank reken dat meer as 800 miljoen Chinese danksy sy leierskap uit armoede gelig is. Die land is ook een van die wêreld se ekonomiese suksesstories.
Dit bring my terug by verkiesingsfoefies (in aanloop tot die Mei 2024-verkiesing) en beurtkrag en werkloosheid en swak uitvoere en ontoereikende hawens en rompslomp wat ons ekonomie se voete geboei hou.
Wie gaan Suid-Afrika se pizza (lekker en vars genoeg vir ons almal) maak?
Dalk moet hierdie boek voorgeskrewe werk word vir elke ampsdraer in ons land, sodat ons nie met geskroeide pizza by kerslig moet sit nie (want die hawens werk nie behoorlik nie en die pizzabokse is nie afgelewer nie). En dít boonop sonder rooiwyn in ons glas, want die rompslomp op die wynbedryf hou ons hande vas.