EET KREEF!: Die verhaal van PW Botha se wysvinger en Johannes Kerkorrel se middelvinger

  • 0
“And the little screaming fact that sounds through all history: repression works only to strengthen and knit the repressed.” ‒ John Steinbeck, The Grapes of Wrath.

In April 1989 vertrek ’n stoet kombi’s uit Johannesburg met sowat twintig wit “terroriste” aan boord om iets te gaan doen wat min mense nog vantevore gewaag het: om skoor te soek met PW Botha en die NG Kerk – wat min of meer dieselfde ding was.

Saans op die TV-nuus het PW die Afrikanervolk gewaarsku, met ’n wysvinger in die lug, teen die Johannes Kerkorrel-tipes. Saans ná die nuus het Kerkorrel voor duisende gatvol Afrikaners ’n ander vinger gelig vir die Botha-tipes.

EET KREEF! (die titel sinspeel op Marie Antoinette se stelling “Laat hulle koek eet”) word beskou as die eerste Afrikaanse alternatiewe rock/blues-album en was die rugstring van die Voëlvry-beweging.

Johannes Kerkorrel het ongekende mediablootstelling gekry as hoofsondebok weens die oorverdowende verset van die tien liedjies op die album. Dit bevat al die elemente wat te wagte kan wees van ’n stukkie anti-establishment-kuns: politieke satire, geloofsvraagstukke, pyn, poësie, vuil gedagtes en kitaarversterkers se elektronika wat vuurwarm gloei en dreig om te ontplof.

Dit was die enigste album wat die Gereformeerde Blues Band (GBB) gemaak het en die impak daarvan is van onskatbare belang binne die sosiale konteks van die tydperk waarin dit verskyn het.  

Aan boord van die optog was ’n mengelmoes van linksgesindes – instrumente amper ’n bysaak en kak soek ’n hoofsaak. Die GBB was die hoeksteen van die toer en het bestaan uit Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie – klavier, kitaar, trekklavier en sang), Piet Pers (Gary Herselman – baskitaar), Hanepoot van Tonder (Jannie van Tonder – dromme) en Braai Nylon (Willem Moller – kitaar). Die enigste vroulike musikant op die toer was Karla Marie (Tonia Shelley). Dan natuurlik was daar Koos Kombuis (André Letoit) en Bernoldus Niemand (James Phillips – deel van die Swart Gevaar).

Twintig konserte later, met ’n geraamde nalatenskap van 3 000 bottels bier, 1 000 hamburgers en 27 000 sigarette (volgens Michael Markowitz wat as joernalis wat die blues-blitzkrieg gedokumenteer het), is hulle terug by die huis. Vuisvoos en berug.

Hulle voertuie se bande is by verskeie geleenthede stukkend gesny deur regsgesindes en traangas was telkens ’n onwelkome toevoeging tot die konsertgangers se massahisterie van sosiale ontwaking. Om nie eens te praat van die talle universiteite wat hul optredes verbied het nie. Die Pukke, Kovsies en Stellenbosch – almal bewaarders van Calvinisme en gekant teen dans op Sondae.

“Sit dit af, sit dit af!” het die mantra van die Voëlvry-toer geword. Dertig jaar later sal meeste wit Suid-Afrikaners onder vyf-en-twintig dink as jy díe frase herhaal dat jy daarop aandring dat iemand nóú die Wi-Fi “booster” moet uitsorteer – wat ook vreemd is, want dan sou dit wees “Sit dit aan, sit dit aan!”

Die jeug was in 1989 ook deurmekaar, maar eerder oor die vreemde musiek wat iets lostorring onder hul Sondagskoolrokke en -broeke.

Of die Voëlvry-toer nou ’n protesoptog of ’n rebellie-beweging was en of dit bloot ’n klomp mal donners was wat die hel in was vir alles wat te doen gehad het met kerk, masjeer, luisterliedjies en kinders wat die vlaglied sing, is ’n kwessie van akademiese debat. Die belang van die toer en die EET KREEF!-album is duidelik wanneer dit beskou word uit ’n politieke, geloof en sosio-ekonomiese invalshoek.

Vir alle praktiese doeleindes was Suid-Afrika in die 1980's ’n doppelgänger van die hel. Die Nasionale Party skeur in twee. Andries Teurnicht stig die Konserwatiewe Party en die NG Kerk beleef ’n krisis oor of God ook van swart mense hou. “O, nee,” was die sentiment in 1981 toe daar gestem is om die ouderlingebanke “suiwer” te hou. “O, wee,” was die verkramptes se noodkreet in 1984 toe daar besluit is dat die reënboog nou wel nie net wit is nie.

O, ja – en terwyl Bles Bridges “Ruiter van die windjie” gesing het in ’n blink baadjie en Carike Keuzenkamp “Dis ’n land van kleur en van klank” oor die land heen verkondig het, het daar woestynwinde oor die lyke van 1 791 Suid-Afrikaanse soldate en honderdduisende Namibiërs en Angolese gewaai. Slegs 11 400 van laasgenoemde sterftes kan direk aan sterftes op die slagveld gekoppel word. PW Botha verklaar ’n noodstand en lewer sy Rubicon-toespraak in 1985 asof hy met sy kinders raas.

“Donkerland” is ’n herinnering aan ’n tyd toe die land aan die brand was.

En dis ’n donker donker land
Die seisoene, draai die sterre brand
Die son word rooi ons het beland
Aan die maan se verkeerde kant

En die soldate kom al aangemarsjeer
En elkeen dra ’n gelaaide geweer
Daar's ’n bom in elke supermark
En die klank van glas wat breek
En iets moet breek!

Johannes Kerkorrel se liedjies op die album is uiteenlopend in vele opsigte. Musikaal gesproke is dit middelmatig. Die blues-elemente wat in die musiek vervat word, is deurdrenk met cliché-akkoordprogressies en ’n gehamer op die klavier. Maar maak dit saak?

Nee. Attitude, ’n badass-houding en bloeddorstige eerlikheid het nie ingewikkelde toonlere en harmonieë nodig nie. Soos Stephanus Muller (2002) dit in ’n koerantskets stel:

“ ... dat dit reeds duidelik is dat Kerkorrel in breë kultuurhistoriese verband ’n belangriker musikale figuur is as menige kunsmusiekkomponis wat met religieuse toewyding in konservatoria oor die land bestudeer en gekanoniseer word”.

Waar lê die impak dan? Johannes Kerkorrel verwoord dit so:

“We call ourselves the Gereformeerde Blues Band. If you grow up in this country you get hit by Calvinism. Whether you like it or not, whether you black or white or English or whatever. Calvinism hits you. You go through their system. That’s the sort of blues we talk about. Blues of growing up in this society here.”

En aan verslaggewers van die Sunday Star sê hy oor hoekom hy dink soveel mense na hul konserte toe stroom:

“They [die konsertgangers] have been lied to all their lives. They know that the SABC lies. They know that the newspapers lie. Here they come and get things presented in a straightforward way. And they say: O my God, what I have been thinking has been right all along.”

Vroeër vanjaar het Frank Freeman (kitaarspeler van Kaapstad) ’n span musikante bymekaargemaak om EET KREEF! weer te laat leef. Laudo Liebenberg (sanger van aKing), Schalk van der Merwe (baskitaar), Etienne van Rooyen (klavier) en Sheldon Yoko (perkussie) het hulself saam met Freeman vrye teuels gegee met musikale verwerkings. Die kern van die oorspronklike album is volgens Freeman steeds daar.

“Ons handhaaf ’n goeie balans tussen respek vir die kenmerkende elemente van Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se songs en ’n nuwe benadering tot hul musiek.”

Die vraag is dan of die liedjies steeds dertig jaar later relevant is? Is dit bloot ’n opgrawing van ’n era vir sentimentale redes? Dalk is dit die ekwivalent van ’n Shakespeare-toneelstuk wat in ’n moderne konteks geplaas word.

Freeman en sy groep het onlangs ’n video op Facebook gelaai waar almal in ’n kring sit en “Hillbrow” lewendig uitvoer. En ja, soos dertig jaar gelede is hierdie lied steeds ’n tragiese blik op Suid-Afrika.

Ons sit in die son, drink wyn,
Ons survive met ’n helse lot pyn in hierdie land, ja
Kom ons drink op die een wat sy drome oorleef,
Op die een wat kry wat hy vra, ja:
En gee, gee, gee. Gee, gee, gee
Jou sente jou drome, jou toekoms vol gate,
Gee jou hart vir Hillbrow

Kerkorrel pleeg selfmoord op 12 November 2002 in Kleinmond. Hy laat drie briewe agter. Een vir sy ma, een vir die polisie, en een vir sy lover. In die brief aan die polisie verduidelik hy dat hy nie sy skuld kan delg nie en dat hy nie werk het vir die volgende twee maande nie.

Die revolusie het gekom en gegaan.

Die orrel in die kerk se stoppe is toe, maar die klokke op die toring sal tot in ewigheid beier vir die een wat braaf genoeg was om te midde van die morele agteruitgang van ’n samelewing ’n vinger te lig teen masjiengewere, breingespoelde apartheid-zombies en die ringkoppe wat die skerp hoeke van Die Bybel teen die kele van andersdenkende mense gedruk het.

Miskien was Kerkorrel reg: “Almal moet gerook raak.”

Bronne:

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top