EFF bederf FW se partytjie

  • 0

Gee die Nobelprys vir Vrede terug, eis die EFF, derde grootste en radikaalste politieke party in Suid-Afrika, die afgelope naweek van oudpresident FW de Klerk.

“Want daar is bloed aan sy hande” en hy is “geen vredemaker nie”, aldus die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), wat gelei word deur Julius Sello Malema.

Die party se Nobelprysverklaring is uitgereik as ’n reaksie op die dertigjarige herdenking van De Klerk se waterskeidingstoespraak op 2 Februarie 1990, waarna ook in my vorige Nuusvinke-artikel verwys is. (Lees hier.)

In dié toespraak het hy – nadat hy in 1989 as Nasionale Party-leier en staatspresident by PW Botha oorgeneem het – verreikende politieke veranderinge aangekondig.

Die vrylating van oudpresident Nelson Mandela ná 27 jaar in aanhouding en die ontbanning van verbode politieke organisasies, sowel as ’n moratorium op die doodstraf, word as die vernaamste aspekte van die toespraak onthou.

Maar die toespraak, gelewer tydens die parlementsopening, het ook onder meer die einde van die Wet op Afsonderlike Geriewe beteken: geen “Blankes” en “Nie-blankes” op kennisgewings, wat bepaal het watter geriewe die verskillende rassegroepe mag gebruik het, sou van toe af meer by openbare plekke sigbaar wees nie.

De Klerk se toespraak, tesame met Mandela se vrylating, die aanvang van veelparty-onderhandelings in 1991 en ’n referendum in 1992 waarvoor wit kiesers oorwegend “ja” gestem het vir ’n nuwe, demokratiese bedeling, het die wêreld se aandag op Suid-Afrika gevestig gehou.

Naas die erkenning wat hy internasionaal van ander staatshoofde en organisasies asook vanuit die res van Afrika hiervoor ontvang het, was die aankondiging dat hy en Mandela die 1993-ontvangers van die Nobelprys vir Vrede is, die spreekwoordelike kersie op die “vredeskoek”.

Oudpresident FW de Klerk en oudpresident Nelson Mandela in 1992 by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos, Switserland (Foto: Copyright World Economic Forum [CC BY-SA], via Wikimedia Commons)

Dit was nie sonder omstredenheid nie. Politieke vyande van De Klerk het gemeen dit kom hom nie toe nie; Mandela alleen was vir hulle ’n waardige ontvanger van die prys. Maar Mandela self het dit nie as onvanpas beskou om vroeg in Desember as mede-ontvanger van die Nobelprys na Oslo in Noorweë te reis nie.

Soos De Klerk tereg in sy toespraak voor die uitsoekgaste van die Nobelkomitee opgemerk het, sou dit vyf jaar tevore ondenkbaar gewees het om jou dit voor te stel dat hy en Mandela op dié dag die prys gesamentlik in ontvangs sou neem.

“Die kompromieë wat ons bereik het, vereis opofferings aan alle kante,” het hy gesê. “Dit was nie maklik vir mnr Mandela se ondersteuners of myne om die ideale wat hulle vir dekades lank nagestreef het, prys te gee nie. Maar ons het dit gedoen. En omdat ons dit gedoen het, is daar hoop.”

Die hoop wat meegebring is deur die politieke veranderinge wat oor Suid-Afrika aan die spoel was, het egter nie ’n foutlose oorgang gewaarborg nie. Ter demonstrasie hiervan het De Klerk in sy toespraak ook melding gemaak daarvan dat nagenoeg 3 000 mense sedert die begin van 1993 in politieke geweld in Suid-Afrika gesterf het.

Nou kom die EFF en herinner De Klerk aan daardie einste bloedvergieting van die 1990’s. Meer akkuraat – hulle lê dit voor sy en sy toenmalige bewind se deur: “Sy regering was sentraal tot baie slagtings in die 1990’s, en in besonder dié van Boipatong, wat ten doel gehad het om die oorgang na demokrasie te ondermyn.”

Die EFF glo dit was nie De Klerk of sy regering wat die oorgang na ’n nuwe politieke bedeling bewerkstellig het nie. Dit was eerder “die onbaatsugtige stryd deur die massas en die jeug”; dit sluit studente-organisasies soos COSAS, die Verenigde Demokratiese Front, vakbonde, godsdiensorganisasies, sport- en kunsorganisasies en die internasionale gemeenskap in.

Onder laasgenoemde sou ook die Nederlandse anti-apartheidsbeweging en die land se steun aan organisasies soos die ANC tel.

Hierteenoor – in die EFF se weergawe van wat tussen die 1980’s en die 1990’s plaasgevind het – was die “moorddadige apartheidsregime” in ontkenning en sou dié hom daarom in die grootste deel van die 1980’s tot die instelling van noodtoestande gewend het.

De Klerk het in sy 1990-toespraak, sowel as in sy outobiografie, Die laaste trek – ’n nuwe begin, groot klem gelê op hoe bekommerd sy regering was dat die heersende noodtoestand nie voortydig beëindig moes word nie. Dit kon eers gebeur as daar genoegsame aanduiding was dat ook Mandela en die ANC ten volle tot die vredesproses verbind was – en in Mandela se eerste toespraak op die dag van sy vrylating was dit beslis nie die geval nie. Die gewapende stryd moes voortduur, het hy voor en onder die toejuiging van ’n skare van derduisende mense op die Kaapse Parade in die Moederstad gesê.

Net die afgelope naweek nog het De Klerk in ’n aantal media-onderhoude sonder versuim benadruk dat indien hy en sy regering vasgeskop het teen die veranderinge (wat die oudpremier van Brittanje Harold Macmillan reeds in die 1960’s voorspel het onvermydelik in die ganse post-koloniale Afrika was), sou Suid-Afrika vandag “soos Sirië” gelyk het.

Bloed sou in die strate gevloei het, reken hy.

En weer (in ’n onderhoud met die nuuskanaal eNCA) dié onomwonde uitspraak: “Apartheid was verkeerd. Apartheid was moreel onregverdigbaar.”

Dit skyn nie die EFF te beïndruk nie. Hulle verwag van hom “om berou te toon en sy rol te erken in die misdade teen die mensdom wat deur sy regime gepleeg is toe hy aan die hoof daarvan gestaan het”.

Om hierdie verdere “boetedoening” van die 84-jarige De Klerk te eis, beteken dalk ’n paar politieke punte vir die EFF.

Maar dit gaan geen verskil maak aan die uitdagings waarmee Suid-Afrikaners nou, drie dekades ná die afskaffing van apartheid, te doen het nie – gewelddadige misdaad, swak ekonomiese groei, beurtkrag weens swak instandhoudingswerk deur die elektrisiteitsvoorsieningsreus Eskom, hope onderwysuitdagings en wankelrige sosiale kohesie, dikwels weens die rassehaat wat deur ’n party soos die EFF en hul leier, Malema, aangeblaas word, ’n neiging wat hóm beswaarlik vir ’n Nobelprys vir Vrede in aanmerking sal bring.

Buro: MvH
  • 0
Top