Elk verhaal telt: internasionale konferensie in Brussel oor inklusiwiteit in die boekbedryf, 17 September 2018

  • 0

Koninklijke Vlaamse Schouwburg, Brussel

Op 17 September het die Vlaams Fonds voor de Letteren, Iedereen Leest en die Koninklijke Vlaamse Schouwburg (KVS), in samewerking met ROSE stories, Overleg Literaire Organisatoren, deBuren en citybooks, ’n internasionale konferensie aangebied om na te dink oor inklusiwiteit in die Vlaamse boekbedryf en die weg te baan vir die opstel van ’n beleidsdokument. Hoewel sommige groepe diversiteit as bedreigend ervaar, kan die feit dat meer as 150 verskillende nasionaliteite in België se belangrikste stede saamleef, nie langer geïgnoreer word nie. Die huidige Europese politieke klimaat wat steeds in ’n regse en essensialistiese rigting neig (dink byvoorbeeld aan die onlangse skokonthullings oor die Vlaamse studenteorganisasie Schild en Vrienden), noodsaak gesprekke waar rolspelers eerlik na die moeilike kwessies van identiteit en beeldvorming moet kyk en hoe hulle dit gaan probeer oplos. Voorts moet daar ook ruimte gemaak word vir sowel hoofkarakters in verhale as skrywers en ander rolspelers in die boekbedryf wat gemeenskappe van kleur, verskillende seksuele oriëntasies of met een of ander beperking verteenwoordig.

Groepsbespreking oor beeldvorming met Michael de Cock, Reza Kartosen-Wong, Asma Ould Aissa en Nina Blussé

Inclusive Minds begin hulle werkswinkel met 'n vraag waaroor deelnemers kan gesels op pad na hulle onderskeie werkstasies.

Dit was ’n besonder vol dag met diverse deelnemers en insette wat die onderwerp uit vele hoeke belig het. Die voordragkunstenaar Anissa Boujdaini en die skrywer en vertaler Piet Devos doen ’n kragtige oproep om inklusiwiteit. Devos, wat op vyfjarige ouderdom blind geword het, gebruik Leonard Cohen se gedig as vertrekpunt: “There is a crack in everything, that’s how the light gets in.” Hy vra ook praktiese vrae wat die toeganklikheid van letterkunde vir mense met beperkings beïnvloed: Kan ’n rolstoelgebruiker die boekwinkel bereik? Is daar ’n gebaretolk by ’n poësiefees? As plenêre spreker stel Siena Parker, hoof van kreatiewe verantwoordelikheid van Penguin Random House UK, dié uitgewery se diversiteitsbeleid voor en vertel van hulle uitreikprojekte, onder andere WriteNow, waar hulle nuwe skrywers uit gemeenskappe wat nie goed verteenwoordig word nie, identifiseer, mentor en publiseer. Die fokus is nie op die uitbeelding van diverse karakters in fiksie nie, maar hulle wil ’n stem gee aan skrywers uit diverse gemeenskappe om self hulle verhale te vertel.

LaTasha N Nevada Diggs, interdissiplinêre digter en woordkunstenaar

Twee Nederlandse TV-programme wat stereotipes van dié land uitbeeld

Die resultaat van ’n soortgelyke projek wat op veel kleiner skaal tydens die 2017–2018-skooljaar deur die skrywers Fikry El Azzouze en Ruth Lasters uitgevoer is in die GO! Spectrumschool in Deurne en Borgerhout, is ook tydens die konferensie bekendgestel. Dertien leerders uit die skool vir beroepsonderwys het die geleentheid gekry om onder leiding van die skrywers hulle eie ervarings in verhale of gedigte te verwoord en daaraan te skaaf. Die resultaat is deur die uitgewer EPO gebundel en dele daarvan is deur ’n paar van die leerders voorgelees. Die titel van die bundel, Mogen de wijze jongens winnen, gij weet, gee ’n voorsmakie van die ryk inhoud, en daar was beslis meer as ’n handvol toeskouers in die gehoor wat met ’n knop in die keel moes worstel.

Die gehoor verdaag vir vier parallelle sessies om na kenners te luister oor die volgende vier onderwerpe: die rol van biblioteke en boekwinkels in die verskaffing van inklusiewe leesstof, veral gerig op die jonger lesers, onder leiding van Kim Blackburn van die Openbare Bibliotheek Amsterdam; seksuele oriëntasie en gender, ’n sessie deur die skrywer Mark Jennett gelei; vir literêre organisasies lei Dean Bowen, skrywer en uitvoeringskunstenaar, ’n sessie oor hoe hulle ’n meer inklusiewe benadering kan volg; en laastens bied die sosiale sielkundige Nina Blussé, in samewerking met Reza Kartosen-Wong van die Universiteit van Amsterdam se afdeling mediastudies, ’n sessie aan oor beeldvorming in boeke, films en ander media.

In die foyer van die KVS

Die konferensie het 'n wye spektrum rolspelers in die Vlaamse boekbedryf verteenwoordig - van uitgewers tot bibliotekarisse en jong lesers.

’n Tipiese Belgiese broodjeslunch word gevolg deur die bekendstelling van die Europees project, waar verskeie rolspelers in die boekbedryf van Kroasië, Slowenië, Nederland, België, Portugal, Duitsland en (wat die projeknaam effens ongepas maak, veral binne die konteks van inklusiwiteit) ook Tunisië, verder gaan dink hoe hulle kinder- en jeugliteratuur oor landsgrense heen meer divers en inklusief kan maak. Hierna is Beth Cox en Alex Strick van Inclusive Minds aan die woord om ’n werkswinkel oor inklusiwiteit en diversiteit af te skop wat sal bydra tot die ontwikkeling van die beleidsdokument vir inklusiwiteit in die Vlaamse boekbedryf. Die gehoor word verdeel in ongeveer 15 gespreksgroepe van 10–15 persone elk om ’n dinkskrum te hou rondom drie vrae: Wat is die struikelblokke wat verhoed dat diverse boeke in lesers se hande beland? Wat kan sommige van die oplossings, strategieë en gesprekke wees wat sal help om hierdie struikelblokke uit die weg te ruim ten einde hierdie inklusiewe boeke in kinders se hande te kry? Watter onmiddellike aksies kan jy in jou rol en sektor implementeer om inklusiwiteit te bevorder? Wat die sessies veral waardevol gemaak het, was die teenwoordigheid van “inklusiwiteitsambassadeurs” – jongmense met eie ervarings van wanvoorstelling of onderverteenwoordiging wat tydens die gesprekke hulle insette kon gee.

Nina Blussé se opleidingsessies help organisasies om meer inklusief te word.

Terwyl die woordkunstenaar LaTasha N Nevada Diggs van Harlem in New York (wat tans op uitnodiging van citybooks inwonende kunstenaar in Leeuwarden, Friesland is) die gehoor trakteer op ongewone woorde, tale en klanke, is die gespreksgroepe se antwoorde gekonsolideer en opgesom. Jos Geysels, voorsitter van BoekenOverleg, beklemtoon die feit dat baie mense se kulturele erfenisse nie in die Vlaamse letterkunde uitgebeeld en versprei word nie. As daar verskillende verhale is, moet die letterkunde dit weerspieël. Hy verbind hom tot die voorstel van ’n beleidsdokument vir die boekbedryf, met konkrete en haalbare doelstellings, teen 1 April 2019.

Die dag word afgesluit deur die Vlaamse minister van kultuur, Sven Gatz, wat die belangrikheid van samewerking tussen die Vlaamse regering en die boekbedryf beklemtoon, wat ook ’n positiewe effek op die Belgiese samelewing kan hê. Want, soos Michael de Kock, skrywer en artistieke direkteur van die KVS, tereg opmerk, verhale is daar om brûe te bou – kuns kweek empatie en daarom moet alle perspektiewe aanwesig wees.

Die Vlaamse minister van kultuur, Sven Gatz sluit die konferensie af.

The danger of a single story – Chimamanda Ngozi Adichie:

 

Buro: IG
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top