Vir die eerste keer sedert die Universiteit van Pretoria (UP) se ontstaan is Engels vanjaar die enigste taal van onderrig en leer vir alle eerstejaarprogramme aan die UP. Die enigste uitsondering is waar studente ander tale studeer en in programme met beroepspesifieke taaluitkomste. Selfs dit is onderhewig aan goedkeuring deur die senaat.
Engels is van vanjaar af ook op alle kampusse by UP en in koshuise die enigste taal van amptelike kommunikasie en administrasie. En as die voorspellings waar is, het Afrikaans net vyf jaar oor voordat dieselfde lot hom tref by die by drie oorblywende universiteite in die land waar Afrikaans nog min of meer asemhaal.
’n Woordvoerder van die UP, Rikus Delport, het aan LitNet gesê slegs waar dit aangevra word en haalbaar is, bestaan die moontlikheid dat administratiewe dienste by UP in ander Suid-Afrikaanse tale as Engels gelewer sal word.
Die verengelsing aan UP volg na ’n uitgerekte taalstryd om Afrikaans as onderrigtaal aan dié universiteit te behou. Die stryd vir Afrikaans by UP moes uiteindelik die onderspit delf na ’n uitgerekte hofgeding om Afrikaans op die kampus te probeer red.
Die UP se raad het in Junie 2016 ’n taalbeleid aanvaar met Engels as amptelike taal. Voor dit is gesê twee amptelike tale, naamlik Afrikaans en Engels, sou gebruik word met Sepedi as ’n derde kommunikasietaal.
Die besluit om Engels as enigste amptelike taal te gebruik kon egter nie vroeër geïmplementeer word nie weens verskeie hofsake waarby AfriForum betrokke was.
AfriForum en Solidariteit het ’n aansoek by die hof ingedien dat die besluit oor Engels as voertaal hersien word op grond daarvan dat die instelling van ’n nuwe taalbeleid ongrondwetlik is ingevolge die Grondwet.
Die hooggeregshof in Pretoria het in Desember 2016 Solidariteit en AfriForum se aansoek om die taalbeleidbesluite van die UP-raad en -senaat tersyde te stel van die hand gewys. Die volbank regters het bevind dat die nuwe taalbeleid met die Grondwet strook en die UP se verbintenis toon om die universiteit “op die voorgrond te plaas in die bevordering van maatskaplike eenheid”.
AfriForum en Solidariteit het steeds gemeen die universiteit se nuwe taalbeleid kom op ’n growwe skending van Afrikaanse studente se grondwetlik erkende taalregte neer en het appèl aangeteken. Hulle het aangevoer dit druis in teen gesonde opvoedkundige beginsels, soos toegang tot moedertaalonderrig.
Die hof se finale beslissing was in 2017 en AfriForum en Solidariteit moes die onderspit delf, waarna besluit is om dit vanaf 1 Januarie vanjaar te implementeer.
Vanaf 1 Januarie is Engels gevolglik die enigste taal van onderrig en leer vir alle eerstejaarprogramme. Studente wat voor 2019 geregistreer het, sal lesings, tutoriale, studiegidse en assesseringsmateriaal (vraestelle, werkopdragte ens) in Afrikaans ontvang vir slegs daardie programme wat ten tye van registrasie in Afrikaans aangebied was, mits die grootte van die klas “prakties haalbaar” bly en dat dit akademies regverdigbaar is.
Waar assessering en vraestelle in Afrikaans aangebied word, sal studente wat tans geregistreer is, ook toegelaat word om in Afrikaans te antwoord.
In 2016 het die destydse UP-rektor, Cheryl de la Rey, gesê die vraag na onderrig in Afrikaans was ’n sleutelfaktor met die universiteit se besluit om Engels die hoofonderrigtaal te maak.
Dit het skerp gedaal van ongeveer 88% in 1990 tot net onder 18% in 2016. Die rektor het egter die versekering gegee dat Afrikaans as akademiese taal behou sal word. Daar is gesê die universiteit gaan voort om Afrikaans as ’n taal van onderrig te ondersteun.
In 2010 het die UP volgens sy raadsdokumente nog onderneem om die tale waarin onderrig gegee sal word, Afrikaans en Engels, te ontwikkel en te gebruik as waardevolle instrumente van die wetenskap.
Destyds (2010) het die UP erken dat daar 11 amptelike tale is, dat alle amptelike tale gelyke status het en dat alle tale gelykmatig hanteer moet word.
Die UP het toe ook nog die reg van elke individu erken om onderrig aan ’n tersiêre instelling te ontvang via die medium van die amptelike taal of tale van sy/haar keuse, in dié mate dat dit regverdig en uitvoerbaar is vir die spesifieke instelling om onderrig deur die amptelike of betrokke tale te verskaf.
Die beginsel is aanvaar dat ’n taalbeleid nie daartoe aanleiding mag gee dat enige persoon billike toegang tot hoër onderwys geweier word nie. Alle tale sou bevorder en ontwikkel word; nie alleen die amptelike tale nie, maar ook ander tale wat in die Suid-Afrikaanse gemeenskap gebruik word.
In die bedryf van sy kernfunksies sou die UP twee amptelike tale gebruik, naamlik Afrikaans en Engels met Sepedi as ’n derde kommunikasietaal. Onderrigprogramme kon óf in Afrikaans óf in Engels aangebied word, of in beide hierdie tale indien daar ’n aanvraag is na onderrig in die betrokke taal/tale en sodanige programme akademies en ekonomies lewensvatbaar is.
Afrikaans en Engels sou ook as akademiese tale gebruik en ontwikkel word om sodoende uitnemendheid in akademiese kommunikasie te bewerkstellig
Met betrekking tot administratiewe en ander dienste het studente die reg gehad om ’n keuse uit te oefen oor die taal (Afrikaans of Engels) waarin hulle kommunikasie vanaf die universiteit wil ontvang. “Daar mag geen diskriminasie wees teenoor enige personeellid of student wat slegs Afrikaans of Engels magtig is, of wat slegs hierdie twee tale magtig is nie,” is gesê.
Hierdie riglyne, waarvan daar feitlik niks oorgebly het nie, is op 13 Mei 2010 deur die senaat goedgekeur en op 27 Junie 2010 deur die hoofbestuur bekragtig. Alle studente sou daarop geregtig wees om toetse en eksamens in óf Afrikaans óf Engels af te lê.
Hierdie voornemens was van korte duur.
In 2017 het die voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU), Theuns Eloff, reeds voorspel die langste wat Afrikaans nog as onderrigtaal by universiteite sal bestaan, is agt jaar.
Volgens Eloff se "baie persoonlike siening en voorspelling" van destyds sou dit ook net by die NWU se Potchefstroom-kampus wees waar Afrikaans nog vir vyf tot agt jaar sal bestaan, afhangende van wie die rektor se opvolger gaan wees. Hy het voorspel dat die Universiteit Stellenbosch (US) Afrikaans oor ongeveer vier jaar sou uitwerk en dat Afrikaans by die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) nog net ongeveer een tot twee jaar oor het. Sy voorspelling ten opsigte van UV en UP blyk vandag in die kol te wees.
Indien Eloff se voorspellings reg is, het Afrikaans skaars vyf jaar oor om by NWU te oorleef en slegs sowat twee jaar by US. Die transformasierigting is geruime tyd reeds op al die land se kampusse nie vír Afrikaans nie. Dis weg van Afrikaans.
Lees ook
Buro: MvH