Ervaar die Eikestad saam met glanssjef Bertus Basson en sy vriende

  • 0

Die glanssjef Bertus Basson, wat vir Fees TV te sien is in Bertus Basson en vriende op 5, 6 en 7 Oktober om 16:00.

Kunstefeesliefhebbers kan hul springmielies of glas wyn gereed hou vir die Toyota US Woordfees se eerste TV-opwipkanaal, Fees TV, wat 1 tot 7 Oktober uitgesaai word. Dis die eerste kunstefees wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai word en gaan soveel moontlik van die geliefde Stellenbosse atmosfeer weerspieël. Die beste voorbeeld hiervan is gewis die glanssjef Bertus Basson se drie kuiers, Bertus Basson en vriende op 5, 6 en 7 Oktober om 16:00.

Met Bertus se drie programme vir Fees TV is daar geen voorskoot, kombuis of pan van enige aard ter sprake nie. Nee, Bertus kuier saam met drie gaste by hul gunstelingplekke op Stellenbosch. “Ons besoek histories belangrike plekke. Die kykers kan verwag om Stellenbosch deur die oë van drie van haar bekendste inwoners te sien,” vertel Bertus.

“Dit was my idee. Ek wou graag in Stellenbosch rondloop en met plaaslike mense gesels oor hul gunstelingplekke op die dorp,” sê Bertus. Hy het drie gaste gekies wat elkeen om ’n ander rede bekend is en ook op verskillende maniere in die dorp leef.

Sy gaste is die skrywer Deon Meyer, sanger Danie du Toit en wynmaker Mike Ratcliffe.

Maar voor ons wegspring met die gaste, wie is Bertus, in ’n neutedop?

Hy is meer as net restaurateur en entrepreneur: Hy is die aanbieder van die kykNET-reekse In die sop: Restaurant Evolusie, waar hy gevestigde en geliefde restaurante wat deur Covid-inperkings swaargetrek het, ’n tweede kans gee; ook The Ultimate Braai Master, Brood en botter en goed, Beter, Bertus; hy is Eat Out San Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die Jaar 2019 en eienaar/sjef van Overture, Eike, Spek & Bone, De Vrije Burger in Stellenbosch en The Deck op Hidden Valley.

Danie, alias Reënwolf, Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat deel is van die groep Spoegwolf, met sy bundel, Warmer voor die tuimeldroër.

Danie du Toit, alias Reënwolf, is ‘n Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat deel is van die groep Spoegwolf. Hy is ook mede-eienaar van die restaurant Drum in Stellenbosch, waaruit die produk Drum Loud Coffee en ander projekte ook spruit. Hy is medekurator en medestigter van die aanlyn platform Die River, waar Suid-Afrikaanse kunstenaars inspirasie kan put en samewerking bewerkstellig.

Bertus Basson en Deon Meyer by Pano e Vino.

Deon Meyer is ’n bekroonde misdaadskrywer wie se boeke al in meer as 20 tale vertaal is. Hy het ook al verskeie televisie- en filmtekste geskryf en verfilm. Hy is ook saam met Coenie de Villiers op Fees TV te sien in Karoo Suite, ’n ode aan die skoonheid van die Groot Karoo in woord, musiek en beeld.

Mike Ratcliffe is nie net ’n bekende wynmaker wat by Warwick Wynlandgoed diep spore getrap het nie, hy is ook die voorsitter van Stellenbosch Wynroetes en Visit Stellenbosch.

Mike Ratcliffe is nie net ’n bekende wynmaker wat by Warwick Wynlandgoed diep spore getrap het nie, hy is die voorsitter van Stellenbosch Wynroetes en Visit Stellenbosch. Hy is ook die besturende vennoot en medestigter van Vilafonté.

Bertus vertel: “Ek en die wynkenner en -konsultant Mike Ratcliffe is drafmaats. Vir Danie van Spoegwolf loop ek dikwels raak in Dorpstraat – ek op pad tussen my restaurante op die dorp, Spek & Bone en Eike, terwyl Danie onderweg is na hulle Drum-restaurant. Die skrywer Deon Meyer is ’n gereelde gas in ons restaurant en oor die jare het ons mekaar beter leer ken. En al drie is wonderlike mense!”

Bertus sê hy het sy drie gaste vir hul insette gevra. “Ons wou spesifiek die plekke wys wat vir hulle besonders is en waar hulle graag kom.”

Bertus en Mike kuier op 5 Oktober, Bertus en Danie op 6 Oktober, en Bertus en Deon op 7 Oktober.

Mike sê: “Ek en Bertus is al vir lank vriende en Stellies is ons tuisveld. Wat ’n groot plesier was dit nie om ons spesiale dorp met kykers te deel nie.

“Die afgelope 18 maande was baie moeilik vir ons almal, maar ons is reg en Stellenbosch is reg om gaste terug te verwelkom.”

Danie sê: “Dit was nogal next level om een van net drie gaste te wees. Dit was ongelooflik om ‘n bietjie meer van Bertus te sien en hom beter te leer ken – ek is al só lank ’n groot fan van hom.

Danie sê hy was mal oor al die plekke waar hulle saamgekuier het, maar moet sy gunstelingkroeg uitsonder. “Ek is rêrig nogal ’n fan van Dorp. Dis net so in my vibe. Dis net ’n bar. Ek is mal oor ’n lekker bar. Mens kan nie deur die lewe gaan sonder goeie kroeë nie.”

Deon sê ook dit was ’n groot eer om een van die gaste te wees. “Ek en Bertus ken mekaar goed, maar dit was steeds ’n heerlike verrassing om ons dorp en vir Bertus op dié manier te kan ervaar.

“Ek en my vrou, Marianne, het so baie gunstelingplekke op Stellenbosch, die dilemma was om net twee of drie te kies. Ons geniet die Stellenbosch-berg byna daagliks – ons ry fiets, of gaan stap gereeld daar. Dis die uitsig oor die dorp en die Simonsberg, die natuur, die vars lug …”

Hy sê Bertus is ’n geniale sjef en hul aanvanklike bewondering vir hom was vir sy kos. “Dit is wêreldklas en ons kan steeds nie genoeg daarvan kry nie. Maar toe leer ons vir hom en sy vrou, Mareli, ken, en besef agter die briljantheid lê lieflike, nederige mense. Een van die dinge wat ek die meeste bewonder en waardeer, is Bertus se bereidwilligheid om kookgeheime met ’n ploertkok soos ek te deel!”

Deon sê die opname met Bertus was een van “daardie moeitelose ervarings wat meer soos kuier as werk gevoel het. Ek het die baie geniet.”

Bertus sê die drie mans het almal baie verskillende plekke gekies. “Dit was amazing hoe verskillend ons elkeen dieselfde dorp ervaar. Almal is op verskillende plekke in ons lewens. Danie staan op trou, my kinders is jonk, Mike se kinders is op skool en Deon is al ’n oupa. Daar is iets in Stellenbosch vir almal!”

Hy sê een plek waarvan hy nie geweet het nie, was die Coffee at Justice-koffiewinkel in Andringastraat, wat hy saam met Mike ontdek het en baie geniet het. “Die ander groot verrassings uit hul keuses was die Rupert-museum, wat ek baie geniet het met Danie, en ook die berg met Deon.”

Bertus Basson en vriende val onder die Leefstyl-gedeelte van Fees TV. Natuurlik is vanjaar se fees op jou eie TV in jou sitkamer ’n heeltemal ander ondervinding as voorheen. Jy koop nie kaartjies nie, jy hoef nie te sukkel met parkering of dat jou gunstelingvertonings se tye gaan oorvleuel nie.

Fees TV bied nou ’n liniêre program, want daar is natuurlik net een tydgleuf, en met die programsamestelling moes daar mooi gedink word om iets vir almal se smaak in te sluit. Die program sluit ’n wye verskeidenheid van genres in wat top plaaslike talent ten toon stel: teater, skrywers en boeke, dans, leefstyl, stand-up, kontemporêre en klassieke musiek, film, diskoers en visuele kuns. Daar is altesaam 120 program-items.

Wat jy moet weet om saam te fees

Belangstellendes wat nie DStv-intekenaars is nie, kan slegs vir ’n maand inteken en die hele fees in hul sitkamer geniet. Fees TV is vir die sewe dae in Suid-Afrika 24 uur ’n dag op DStv-kanaal 150 beskikbaar aan alle Premium- en Compact Plus-intekenaars. In Namibië word dit op GOtv-kanaal 15 uitgesaai, waartoe alle GOtv Max-intekenaars toegang het. Die Fees TV-opwipkanaal sal ook op DStv Now beskikbaar wees en ’n keur van aanbiedings op DStv Catch Up.

Die program-inhoud van Fees TV is hoofsaaklik in Afrikaans, maar daar is ook Engelse en meertalige werk op die program. Alle Afrikaanse programme met narratiewe inhoud, soos toneelstukke en diskoers, sal Engelse onderskrifte hê.

Ander hoogtepunte waarna kykers kan uitsien, sluit die Skrywersfees met bekende skrywers soos Lien Botha, Andries Bezuidenhout, Nataniël, Nathan Trantraal, Joan Hambidge, Zandra Bezuidenhout, Bernard Odendaal, Ashwin Arendse, Veronique Jephtas, Dominique Botha, Jolyn Philips, Hilda Smits, Rudie van Rensburg, Erns Grundling, Ingrid Jones, Reuben Riffel, Max du Preez, Oscar van Heerden, Albert Grundlingh, Louise Viljoen en Willem Anker in.

Die Fees TV-teaterreeks sluit onder meer in: die veelbekroonde Valsrivier (gegrond op Dominique Botha se pryswennerroman) met Anna-Mart van der Merwe, Tinarie Van Wyk Loots en Stian Bam; die 2020 Fiësta-wenner vir beste aanbieding, Die poet, wie’s hy?, ’n viering van Adam Small se digkuns, met Dean Balie; Reza de Wet se Mis met Nicole Holm, Martelize Kolver, Jane de Wet en Laudo Liebenberg; Adam Small se Krismis van Map Jacobs met June van Merch, Ilse Klink, Dann-Jacques Mouton en Elton Landrew; Ferine and Ferase met die teaterlegendes Andrew Buckland en Sylvaine Strike; die satiriese speletjiesprogram Off the record van die Standard Bank Jong Kunstenaar-wenner Jefferson “J Bobs” Tshabalala en Hannes van Wyk in die gewilde eenmanstuk Sê groete vir ma.

Kykers kan kies uit ’n verskeidenheid klassiekemusiekkonserte, insluitend: die wêreldbekende Universiteitskoor Stellenbosch; pianis Megan-Geoffrey Prins; Italiaanse opera-arias met bariton Theo Magongoma, sopraan Kimmy Skota en tenoor Arthur Swan; die Kaapstadse Barok-ensemble met Händel se Londen-operas; mezzosopraan Minette du Toit Pearce begelei deur Philippus Hugo; pianiste Nina Schumann en Luis Magalhães; en Zorada Themmingh op die orrel van die Moederkerk in Stellenbosch.

’n Viering van David Kramer se 70ste verjaardag met Emo Adams, Loukmaan Adams, Robin Auld, Schalk Joubert en vriende: Boland tot Broadway vorm deel van die klassiekemusiekprogram.

Karen Zoid sing 20 van haar grootste treffers onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry en ander vier die herkoms en verskeidenheid van Afrikaanse musiek in Smeltkroes.

Ook op die musiekspyskaart: Amanda Strydom, Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties (met Francois van Coke, Tarryn Lamb en Jack Parow), jazz, kabaret, folk, swing en toonsettings van gedigte.

Lag saam met 13 van die land se gewildste komediante: Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout, Nik Rabinowitz, Shimmy Isaacs, Alan Committie, Bennie Fourie, Alfred Adriaan, Melt Sieberhagen, Kagiso Mokgadi, Joey Rasdien, Hannes Brümmer, Conrad Koch en Wayne McKay.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top