Die rassisme-saak teen die Springbokslot Eben Etzebeth is besig om ’n al hoe groter morsigheid te word met oor en weer beskuldigings wat heen en weer vlieg en daagliks toeneem.
Terwyl die SA Menseregtekommissie (SAMRK) reeds uit verskeie oorde onder skoot gekom het oor hulle hantering van die saak, het Etzebeth nou self tot die geveg toegetree en besluit om die SAMRK voor die hof te daag.
In die voortslepende sage tussen Etzebeth, die SAMRK en die klaers word hy daarvan beskuldig dat hy tydens ’n dronk nag nie net rassistiese aanmerkings gemaak het nie, maar ook gedreig het om een van die klaers dood te skiet.
Rapport het Sondag berig een van die klaers, Enver Wilsnach, beweer Etzebeth het gesê: “Kom ek skiet die h*tn*t vrek, want hy het nou klaar my gesig gesien.”
Eben Etzebeth (Foto: YouTube)
Al hierdie bewerings word ten sterkste deur Etzebeth ontken en hy sê hy het getuies wat kan staaf dat dit nie waar is nie.
Een van die SAMRK se kommissarisse, adv André Gaum, het reeds toegegee die MRK se regshoof, Buang Jones, het oorhaastig opgetree in die Etzebeth-ondersoek. In ’n onderhoud met Hanlie Retief van Rapport het Gaum gesê hy stem saam dat die saak “problematies” hanteer is en daarom word Jones se optrede ook ondersoek.
Die SAMRK se voorsitter, Bongani Majola, het Maandag bevestig dat Etzebeth se regspan hofdokumente op die kommissie beteken het. Hy het aan Netwerk24 gesê hy is besig om die dokumente te bestudeer om te verstaan presies waaroor Etzebeth die kommissie hof toe wil neem.
Die SAMRK het die afgelope ruk uit verskeie oorde kritiek gekry.
Die Facebook-groep wat deur ’n vrou van Port Elizabeth geskep is, naamlik #standbyEben, staan reeds op bykans 30 000 lede. Een inskrywing lui: “Eben Etzebeth, ons staan 100% agter, voor en langs jou”. Nog een van die inskrywings lui: “Yster ons Gaan vir jou ’n groot Weskus verwelkoming reël Na die Wêreldbeker. Hou jou aandag by die game en bring daai Wêreldbeker huis toe.”
Die Facebook-groep wat Maandag deur vrou van PE geskep is #standbyEben, staan reeds op bykans 30 000 lede; een inskrywing lui: “Eben Etzebeth, ons staan 100% agter, voor en langs jou” pic.twitter.com/IrSK9J3S8l
— Ditsem Nuus (@ditsemnuus) October 14, 2019
Die joernalis en politieke kommentator Tim du Plessis het ook die naweek in sy rubriek in Rapport uitgevaar teen die SAMRK. Hy sê die kommissie raak by die dag meer irrelevant.
Du Plessis sê in sy rubriek die kommissie gee hoog op oor “sosiale samehorigheid” maar al “wins” wat die kommissie kan wys vir sy hantering van die Etzebeth-geval is die omgekeerde daarvan – verhoogde polarisasie.
Volgens hom kan die SAMRK maar liewer van die toneel verdwyn. “So, een of ander wegraping kan die SAMRK gerus maar kom haal. Al waarvan jy hoor, is sy oordrewe groot amptenary wat R130 miljoen van die liggaam se jaarlikse begroting van byna R190 miljoen verbruik. Verder sal niemand eens agterkom die SAMRK is nie meer met ons nie,” skryf Du Plessis in sy rubriek.
Etzebeth se ondersteuners het hom op sosiale media geluk gewens omdat hy die SAMRK hof toe wil neem en hom aangemoedig om dit te doen. “YES! Gaan vir GOUD Eben! En as jy met die MRK klaar is dan gaan jy sommer vir daais wat jou beskuldig het ook!” het een van sy ondersteuners geskryf.
Sommige sê hy moet die klaers ook vir naamskending dagvaar maar dit was die SAMRK wat die meeste deurgeloop het. “Indien dit bo alle twyfel bewys kan word dat Etzebeth onskuldig is, behoort die MRK te ontbind, aangesien sy mombakkies afgeval het. Die MRK sal dan geen geloofwaardigheid meer hê nie en alle toekomstige aangeleenthede wat na hulle verwys word, sal as onbenullig beskou word,” het nog iemand sy gevoel opgesom.
Van die reuse-optog teen Etzebeth en rassisme die naweek in Langebaan het daar nie veel gekom nie. Slegs ’n handvol mense het Saterdag opgedaag vir die betoging en daar word beweer die meeste van hulle is met ’n bus aangery.
Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het die naweek gesê Etzebeth is onskuldig totdat hy deur ’n hof skuldig bevind word.
Lees ook
Buro: MvH