Nederland en verskeie ander Europese parlemente gaan gevra word om politieke druk uit te oefen teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid en die korrupsie en misdaad in die land.
’n Afvaardiging van die vakbond Solidariteit het verlede Vrydag (24 September) uit Suid-Afrika na Europa vertrek om die lande te probeer oorreed om die Suid-Afrikaanse regering onder druk te plaas.
Die afvaardiging bestaan uit Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, Anton van der Bijl, hoof van regsake van Solidariteit, en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van Solidariteit.
Ok, so watter waarde ssl lede hieruirlt kry?
— Francois Minnaar (@frans_minnaar) September 24, 2021
Solidariteit sê in ’n verklaring klagtes teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid en die indiening van mosies by Europese parlemente is deel van Solidariteit se omvattende Europese toer.
Die Belgiese, Nederlandse, Oostenrykse en Hongaarse parlemente gaan besoek word. By die Europese Unie gaan gesprekke met parlementslede van Italië, Frankryk, Spanje, Duitsland en verskeie ander lande gevoer word.
Die Solidariteit-afvaardiging sê hulle gaan binne twee weke besoeke bring aan sewe lande, vyf parlemente, die Europese Unie, die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) en die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO). Die afvaardiging gaan ook met media-instellings en stigtings skakel en samesprekings met verskeie lede van parlemente voer.
Hermann sê die toer rus op drie bene. Die eerste het te make met die indiening van klagtes teen die regering se rassebeleid. Die eerste klag oor rassisme gaan by CERD ingedien word. Dit is deel van ’n regsproses wat reeds vyf jaar aan die gang is. Die tweede rasseklag gaan by die IAO ingedien word.
Die tweede been van die toer neem die vorm aan van ’n proses om mosies by verskeie Europese parlemente in te dien. Die mosies vra dat diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering uitgeoefen word om beleide en vergrype wat beleggersvertroue skaad, stop te sit. Dit sluit in sistemiese korrupsie, misdaad en anargisme, onteiening sonder vergoeding, staatsverval en rassebeleide.
Die derde been behels die stigting van verenigings in lande soos Duitsland, Nederland, Hongarye en België. Die verenigings gaan finansiële en ander hulp onder Suid-Afrikaners in die buiteland werf, asook van mense in Europa wat ons saak goedgesind is.
“Solidariteit het al, en sal nog in toekoms, alles moontlik doen om oplossings plaaslik te vind. Die regering gaan egter voort met beleidsrigtings wat tot almal se nadeel strek. Buitelandse druk is ʼn belangrike en noodsaaklike deel van Solidariteit se planne om weer normaliteit in Suid-Afrika te bewerkstellig,” het Hermann gesê.
Solidariteit het reeds in Julie vanjaar ’n klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die CERD ingedien.
Dié klag het gefokus op die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid. Dit was die eerste keer dat daar ’n substantiewe klag teen die regering se rassebeleid gelê word.
Die vakbond hoop dat die regering gedwing sal word om sy beleid van regstellende aksie te wysig indien hulle aansoek suksesvol is. Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal dat plaaslike wetgewing aangepas moet word aan die hand van internasionale konvensies.
Indien die regering steeds sou weier, kan die land volgens Solidariteit van dié konvensie geskors word. Solidariteit hoop om dan Suid-Afrikaanse howe te gebruik om die regering te dwing om hulle beleid te verander.
Solidariteit het in 2015 ook ’n verslag by CERD ingedien waarin aangedui is dat die regering nie aan die VN se internasionale konvensie oor die uitskakeling van alle vorme van rassisme voldoen nie. Dit het daartoe gelei dat CERD ’n aanbeveling gemaak het wat die regering se apartheidrasseklassifikasie gekritiseer het.
Volgens Hermann poog die regering deur die ANC om ’n rasgebaseerde samelewing in Suid-Afrika te normaliseer wat sy ideologie in werkplekke, by universiteite, op die sportveld en selfs by kinders in skole afdwing.
Lees hier op Voertaal meer oor die klag wat in Julie by die VN ingedien is.