Fokus: Jurjen Kramer van Jislaaik Wines

  • 0

Dis nie aldag dat jy ’n Nederlander kry wat liries is oor Suid-Afrikaanse wyn en boonop elke jaar in die Kaapse wynlande kom druiwe pars nie. Maar Jurjen Kramer is nie sommer enigeen nie, het Maryke Roberts gou van dié inwoner van Berg aan de Maas en eienaar van Jislaaik Wines ontdek.

Jislaaik is ’n Afrikaanse uitroep van positiewe verbasing – die gevoel wat Jurjen in 2010 gehad het toe hy sy eerste glas Limburgse pinot gris gedrink het – wat hy self gemaak het, natuurlik. “Ek maak wyne waarvan die drinker ook die Jislaaik-gevoel kry,” verklaar hy op sy webwerf. Hy is passievol oor Suid-Afrika, Suid-Afrikaanse wyn en praat foutlose Afrikaans.

Jurjen proe grenache gris 2019-oesjaar uit die vat.

Jurjen se wynmaakstorie kan ons in 2009 gaan haal, toe hy as passievolle stokperdjiewynboer in sy suid-Limburgse agtertuin van 0,02 hektaar 90 wingerdstokke kerner, riesling, pinot gris en chardonnay as bonus by die huiskopery gekry het.

Die wingerde is gesnoei en reg vir die volgende groeiseisoen in Jurjen se agterplaas in Limburg.

Hy vertel: “Toe ons die huis gekoop het, was die wingerd reeds deur die vorige eienaar geplant, en my droom gebore om self wyn te maak. Ek gee die wyn vir vriende, familie en vir kliënte-geskenke en natuurlik vir eie gebruik! Die hoeveelhede is maar klein – ek maak so 150–200 bottels per jaar.”

Jurjen se druiwe in sy eie klein wingerd in sy agterplaas.

Vir wynbouraad klop hy by sy bure aan wat al vir 20 jaar wyn in hul agtertuin maak. Dié twee broers, Huub en Lei, is gebore en getoë in die huis waarin Jurjen en sy gesin tans woon en het hul eie ontstingelaar en pars gebou. Hy vertel dat hulle drie hul vaardighede en ervaring gekombineer met sy analitiese agtergrond (Jurjen het as analitiese chemikus vir ’n groot chemiese onderneming gewerk) heerlike wyn maak, ten spyte van die noordelike-Nederland-ligging van hul wingerde.

Jurjen het saam met sy bure allerhande planne beraam om hul oestyd in Limburg te vergemaklik. Hier staan hulle by ’n ontstingelaar wat die broers, Huub en Lei, self gebou het.

Jurjen se bure, Huub en Lei, het self hierdie wynpars gebou.

Hy maak sedert 2017 voltyds wyn.

Hy sê naas sy liefde vir wyn het hy ook ’n groot liefde vir Suid-Afrika, waar sy kinders gebore is. Jurjen het vir etlike jare in Suid-Afrika by die Universiteit Stellenbosch gewerk in chemie en polimeerwetenskap.

“Jislaaik!” is ’n Afrikaanse uitroep van positiewe verbasing – die gevoel wat Jurjen in 2010 gehad het toe hy sy eerste glas Limburgse pinot gris gedrink het – wat hy self gemaak het, natuurlik. “Ek maak wyne waarvan die drinker ook die Jislaaik-gevoel kry,” verklaar hy op sy webwerf.

Jurjen by sy pragtige pinot gris-trosse in sy agterplaas in Limburg.

“Tydens my PhD-studies aan die Universiteit van Leiden het ek op ’n konferensie in Edinburgh ’n baie inspirerende professor van Stellenbosch, Klaus Koch, ontmoet. Deur hom het ek die geleentheid gekry om na Suid-Afrika te reis vir ses maande en daar deel van my PhD te doen.

“Ná my PhD het ek en my vrou vir drie en ’n half jaar in Stellenbosch gebly en ek het navorsing binne die analitiese-chemie-groep gedoen as postdoktorale navorsingsgenoot oor die herwinning van Platinum Group Metals van Suid-Afrika se mynreste.”

Jurjen is ’n veelsydige man wat onder meer onder Jislaaik Wyne sy eie Ode to Old School 2016, ’n 50/50-versnit van cabernet sauvignon en cinsaut; Liggewig 2017, ’n cinsaut; en Roussanne 2017 maak.

Hy vertel dat hulle tydens hul tyd in Suid-Afrika die hele land platgereis het. “Ons was besonder mal oor die Cederberge, en in 2012 tydens vakansie het ek David Nieuwoudt van Cederberg Wines ontmoet. Hy is ’n great ou, en ek het dadelik vir hom gevra of ek by die volgende pars vir ’n paar weke kon kom help met oes- en kelderwerk. In 2013 het ek my eerste pars daar gedoen.”

Elke jaar kom hy vir ’n maand of ses weke na Suid-Afrika en werk hy van Februarie tot Maart in verskillende kelders en help wynmakers met die oes. “Sommige van hierdie wynmakers besit nie eers hul eie wingerde nie en soek by ’n uitgebreide netwerk produsente ’n ton of twee druiwe vir hul wyne.”

Hy sê hy is dankbaar vir die wynmakers waar hy in die kelder kan help. Hy bring die meeste tyd by Albert Ahrens deur en hulle het oor die jare groot vriende geword.

Jurjen Kramer se eie logo vir sy wyne, wat met was ingedruk word.

Minimale inmenging is by die meeste van hierdie wynmakers die wagwoord. Hiervolgens word geen gis bygevoeg nie, maar die druiwe toegelaat om die gis wat natuurlik voorkom in die wynmaakproses te gebruik. Dit beteken dat so min moontlik sulfiet by die wyne gevoeg word.

“Ek vind hierdie beginsel van min inmenging en die uitsoekdruiwe van verskeie wingerde baie inspirerend en maak sedert 2015 ook my wyne in Suid-Afrika op hierdie manier,” gesels hy.

Hy vertel dat hy topgehaltedruiwe “met ’n cool storie deur my kontakte in die wynwêreld koop en kelderspasie en mannekrag huur om op baie klein skaal my eie wyne in Suid-Afrika te kan maak”.

Wanneer die wyne gereed is, vlieg hy weer terug vir bottelering en om die etikette op te plak, voor die wyn na Nederland verskeep word.

Hy kom elke jaar vir vier tot ses weke na Suid-Afrika en werk van Februarie tot Maart in verskillende kelders en help wynmakers met die oes.

“My klante aan hierdie kant kan deur crowd funding inteken op die wyne om hulle heel eerste te ontvang. Daarna verkoop ek dit aan restaurante en boetiekwynwinkels.”

Tans is hy besig om die etikette te plak op sy 2019-wyne uit Suid-Afrika. Hy los ook die afgelope paar maande ’n paar kiste van sy wyne in Suid-Afrika sodat mense dit ook kan geniet nader aan van waar dit kom.

Dis moeilik om te glo dat hy skaars twee maande gelede in Suid-Afrika op Babylonstoren tussen Simondium en Franschhoek druiwe gepars het – voor daar enige sprake van ’n pandemie en die sluiting van wynproelokale se deure in Suid-Afrika was.

Jurjen besig met die 2020-oes by Babylonstoren in Simondium.

Maar Jurjen se wingerdwerk gaan volstoom voort aan die ander kant van die wêreld in sy klein kelder in Limburg.

Hy is ’n veelsydige man wat onder meer onder Jislaaik Wyne sy eie Ode to Old School 2016, ’n 50/50-versnit van cabernet sauvignon en cinsaut, Liggewig 2017, ’n cinsaut, en Roussanne 2017 maak.

Jurjen vertel die naam Ode to Old School huldig vroeër tye in Suid-Afrika. “Die wynmaaktegnieke van weleer was nie so afgerond en gevorderd soos vandag nie en cabernet sauvignon is dikwels gepluk voor dit heeltemal ryp was, met groen ondertone en harde tanniene. Dié geure word verbloem deur die wyn sagter te maak en dis waar cinsaut sy deel doen. Dit maak die cabernet sauvignon sagter, sappiger en veel drinkbaarder.”

Die druiwe vir sy Ode to Old School kom uit die Breedekloofstreek naby Worcester (cinsaut) en die Helderberg (cabernet sauvignon) en word vir ’n jaar in ouer vate verouder. Hy het slegs 776 bottels gemaak en glo dit sal in die volgende drie tot vyf jaar nog lekkerder word.

Die wyn is ideaal met herfs- en wintergeregte soos rooivleis of wild en hy voeg laggend by: “’n Soet sousie is geen probleem vir hierdie wyn nie. Dink byvoorbeeld aan lamsboud met roosmaryn, boeuf bourguignon of ’n lekker biefstuk met bessiesous. Maar ook Hollandse boerkoolstamppot (’n gereg met kapokaartappels met gekookte groente) met wors is ’n heerlike pasmaat hiervoor.”

Die Liggewig 2017 se druiwe is ook afkomstig uit die pragtige Breedekloofvallei. Die persblou berge wat die wingerde omsoom, sal enige skilder na sy skilderdoek en kwas laat gryp. Om met jou bakkie wat onder die swaar vrag druiwe kreun na die Kaap te ry, verg ’n rit deur die Du Toitskloof-tonnel – maar eers moet jy by die weegbrug aftrek.

“Die storie lui dat jou bakkie altyd te swaar gelaai gaan wees met druiwe, tensy jy ’n slim plan bedink om dié probleem te omseil en sodoende ’n liggewig kan bly ...” Jurjen lag lekker toe ek vra wat die geheim is om liggewig te bly. Daardie een gaan hy nie antwoord nie ...

Die wyn is ook ligter in kleur, maar die smaak hoef nie ’n duit terug te staan nie. Dis ’n elegante wyn, wat na 15 maande in die ouer vate soepel tanniene het.

Jurjen beveel aan dat hierdie wyn effe verkoel word en dan met liggerookte salm, slakke of geroosterde groente geniet word. Dis ook ideaal saam met ’n lamsbredie, biefstuk of pizza.

Die Roussanne 2017 se druiwe is afkomstig van die Voor-Paardeberg buite die Paarl, waar die Kaap en warmer Swartland mekaar ontmoet. Die goudgeel wyn het wit tropiese vrugte op die neus en ’n goeie mineraliteit. “Geniet hom met sagte kase, krap en kreef; hoender of kalkoen; of witvis. Maar dis ook salig op sy eie,” vertel hy terwyl sy mond water.

Aan die einde van die dag, wanneer die son begin ondergaan en die stilte oor die wingerde neerdaal, het Jurjen vrede in sy hart.

Swartland

Die ander wynhoed wat hy dra, is dat hy wyne van Suid-Afrika invoer. Hieronder is wyn van spogplase soos Babylonstoren; The Ahrens Family in die Paarl en ’n handjievol ander. Jurjen het plase gekies waar die wynmakers terroir-gedrewe wyne maak.

Van The Ahrens Family-wyne het hy vier witwyne beskikbaar: Whiteblack met gelyke dele roussanne, marsanne, clairette blanche en grenache blanc uit die Voor-Paardeberg; Bottelary OVC met 100% chenin blanc van 65 jaar oue wynstokke uit Bottelary, Stellenbosch; Paarl OVC met 100% Old Vine chenin blanc van die Paarl; en Swartland Old Vine chenin van ou bosstokke uit die Swartland.

Jurjen op sy gelukkigste: in die kelder besig met druiwe. Hier is hy by die The Ahrens Family met vanjaar se oes.

Die rooiwyne is die Elgin pinot noir; Black Rhone-versnit uit die Swartland; Bottelary Seventy met ou wingerde cabernet sauvignon en cinsault van Bottelary Hills, noordwes van Stellenbosch, en Paarl Rooiwijn met syrah en cinsault.

Babylonstoren, wat uit 1692 dateer, is een van die wynlande se spogkinders, nie net omdat dit voorslag wyn maak nie, maar omdat die bekroonde restaurant, Babel, daar gesetel is en besoekers die reusetuine se vars produkte in die restaurant en wynproelokaal kan geniet.

Van dié landgoed wat sedert 2011 wyn onder sy eie etiket maak, voer Jurjen vier witwyne in: chenin blanc, viognier; chardonnay en die nuwe versnit, candide. Ook die mourvèdre-rosé en Babylonstoren Sprankel MCC wat in die tradisionele sjampanjestyl gemaak word en vier jaar op die gis deurbring. “Dit word in ’n pragtige oranje wynboks verpak – asof dit spesiaal net vir die Nederlandse mark gemaak is,” vertel hy met ’n groot vonkel in sy oog.

Jurjen glimlag breed as hy bokse van die Babylonstoren Sprankel kan aflewer.

Die landgoed se rooiwyne is babel – ’n versnit van al die blou druiwe op Babylonstoren: shiraz, cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, petit verdot en pinotage; shiraz; nebukadnesar, ’n versnit van cabernet sauvignon, merlot, petit verdot, cabernet franc en malbec; en ’n cabernet sauvignon en ’n shiraz – dié wyn is baie mense se gunsteling-shiraz in Nederland, verklaar hy.

Jurjen en Klaas Stoffberg, wynmaker by Babylonstoren in Simondium.

Nuiba beteken “liefde” in Damara, een van die inheemse tale in Namibië. Die naam is ’n huldeblyk aan die plaas waar die wynmaker Suzanne Coetzee grootgeword het. Sy was tot 2016 by die bekroonde Clos Malverne, voor sy haar eie wyn onder die Nuiba-etiket begin maak het. Haar druiwe kom merendeels van die pragtige Piekenierskloof, wat hoog bo seespieël lê en waar die klimaat baie koeler is as die res van die Kaapse wynlande.

Jurjen voer die Nuiba First Post, ’n bordeaux-versnit met semillon en sauvignon blanc; Nuiba Second Post, ’n shiraz; Nuiba Third Post, ’n Kaapse versnit, waar die grootste gedeelte pinotage is. Die wyn is pinotage, cabernet sauvignon en grenache; en die Nuiba Fourth Post, semillon met ’n skeutjie malbec. “Die wyn is eintlik ’n witwyn wat per ongeluk ’n rosé geword het. Dis een van daardie lekker-storie-wyne,” gesels hy, “en dis presies waaroor Jislaaik Wyne gaan: terroir-gedrewe met spesiale stories wat jy wil oorvertel terwyl julle saam aan die wyn teug.”

Daar is niks soos jou hande om die beste wyne te maak, met minimale inmenging nie. Hier druk Jurjen die grenache noir 2019 af.

“Daar’s twee wynplase: Metzer Family Wines en Scions of Sinai – wat albei in die Helderberg-streek lê, wie se wyne ek ook geniet en invoer. Die Atlantiese Oseaan is ’n klipgooi weg van die wingerde, en die koel seebriesies bring ’n unieke geur na die druiwe,” vertel hy.

Jurjen gesels en sê dat hy heel toevallig paaie gekruis het met die wynmaker Wade Metzer. “Sy motto, ‘die krag van herkoms’, sluit perfek aan by my filosofie met my eie wyne en hy glo ook in minimale inmenging en keurdruiwe. Ons kom soos vinkel en koljander oor die weg!”

Van Metzer voer hy die maritime chenin blanc 2017; montane chenin blanc 2017; cinsault 2017 en shiraz 2017 in.

Van Scions of Sinai voer hy atlantikas, ’n pinotage; nomadis, cinsaut en ’n klein bietjie pinotage; Senor Tallos, ’n opwindende dopgegiste grenache blanc en chenin blanc; en Swanesang, ’n syrah, in.

Ou pinotagewingerde op die Helderbergse plaas Scion of Sinai.

Jurjen sê Bernhard Bredell is ’n baie vernuwende wynmaker wat die wingerde wat hy huur, biodinamies boer en geweldig baie kennis van die geologie het. “Hy maak volledige nie-inmenging-wyne wat ongefilter is. Supersuiwer en eerlike wyne met baie geur en lae alkohol.” 

Die pragtige Helderberg soos gesien van die Sinai-koppie by Scions of Sinai.

Albert Ahrens maak saam met Gerrit Maritz onder GM&Ahrens die “mooiste Methode Cap Classique van Suid-Afrika. Die pinot noir- en chardonnaydruiwe kom van 14 verskillende plekke in Suid-Afrika. Ek voer hul GM&Ahrens Vintage MCC in.”

Vra jy uit oor sy eie parstyd in sy agtertuin én wynmaak in Suid-Afrika, helder sy gesig sommer op.

“Die mooiste van parstyd is voor sonop op pad met ’n sleepwa vol kissies en dan dagbreek in die pragtige wingerde waar die grond en uitsigte verander soos die son al helderder skyn.”

Hy is opgewonde oor die pas afgelope oes. “Vanjaar se kwaliteit (in terme van suurbalans, min vrot, nie te hoë alkohol) is glo fantasties, en hulle praat reeds dat dit met die ongelooflike 2015-oesjaar vergelyk kan word. Ook is wynboere baie bly dat die kwantiteit weer hoër is as vorige jare, so die boer en die wynmakers se positiwiteit dat die ergste droogte-effekte verby is, was baie lekker om te sien.”

Jurjen sê sy gunsteling-parsritueel is saam met Albert Ahrens as hulle moeg gewerk is en die doppe op ’n hoop gooi, met die mooiste uitsigte van die son wat oor Tafelberg sak. “Dan sê ons vir mekaar: ‘Hoeveel mense sê nie eendag as hulle aftree, wil hulle ’n wynplaas koop vir hierdie uitsigte nie’, en ons sien dit elke dag verniet.”

Jurjen en Albert Ahrens (links) van The Ahrens Family het oor die jare baie goeie vriende geword. Hier staan hulle in die kelder met ’n bottel Bottelary OVC 2017.

Toe ek vra hoekom hy dink dat die Nederlanders en Vlaminge Suid-Afrika so geniet, glimlag hy breed. “Dis die lekker klimaat en gasvryheid van die mense, heerlike kos en wyntoerisme wat jy nêrens in die wêreld beter sal kry as in Suid-Afrika nie. So baie mense het warm herinneringe aan die land as hulle die wyne drink wat hulle terugvoer na jul sonskynland. Die wyne is geurig, afgerond en oor die algemeen baie goeie waarde vir geld.”

Hy voeg by dat Suid-Afrikaanse wynmakers oorgehaal is om ongelooflike wyne te maak, oor die algemeen al baie meer gereis het as ander lande se wynmakers, en baie bereid is om hul kennis te deel.

“Dit is iets wat mens glad nie so algemeen sien in ander lande nie – wynmakers is meer beskermend oor inligting oor hul eie streek of plaas. Die krag van saamwerk, deel en glo in jou eie vermoë om uit te staan, maak dat Suid-Afrikaanse wyne opwindend en divers is, en die kwaliteit die vinnigste groei in die wêreld. Daarvan is ek oortuig, en dit vertel ek so passievol as wat ek kan, ook aan hierdie kant van die wêreld.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top