Fopnuus in grendeltyd oor Kaapse luiperds

  • 0

......

“Jeannie Hayward berig dat luiperds van nature skaam is vir mense en die mens ontwyk. Die beste manier om dié diere te bestudeer is deur middel van versteekte afstandbeheerde statiese kameras. Dit is nie ongewoon om beeldmateriaal op hierdie kameras vas te vang van luiperds in die Boland en Overberg se bergagtige gebiede naby dorpe soos die Paarl, Grabouw, Gordonsbaai en Kleinmond nie.”

......

Oral in die media duik beeldmateriaal op van Moeder Natuur wat weer haar regmatige plek inneem vandat miljoene mense as gevolg van COVID-19 in hulle huise vasgekluister is.

Natuurkundiges sê hoewel die staat van inperking wat op talle plekke in die wêreld geld, in die meeste gevalle ’n rol speel om die natuur weer sy regmatige plek te laat inneem, moet die publiek nie alles wat hulle op sosiale media sien, vir soetkoek opeet nie.

Foto: Pixabay.com

Sommige van die video’s en foto’s word doelbewus gemanipuleer. In ander gevalle is die oorsprong of beweerde plek van sommige video’s nie korrek nie.

Een van die jongste voorbeelde waar die verkeerde inligting die wêreld ingestuur is, was toe ’n video van ’n luiperd en haar twee welpies wat glo by Jonkershoek naby Stellenbosch opgemerk is, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Dit het later geblyk die video is nie naby Stellenbosch geneem nie, maar deur Geo Parkes & Sons Timber Merchants op die Tuinroete. Die video, wat hoofsaaklik via WhatsApp versprei is, se byskrif het gelui die luiperd en haar welpies is in Jonkershoek opgemerk. In werklikheid was dit tussen Plettenbergbaai en Knysna.

The Cape Leopard Trust berig op hulle webwerf dat daar die afgelope paar weke verskeie berigte en stories van oral in die wêreld verskyn het van wilde diere op ongewone plekke wat gewoonlik deur mense beset word. Verskeie memes, strokiesprente en illustrasies op sosiale media versterk die idee dat wilde diere weer besig is om hulle “regmatige plek in die natuur” op te eis en dat die natuurlewe besig is om op groot skaal te begin gedy terwyl soveel mense ingeperk is in hulle wonings.

......

“Die Trust sê op hulle webwerf luiperds is baie territoriaal en sal voortdurend nuwe geleenthede benut om hulle gebied uit te brei as hulle kan. Hulle is nuuskierig om nuwe areas te verken, veral die jonger katte wat nog nie ’n gebied van hul eie afgebaken het nie.”

......

Die Trust berig op sy webwerf dat hoewel dit in baie gevalle waar mag wees, daar ook gevalle is waar die waarheid effens gerek word. In sommige gevalle word daar doodgewoon spekgeskiet. Soms word daar van stokou foto’s gebruik gemaak, en van die stories word in die verkeerde konteks geplaas of van misleidende opskrifte voorsien om sensasie uit te lok ten einde die leser se aandag te trek. Soos met alles deesdae is fopnuus dikwels aan die orde van die dag, waarsku die Trust.

Baie mense besef nie dat daar reeds lank voor die COVID-19-inperking nog op baie plekke luiperds voorgekom het in die bergagtige streke van die Wes-Kaap.

Jeannie Hayward berig dat luiperds van nature skaam is vir mense en die mens ontwyk. Die beste manier om dié diere te bestudeer is deur middel van versteekte afstandbeheerde statiese kameras. Dit is nie ongewoon om beeldmateriaal op hierdie kameras vas te vang van luiperds in die Boland en Overberg se bergagtige gebiede naby dorpe soos die Paarl, Grabouw, Gordonsbaai en Kleinmond nie. Tog besef baie mense nie dit is doodnormaal nie en is baie verbaas as hulle daarvan te hore kom.

Van die beeldmateriaal wat deesdae op sosiale media versprei word, is nie noodwendig geneem sedert die grendeltyd nie. Dit beteken dus nie luiperds loop skielik die wêreld vol sedert die staat van inperking nie. Van die diere se bewegings is al telkemale vantevore op kamera vasgelê.

The Cape Leopard Trust sê dit is wel moontlik dat luiperds effens waaghalsiger sal wees en laer teen die berghange beweeg as gewoonlik noudat daar minder menslike beweging en aktiwiteite is. Dit is egter nie net mense se afwesigheid wat dit veroorsaak nie, maar ook die afname in geraasbesoedeling van die verkeer of konstruksiewerk en minder vreemde reuke soos petroldampe wat maak dat die veldlewe beter floreer.

Die Trust sê op hulle webwerf luiperds is baie territoriaal en sal voortdurend nuwe geleenthede benut om hulle gebied uit te brei as hulle kan. Hulle is nuuskierig om nuwe areas te verken, veral die jonger katte wat nog nie ’n gebied van hul eie afgebaken het nie. Hulle is egter slim diere en sal gou retireer sodra hulle enige gevaar opmerk of ongemaklik voel.

Die Wes-Kaap is volgens die Trust baie gelukkig dat daar steeds soveel luiperds in die provinsie se bergstreke is. Ongelukkig hou die voortdurende landbou- en behuisingsontwikkelings ’n gevaar in vir hierdie diere se natuurlike habitat. The Cape Leopard Trust sê die beste raad is dat die mens hierdie grendeltyd moet gebruik om te besin oor hoe om die natuurlewe om ons vir die nageslag te bewaar en nie toelaat dat die mens se aksies hulle nader aan uitwissing dryf nie.

Lees ook 

Koronavirus laat Moeder Natuur weer asemhaal

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top