FW de Klerk swaai om oor misdaad teen die mensdom

  • 0

.........

“Apartheid ís ’n misdaad teen die mensdom. Punt.” – Mary-Anne Plaatjies van Huffel

.........

Oudpresident FW de Klerk het sy stelling dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie, onvoorwaardelik teruggetrek en die land om verskoning gevra daarvoor.

Dit volg nadat hy verlede week ’n kat in die hoenderhok losgelaat het oor die vraag of apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Verskeie organisasies en individue het teen De Klerk uitgevaar omdat hy nie wou erken apartheid is wel ’n misdaad teen die mensdom nie.

Max Steinberg en FW de Klerk (Foto: Richter Frank-Jurgen [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Volgens De Klerk se aanvanklike verklaring is die idee dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is soos wat dit deur die Verenigde Nasies erken word, politieke propaganda wat deur die destydse Sowjetunie en die ANC/SAKP geïnisieer is.

Maandag het hy ’n 180-grade-draai gemaak en onvoorwaardelik verskoning gevra vir die verwarring, woede en pyn wat sy verklaring veroorsaak het.

In die jongste verklaring wat die FW de Klerk-stigting Maandagmiddag uitgereik het, verwys hy na apartheid as ’n misdaad teen die mensdom en sê dit het nie verdwyn toe apartheid tot ’n einde gekom het nie.

Hy lê veral klem op ’n beskrywing daarvan soos vervat in die Statuut van Rome, waarin “misdaad teen die mensdom” omskryf word as deel van ’n sistematiese aanval wat gerig is op ’n deel van die bevolking op grond van ras. Dit sluit “die misdaad van apartheid” as ’n “kriminele daad” in wat gepleeg word om ’n spesifieke rassegroep te onderdruk.

.........

“De Villiers sê apartheidsapologete ondermyn die prys wat betaal is deur verskeie kinders en ouers wat deur marteling en ongenaakbare geweld hul lewens opgeoffer het in weerstand teen die bose ideologie van apartheid.”

.........

De Klerk se aanvanklike verklaring is uit verskeie oorde met groot verontwaardiging begroet. Organisasies en individue wat hulle van De Klerk se standpunt gedistansieer het, is onder andere die Desmond en Lea Tutu-erfenisstigting, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die ANC en die SAKP.  

Talle bekende individue en godsdiensleiers het ook verontwaardig reageer op De Klerk se aanvanklike standpunt, onder andere die voormalige DA-leier Tony Leon en verskeie bekende teoloë in die NG Kerkfamilie.

’n Voormalige moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), Mary-Anne Plaatjies van Huffel, het op Facebook geskryf: “Apartheid ís ’n misdaad teen die mensdom. Punt.” Sy het breedvoerig aangehaal uit die dokumente van die Verenigde Nasies wat dit staaf en wou weet wat is so onduidelik daaromtrent.

Riaan de Villiers van die NG-gemeente Groote Kerk, wat die oudste NG-gemeente in die land is, het op Facebook geskryf apartheid as ideologie is in sy wese nie alleen ’n misdaad teen die mensdom nie, maar ook ’n misdaad teen die Skepper.

“Dit is ’n ernstige miskenning van en openlike verraad teen die teologiese kernbeskouing dat alle mense na die beeld van God geskape is. Apartheid is niks anders as sonde en opstand teen God self nie.”

De Villiers sê mens hoef net te kyk na die ure se getuienis voor die WVK of ’n boek te lees soos The heart of the whore om ’n goeie idee te kry van die onmenslik wrede aard van die beleid en die misdadigheid wat gepleeg is teen medemense in die toepassing van die beleid en om te kan verstaan hoekom dit niks anders was as ’n misdaad nie.

De Villiers sê apartheidsapologete ondermyn die prys wat betaal is deur verskeie kinders en ouers wat deur marteling en ongenaakbare geweld hul lewens opgeoffer het in weerstand teen die bose ideologie van apartheid. “Hierdie slagoffers se bloed roep uit na ons!”

Die teoloog Julian Müller het die onvoorwaardelike terugtrekking en verskoning van die De Klerk-stigting se aanvanklike verklaring verwelkom.

“Die beste wat hulle kon doen! Jammer vir die skade wat reeds gedoen is, maar dit dwing dalk die res van ons om opnuut te besef watter misdaad teen die mensdom apartheid werklik was en onsself opnuut te gee vir ’n inklusiewe, nierassige en gelyke samelewing,”  het Müller gesê.

Lees ook

State of the nation’s arts (SONA)

Lees ook op LitNet

Kom ons hou kommissie met FW

Buro: MvH
  • 0
Top