Op 3000 hektaar met onbelemmerde uitsigte oor Walkerbaai tussen Hermanus en Gansbaai verrig ’n handjievol mense wondere met die bewaring van fynbos. Nie alleen is Grootbos Privaat Natuurreservaat een van die mees bekroonde reservate in die land nie, aan innovasie is daar geen tekort nie, skryf Maryke Roberts.
Grootbos is wel, groot op fynbos. Dis hoe eenvoudig dit is.
Sedert Michael Lutzeyer en sy familie in 1991 die voormalige veeplaas van 123 hektaar gekoop het, het hier meer verander en gebeur as op baie ander plekke in ’n leeftyd. Twee selfsorghuisies van weleer is nou twee luukse lodges; daar is villas, ’n splinternuwe botaniese galery en die rak by die ingangsportaal dra swaar aan die toekennings wat dié top-botaniese reservaat en grootste in die suidelike halfrond, al ingepalm het.
’n Stigting wat nie net opheffingswerk doen nie, maar ook ’n fynboskwekery bedryf, se voelers reik wyd in die plaaslike gemeenskappe.
Dis merkwaardig om te hoor vanwaar mense uit alle uithoeke van die wêreld reis om hier te kom bly. En nie omdat hulle leeus, luiperds of olifante gaan sien nie. Eerder die voorreg om op ’n fynbossafari meer van die Kaapse Blomkoninkryk by ’n passievolle gids te leer; dalk die fluweelsagte blare van ’n Koningsprotea tussen jou vingers te streel, of te sien hoe ’n by stuifmeel uit ’n sewejaartjie se krakerige en stekelrige blomkern versamel. Om omring deur fynbos te staan en kyk hoe ’n suikerbekkie sy lang snawel in ’n speldekussing druk vir soet nektar. Of om op ’n perd se rug bo-op een van die heuwels te vertoef en uit te kyk oor wynplase, fynbos en oneindige blou oseaan, terwyl die windjie die reuk van die fynbos na jou aandra.
In die nuwe botaniese galery pronk kunswerke van 44 botaniese kunstenaars wie se werk in die nuwe boek, Grootbos Florilegium – Celebrating a legacy of conservation in fynbos from the Cape Floristic Region of South Africa, opgeneem is. Die boek wat deur die Grootbos-span se onmeetlike energie en passie bymekaar gesit is, is ook in die galery se winkel te koop.
Jy kan as’t ware die fynbos-ervaring saamneem huis toe. Maar die fynbos-ervaring hou beslis nie daar by die galery se trappies op nie. Nie alleen is daar fynbos in elke hoekie en draaitjie in oulike potjies, fynbos plakpapier teen die badkamer en lodgekamers se mure, fynbosgeure in handewasseep en -room of fynbosmotiewe gedruk op pajamas en slaapjurke nie; jy kan die fynbos ook in jou gin of kos geniet.
Elke ete is ’n ontdekkingsreis saam met sjef Ben Conradie en sy span. Voeg daarby drie keurige wynlyste met die beste wyne uit die land en jou fynbosreis word tot epikuriese hoogtes gevoer.
Jy kan binne-in die lugverkoelde ruimte sit en deur die reuseruite die omgewing waardeer, of buite op die stoep sit en die fontein en voëlgesang hoor en die seebriesie van die baai oor jou skouers voel.
Een aand wag daar ’n verrassing op ons. Ons word by die dramatiese wenteltrap af gelei na die wynkelder met sy rye en rye wyne wat agter glasdeure in klimaatbeheerde rakke verouder.
Ons sit alleen in die ruimte waar bottels in geduld lê en wag vir hul beurt om te skitter.
Dis die nuwe botaniese spyskaart wat op ons wag. Neffens die wit lapservette en mooi wynglase, rus ’n houtbordjie met vyf verskillende bossies fynbos: ysvygie, boegoe, bergsalie, sneeubos en rooibos.
Voor ons eerste happies arriveer, kom gesels sjef Nhlakanipho Sokhela (Sox), sous-sjef wat al drie jaar op Grootbos werk, uit die kombuis. Hy vertel die botaniese spyskaart is die nuutste proe-ervaring wat Grootbos aan gaste bied. Nie alle gaste sal ’n fynbos-geïnspireerde spyskaart geniet nie en daarom is dit slegs op bespreking beskikbaar. “Ons spyskaart verskil met elke maal, want dit hang af van wat ons daardie dag in die veld kon versamel.
“Ons neem geure van die berg tot by die kus en besluit hoe dit op ’n spyskaart sal werk. Dis nogal moeilik om fynbos-bestanddele af te breek tot smaaklike geure. Ons maak baie gedroogte poeiers en asyne van die fynbos, want dit kan baie vinnig te sterk wees en alle ander geure oordonder. Van sommige fynbos is drie blaartjies genoeg om ’n hele pot kos te geur.”
Hy lag as hy vertel dat sneeubos en wilderoosmaryn se bitterheid met groot omsigtigheid hanteer moet word. Ek kan my indink hoe daar al planne beraam moes word!
Sox vertel die kombuisspan werk baie nou met die fynbosgidse saam, om te verseker dat hulle net eetbare fynbos toets vir disse en ook die medisinale gebruike daarvan in ag neem.
“Die grootste uitdaging van fynbos in kos is om te weet hoeveel om te gebruik. Ek trek tee, of droog dit in sout en toets dan die smaak en hoeveelheid.”
Sox verdwyn terug in die kombuis om die wondermaaltyd voor te sit.
Die botaniese spyskaart skop af met ’n botaniese apéritif. Dis nie-alkoholies en ’n boegoe-geurtjie vang my neus. Onderin die martini-glas dryf ’n olyf, maar toe ek dit wil byt, is dit ’n heerlike jellie in die vorm van ’n olyf.
“Prentjiemooi,” verklaar ons kelnerin, Candice Aploon, toe sy die boegoe-gang se “forel mosaïek, ertjie en gemmer en soutslaai” voor ons neersit.
Ons gereg met ysvygie is Kaapse forel-sashimi, jalapeño espuma en appel-ceviche.
Ons geniet ons Lomond-vonkelwyn en kan skaars glo dis die plaas aangrensend aan Grootbos waar dié druiwe groei.
Die bergsalie-gang vra vir rooiwyn en ons bottel Waterford Cabernet Sauvignon 2018, wat in ons kamer op ons gewag het met ons aankoms, is die perfekte pasmaat. Dié dis is umami-sampioene, tortelli espuma en pangritata.
Ons het nog nie van van die name soos espuma en pangritata gehoor nie. “Pangritata is net ’n fênsie naam vir brood en espuma vir skuim,” verklap Candice met ’n knipoog.
Die ster van die aand is die hoofgereg, onder die sneeubos-gang. Die effens geskroeide beeshaas, thys-skyfies, gegeurde botter en chimichurri is murgsag.
Nagereg lyk soos ’n klein engeltjie met goue vlerke en val onder die rooibos-gang en is ’n sitrus-bavaroise. Een van die sommeliers, Princess Mgebisa, verras ons hier met ’n glasie van Grootbos se eie heuningwyn (mead), die perfekte afsluiting vir ’n wonderlike ete en ’n goeie balans vir die effense suur sitrus in die nagereg. Sy verduidelik dis van donkergoue Grootbos-fynbosheuning gemaak en ’n “antieke doepa” wat hierdie likeur van die gode voortbring. Dis ’n natuurlike en organiese proses wat al die goedheid van heuning behou.
’n Antieke legende beweer dat die drankie al voorbereiding is wat ’n meisie nodig het om haar huweliksnag te trotseer. Sjoe, sjoe, sjoe.
Ons stap in die maanlig terug na ons kamer toe. Sterre flonker bo die melkhoutbome en in die verte is dit De Kelders se liggies wat vir ons teen die kuslyn knipoog.
Voor slaaptyd sit ons op ons stoep met heerlike fynbos-geïnspireerde tees, met die name “Harmony”, “Vitality” en “Tranquillity” met bestanddele soos boegoe, rooibos en roosmalva, wat ons sommer nog beter sal laat slaap.
Môre gaan ons op die fynbossafari al die bestanddele van ons wondermaal in hul natuurlike omgewing soek.
Raar en kosbaar, soos alles hier op Grootbos.
-
Foto’s: Clifford Roberts en Grootbos