Geagte meneer Masekela

  • 0

Ek weet dit is 51 jaar laat, maar ek wil net vir jou in die vroeë oggendure hier uit Wynberg in Kaapstad persoonlik geluk sê met jou treffer van 1968, “Grazing the grass”, wat die nommer 1-posisie op die Amerikaanse trefferlys gehaal het. Daar is ’n tipe groove aan daai tune wat mens net laat wil dans.

Wel, jou vrinne in Amerika tydens jou jare in exile was onder andere Louis Armstrong en Dizzy Gillispie. Hoe dan anders?

Ek skryf eintlik hierdie brief vir jou met voorbedagte rade. Daar is reeds vir ’n week ’n vraag op my lippe wat ek nie gesluk kry nie. Ek het in iemand vasgery en sy versekering bel my die heeltyd en ek antwoord nie. Dis nou al twee weke. Ek kan nie slaap nie, want dit is heel moontlik ’n yslik bedrag ter sprake. Jy sal my dalk kan help met hierdie penarie. Maar eers wil ek  vir jou ’n paar goed sê.

Eerste dinge eerste. Jy was ’n blêrrie belhamel op skool. Aartsbiskop Trevor Huddleston kry toe vir jou ’n trompet. Jy speel die ding dat die biesies bewe. Jou tweede koperblaasinstrument was nie sommer ’n hierjy speelding nie. Nope. Huddleston was ’n connected ou.

Louis Armstrong stuur vir jou ’n instrument en siedaar, jou lewe verander in ’n oogwink. Ek wens Jimi Hendrix wou vir my ’n kitaar gestuur het. Maar ’n laaitie wat in ’n spogskool elke dag ’n Coke en ’n past kon koop vir middagete, is seker nie ’n kandidaat vir so ’n tipe geskenk nie.

Aangaande jou oeuvre. Dit sou my ’n week gevat het om deur jou meer as 40 albums te luister, so ek moes selektief omgaan met my keuse van liedere. Jy is huge op Spotify! Ek weet nie of jy weet nie: jy het 6 298 luisteraars in Londen, 4 684 in Amsterdam en dan so ’n paar  posisies verder af is New York met 3 361.

Hulle wys nie waar lê Suid-Afrika se luistertal nie. Een song wat baie likes het, is “Soweto blues”. My eerlike opinie is dat dit baie ver verwyderd is van blues af. Daar is geen slide kitare en cowboyhoedens soos die ouens wat by Huisgenoot Skouspel sing nie. Maar jou lirieke is hectic. Veral hierdie het my gevang:

The children got a letter from the master
It said: no more Xhosa, Sotho, no more Zulu.
Refusing to comply they sent an answer
That’s when the policemen came to the rescue
Children were flying bullets dying
The mothers screaming and crying
The fathers were working in the cities
The evening news brought out all the publicity:
Soweto blues.

Meneer Masekela, hierdie is regtig ’n goeie song en ek verstaan nou vir die eerste keer waarom jy en Miriam Makeba oorsee is. Ek het van die Sharpeville-bloedbad geleer uit ’n skoolhandboek en het altyd net gehoop pouse breek aan sodat ek die kiewiete wat onder die rugbypale gebroei het kan gaan treiter met ’n tennisbal.

Miriam sê jy het die song vir haar geskryf. Sy het drie familielede op daardie een dag verloor.

Ek het nou net op ’n YouTube-skakel afgekom waar jy en Miriam “Soweto blues” speel in Londen by die LIVE1988-konsert. Daar is duisende mense in die Wembley-stadion ingepak om Mandela se 70ste verjaardag te vier. 600 miljoen ander toeskouers sit by hulle TV's en dit bly steeds ’n rekord vir die grootste aantal kykers vir ’n lewende konsert. Well done!

Ons het ’n TV gehad, maar dit was nie eers uitgesaai nie. Alles was maar daai tyd verban, nes jy en honderde ander. In 1988 was ek ses jaar oud. My beste maatjie was die kleinseun van PW Botha, wat op daardie stadium president was. So gebeur dit dat ek en my maatjie op ’n dag cowboys and crooks in hulle tuin speel.

Ek laai my cap gun en sluip deur die struike om hom af te maai. Ek hardloop om ’n hoek van die huis, gewaar beweging, trek die sneller, en sien dan dat ek so pas die President van ons land ’n kopskoot toegedien het. Al wat hy sê is: “O, hallo daar. Speel julle lekker?”

So, oor my kar se kattebak. Dit was ’n helse slag en ... Nee, ek sal nou-nou daar by kom.

Volgende op my speellys is “Stimela (Coal train)”. Hierdie song het 445 105 likes! Jy vertel hoe die myners hulle families agterlaat van oral oor Afrika om goud te kom myn in Johannesburg vir ’n paar sente en ’n bord pap. Ek moet sê, ek sit nou hier en tjank, want ek is ook ’n pa en as ek my dogter moes los om te gaan grawe of spit iewers ... Wel, mnr Masekela, dit sal gelukkig nooit hier met my gebeur nie.

In graad 2 in Pretoria het ons geleer van hoe hierdie myners bly en werk. Daar was foto’s in ons leesboek van hoe gelukkig hulle in die barakke is en dat hulle ’n lekker sokkerveld het en oor en weer kan kuier wanneer hulle van die werk af gekom het. “Ontspanningsfasiliteite” – my fok. Anyway, jou weergawe van die geskiedenis in hierdie opsig is seker nader aan die waarheid.

When they are digging and drilling
for that shiny mighty evasive stone,
Or when they dish that mish mesh mush food
into their iron plates with the iron shank.
Or when they sit in their stinking, funky, filthy,
Flea-ridden barracks and hostels.
They think about the loved ones they may never see again.
Because they might have already been
forcibly removed from where they last left them
Or wantonly murdered in the dead of night
By roving, marauding gangs of no particular origin,
We are told.

Kyk, mnr Masekela, soos ek verstaan het jy driedubbel die hoeveelheid lyne cocaine gesnuif as lyntjies wat jou CV op papier in beslag neem. En jou prestasies en eredoktorsgrade en toekennings beslaan sowat twee meter se geskryf as jy ’n klomp A4-bladsye aanmekaar vasplak. Jou foto-CV is iets om van te huil (op ’n jaloerse manier).

Hier staan jy langs Bono, daar glimlag koning Elizabeth II vir jou, daar hang Paul McCartney oor jou skouer. Jy het saam met Paul Simon getoer en jou verset teen apartheid verkondig. Om alles te kroon sien ek ’n YouTube-video waar jy voor die London Symphony Orchestra in die Barbican-saal staan en speel.

Die orkeslede tuur diep in hulle partiture in – jy is die enigste een sonder bladmusiek. Verder is daar foto's van jou en Madiba.

Ek weet nie of jy kan onthou nie, maar in ’n onderhoud in 1990, ’n paar dae na hy vrygelaat is, sê jy die volgende: “Just because Nelson has been released doesn’t mean the government has done us any favors. We have nothing to be grateful for. The government destroyed our country, destroyed our people. If anybody needs amnesty, it is the government.”

In 1990 het ek geweet van die Beach Boys, Roxette, Pavarotti en Ace of Base. In my vroeë hoërskooldae het ek Sondae-aande na Five FM se blues-en-jazz-program geluister. Hulle het nooit jou naam genoem nie en ook nie jou musiek gespeel nie. ’n Dominee van die NG Kerk Monumentpark in Pretoria het telkemale verwys na Metallica en Nirvana en gesê dit is duiwelse musiek. Dus was jou musiek seker maar ook nie welkom nie.

Hugh Masekela (Foto: scorpius73 from Washington, DC, USA - Hugh Masekela [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Jy word beskryf as die Vader van Suid-Afrikaanse jazz. Dis ’n gewigtige titel. Maar om daarby te kon uitkom moes jy jou geboorteland verlaat en elders ’n heenkome soek. Eers Londen, waar jy by die Guildhall School of Music and Drama geswot het, toe New York by die Manhattan School of Music en nog te veel ander plekke om op te noem.

Later het jy in Lagos gebly en ook in Botswana. Ek wil, soos met my gelukwensing vir jou “Grazing the grass”- treffer, my opregte simpatie betoon aangaande 14 van jou vriende wat afgemaai is weens hulle politieke verset. Lyk my die hartseer volg jou oral rond.

Jou tjom Nelson Mandela het baie van jou gehou. Jou seun is famous in Amerika as ’n sportkommentator vir ESPN. Hy vertel dat Madiba vir jou ’n brief geskryf het terwyl hy op Robbeneiland was. Hier moedig hy jou aan om sterk te staan teen die struggle en om nie moed te verloor nie. Jy gaan sit by die klavier en sê presies dieselfde vir hom.

Bring back Nelson Mandela
Bring him back all to
Soweto.
I want to see him walking
down the street in South Africa – tomorrow.

Dit is nou net na 03:00 en ek lees hoe jy moeilikheid opgetel het in New York weens jou politieke uitgesprokenheid. Ek lees dat Miriam Makeba, jou eksvrou, se kind gesterf het in Suid-Afrika terwyl sy oorsee was.

Ek lees oor jou alleenheid en ook hoe jy honger gely het by tye en hoe jy jou familie vir 30 jaar nie gesien het nie. Afgesien hiervan het jy steeds talle organisasies in jou tuisland van stapel gestuur wat dié wat sukkel help om ’n beter lewe te hê as wat jy in jou jeug gehad het.

So, aangaande my kar. En hierdie wil ek vir jou met alle erns vra: Die feit dat ek nie kan slaap oor die admin wat vir my wag nie en dat ek nie eers die foon kan antwoord as die versekering my bel nie: Is ek ... ?

Jy het dit klaar beantwoord, mnr Masekela.

Ek ís ’n bywoner in hierdie land aangaande my bydrae tot menseregte. Jy het hierdie plek help regruk en in hierdie oormoeg bui kan ek nie anders as om met ’n nederige kopkrap my plekkie in die Afrika-son te herbedink nie.

Bronne

https://worldz.us/WORLDZReport/sal-masekela-reflects-on-his-life-changing-relationship-with-nelson-mandela/

https://www.npr.org/2014/06/23/324857991/hugh-masekela-reminisces-on-musical-motivations-mandela

https://www.sandiegouniontribune.com/entertainment/music/sd-et-music-hugh-masekela-20180123-story.html

Lees ook

In memoriam: Hugh Masekela

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top