Geen perde in die Perdeberg, maar hope ander dinge om te geniet

  • 0

’n Paar dae in die vlaktes van die Swartland sowat ’n uur of wat uit die Kaap, is net die regte ding vir koel wintersdae. Kaggels, kuiers en kos saam met bekroonde wyne, is mos nou ontspan, skryf Maryke Roberts.

Soos die R44 en R45 onder ons bande verbygly, gesels ons oor die streek se naam: Paardeberg. Ek is opgewonde om te vertel dat die Perdeberg sy naam te danke het aan die talle Kaapse bergsebras wat eens in die Paardeberg-gebied rondgeloop het. Plaaslike inwoners het die sebras met wilde perde verwar. Ek het dit op Perdeberg Wyne se webwerf raakgelees.

“Maar nou praat jy darem seker van donkiejare terug!” kom dit wysneusig van die bestuurderskant, maar ek sien die groot glimlag en besef ek het pens en pootjies in die slaggat getrap.

Van perde ─ donkies of sebras ook ─ is daar min teken in die Swartland. Wingerd en koring beslis. Die grondpad tot by Kalmoesfontein kronkel tussen klein lappies aarde deur. Sommige plekke lyk dit asof die wingerd skaars groter as ’n dorpserf is, maar die dik stamme staan trots teen heuwels en hange.

Ek bespied die omgewing se webwerf vir lekker plekkies om te besoek. Dis Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Swartland Wyn & Olyfroete, se woorde wat ek raaklees, wat my bybly: “Besoek die skilderagtige, ruwe Swartland waar agterpad-wynkelders die terroir eggo, met gemeenskappe wat individuele uitdrukking deur wyn, kos, woord en kuns nastreef.”

Soos ons die omgewing ontdek, hoor ons hoe lief die Nederlanders, Belge en Duitsers is vir die organiese, biodinamiese wyne wat onder hierdie groot oop hemel gemaak word.

In die somer is die area verdeel in groot blokke grasgroen wingerd met hier en daar klein stroke swart met grys tussenin, nie omdat die boere die land brand nie, maar omdat daar nog klein dele natuurlike renosterbos-veld is. Dis juis hieroor wat die Nederlandse setlaars van die 16de en 17de eeue hierdie streek “Het Zwarteland” genoem het. Min wetende dat die wêreld se voorste wynprodusente eeue later hier sou uitblink.

Die span is besig om voor te berei vir ’n troue, toe ons die sleutel op ons tafeltjie in die Melk Kamer kry. Voor die horingoue, skeefgetrekte swart deur, “jy weet, daai met die bo en die onder” soos my vriendin altyd verwys na ’n Hollandse (Dutch) deur, staan ’n klein melkkannetjie. Dit verduidelik veel meer as die verblyf se naam, dit laat my gedagtes op hol gaan oor die laaste maal wat ek louwarm melk in ’n melkkan van die stalle kombuis toe gedra het.

Wie wil dan nou nie heeldag hier in die wintersonnetjie sit en lees nie? Dié lekker kuierplekkie langs ons verblyf in Melk Kamer, was een van ons lekkerste kolle.

Ons Melk Kamer-verblyf is keurig en gerieflik met handgeborduurde linne.

Die rankwingerd voor ons huisie is roesrooi en die fyn draadjie met liggies wat deur die prieel gevleg is, laat my skielik verlang na mense waarvan ek die gesigte of name nie kan uitmaak nie. Ek weet net hier is ’n onskuld en nostalgie op die ou werf, wat my weer soos ’n kind op my ouma se plaas laat voel.

Terwyl ek nog so aan die knop in my keel sluk, kom Semma Badenhorst met haar hande uitgestrek met ’n broodsakkie met ’n vuurwarm, krakerige dop, brood na ons toe aan. Op die ruwe kombuistafel wat sy eie eeueoue stories het om te vertel, lê die broodmes al heelmiddag in afwagting en die tuisgemaakte marmelade is soet-suur op my tong.

Die kombuis is ten volle toegerus vir selfsorg, sou jy wou kook, maar daar is net te veel lekkerbek-plekke in die omgewing, so ons het eerder uitgeëet en wyn geproe.

Die agtermiddag-winterluggie byt buite en gou is ons in gemakliker klere, pantoffels en brand die kaggel. ’n Groot hond, soos ’n swart beer of wolf, kom staan voor die deur en vra vir kopkrap. Ek lees in die oulike boekie wat die uitleg van die plaas en al die diere se name, rolle en geskiedenisse vertel. Dié swart beer is ’n kruising tussen ’n Great Dane en Bouvier en haar naam is Appel(liefie) “maar haar naam kon netsowel ‘Almalseliefie’ gewees het, want besoekers aan die plaas verloor al vir jare hul harte op die sagmoedige reus.”

Appel(liefie) die reuse-hond wat voor ons deur waggehou het.

Die luilekker lees voor die kaggel, word vir ’n paar uur onderbreek toe ons na Aardvark Eats op Riebeek-Kasteel ry, vir “die beste boa-buns suid van die ewenaar” soos my vriendin dit beskryf het. Daar is beurtkrag en ons kuier by kerslig oor plaaslike wyn met varkribbetjies met ’n Oosterse sous.

Aardvark Eats het ons met beurtkrag by kerslig onthaal en die varkribbetjie met Oosterse sous was verruklik.

Ek voel hoe ek stadig “ontdooi”, hoe die streskloue my laat gaan en ek my skouers laat ontspan.

Die maan skyn amper volwang deur die wingerdblare toe ons tuiskom en voor ons deur hou die reusagtige Appelliefie steeds wag om nag te sê.

Teen skemer die volgende oggend, kraai een van daardie hane wat in daai einste boekie oor die plaas as “spioene” beskryf word. Dit word te oulik gestel: “Hier is Frieda Vark die baas, die hoenders is spioene en die ganse hans.”

Frieda die Vark is die baas van die Kalmoesfontein-plaas.

My geliefde gaan stap en ek hoef nie sy roete te ken om te weet waar hy is nie. Die ganse en eende verklap sy wandelpad.

Jy hoef nie te wonder waar my geliefde op die plaas stap nie: dié parate ganse het luidkeels sy aankoms en vertrek aangekondig.

Die eerste stop is wynproe ─ ná moerkoffie, lekker brood en plaaseiers vir ’n stewige ontbyt.

Die varsgebakte brood, plaasbotter en marmelade is heerlik met moerkoffie of rooibostee van die plaas.

Op pad na die plaas waar die gewilde Swerwer-wyne gemaak word, sit ons agter ’n trekker. Die vorige aand se reën het die grond lekker nat en effe modderig gelaat. Die trekker sleep die pad in ’n meer rybare toestand. Ons spoednaald lig nie sy kop nie. Die reuk van nat grond vul die motor. Weerskante van die pad speel herfskleure in bont malligheid tussen die wingerdrye.

Een van die wyne uit die Swerwer-reeks wat ons geproe het.

Ons ruite is af, ons longe vol plaaslug en ons harte vol dankbaarheid oor hierdie kleinode wat Moeder Natuur ons só onverwags gee.

Die musiek spoel uit die kelder tussen die reuse-houtvate deur. Ons volg hierdie een keer nie ons neuse nie, maar ons ore na vanwaar die klanke kom. Die blues van Free Chicken and Beer deur John Lee Hooker, vul die lug.

In die hoek van die kelder staan twee hout wynkissies met langspeelplate in. Die draaitafel is ooghoogte. In die ander hoek is ’n groot koffiemasjien ─ koffieshop-styl.

Dis Jasper Wickens se heiligdom hierdie.

Mens kan sien waar Jasper Wickens van Swerwer se wortels lê ... die AA Badenhorst-kelder op Kalmoesfontein is ’n veelkleurige plek met lekker harde musiek en goeie koffie.

Hy is die man agter die Swerwer-etiket, wat ontstaan het omdat hy oral in verskillende kelders en lande gewerk het.

Jasper Wickens wat onder die Swerwer-etiket wyn maak. Hy is een van die Swartland Independent Producers (SIP) wat aan natuurlike wynmaakmetodes met minimum-inmenging glo. Agter hom is sy platespeler en regs (uit die foto) staan sy reuse-koffiemasjien.

Hy rus teen die ou 5000 liter-vate wat van Stellenzicht buite Stellenbosch kom.

In sy eie lewe is sy swerwerdae verby. Hy is getroud met Franziska Schreiber en hulle maak nou hul lewe op Waterval in die Siebritsvallei met hul jong seun, James (2). Sy het in kelderbestuur spesialiseer en saam is hulle ’n gedugte span.

Met tonele soos hierdie op Waterval, waar Jasper Wickens sy Swerwer-wyne maak, kan mens nie anders as om te ontspan nie.

Die wingerdblokke van Jasper se plaas, Waterval in die Siebritsvallei.

Ons vra oor die plate en koffiemasjien, nie goed wat jy gewoonlik in kelders aantref nie. Hy het vir meer as ’n dekade saam met Adi Badenhorst van Kalmoesfontein gewerk. Sy respek vir Adi se natuurlike wynmaak-metodes en agting vir die grond en wingerdstokke se eie vermoëns, is duidelik. Hy lag as hy vertel hoe Adi altyd by die wynplase waar hy gewerk het, aangedoen het en kom voorbrand maak het vir die onafhanklike denkwyses waarvoor hy bekend is.

“Hy was hierdie mystical figuur met sy lang grys baard, wat een maal per week kom kuier het en ons jong wynmakers só in vervoering gehad het. Baie van die onafhanklike produsente het hul vrye denke aan hom te danke.”

Ons proe verskeie wyne daar en tussendeur vertel Jasper: “Een van belangrike lesse wat ek in my tyd by Adi geleer het, is jy het goeie druiwe nodig. Dis al. Al die ander toebehore is luukses.”

Daardie aand speel die blues uit ons draagbare luidspreker uit Indië, terwyl die vuurtjie in die kaggel knetter en ons rooiwyn van die dag se produsente teug. Semma se man, Charl, Adi se broer, swaai die houtlepels in die kombuis en hy en sy span het heerlike sambals, botterskorsie en kekerertjie-kerrie gemaak en die los witrys laat my weer eens na my grootouers verlang. Rys was ek en my oupa se ding en die verkleuring daarvan as jy kerrieboontjies of beet daarlangsaan skep en dit so stadig begin verkleur.

Voor slaaptyd is dit Kalmoesfontein se eie rooibosteestokkies wat in die ou draadsiffie lê en trek, voor ons ’n tweede pot uitdrink met Miche Deli op die dorp se vlakoekies.

Die laaste oggend maak ons die brood en eiers klaar en sit met ’n tweede koppie koffie op die stoep, terwyl die plaas ’n miernes van bedrywighede vir die laaste troureëlings is.

Die stoepie voor ons huisie waar ons vroegoggend met ons koffie gesit het.

Ons gaan loer by die plaasdiere in en Tjoppies en Frieda (twee reusagtige Duroc-varke) druk hul snoete onderdeur die draad en hul asemhaling maak stofwolkies op die grond soos ’n klein stofsuiertjie wat verkeerde kant toe blaas.

Hanneke Krüger ontmoet ons in die kelder en laat ons wyne uit die tenks proe. Die sementkuipe is vol van Adi se natuurlike wyne, wat internasionaal bekend is. Dis veral die name wat uitstaan: Raaigras, Ringmuur, Klipkop en Sout van die Aarde.

Met die terugstap na die plaasstoep, loop ons deur die kelder. Die musiek dartel hier ook om die vate; die koffiemasjien raas met elke nuwe sterk espresso. Ons word sommer deur die wynmakers en helpers daar en dan genooi vir ’n koffie terwyl Hanneke die wyne op die stoep vir die res van die proe voorberei.

Die muur by die kelderdeur is iets om te beleef: daar is allerhande plakkate, memorabilia en dis asof dit die gees en persoonlikheid van “die mystical figuur” so mooi saamvat.

Onafhanklike denkers

As jy van die aweregse denkers van die Swartland Independent Producers (SIP) hou, waarvan Adi en Eben Sadie die bekendste is, is hier verskeie ander plase waar jy ure kan verwyl. Maak afsprake met die wynmakers en proe wyne uit die tenke; breek brood en sleep dit deur peperagtige olyfolie; verwyl ure op reuse-stoepe met uitsigte tot anderkant Tafelberg en word net weer mens.

Andersdenkers en individue is die groep wynmakers van SIP beslis. Dis plakkate van vorige straatpartytjies.

Die paar by wie ons benewens Adi ingeloer het, sluit in: Aspoestertjie in die Riebeeksrivier (waar vier jong wynmakers met baie moderne toerusting, splinternuwe eikehoutvate en verskillende style kan eksperimenteer); Hughes Family Wines buite Malmesbury.

Die pragtige wyn-etiket van Aspoestertjie-wyne.

Die pragtige uitsig as jy die Bothmaskloofpas tussen Malmesbury en Riebeek-Kasteel oorsteek.

Hughes Family Wines se kelder bestaan uit skeepsvragshouers wat in die grond versonke is. In die agtergrond hou Kasteelberg wag.

Die mooie uitsig waar Aspoestertjie-wyne in die Riebeeksrivier gemaak word.

Loer gerus op Malmesbury by die museum in as jy in die Swartland gaan kuier.

Hier is dit wynmaker en eienaar, die Argentynsgebore Billy Hughes wat onder die Nativo-etiket wyn maak, se woorde wat konteks aan die etos van SIP gee:

“Mettertyd begin die karakters van die druiwe vervaag en die plek neem die identiteit oor. Die ding met SIP is dat jy niks kan regstel nie, wat uit die wingerd kom, is wat jy het. Hoe minder jy inmeng in die wingerd en die vat, hoe meer sit jy in die bottel. En dis wat ons met ons Nativo-wyne doen.”

Billy vertel dat Europese wyndrinkers mal is oor hierdie natuurlike biodinamiese wyne. Ons proe daar in sy kelder onder die grond, wat uit skeepsvraghouers bestaan en half in die grond versonke is en waarin vate en kleipotte die wyn verouder.

Billy Hughes van Nativo-wyne, laat ons uit die vate proe.

Marras op Riebeek-Wes, wat pas ’n nuwe restaurant geopen het en ook ’n opelug-konsertvenue gebou het, is ’n ware belewenis. Probeer die Lam kofta-kerrie met die droë wit, Was jou Hanepoot, Muscat d’Alexandrie. Die wyn is uit die Covid-pandemie gebore toe almal so handewas-behep was. Die wynmaker en eienaar, Martin “Marras” Lamprecht, is aan die draf, maar kom vertel ons tog van sy wyne en maak aanbevelings oor lekker kos uit sy kombuis. Ek geniet die burger en skyfies met my Shiraz/Cinsaut-versnit.

Die biefburger en skyfies by Marras se nuwe restaurant op Riebeek-Wes, is die perfekte pasmaat vir sy rooiwyne.

Ons hoor ook al dié onafhanklike produsente hou weer vanjaar in die vlees en gees die Swartland Straatpartytjie in Riebeek-Kasteel, vanjaar op 5 November.

Met ons terugkeer van Billy se plaas af, stop ons by Swartland Wynkelder voor ons huis toe gaan. Daar is die personeel breëbors en toe ons nie gou genoeg vra waaroor hulle só pronk nie, kom dit gou: “Ons vlagskip Kaapse versnit, Idelia, het by ProWein in Duitsland vanoggend goud ingepalm in die Gilbert & Gaillard International Challenge,” vertel Marené Kemp ons by die proelokaal.

Swartland Wynkelder se vlagskip Kaapse versnit, Idelia, het by ProWein in Duitsland vanjaar goud ingepalm in die Gilbert & Gaillard International Challenge.

Alles op Kalmoesfontein noop jou om langer te vertoef en dieper te kyk. Dis die kantoor neffens die proe-stoep.

Ons moet dit natuurlik opslag proe en sy skink. “Hoe lyk dit met lekker groentesop en vars brood voor die kaggel?”

En daar val ons toe tot laatmiddag vas met ’n vleis-en-kaasbord en ek verbeel my ek hoor ons motor se kattebak sug toe ons nader kom met nog bokse wyn!

Die kaas-en-vleisbord wat ons vir ure voor die kaggel by Swartland Wynkelder besig gehou het.

> Woorde: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top