Geen taboe op Afrikaans by US, sê rektor

  • 0

Daar bestaan geen beleid by die Universiteit Stellenbosch (US) dat daar slegs Engels in koshuise gepraat mag word of dat studente verbied word om Afrikaans of enige ander taal op die kampus te praat nie.

Die universiteit sal dit nie goedkeur nie, aangesien dit in stryd sou wees met die US se visie, waardes en taalbeleid.

So het die universiteit se rektor, Wim de Villiers, Maandag in ’n voorlegging aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gesê.

Wim de Villiers (Foto: LitNet, 2017)

Dit volg nadat die DA ’n klag by die MRK aanhangig gemaak het waarin versoek word dat die MRK die rol van die universiteit se 2016-Taalbeleid ondersoek. Volgens die DA gee hierdie beleid amptelik ’n mindere status aan Afrikaans, wat skynbaar bygedra het tot die huidige atmosfeer van diskriminasie teen Afrikaanse studente.

Die DA beskuldig US se bestuur daarvan dat hulle oorlog verklaar het teen moedertaalonderrig. Dit het glo die afgelope jaar meer fel geword nadat eerstejaarstudente in sommige koshuise na bewering verbied is om Afrikaans te praat in hulle koshuiskamers en selfs op parkbanke op die kampus.

Die DA sê in ’n verklaring hulle verwelkom die ondersoek deur die MRK.

Die huidige US-bestuur, onder leiding van Wim de Villiers, se “anti-Afrikaanse onderrok” het volgens die DA selfs verder uitgehang weens die universiteit se vermoedelike weiering om op te tree ter verdediging van die betrokke studente se grondwetlike reg op moedertaalonderrig en om hul eie taal te praat.

De Villiers ontken in sy voorlegging dat studente wat in koshuise tuisgaan nie Afrikaans met mekaar mag praat nie. Hy sê in ’n lang verklaring enige suggestie dat studente ingevolge die universiteit se beleid verbied is om Afrikaans te praat, is vals.

“Daar bestaan geen verbod op Afrikaans aan die US nie – nie in lesinglokale nie, nie in koshuise of enige ander plek op die kampus nie. Dit is nie ons beleid nie.” Volgens hom is die teendeel waar. Hy sê die universiteit bevorder meertaligheid en neem die diversiteit van die gemeenskap in ag.

Sy volledige voorlegging kan hier gelees word.

Danie van Wyk, die voorsitter van DAK Netwerk, wat hulle beywer vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe, het die MRK se ondersoek as waarnemer bygewoon.

Van Wyk het op Facebook gesê hy sien uit na wat die bevinding van die MRK gaan wees. “Dit gaan nie oor die taalbeleid van die US nie. Daardie proses is nog aan die gang, maar slegs oor die gebruik van Afrikaans in sosiale verband op kampus.”

Van Wyk sê DAK Netwerk het insette en kommentaar gelewer op die hersiene taalbeleid soos wat beskikbaar gestel is deur die US. 

De Villiers het in sy voorlegging toegegee dinge loop soms verkeerd. “In ’n komplekse omgewing soos by ’n groot universiteit loop dinge nie altyd reg nie. As nuwe  studente inderdaad deur studenteleiers aangesê is om slegs Engels te praat in sosiale konteks, is dit verkeerd.” Hy sê dit is nie die universiteit se beleid nie en ook nie veronderstel om te gebeur nie.

Volgens De Villiers het die universiteit die bewerings ondersoek toe dit na vore gekom het en opgetree.

Hy sê die US is egter ook nie ’n Afrikaanse universiteit nie. “Dit is nie ’n Engelse universiteit nie. En dit is nie ’n Xhosa-universiteit nie. Ons is ’n inklusiewe, meertalige universiteit, een van baie min hoëronderwysinstellings in ons meertalige land wat hierdie benadering volg.”

Hy sê die universiteit het vir praktiese doeleindes gekies om die provinsie waar die universiteit geleë is, se drie amptelike tale as kommunikasiemedium te gebruik, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa.

Volgens De Villiers: Ons gebruik Afrikaans om te voorsien in ’n spesifieke behoefte aan toegang in daardie taal, so ver ons redelikerwys kan. Afrikaans het oor dekades heen as akademiese taal onwikkel waartoe die US baie bygedra het. Die toepassing en uitbreiding van die akademiese potensiaal van Afrikaans is deel van ’n bemagtigingsproses van ’n groot en diverse gemeenskap in Suid-Afrika.

De Villiers sê ten spyte van die universiteit se beleid van inklusiewe meertaligheid het die bestuur ook ’n onafhanklike ondersoek gelas na die klagtes voor die MRK. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie, maar dit word as ’n saak van dringendheid beskou en die universiteit is die versekering gegee dat dit so spoedig moontlik afgehandel sal word.

Kyk en lees ook:

William Sezoe gesels met Open Stellenbosch en StudentePlein

Luister bo kibbel bou inklusiewe akademiese gemeenskappe

Griefskrif met sewe eise vir Afrikaans aan US oorhandig

Afrikaans: die groter prentjie

Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top