Gees van die US se taalbeleid “verkeerd geïnterpreteer”

  • 0

Die gees en bedoeling van die Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) is waarskynlik verkeerd geïnterpreteer en toegepas op ’n manier wat nie strook met die doelstellings van die beleid en waardes van die universiteit nie.

Dit is die bevinding van ’n voorlopige ondersoek na berigte in die media oor die gebruik van Afrikaans en ander tale in die koshuisomgewing wat dui op wat beskryf was as ’n “Slegs Engels”-beleid. Aanduidings is volgens die universiteit dat die situasie tot een koshuis beperk was.

Die US sê in verklaring wat Maandagaand uitgereik is dit is nie die beleid van die universiteit dat slegs Engels in koshuise gebruik word nie of dat studente nie Afrikaans mag praat nie.

Die universiteit sê hulle sal hierdie week via die Afdeling Studentesake voortgaan om met studenteleiers in alle koshuise oor die aangeleentheid in gesprek te tree terwyl ’n bemiddelingsproses in die betrokke koshuis aan die gang is om uit te kom by ’n gedeelde begrip van die Taalbeleid. “Ons sal gesprekke oor die implementering van die beleid en die waarde van meertaligheid voortsit, asook bewusmaking oor bestaande terugvoermeganismes wat betref die implementering van die Taalbeleid,” lui die verklaring.

In die verklaring herhaal die universiteit hulle standpunt dat studenteleiers, ook diegene in koshuise, geloof moet word vir hul “veerkragtigheid in die hantering van die uitdaging om gemeenskaplike leefruimtes in geleenthede vir groei en ’n viering van diversiteit te omskep”.

“Ons studente het nie net verskillende taalvoorkeure nie, maar is ook van verskillende lande afkomstig. Hulle kan nie elkeen se taal vlot praat nie, maar almal kan ten minste Engels verstaan.”

Daarom gebruik studenteleiers in koshuise tydens die verwelkomingsperiode volgens die universiteit meestal Engels in formele byeenkomste om ’n atmosfeer van inklusiwiteit te skep, en sodat almal kan verstaan. “Dit is in ooreenstemming met die Taalbeleid se paragraaf 7.2.5 wat lui dat taal in koshuise en ander leefomgewings op so ʼn wyse gebruik word dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie. As studente enige ander taal binne of buite hul kamers wil praat tydens informele aktiwiteite sonder om iemand uit te sluit, bevorder dit veeltaligheid – iets waarna die Taalbeleid streef.”

Volgens die universiteit se jongste verklaring kan dit egter nie geïnterpreteer word as bedoelende dat geen ander taal as Engels welkom is nie, of nie gebruik behoort te word nie.

“Die kern van ons beleid is steeds die volgende: Die Universiteit Stellenbosch (US) is verbind tot die omgang met kennis in ’n diverse samelewing. Die Taalbeleid beoog om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in sy akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste. Die Beleid beoog om billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, om pedagogies verantwoordbare onderrig en leer te fasiliteer, en meertaligheid te bevorder.”

Lees ook:

Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

Nuwe taalstorm oor Afrikaans by Universiteit Stellenbosch

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top