’n Nuwe taalstorm oor Afrikaans is aan die broei by die Universiteit Stellenbosch (US) nadat studente na bewering aangesê is om nie met mekaar Afrikaans te praat in die koshuise nie.
Die universiteit ontken dat dit beleid is vir studente om slegs Engels in koshuise te mag praat. Die universiteit gee egter toe dat Engels dikwels gebruik word “om inklusiwiteit te verseker”. Volgens die universiteit is dit in ooreenstemming met hulle taalbeleid dat taal in koshuise en leefomgewings so gebruik word dat niemand van aktiwiteite uitgesluit word nie.
Na bewering is studente by minstens twee vrouekoshuise verbied om Afrikaans te praat tydens hulle oriënteringsweek. Netwerk24 het Maandag berig dat nog studente met soortgelyke klagtes na vore gekom het.
Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, Conrad Steenkamp, het aan Voertaal gesê die universiteit se toepassing van hulle taalbeleid skep talle vrae. Hy sê dit wil voorkom asof hulle transformasie slegs deur middel van Engels wil laat geskied.
Steenkamp sê die Taalraad gaan ’n gesprek met die universiteit aanvra om oor hulle taalbeleid te praat. Die Taalraad se standpunt is dat transformasie deur middel van meertaligheid moet plaasvind en nie slegs deur middel van Engels nie.
Wat na bewering nou op Stellenbosch gebeur, is volgens Steenkamp soortgelyk aan wat in Engeland met sy kinders gebeur het toe ’n onderwyseres hulle verbied het om met mekaar Afrikaans op die speelgrond te praat.
Hy sê op hierdie wyse word die “taal van die Empire” ten koste van inheemse tale bevoordeel, wat anderstaliges minderwaardig laat voel.
“Ek weet van studente wat bang is om Afrikaans op die kampus te gebruik uit vrees dat daar teen hulle gediskrimineer sal word. In een geval het ’n Afrikaanse student al haar toelatingsvorms vir die universiteit in Engels ingevul net omdat sy bang was dit sal teen haar tel as sy die vorms in Afrikaans invul.”
Steenkamp sê aangesien die US se taalbeleid weer vanjaar hersien moet word, skep hierdie gebeure ’n ideale geleentheid om die taalkwessie by die universiteit weer te bespreek.
’n Woordvoerder van US, Martin Viljoen, het aan Voertaal gesê die universiteit het kennis geneem van die klagtes wat in die media genoem word en is besig om meer inligting oor die saak in te win. Studente word ook aangemoedig om die klagteprosedure soos uiteengesit in paragrawe 8.4.3 en 8.4.4 van die Taalbeleid te volg.
“Dit is nie beleid dat slegs Engels in koshuise gebruik word nie, dat video's wat ook Afrikaans bevat, nie vertoon mag word nie of dat studente nie Afrikaans mag praat nie. Ons studenteleiers, ook diegene in koshuise, behoort geloof te word vir hul veerkragtigheid om die uitdaging van gemeenskaplike leefruimtes in geleenthede vir groei en ’n viering van diversiteit te omskep.”
Viljoen sê hulle studente het nie net verskillende taalvoorkeure nie, maar is ook van verskillende lande afkomstig. Hulle kan nie elkeen se taal vlot praat nie, maar almal kan ten minste Engels verstaan.
“Daarom word Engels meesal in koshuise tydens die verwelkomingsperiode gebruik om inklusiwiteit tydens die verwelkomingsperiode wat betref formele byeenkomste en gespreksgeleenthede te verseker. Dit is in ooreenstemming met die Taalbeleid se paragraaf 7.2.5 wat lui “dat taal in koshuise en ander leefomgewings op so ’n wyse gebruik word dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie”. Hy sê as studente enige ander taal binne of buite hul kamers wil praat tydens informele aktiwiteite sonder om iemand uit te sluit, bevorder dit veeltaligheid – iets waarna die Taalbeleid streef.
Volgens Steenkamp is die probleem juis dat veeltaligheid nié op die kampus bevorder word nie, maar slegs Engels. “Mens moet mooi kyk wat die universiteit sê wanneer hulle van meertaligheid praat en wat hulle daarmee bedoel, want daar is ’n lang lys voorwaardes aan verbonde.”
Die kern van die huidige beleid is volgens die universiteit steeds die volgende, het Viljoen aan Voertaal gesê: “Die Universiteit Stellenbosch (US) is verbind tot die omgang met kennis in ’n diverse samelewing. Die Taalbeleid beoog om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in sy akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste. Die Beleid beoog om billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei en om pedagogies verantwoordbare onderrig en leer te fasiliteer.”
Lees ook:
US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies
US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid