Gemeenskapsprojekte – mense wat ’n verskil maak: freshStart, Sedgefield

  • 0

Gesprekke met mense betrokke by gemeenskapsprojekte: freshStart Sedgefield

Lida en Schalk van As woon in Sedgefield en is saam met hul drie dogters betrokke by die freshStart-gemeenskapsaksie. Estelle Kruger vra hulle uit oor die gemeenskap en projek.

Julle is betrokke by freshStart in Sedgefield. Vertel vir ons wat dit behels? Wat is die agtergrond?

freshStart Sedgefield is die oorkoepelende organisasie (sonder winsbejag) waaronder ons projek, die Recycle SwopShop, val. Die kinders van Smutsville bring hul herwinbare materiaal na die SwopShop, waar dit geweeg word en hulle Mula-punte kry volgens die gewig en aard van die materiaal. ’n Kilogram glas is byvoorbeeld 1 punt werd en ’n kilo plastiek 3 punte. Met hierdie Mula-punte kan die kinders dan goed uit die winkel koop – toiletware, skryfbehoeftes, klere, skoene, speelgoed, en in die winter ook komberse.

Een van die redes vir die ontstaan van die SwopShop was ook om Smutsville skoon te maak. Dit gebeur tot ’n mate. Besoekers merk dikwels op dat dit skoner is as ander gemeenskappe, alhoewel daar nog baie opvoeding nodig is mbt straatvullis en persoonlike verantwoordelikheid.

Skets asseblief vir ons ’n prentjie van die omstandighede in Smutsville.

Smutsville is ’n gemengde gemeenskap net buite Sedgefield wat bestaan uit bruin mense, Xhosas, immigrante vanuit Afrika, asook Sotho’s en ’n paar gesinne uit Venda. Daar is ’n kern van permanente baksteenhuise in Smutsville en Sizamile, maar rondom dit het ’n hele paar informele gebiede verrys, soos die Gaatjie, Beverly Hills en Slangepark. (Smutsville word steeds as die versamelnaam vir al hierdie gebiede gebruik.) Daar is maar spanning tussen die verskillende etniese groepe, en ongelukkig baie misbruik van drank en dwelms, wat weer lei tot huishoudelike geweld, seksuele misdaad, diefstal, ens.

Smutsville en Sedgefield het elk slegs ’n laerskool, en baie kinders van Smutsville kan dit nie bekostig om in die koshuis in George of Knysna te bly, of om daagliks na ’n hoërskool te pendel nie. Gevolglik is daar baie kinders wat ná hul laerskooljare net begin rondhang en geen verdere opleiding ontvang nie. Sedgefield is grotendeels ’n vakansie- en aftreedorp en boonop ’n “slow town”, wat beteken dat hier geen nywerhede is nie, en ’n beperkte sakesentrum. Werksgeleenthede is baie skaars en werkloosheid gevolglik hoog, wat die siklus van misbruik en sosiale euwels laat voortduur.

Hoe het julle as gesin hierby betrokke geraak en wat is julle elkeen se funksie in die projek?

Ons doen tuisonderrig en ek probeer om ons dogters ’n gebalanseerde opvoeding te gee met ’n mengsel van akademie, kultuur en kuns, sport asook diensbaarheid in die gemeenskap. Nuut in Sedgefield, was ek op soek na geskikte geleenthede. ’n Vrywilliger by freshStart het gehoor van my navrae en ons na die SwopShop genooi. Ek en die dogters het aan die begin van April 2015 daar begin help.

In Desember 2015 het Schalk bedank by die jeugontwikkelingsorganisasie waar hy gewerk het en is hy genader om nuwe projekte onder die freshStart-banier te ontwikkel.

Een van die stigters van die projek, Antony Tooley, het egter in Januarie 2016 ernstig siek geword. Ons is gevra om die SwopShop te bestuur en so het Schalk ook aan boord gekom. Hy help agter die skerms met onder meer die oplaai van donasies en weeklikse aankoop van die vrugte. Woensdae kyk hy dat dinge glad loop by die hek en weegstasie.

Jeanette (19) en Leticia (15) doen die kinders se kaartjies waarop ons boekhou van hul besoeke, punte en aankope.

Christine (9) help by die Kinderhoekie. Hier kan die kinders ná hul inkopies kom inkleur, speel of stories luister.

Ek doen iets van alles.  🙂 

Wat is die basiese uitgangspunte van freshStart?

freshStart se leuse is om mense te help om hulself te help. Dit is dus ’n gemeenskapsprojek met ’n verskil: ons wil kinders bemagtig om hulself te help dmv herwinning. Hulle leer onder andere lewenslesse soos harde werk, beplanning, spaar en getrouheid.

Keuses, drome, begeertes en ... tevredenheid

Hierdie seun het lank met sy Mula-punte gespaar vir sy fiets.

Die SwopShop is net vir die kinders, en daar mag hulle self kies wat hulle wil koop, of waarvoor hulle wil spaar. Dis ’n plek waar kinderdrome kan waar word. Dit is ook ’n veilige omgewing waar die kinders bemoedig word, vriendelik en geduldig gehelp word met hul aankope, en waar vrywilligers met hulle speel of vir hulle stories lees nadat hulle hul inkopies gedoen het.

Wie is die beskermhere en -dames? Wie het dit begin en wie borg dit? Waar kry julle skenkings?

Antony en Jennifer Tooley het freshStart begin. Ons het nie beskermhere en -dames nie, maar wel drie direkteure: Carl Lamprecht, Anne Dunn en Lorraine Alfreds.

Die SwopShop word geborg deur skenkings – in die vorm van beide geld en voorraad, nuut en tweedehands.

Skenkings kom uit Sedgefield, Knysna en George, so ver as Kaapstad en Johannesburg, en ook van oorsee, veral uit Nederland en Engeland.

Wie is die mense wat die projek laat werk – julle steunpilare?

  • Die vrywilligers: ’n span van sowat 35 mense uit Smutsville, Sedgefield en soms ook Knysna, asook twee wat in Engeland woon. Elke kind het ’n persoonlike helper wanneer hulle koop. Ons het 20 vrywilligers per week nodig vir ’n “bare basics shop”, met net twee op die Kinderhoekie.
  • Ons donateurs. Ons is ’n niewinsgewende organisasie en alhoewel ons oorhoofse kostes minimaal is omdat daar geen salarisse of huur betaal word nie, kan ons niks met ’n leë winkel doen nie!
  • Die Smutsville-laerskool se samewerking en bereidwilligheid om ons op hulle skoolterrein te huisves.
  • En natuurlik die ondersteuning van die Smutsville- en Sedgefield-gemeenskappe.

Watter uitkyk op die wêreld en hulleself gee die projek vir die kinders wat deelneem? Met ander woorde, wat leer julle vir hulle?

Hopelik leer hulle dat hulle nie slagoffers is nie en dat niemand hulle iets skuld nie, maar dat hulle deur hul eie harde werk en getrouheid hul drome kan waar maak of in van hul eie basiese behoeftes kan voorsien.

Vertel asseblief vir ons hoe ’n tipiese freshStart-dag lyk?

Deur die loop van die week sorteer ek donasies en koop nuwe voorraad aan soos nodig. Woensdagoggende koop ons die vrugte en begin 12-uur om die winkel reg te kry vir ’n markmiddag. Ons het twee vraghouers: een is die stoorkamer en die ander is ons winkel met rakke waarop toiletware, skryfbehoeftes en speelgoed uitgestal word. Ons gebruik die gebied tussen die vraghouers vir ons buitewinkel. Hier pak ons die 14 plastiekkratte met klere vir seuns en meisies gesorteer volgens ouderdomme. Die sporttoerusting, skoene, kouse en onderklere kom ook buite. In die middel staan ons tafels met spesiale aanbiedinge.

Teen 1:20 nm kom die vrywilligers bymekaar vir ’n spanpraatjie en 1.30 maak ons die hekke oop. Die kinders kom in groepe van 10–15 in. Hul sakke word geweeg, en hul punte word opgetel en op ’n plakker geskryf en op hul hand geplak. Daarna kry hulle hul kaartjie waarop die datum en hul punte geskryf word. Hulle wag dan in ’n tou vir ’n helper om hulle deur die winkel te vat. Die vrywilligers vra wat hulle nodig het, wys hulle wat op uitverkoping is, en help hulle om te kry wat hulle wil hê (en kan bekostig). Hierdie een-op-een-interaksie gee ook die geleentheid om die kinders individueel aan te moedig, om oor keuses te praat en oor hoe hulle vir hul “droom” kan spaar.

Nadat die finale besluit geneem is, gaan die vrywilliger en kind saam na die “betaalpunt”, waar ’n ander spanlid opskryf hoeveel punte gespandeer is en hoeveel die kind oor het om te spaar.

Ons het ook ’n telbord om rekord te hou van hoeveel van die verskillende items verkoop word. Hierna ontvang die kind ’n vrug en het hy/sy die opsie om huis toe te gaan of om by die Kinderhoekie aan die dag se aktiwiteite deel te neem.

Elke week is daar ’n ander aktiwiteit, byvoorbeeld inkleur, met speelklei speel, opvoedkundige speletjies, boeresport of interaktiewe stories.

Martie Rooi, een van ons vrywilligers, is ook die noodhulptannie van Smutsville. Sy het ’n noodhulpkissie in die winkel en help die SwopShop kinders wat seerplekke, bytplekke, velsiektes of ander kwale het. As dit ernstig is, kontak sy die ouers en reël om die kind kliniek toe te neem.

Julle statistiek is oorweldigend positief. Vertel asseblief vir ons kortliks hoe die projek gegroei het sedert julle daarby betrokke is.

Ek dink hierdie tipe projekte moet hulself eers vestig en bewys in die plaaslike gemeenskap alvorens groei kan plaasvind. Ons was gelukkig dat ander mense die papierwerk gedoen het vir die goedkeuring en registrasie, asook die harde vestigingswerk. Hiermee wil ek krediet gee aan Antony en Jennifer Tooley wat die visie gehad het, hul huiswerk gedoen het en ’n span bymekaar gekry het om te help met die projek se geboorte en daarmee saam die aanvanklike bekendstellingswerk, fondsinsamelings en al die praktiese probeer-en-leer-lesse.

Ons het dus ’n “peuter” geërf met al die pret wat sy nuutgevonde mobiliteit, taalontwikkeling en ontdekkingstogte bring. freshStart het danksy goeie publisiteit toe reeds ’n wye ondersteuningsnetwerk gehad wat ons verder kon uitbrei met die hulp van ons bekwame reklamemense.  🙂 

Ons het die ou stoorkamers uitgesorteer en gesorg dat skenkings vinnig op die rakke kom eerder as om in ’n stoor vas te haak. Skenkings wat onvanpas was vir die winkel, byvoorbeeld linne en kastrolle, en klere vir volwassenes, het ons geleidelik op rommelverkopings in Smutsville “verruil” vir kontant waarmee ons weer geskikte voorraad vir die winkel aangekoop het.

Die administratiewe deel van die winkel is verbeter deur die kaartjies vir die kinders te laat druk en lêers te begin waarin nuwe kinders geregistreer kon word totdat hulle ná vier besoeke vir ’n kaartjie kwalifiseer.

Die aantal vrywilligers het gegroei, asook hul bekwaamheid en ons spangees. Alhoewel dit vir die vrywilligers lekker is om somtyds “iets anders” te doen op ’n Woensdagmiddag, is daar sekere sleutelposisies in die SwopShop, byvoorbeeld die kaartjies, wat vereis dat dieselfde persone dit elke week doen. Hier moet mens die gesiggies leer ken, fyn kan luister wanneer die kinders hul name sê terwyl sakke vol glasbottels op die vragmotor gegooi word, weet watter Nielton Solomons dit is wat met jou praat, en dat hiérdie Cherise met ’n “s” gespel word. Ons het ook meer persoonlike helpers – hulle ken die winkel, voorraad en pryse goed, en kan die kinders maklik help. Deesdae loop die SwopShop-masjien net soveel gladder – ons help party dae tot 200 kinders binne ’n uur en ’n half sonder dat iemand aangejaag word.

Ons het nuwe, smaller rakke ingesit wat meer spasie gee vir al die lyfies wat wil kyk en koop. Hierdie rakke is ook laer en die kinders kan makliker sien wat beskikbaar is.

Die Kinderhoekie het in Februarie 2016 ontstaan. Dit is elke week anders, maar meestal speel die kinders so lekker dat ons hulle moet vra om te loop wanneer ons wil wegpak. Een van die groot treffers was swartborde. Hulle het later die bordkrytstof gebruik om hul gesiggies mee te poeier. Dit was kostelik om te sien!

Wat is julle boodskap ...

a. Vir die samelewing?

Elkeen van ons kan ’n verskil maak waar ons woon en werk. Elkeen se bietjie tyd, bietjie omgee en liefde, bietjie opoffering, word saamgegooi om iets mooiers en groter as die somtotaal van elke individu te maak.

Diepliggende verandering en groei vind plaas in die konteks van verhoudings, en dit is per definisie soms maar morsig, maar daar is nie ’n ander manier om te groei of om ’n ware impak te kan hê nie.

b. Vir die kinders (en ouers)?

Dit is wonderlik om te sien hoe gesinne saamwerk om die kinders te laat baat by die Recycle SwopShop. Dankie vir julle ondersteuning en vertroue. Mag ons aanhou om saam te leer en te groei sodat ons elkeen ons beste kan word.

c. Vir die vrywilligers?

“You rock the shop!” Sonder julle kan daar geen SwopShop wees nie. Baie dankie vir julle opoffering en toewyding, jul wonderlike gesindhede en liefde vir die kinders.

Ek veronderstel die projek groei soos wat die tyd aangaan en soos wat nuwe mense betrokke raak. Watter nuwe geleenthede is daar op die horison?

Korrek. Ons wil die tuin in ons hoekie van die skoolterrein oordoen om dit mooier en meer droogtebestand te maak. Daar is ook ’n nuwe “upcycling” projek in die pyplyn wat ’n ander Sedgefielder van stapel wil stuur. Ons sal heel moontlik help om van die materiaal wat hulle benodig te voorsien. Dit is wonderlik hoe die verskillende organisasies en projekte in Sedge saamwerk en mekaar ondersteun.

Lesers kan ons kontak by http://www.freshstart.org.za/contacts.

Foto's: verskaf

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top