Gemoedere loop hoog na moord op jong plaasbestuurder

  • 0

Gemoedere onder boere loop hoog na die wrede moord op die 21-jarige Vrystaatse plaasbestuurder Brendin Horner buite Paul Roux.

Horner se lyk is Vrydag gevind waar dit aan ’n paal op ’n oop stuk grond op die plaas De Rots vasgebind was. Hy het vermoedelik sy aanvallers betrap terwyl hulle vee op die plaas wou steel.

Die familieboerorganisasie Saai het hom Maandag by verskeie ander organisasies en partye geskaar wat die moord op Horner ten sterkste veroordeel. Saai het Maandag in ’n verklaring gesê hulle sal Dinsdag saam met gemeenskapslede voor die Landdroshof in Senekal hul simpatie met die Horner-gesin betuig.

“Suid-Afrika se landbougemeenskap was nog nooit so gefrustreerd en teleurgesteld in die staat soos nou nie. Ter wille van landelike stabiliteit moet die ANC sy standpunte oor en benadering tot plaasmoorde dringend in heroorweging neem,” sê Saai in hulle verklaring.

Die moord op die jong plaasbestuurder het nie net dwarsoor Suid-Afrika nie, maar selfs in Europa en Noord-Amerika opslae gemaak. Namate meer Engelse media oor die aard en omvang van plaasmoorde berig, word al ernstiger vrae gevra oor die humanitêre krisis, en die regering se hantering daarvan, sê Saai in hulle verklaring.

“Sedert president Cyril Ramaphosa in September 2018 by die VN se Algemene Vergadering in New York ontken het dat plaasmoorde in Suid-Afrika ’n probleem is, het blootstelling van die grusame voorvalle in buitelandse media verbasend toegeneem.”

Intussen is daar die naweek ook ’n 28-jarige jong man op die plaas Frischgewacht buite Groblersdal in Limpopo doodgeskiet. RSG berig die polisiewoordvoerder, Motlafela Mojapelo, sê die man se vrou het aan die polisie gesê dat sy kort na middernag in die eetkamer was toe sy geweerskote in die slaapkamer gehoor het waar hy geslaap het.

Saai beplan ’n tweede internasionale toer om met regerings in die Noordelike Halfrond te praat oor strategieë om die ANC te dwing om die probleem te erken en iets daaromtrent te doen.

Saai neem byna weekliks aan internasionale digitale konferensies oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding deel, en het dit verlede jaar in Rome by die loodsing van die VN se Dekade vir Familieboere as een van die knellendste vraagstukke in landbou in die Suidelike Halfrond beklemtoon.

Volgens die boereorganisasie het die ANC die klimaat geskep waarin wegholstatistieke vir plaasaanvalle (gemiddeld elke tweede dag sedert 2000) en plaasmoorde (gemiddeld elke vyfde dag sedert 2000) ’n enorme ekonomiese en maatskaplike krisis in die platteland teweeg gebring het.

“Dit was die ANC wat met “Kill the farmer, kill the boer” begin het; dit nog nooit verwerp of afgesweer het nie, en nou in geen posisie is om die EFF daaroor vas te vat nie. Dis ook die ANC wat die probleem ontken en in die parlementêre debat oor plaasmoorde die mees onsensitiewe, aanhitsende en skokkende tussenwerpsels daaroor geskree het. Dit is wat aan die internasionale gemeenskap blootgelê moet word,” sê Saai.

Die minister van polisie, Bheki Cele, word deur Saai as deel van die probleem uitgesonder. Hulle sê sy optrede ná die ewe grusame moorde op die Rafferty-egpaar op hulle familieplaas in Normandien in KwaZulu-Natal het die gemeenskap verder op ’n rassegrondslag gepolariseer.

“In plaas daarvan om ’n dinamiese landelike veiligheidsplan in vennootskap met plattelandse gemeenskappe en georganiseerde landbou van stapel te stuur, dwing die polisie boere om vir ’n onbeperkte tyd hul wapens in die administratiewe proses van herlisensiëring in te handig, en dit laat hulle juis meer kwesbaar in ’n tyd waarin hulle dit die minste kan bekostig.”

Die verskonings dat boere self vir plaasmoorde verantwoordelik is omdat hulle hul werkers mishandel, is volgens Saai nog nooit deur voorvalle, feite of navorsing ondersteun nie, en is tekenend van die ANC se aandadigheid in die skep van ’n klimaat waarin plaasmoorde gedy.

“Om die krisis van plaasmoorde op te los, moet die ANC eerstens die probleem erken en prioritiseer. Dan moet hulle terselfdertyd ’n spesiale multidepartementele taakspan van veiligheidsamptenare wat bo verdenking is op die been bring om in vennootskap met burgerlike strukture en privaat sekuriteitsmaatskappye ’n landelikeveiligheidsplan te implementeer, en onafhanklike navorsing laat doen om die dryfvere, tendense en ongesonde beleidsklimaat wetenskaplik te ondersoek.”

Lees ook

Cele ontketen ’n storm met uitlatings oor plaasmoorde

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top