Gin en Nederlandse herkoms by Afrikaanse kunstefees gevier

  • 0

As jy gaan kyk na die afgelope paar jaar se gin-malligheid wat ook Suid-Afrika beetgepak het, kan jy nie anders as om te gaan kyk waar presies gin, of jenewer, sy oorsprong gehad het nie. Ons het natuurlik vir Nederland hiervoor te bedank.

By vanjaar se Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees wat die afgelope 16 jaar op Mbombela, sowat drie ure buite Johannesburg gehou word, het een vertoning hulde aan gin se Nederlandse oorsprong gebring, terwyl gaste in die gehoor deurentyd aan ’n glasie ClemenGold Gin kon teug.

Feesgangers kon tydens die vertoning aan ’n glasie ClemenGold Gin teug.

ClemenGold Gin roem op sy sonryp geur van ClemenGold-sitrus (’n stroopsoet nartjie wat in die Laeveld-streek rondom Mbmombela groei) en wat in dié gin wat deur Hope on Hopkins Distilleerdery in Kaapstad met nartjieskil gedistilleer word, geproe kan word.

“De heerlijkste dingen in het leven maken je vet, dronken of zwanger, en dat is toen waar de problemen begonnen”, sing Natascha C, want die gin-proeëry is afgewissel met De heerlijkste dingen in het leven deur die Laeveldse kunstenaars Natascha C en Henry-John Williams. Natascha C het buiten haar eie lirieke ook dié van onder andere Herman Van Veen en Edith Piaf gesing. Natascha is al van die eerste fees 16 jaar terug, een van die kunstenaars wat optree.

Natascha C sing haar hart uit in ’n Piaf-liedjie.

Die vertoning is heel gepas in die Nelspruit Laerskool Kultuursentrum gehou, want gin en musiek is immers deel van die Afrikaner se kultuur.

Natascha sê haar liefde vir Hollandse musiek en lirieke kom uit die klanke van Brell, Piaf, Shaffy, List, Van Veen en ander, waarmee sy grootgeword het en haar hart raak en haar emosies verwoord.

“In melodie kan jy hartseer, vrolik, stuitig, sensueel, kwaad, passievol of hoe ookal jy voel, uitdruk. Ek voel ek kan in Nederlands my lirieke rou en onpretensieus kwytraak. Dit is my taal.”

Beide Natascha se ouers is Nederlands. Hulle het mekaar in Suid-Afrika ontmoet — haar ma was maar 15 jaar oud en was hier saam met haar familie, want haar pa het op kontrak vir die Departement Bosbou op Sabie gewerk.

“My ouers het getrou en is saam weer terug Holland toe; maar een maal op vakansie in Suid-Afrika is ek toe effens te vroeg gebore en dus amper per ongeluk hier gebore. Ek is ’n pure Boerenooi met ’n Nederlandse hart.”

Die gesin het ook in Griekeland gewoon en gewerk, voor hulle terug is na Goes in Zeeland, sodat Natascha haar skoolloopbaan kon begin. Al haar familie woon nog daar — haar oorlede ma se familie in die noorde naby Den Haag en haar pa se familie in die suide, in die Zeeland-area.

Haar pa is ’n bouer en die gesin keer terug na die suide van Afrika, toe Natascha ’n opgeskote dogtertjie was. Sy voltooi haar skoolloopbaan op Mbmombela en vertel dis danksy geduldige onderwysers en televisieprogramme in Afrikaans, dat sy die taal onder die knie gekry het.

“Die onderwysers was baie geduldig met die vreemde Hollandse dogtertjie, met al haar eiewyse idees wat heeldag loop en sing en konsert-hou het,” vertel sy laggende.

Hulle het weer vir twee jaar in Nederland gaan woon, voor sy haar skoolloopbaan voltooi het en sedertdien het sy as volwassene ook weer twee jaar daar gebly.

Sy kom uit ’n musikale familie: haar oupa aan haar pa se kant was ’n dirigent van ’n enorme koor en orkes en haar pa en sy drie susters het almal gesing en instrumente bespeel in dié orkes, wat destyds selfs ’n plaat laat opneem het.

Haar ouma aan moederskant was ’n konsertpianis tydens die Tweede Wêreldoorlog en haar ma en haar sewe broers en susters sing almal, speel kitaar, ukeleli, mandolien en banjo. “Dus sing ek al my hele lewe, maar ek het ná my kinders gebore is, in 2000, voltyds begin sing en optree.”

Sy het ook die afgelope 12 jaar ’n sangskool met ’n handjievol studente.

Natascha en Henry-John se paadjies het sowat 13 jaar gelede ontmoet toe sy maatskappy haar bespreek het vir ’n optrede. “En dinge het so oor die jare ontwikkel en alhoewel ek baie van my musiek self skryf en toonset, is ek nie ’n wafferse pianis nie, maar Henry-John wel en het hy magic gemaak van amper als wat ek geskryf en gekomponeer het,” vertel sy.

Natascha en Henry-John het gewoonlik ’n langer, onafhanklike vertoning, maar die afgelope twee jaar skryf sy die produksie spesifiek om met gin te geniet. “Behalwe dat die ClemmenGold-span ’n fantastiese groep mense is om mee saam te werk, dink ek gin is ’n fynproewer-drankie en lok dit miskien ’n meer selektiewe gehoor, wat dalk ’n meer ontwikkelde smaak het — nie net vir gin nie, maar ook vir die kunste en teater.” Vanjaar het Henry-John meerendeels die teks geskryf en sy het die musiek by die teks aangepas.

Die Laeveldse kunstenaars Natascha C en Henry-John Williams, wat die gin-proeëry afgewissel het met hul vertoning, De heerlijkste dingen in het leven.

Sy en Henry-John tree landswyd op en hul groot droom is om eendag in Europa te kan optree.

“My groot liefde is kleinteater en kabaret en ek het oor die jare al 12 toneelstukke geskryf en opgevoer, waarvan die meeste altyd Nederlandse teks bevat en natuurlik ook die Nederlandse-, Franse- en Afrikaanse hartsmusiek.

“Van my vorige produksies was onder meer Oma Dekkers, my oumagrootjie se lewensverhaal en haar stryd om oorlewing as enkelma van twee tydens die Tweede Wêreldoorlog; of Gee my oor aan die Nag oor die lief en leed en al die passies van die lewe.

“Ek is oneindig dankbaar dat ek my só kan uitleef in my werk.”

Die volgende Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees word einde Junie 2020 gehou.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top