
Juandré Bruwer van Diemersdal met ’n WineGlobe
Glashouers is die nuutste gonswoord in die wynbedryf om wyngeure so suiwer en kultivar- en terroirspesifiek moontlik te hou. Wynmakers se soektog om die geure van elke druifkultivar in hul wyne te behou, het deur die jare vir eksperimente met houers van uiteenlopende materiaal gesorg. Groter houtstukvate wat duisende liters wyn kan huisves; ovaalvormige sementeiers; en amfora word almal deur wynmakers beproef in hul nimmereindigende soeke na die ideale houer, om te verseker dat hulle wyn so suiwer en ongemanipuleerd moontlik by verbruikers kan aankom.

Johann de Wet van De Wetshof, Thys Louw van Diemersdal en Peter de Wet van De Wetshof
Diemersdal-wynlandgoed in Durbanville is bekend vir hul uitstaande Sauvignon Blanc en vir die landgoed se derde geslag wynmaker en eienaar Thys Louw se baanbrekerswerk met style en tegnieke. Hy en sy wynmaakspan, onder leiding van Juandré Bruwer – vanjaar se Kampioen-wynmaker van die Jaar by die Investec Trophy Wine Show – gebruik die afgelope paar jaar WineGlobe se glashouers van 220 liter elk om Sauvignon Blanc-wyne in te gis en ’n paar maande lank op die moer te laat lê.
Ons het verlede jaar die voorreg gehad om Suid-Afrika se heel eerste Sauvignon Blanc uit ’n glashouer op die plaas te gaan proe. Die Diemersdal The Globe Sauvignon Blanc 2024 het binne enkele weke uitverkoop.
Wat die WineGlobe bo enige ander houer in ’n kelder laat uitstaan, is dat dit die wynmaker in staat stel om te sien wat van gisting tot veroudering aangaan. Glas is ook ’n 100% neutrale houer wat geen lug in die wyn toelaat nie en geen verdere invloed op die wyn in terme van tekstuur en geur het nie.

Isca Viljoen (hoofsjef: Galjoen), Anouchka Horn (eienaar en sjef) en Neil Swart (eienaar en sjef) van die Belly of the Beast-restaurantgroep, waaronder Galjoen val. (Foto: Claire Gunn)
Net meer as ’n jaar later is ons weer bevoorreg om by nog ’n eerste te wees: ’n wynproe van Thys se nuutste oesjaar van die Diemersdal The Globe Sauvignon Blanc en Suid-Afrika se eerste WineGlobe Chardonnay, die De Wetshof The Shard Chardonnay 2025, by Galjoen-restaurant in Harringstraat in Kaapstad.

Die twee wyne wat geproe is.
Thys vertel: “Ons was in 2022 in Frankryk en my gunsteling-witwynprodusent Didier Dagueneau in Pouilly-Fumé het ’n hele hoekie of klein keldertjie vol van hierdie glashouers gehad. Dit was eenvoudig pragtig.
“My benadering tot wynmaak is dat eikehout nie deel van my werk is nie: Eikehout kom nie van die wingerd af nie; hout is ’n eksterne geur. Roesvrye staal is ’n geleier, so dit is ook nie heeltemal natuurlik nie, terwyl glas die suiwerste manier is om wyn te maak sonder enige eksterne invloed.
“Ons hou die wyn vir ’n jaar in die glashouers en roer nie die gis om nie. Dit staan as bâtonnage bekend. Ons bottel die wyn en hou dit vir nog ’n jaar in die bottel voordat ons dit vrystel. Dit is dus ’n witwyn wat kan verouder, wat nie baie algemeen is in Suid-Afrika nie, maar gelukkig begin toeneem. Ons is immers ook skuldig daaraan dat mense Sauvignon Blanc baie vroeg drink en nuwe oesjaar-vrystellings vroeg doen.
“Hierdie wyn is juis daar om die verouderingspotensiaal te wys en om te wys wat terroir uit ’n ou droëlandwingerd kan gee; van wortels wat ses meter diep afboor en al die minerale en geure uit die grond haal en alles in daardie glasbol kombineer. Geen bygevoegde gis nie, geen bygevoegde suur nie; net natuurlik en so suiwer as wat jy dit kan kry.”
Hy het vertel dat ongehoute wyn is na sy mening die naaste wat jy in Suid-Afrika aan Sancerre kan kom. Die kalkerigheid en vuursteeneienskap wat jy kry. “Ek wil wys hoe Sauvignon Blanc in ’n Sancerre-styl kan verouder sonder enige hout. Met die 2023-oesjaar was ek nog nie heeltemal tevrede nie, maar met 2024 dink ek het ons die styl wat ons wil hê, perfek getref.”
Thys gebruik allerhande opsies vir sy wye reeks Sauvignon Blancs – van eikehout, vlekvrye staal tot glas, en vind glas die suiwerste. “Ja, hout gee ’n ander styl: meer kompleksiteit, groter mondgevoel, meer romerigheid, maar die suiwerheid van hierdie wyn in glas, vergeleke met staal of klei, was net ongelooflik. Dit gaan oor die vasvang van ’n ander uitdrukking – en in ons boek, die suiwerste uitdrukking. Dit is wat ons probeer wys: absolute suiwerheid van vrug en die absolute suiwerheid van die plaas se vingerafdruk.”
Die lekker ding van ’n WineGlobe is dat dit vir ’n leeftyd hou. ’n Eikehoutvat moet jy elke vyf jaar vervang, maar ’n glasbol hoef jy nooit te vervang nie. Daar is baie mense, veral in Bordeaux, wat dit nou op rooiwyne gebruik. Hulle verkoop nou selfs meer aan rooiwynprodusente as aan witwynprodusente!

Johann de Wet van De Wetshof met die WineGlobes op hul plaas buite Robertson.
Johann de Wet vertel: “Thys het my gebel en gesê: ‘Luister, ry deur. Jy moet dít kom proe.’ Ek en my broer Peter en ons bemarkingsbestuurder Bennie Stipp het Durbanville toe gery. Ons het gedink ons gaan iets interessants proe en ’n lekker middagete geniet en dis dit. Ons het die wyne geproe en net ’n week later het ons ons eie glashouers bestel!
“Ons het eenvoudig iets unieks in die wyne uit glashouers geproe. Die 2024-Chardonnay uit glashouers kom van die kleinste wingerdblok op ons plaas, wat ook die blok met die heel hoogste kalksteeninhoud is. Waarna Peter en ek gesoek het toe ons dit in die glashouers gesit het, was suiwer mineraliteit. Ons wou die vingerafdruk van Robertson vasvang – die essensie van wat Robertson-wyne só mooi maak.
“Een van die wonderlike dinge van ons streek is dat ons uit ’n ongehoute oogpunt iets skouspelagtigs kan doen. Ons kan kompleksiteit, struktuur en diepte kry met ongehoute wyne. Om dit in ’n glashouer te sit, was vir ons ’n manier om daardie selfde uitdrukking uit die kalksteenryke wingerd te neem en te vra: Hoeveel verder kan ek dit neem? Hoeveel nader aan die ligging, die terroir en die vingerafdruk van die plaas kan ek kom?
“Dit was die hele filosofie agter ons benadering. Dit is ongehoute Chardonnay met die absolute suiwerheid van die vrug; die absolute mineraliteit op die neus; en die diepte van mineraliteit wat jy kan kry. En dan het jy hierdie pragtige lae en kompleksiteit met tipiese Chardonnay-karaktereienskappe. Dit is die wonder van glas.”
Albei plase het nou vyf van die glashouers.
Ligte gewig, maar ’n swaargewig prys
Dis later ná middagete dat Johan meer vertel: “Die glashouer staan op ’n plastiekvoetstuk en weeg slegs 50 kilogram, so dis maklik om dit in die kelder rond te skuif. Teen 4 000 euro kos ’n WineGlobe egter vier keer meer as ’n gewone wynvat. Diemersdal en De Wetshof het elk vyf WineGlobes.”
WineGlobe is beskikbaar in groottes van 25 liter, 60 liter, 115 liter, 220 liter en 400 liter. Dit word van borosilikaatglas gemaak, wat die sterkste en mees weerstandbiedende glas beskikbaar is.
“Glashouers word as die volgende groot neiging in wynkunde beskou – en nie net omdat dit so fantasties mooi lyk in die kelder nie,” sê Johan Conradie, wat WineGlobe-houers van Frankryk invoer. “In Frankryk is daar baie geëksperimenteer en baie navorsing gedoen voordat die houers onlangs in gebruik geneem is. Wynmakers is in hul noppies met die resultate wat betref die onbelemmerde en presiese suiwerheid wat dit aan die wyn gee.
“Dis die enigste houer wat geskik is vir elke wynmaakstap, van vinifikasie tot langtermynveroudering.”
Johann de Wet erken dat hulle by De Wetshof nie mal is oor klei- of terracottahouers nie. “Ek weet ek gaan nog in die moeilikheid kom hieroor, maar ek glo die enigste rede hoekom jy kleipotte of terracotta gebruik, is wanneer jy baie besoekers in jou kelder kry, want dit lyk baie cool.”
Gelukkig is die glashouers nou selfs cooler!
Galjoen
Selfs die keuse van restaurant vir hierdie lekker proe, Galjoen, is belangrik, want die soektog na ongedwonge suiwerheid eindig nie in die kelder nie – dit leef voort op die bord.

Die snoek-broodrolletjies word in snoekpatee gerol, voor dit kans kry om te rys en gebak word.
By Galjoen fokus sjefs Neil Swart, Anouchka Horn en Isca Stoltz uitsluitlik op volhoubare, plaaslike seekos uit Suid-Afrikaanse waters en die behoefte aan presiese, onbelemmerde wyne is groter as ooit.

Dun skyfies vis waar die see se geure op jou tong dans.
Isca sê om geregte soos varsgevangde geelstert, Saldanhabaai-oesters of tradisionele mossels voor te sit sonder dat die natuurlike mariene geure oorheers word, vereis ’n pasmaat-wynspyskaart van gelyke integriteit.
Net soos ’n WineGlobe-geskepte Sauvignon Blanc en Chardonnay die minerale en natuurlike karakter van die terroir ongeskonde hou, sorg Galjoen se deurdagte wynpasmaatspyskaart dat elke glas wyn die fyn balans van die Kaapse kuslyn aanvul.
- Die twee wyne verkoop tans vir onderskeidelik R750 en R800 per bottel, want die hoë koste en broosheid van die glashouers is tans beperk tot ultra-premium, kleinskaalse, eksperimentele en beperkte uitgawe wynreekse.
Foto’s: Clifford Roberts en Claire Gunn (gemerk)
Lees ook:
Storie van Pinotage is vervleg met vriendskap en pioniersgees
