Groot Karoo sluk jou holderstebolder in

  • 0

Die Karoo met sy vlaktes, lae heuwels en byna swart voorkoms as jy in die verte tuur, is allesbehalwe dor, onherbergsaam of oninteressant, het Maryke Roberts weer opnuut ontdek met ’n besoek aan Roam Private Game Reserve duskant Prins Albert en Beaufort-Wes en naby De Rust.

Toe ons al die varsgebakte brood van die Swartberg Hotel op Prins Albert kan ruik, speel die bekende oorlede sanger Johannes Kerkorrel se “Halala Afrika” op ons Spotify-speellys. Die wolkies lê laag oor die Karoobossies en gooi interessante patrone oor die vlaktes. Dit lyk soos spierwit spookasem waaraan reuse gepluis het.

Toe die wêreld hier nog jong was en die horison wyd en oop
Was dit groen hier in die halfrond, suid van die ewenaar
En in die skemer as die son sak en die beeste huis toe loop
Klink die roepstem van die vrouwe oor die heuvels van die land:
Halala, ewig is ons Afrika.
Tula tula mtanami, tula tula sanaboni, tula tula mtanami,
Ubab uzobuya sihlale naye, ubab uzobuya sihlale sonke, Hmmm-Hmmm.

Die windjie speel met my hare. My gedagtes loop ver. Teen ’n heuweltjie spel wit klippe die dorp se naam uit. Ons stop vinnig by Gay’s Dairy vir ’n dubbeldik drinkjogurt met swartkersies in voor ons die laaste uur se ry na Roam aandurf.

Ons is bly toe die Roam-bordjie links op die N12-teerpad opdoem. Gaste los hul voertuie by die herehuis en die wildkykvoertuig neem jou na die rietdaklodge om in jou kamer nes te skop.

Voor ons eerste rit wys Donovan de Swardt (reservaatbestuurder) op ’n kaart waar ons is, want die lodge lê etlike kilometer van die pad en mens moet jou oriëntasie weer instel. Donovan en sy vrou, Abigail, is al sedert 2017 by die lodge en albei in bestuursposte, maar ook saam met die nuutste bestuurders, Bronwyn en Stuart Dunlop, meestersgraad-ekoloë met verskillende spesialisasies in natuurbewaring en verwante onderwerpe. Dus geen gewone veldgidsinligting wat met gaste gedeel word nie.

Die eerste wildrit is laatmiddag, ’n uur of wat na ons arriveer het. Ons ry op een wildkykvoertuig saam met Donovan en gou is dit duidelik dat hy nie bloot ’n uitstekende gids is nie, maar sy kwalifikasies, wye belangstelling en noue betrokkenheid by wildbewaring en -rehabilitasie laat ons aan sy lippe hang.

Ons sien buffels, kameelperde en ’n meerkatgesin, maar hy stop by elkeen en vertel ons nie net van die spesie nie, maar ook hoe hulle by Roam beland het. Die laatmiddagsonnetjie omlyn al die diere met ’n fyn goue skynsel en die temperatuur val vinnig.

Volhoubare rehabilitasie is duidelik sy én die eienaar van die 5 500 hektaar-reservaat, Denis Post, se passie. Ek was al op vele wildritte, maar nog nooit het ek soveel konteks en insig in die bewaringsprojekte van nasionale en privaat wildreservate gekry nie. Dis ook moeilik om te glo dat die reservaat skaars agt jaar gelede nog ’n jagplaas was en voor dit ’n skaapplaas, want dit lyk asof die diere nog altyd hier was. Donovan verduidelik dat hulle net diere wat oorspronklik hier voorgekom het, terugbring. “Ons moet ook die veld se dravermoë baie goed bestuur, om al die diere se voortbestaan te kan verseker en die korrekte aantal van elke spesie aan te hou.” Hy probeer op die maklikste manier die formules verduidelik, maar net die rekenmeester heel agter op die voertuig hou by!

Meerkatte wat as deel van ’n Noord-Kaapse rehabilitasieprojek uit die onwettige troeteldierhandel gered is, het hier in hul eie ondergrondse tonnels kom nesskop, en kamerastrikke hou wag oor hul vordering. Die reservaat is deel van die Suid-Afrikaanse Jagluiperd-metabevolkingsprojek wat deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) bestuur word. Ook bokke en ander diere wat elders deel van teelprogramme is, kry hier ’n tuiste om diversiteit te verseker. Roam se drakapasiteit kan vyf jagluiperds akkommodeer.

Rooibekkwelea

Ons soek nog ’n plekkie om ons sonsaksopies te geniet toe Stuart op pad huis toe iets gewaar. Hy vertel vir Donovan oor die radio en die opwinding op sy gesig om ons te verras is duidelik. Ons ry die paar honderd meter en Donovan klim byna in die ry op sy sitplek om ons gesigte te sien as ons die jagluiperds in die oog kry. Dis magies om daar te sit en na die grasieuse diere te kyk. En om te weet ons kan môre weer terugkom en hulle hopelik langer gadeslaan.

Vir drie dae is die enigste besluite wat ons as gaste moet maak, hoe laat ons wil eet, hoe laat ons wil ry vir wildritte, en wat ons saam met die etes wil drink.

Met sonsondergang staan die voertuig en sy sewe passasiers iewers in ’n oopte met ons drankies. Dis koud in die veld, terwyl die son se laaste strale goue spatsels teen die hemelruim gooi. Donovan maak vir ons Naughty MochaChocas – ’n konkoksie waarvoor hy self die naam uitgedink het – en hy verduidelik dat dit uit warm sjokolade, koffie en ’n goeie skeut Amarula-likeur bestaan.

Met ons terugkeer saans staan ’n ererytjie groen lanterns weerskante van die pad.

Ná elke rit wag Bronwyn of Abigail ons met warm lappies en gemmertee of sjerrie in. Dis nou bederf op sy beste! Die vuur brand binne, en buite staan sewe seilstoele om ’n vuurput gereed, die vlamme lekker hoog teen die gitswart nag toe ons met rooiwyn en whiskeys gaan sit.

Ons eet ons knuppeldik en gaan sit dan weer by die vuur om sterre te kyk met ’n sjerrie in die hand, en dan glimlag ek weer stil oor die dag wat verby is.

Tussen die diere kyk, sien ons voëls en plante, en Donovan beantwoord een van die gaste se vraag oor wat alles eetbaar in die veld is met: “Daar is baie goed in die Karoo wat jy kan eet, maar nie almal smaak ewe lekker nie. En jy kan alles ten minste een maal probeer ...” Ons lag vir sy humorsin, maar besluit in die stilligheid om nie aan enigiets te kou wat nog groei nie!

Ons stap een oggend tot tien meter van die jagluiperd-ma en haar drie tiener-welpies en kyk in verwondering hoe hulle ’n springbok verorber.

Dis so stil dat ons kan hoor hoe die welpies tussen hul vreetsessies deur, purr as hulle op hul rûe in die son rol. Ons neem aanvanklik foto’s, maar gou laat sak almal hul kameras of slimfone en word net deel van die ervaring.

Ons stop vir 'n leë skilpaddop. “Dead Fred,” vertel Donovan. Die skubbe het al afgeval en dis die eerste maal dat ek die wit been sien, en van binne die ribbebene in die skelet.

In die Karoo is die verrotting of afbreekproses erg vertraag, want jy het koue en vog nodig en laasgenoemde is maar skaars. Die dop kan al 40 jaar hier lê, verduidelik Donovan. Die Karoo het sy eie tyd, gewis.

Dit is sekerlik die beste manier om die kuier op Roam te beskryf – die natuur trek jou in soos dryfsand en maak jou met elke asemteug nog meer deel van elke bossie en klippie.

Tussen wildritte slaap sommige gaste, ander speel kaart of sit in die verhitte klein swembadjie en kyk uit oor die watergat. Daar kom nie baie diere nie, want die veld het baie waterpoeletjies, maar die stilte, drywende wolke en voëlgesang trek stadig die stres uit jou gebeentes en vervang dit met vrede.

Die laaste oggend is net die helfte van ons op ons pos; die ander gaste slaap laat of is onderweg na ’n volgende ervaring. Ons gaan saam met Donovan voëls ring. Die nette by die watergat is op en deur die loop van die oggend vang ons tien voëls. Elkeen word versigtig uit die net gehaal en in ’n materiaalsak geplaas tot dit sy beurt is om die data neer te pen. Die vlerk-, bek- en stertveerlengtes word aangeteken, die vlerkvere beskryf en dan word die voëltjie sonder seremonie kop eerste in ’n klein plastiekhouertjie gesit om die klein lyfie te weeg. Elke gas kry ’n beurt om twee voëls te ring en dan vry te laat.

Tussendeur deel Donovan brokkies oor die navorsing wat al gedoen kon word met die data wat gekwalifiseerdes soos hy inwin. Daar is 155 mense in Suid-Afrika wat gekwalifiseerd is om voëls te ring en drie van hulle werk en woon op Roam. Hulle bly aan die voorpunt van ontwikkeling, weet selfs hoeveel stres die proses op voëls het en hoe gou hulle weer van dié skok herstel.

Alle inligting word teruggestuur na SAFRING, wat by die Universiteit Kaapstad gesetel is. Dis net minder as 48 uur later toe ons weer deur die reservaat se hek uitry. Maar ons is anders. Jy kan nie so deur die natuur ingesluk word, sonder om ’n metamorfose te ondergaan nie.

En ook weer opnuut te besef dat dit nie die Groot Vyf verg om jou in verwondering oor Afrika en meer spesifiek die Groot Karoo te laat nie.

Bespreek jou kopskoonmaak-tyd by Roam Private Game Reserve by www.roamthekaroo.co.za.

  • Woorde: Maryke Roberts
  • Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top