Groot Vyf nie al wat jou asem hier sal wegslaan nie (Mhondoro Safari Lodge & Villa, Limpopo)

  • 0

Ek kan lang liriese sinne skryf oor ons onlangse kuier by Mhondoro Safari Lodge & Villa in die Limpopo se Waterbergplato, 02:45 se rit of ’n 50 minute-vlug van Johannesburg se OR Tambo Internasionale Lughawe.

Ek kan skryf oor hoe die olifante uit die soutswembad kom water drink terwyl gaste swem; of hoe ons na leeus staar met die son wat oor die veld ondergaan en alles met fyn goue skaduwees kus; of hoeveel mooi – en gevaar – daar in ’n trop buffels is; of die heerlikheid om bruinhiënaspore in die stofpad te sien en te begin soek. Of ek kan vertel van boma-etes onder die Afrikanag met die kloppende ritmes van tromme saam met klokhelder stemme; rooiwyn uit die Kaap en kos wat jou amper jou vingers wil laat aflek.

Die vlamme by die boma-ete dra by tot jou gevoel van verganklikheid en nietigheid nadat jy die sterre en planete gesien het.

Uit die klipstort onder die sterre voel jy nader aan die natuur.

’n Mens vergeet die magiese aantrekkingskrag van ’n trop buffels, maar ook hoe gevaarlik hulle kan wees.

Hoe lekker om as toeris onder die Afrikasonsondergang of -sterrehemel om ’n vuur te kan sit en eet en aan Kaapse wyn teug?

Of ek kan uitbrei oor die mooie dekor; die aandag aan detail in elke vertrek, van die sitkamers tot die spa of gimnasium. Of die koel, gegeurde lappie met jou aankoms; die gul glimlagte van personeel en die opwinding van ’n wildrit met ’n entoesiastiese gids.

Maar dit sal dit maar dan soos enige ander wildkykstorie laat lees.

Ek wil eerder vertel van drie uitsonderlike ervarings wat ons daar onder die bosveldsterre en vroegoggendsekelmaantjie in die verte gehad het.

Maar darem eers agtergrond: Mhondoro is op die 36 000 hektaar-Welgevonden Wildreservaat, is die tuiste van die Groot Vyf: leeu, luiperd, buffel, renoster en olifant, en bied ’n toevlugsoord aan meer as 50 verskillende soorte soogdiere, 2 000 plantspesies en 350 voëlspesies. Dit vorm deel van die Waterberg Biosfeerreservaat en is malariavry.

Ons het tydens ons besoek ook van die Groot Vyf gesien, maar dis die rare ervarings wat ’n baie groot indruk gemaak het.

Die reservaat is ’n samesmelting van Afrika-sjiek en Europese ontwerpinvloede, want dis ’n Nederlandse egpaar, Frank en Myriam Vogel, se liefde vir die bos wat hulle hier laat koop het. Hulle wou ’n spesiale plek skep waar die natuur vir toekomstige geslagte bewaar kan word.

Hierdie mooi woorde een aand op my kussing som die bosgevoel so mooi op.

Hulle woon naby Amsterdam en Frank is ’n finansiële spesialis en projekontwikkelaar, en Myriam  ’n binnenshuise ontwerper en eienaar van All In Living. Dis Myriam wat vir die lodge se keurige dekor verantwoordelik is.

Die lodge kan net 24 gaste akkommodeer, maar het verskeie verblyfopsies vir van gesinne tot wittebroodpaartjies, en niemand hinder mekaar nie. En terwyl jy langs die swembad ontspan, kyk die span na jou kinders in ’n toegewyde opelugspeelarea wat deur ’n olifantheining beskerm word, en ’n binnenshuise speelkamer met speletjies.

Welgevonden is in privaatbesit en is in 1993 in ’n bewaringsgebied omskep waarin verskeie plase saamgevoeg is en die voormalige beesboerdery oorgeskakel is na wild. Jy ry ongeveer ’n uur van die hek na die lodge en daar is verskeie ander lodges en privaatwonings in die reservaat, maar jy sal dit nie maklik sien nie.

Terug by ons ondervindinge. Dwayne Gonsalves is ons gids tydens ons verblyf en werk al die afgelope vier jaar daar.

Dwayne stap altyd voor om seker te maak ons is veilig en beduie interessanthede op die grond, nadat hy die omgewing deeglik bespied het.

Dwayne deel graag sy kennis oor plante, bome, diere se patrone in die sand en waarom hulle dit doen.

Hy knip ons wildrit een aand effe kort, sodat ons betyds kan wees vir die sterrekyk voor aandete. Ons het toe al die vorige dag of wat heelwat leeus, renosters, olifante, buffels, wildebees, kameelperde en verskeie boksoorte gesien. Hy het plante en insekte en voëls uitgewys, hul gewoontes verduidelik en ons geleer van die klimaat en die omgewing. Dis suurveld, met baie ondergrondse water, maar nie baie voedsame weiding nie, daarom vind jy meer renoster, wildebees en sebra as impala daar.

’n Mens is voortdurend bewus van die ondergrondse water met breër strome en groen bome en ook kleiner stroompies in die veld.

Ons gaan sit almal met drankies en ’n kombers op die verhoogte platform agter die lodge. Dis pikdonker daar en ideaal vir sterrekyk. Die oulike bankies het gerieflike rante waarop jou nek kan rus. Die sterrekyk word waargeneem deur een van die gidse Andrew Kirton, maar dis die sterre wat sy oë waarlik laat blink.

Die 2000 mm-Celestron-teleskoop staan in die middel. Hy vertel: “Ons noem die teleskoop Celeste.” Hy stel die teleskoop in en ons kry elkeen ’n beurt om na die Melkweg en ’n paar planete te kyk. Jy kan aanvoel elkeen word op ’n ander manier geraak deur die duidelike prentjie van iets wat miljoene ligjare weg is en altyd net op foto’s sigbaar is.

Daar is stilte onder die gaste tussen dié heilige kyke.

Jou ore is ingestel vir die naggeluide. Die donker roof jou van jou sig, maar dit verskerp ander sintuie. Dis ewe skielik asof jy die veld in al haar glorie kan ruik, amper op jou tong kan proe.

Die veld op die Waterbergplato is geskik vir sebras, renosters en buffels, want dis nie baie voedsaam nie.

Die drie renosters wei so ’n entjie voor ons in die veld. Ons sit almal op ons hurke op ’n veilige afstand en uit die wind om ons teenwoordigheid te beperk.

Ek moet met Andrew saamstem: “Voorheen het ek dit net in boeke gesien, tot Celeste my gewys het.” Ek het begrip vir daardie amper besitlike trots. Want Celeste het nou vir my ook gewys.

Dis ’n ander mens wat daardie aand op my balkon sit en na die naghemel staar. Hoe sal ek ooit weer na die flonkerende sterre kan kyk, sonder om te onthou dat dit eintlik planete is – soms selfs groter as ons eie planeet – sonder om ooit weer só nietig te voel?

En dis met Dwayne se woorde wat ek bed toe gaan: “Die bos sal die storie vertel as jy die legkaart begin bou...” Dit geld vir die heelal en haar blink nagjuwele ook.

Die volgende dag is dit tydens middagete by die hooflodge (ons het in die afsonderlike privaatvilla gebly) dat die tweede bosstorie aan ons vertel word. Ons sit en smul aan bees carpaccio en tuisgebakte brood met gekaramelliseerde uie, terwyl die son deur ons yskoue Sauvignon blanc patrone op die tafel gooi. In die hangstoele neffens ons sit twee ander toeriste en kuier oor gin en tonic. Dis warm, die bos is stil en daar gaan niks aan nie.

Asof deur ’n choreograaf georkestreer, kom ’n renosterkoei met ’n klein kalfie na die watergat aangestap. Die watergat is reg langs ’n ondergrondse skuiling gebou. Eers lyk dit of hulle gaan omdraai, maar toe druk hulle deur en kom staan op die rantjie van die water.

Al die gaste los hul kos en drankies en draf by die trappies en daarna die lang gang af. In die skuiling is die twee reusediere op ooghoogte te sien.

Die magiese stilword terwyl ons vanuit die ondergrondse skuiling na die renosterkoei en haar kalfie kyk, is iets wat my lank sal bybly.

Twee bosluisvoëls pik in die koei se oor. Sy flap-flap die voël effe ongeduldig weg, maar haar aandag is eerder by haar klein kalfie. Haar ore hou nie vir ’n sekonde op om in alle rigtings te luister nie. Dis soos groot, bak antennas ingestel op elke kraak of klapgeluid in die veld.

Hulle staan doodstil; hul lippe raak aan die water, maar hulle drink nie. Die tyd gaan staan so saam met hulle stil. Ons kyk met opgehoue asems, te bang ons maak ’n geraas en versteur die ma-en-kalfie-paar. Hul lywe weerkaats in die amper doodstil vlakwater. Lank staan hulle so en dit lyk nie of hulle water drink nie.

Die kalfie draai later om en stap weg. Die ma draai om en hulle is agter die sementrant versteek. Ons dink die oomblik is verby en stap terug by die trappe op na ons middagete toe.

Op die stoep kyk ek egter weer na die paartjie. Die kalfie maak sulke amper tjankgeluidjies en haar ma gaan lê op haar sy en die kalfie lê ook op haar sy en begin drink melk.
Die gedempte “oe’s” en “aa’s” vanuit die stoep waar die afstand verder is en ons hoop dit nie die skouspel sal onderbreek nie, maak my hart sag en trots, veral omdat ek my kan indink hoe die twee Spanjaarde langs my moet voel. Dis mos wat jy in Afrika wil kom ervaar!

Die laaste oggend is ons tasse gepak, die vliegtuigsitplek vir later die middag bevestig. Ons het ’n vroegdagstaptog saam met Dwayne. Hy is gewapen en gee aan elkeen ’n gemaksakkie vir ’n bospiepie (plastieksakkie met waterlose handreiniger en toiletpapier) wat jy saam terugdra sodat niks in die veld agterbly nie.

Hy verpoos by ’n laventelboom en vertel jy kook dit en stoom jou bors daarmee of sit dit in jou skoene as jy gaan stap en dan ruik jou sokkies en voete lekker vars. Ons lag, probeer hy ons iets wysmaak oor hoe ons skoene ruik ná drie dae in die bos? Hy wys ook ’n boom met die naam “Lekkerbreek”, want die hout breek so maklik.

Daar is verskeie onbewoonde gate en tonnels in die veld. Dwayne vertel die aardvark is die huisbouer van vele diere, want hulle soek termiete en dan los hulle die gate agter. Ander neem dit dan oor, maar te dankbaar die werk is klaar gedoen!

Jy bly bewus van die ondergrondse water oral al lyk dit droog op die oppervlakte, en dis onder meer versteekte, klein waterstroompies wat gidse verhoed om van die pad af te ry, maar met die stappery is ons bevoorreg om op plekke te kom wat jy andersins nie sou nie.

Ons trap in ’n olifantspoor en voel weer klein en nietig soos met die vorige aand se sterre. Jou voet skaars die helfte in lengte.

’n Mens kan nie anders as om nietig te voel met sulke groot olifantspore langs jou nie.

Saans slaap ek soos ’n koningin ná die lang, opwindende dae in die veld. Die personeel sorg dat jou beddegoed oopgevou en sjokolade op jou bedtafeltjie is en een aand is daar selfs roosblare in jou borrelbad (klaar getap net voor jy kamer toe stap!).

Dwayne wys ons hoe jy volgens spore kan bepaal hoe groot stropers is en hoeveel van hulle daar is. Hy gaan lê in die stofpaadjie wat diere uitgetrap het, en verduidelik: “Die grootte van die afstand tussen twee treë, is dieselfde as die afstand tussen voet tot skouer, as jy lê. Dan kan jy bepaal of dit groot of kleiner geboude mense is en ook hul getalle, want elke mens se lengte verskil.”

Ons vra nog vrae toe hy ons stilmaak en wys na ’n renosterkalfie tussen ’n bul en ’n koei. Die bul is soos ’n grys tenk en ek voel skrikkerig. Dwayne het ons egter mooi voorberei en gevra dat ons agter hom stap, stilbly en luister na sy opdragte. Dié drie wei in ’n oop stuk veld en ek kan Dwayne glo toe hy spot en sê hulle is die beste grassnyers in die wêreld. Hul lippe is so laag teen die grond dat hul neusgate klein stofwolkies op die grond blaas.

Die bosluisvoëls op die bul se rug verklap ons teenwoordigheid. Hy tree vorentoe, die kalfie en koei skuif agter hom in.

Dis ’n territoriale bul, verduidelik Dwayne. Ons stap versigtig saam met hulle terwyl hulle wei, maar die bul blaas kort-kort, tree vorentoe en laat ons mooi verstaan wie’s baas.

Die veld word weer stil, amper asof ons bedreiging geweeg is en te lig gevind is. Ek hoor ’n meter of drie voor my hoe Dwayne ingedagte met die bul gesels; hom gerusstel.

En vir die derde maal in minder as 24 uur voel ek nietig. Blootgestel aan en nederig ná die ervaring van die natuur se wonders.

Kitsfeite

  • As my drie buitengewone ervarings nie jou knieë lam gemaak het nie, is daar steeds ander egte bosveldervarings met hope wild wat wag. Jou bad pryk een aand met roosblare en borrelbad; daar is handgemaakte sjokolade voor jou bed; die vuurtjie in jou kamer brand as jy saans van wildritte en smaaklike etes terugkeer. Daar is yskoue vonkelwyn in die yskas. Die koffie van jou eie Nespresso-masjien is sterk en lawend as jy 06:00 opstaan vir wildritte.

Die diere is volop en rustig en daar is beslis geen tekort aan wildkykgeleenthede op die wildritte nie.

  • En as jy net jou eie ritme wil volg, gaan kyk die rotskuns op ’n oggendwandeling; lê in die spa of op jou dagbed en beskou die watergat se bedrywighede.

Bespreek by Mhondoro by res@mhondoro.com of bel 087 150 2314. Besoek hul webwerf by https://www.mhondoro.com/.

Woorde en foto’s: Maryke Roberts

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top