Geen geleentheid is afgerond sonder ’n glas vrolike, bruisende, vonkelwyn nie en Suid-Afrika se eie Kaapse Méthode Champenoise – bekend as Cap Classique – vier in 2021 sy 50ste verjaardag.
Dié borrels het ook nou sy eie nasionale dag, die Cap Classique-dag op 1 September, wat landwyd gevier word. Verskeie produsente, van Namakwaland aan die Weskus tot in Plettenbergbaai, maak stilwyn en Cap Classique, maar verskeie bekende produsente maak eksklusief Cap Classique, waaronder Colmant, Le Lude, Graham Beck, Charles Fox en The House of Pongracz, Genevieve, The House of Krone en GM Ahrens.
Simonsig Kaapse Vonkel Brut en Brut Rosé
Dit was 49 jaar gelede (1971) toe Frans Malan van Simonsig Landgoed buite Stellenbosch se eksperiment om ’n Kaapse Méthode Champenoise-styl wyn te maak, beslag gekry het in die bekroonde en geliefde Kaapse Vonkel, wat uit hoofsaaklik Chenin-druiwe gemaak is.
Frans se Kaapse Vonkel het die weg gebaan vir ’n gesonde sektor. Syfers vir die verkope van Cap Classique, in eenhede van nege liter-kiste, het in 2018 op 595 019 eenhede gestaan (2015: 405 318), met plaaslike verbruik op 431 791 (2015: 291 018), en uitvoere op 163 228 kiste (2015: 114 300).
Nederland was in dié tydperk die vierde grootste uitvoermark naas die Verenigde Koninkryk, die VSA en Swede. Suid-Afrika het in 2015 altesaam 8 920 kiste na Nederland uitgevoer en alreeds 14 278 tot einde Oktober vanjaar, volgens die SA Wine Industry Information and Systems NPC (SAWIS) se statistiek.
..........
“Die CCPA het pas hulle nuwe logo en slagspreuk, ‘Perfected by time’, bekend gestel.”
..........
Frans Malan was nie net die pionier van Cap Classique nie, maar ook een van die stigterslede van die Stellenbosch Wynroete. Nou leef sy nalatenskap ook op Simonsig voort in sy seuns, Francois en Johan, en kleinseun Francois-Jacques.
Vandag bied Simonsig ses verskillende Cap Classiques in hulle reeks, vertel Debbie Thompson, keldermeester. Sy sê elke Cap Classique in hul reeks is uniek in eie reg.
Dit sluit in die Cuvée Royale 2014, hul Prestige Cuvee (100% Chardonnay), wat vyf jaar op die gismoer bly; Kaapse Vonkel 2018 (55% Chardonnay, 43% Pinot Noir en 2% Pinot Meunier); Kaapse Vonkel Brut Rosé 2018 (76% Pinot Noir en 24% Pinotage); Kaapse Vonkel Satin Nectar Rosé 2017 – Demi Sec (72% Pinot Noir, 27% Pinotage en 1% Pinot Meunier); Kaapse Vonkel Satin Nectar 2018 – Demi Sec (49% Pinot Noir, 40% Chardonnay en 9% Pinot Meunier) en die Woolworths Pinot Noir No Sulphur added 2018 (100% Pinot Noir), wat eksklusief vir Woolworths gemaak word. “Die produk wys dat ons ernstig is om vonkelwyn te bied aan kliënte wat sensitief is vir swawel.”
Simonsig Cuvee Royale
Sy glo Kaapse Vonkel sal altyd almal se staatmaker wees, as gevolg van sy konstante kwaliteit. Die Cuvee Royale is ’n voller, meer ontwikkelde styl en staan nie terug vir enige sjampanjes nie.”
Cap Classique beslaan 32% van die plaas se produksie en dit neem jaarliks toe. “Ons sien onsself as ’n vonkelwynhuis, ’n bestemming vir verbruikers met verskillende behoeftes. Ons verbruikers is wyd verspreid, met 79% plaaslike verkope versus 21% in die buiteland.”
Debbie verduidelik die Suid-Afrikaanse mark is baie bekend met Cap Classiques, terwyl die buitelandse mark meer opleiding verg. “By Simonsig het ons ’n uitgebreide portefeulje en ons ondervind dat toeriste altyd een van ons Cap Classiques in hul proeë sal insluit.
“Buiten die standaard 750 ml waarin die Kaapse Vonkel gebottel word, voorsien ons dit ook in Magnums, 3 liter (Jeroboam) en 9 liter (Salmanazar). Laasgenoemde is direk verwant aan funksies en feeste. Die bottel lyk baie statig en skep ’n gesofistikeerde indruk wanneer dit yskoud by feesvieringe geskink word,” vertel sy.
Simonsig Rosé Kaapse Vonkel
Suid-Afrikaanse wynplase mag nie die woord “Champenoise” of “Sjampanje” gebruik nie: net sjampanje wat in Champagne, Frankyk gemaak word, mag daardie etiket dra. Die naam Cap Classique bring hulde aan die Franse Hugenote wat die klassieke wynmaakkuns aan die Kaap gevestig het, en aan die Kaap se eerste besending bottel-gefermenteerde vonkelwyn, wat as “Kaapse Vonkel” verkoop is. Die naam impliseer ook handhawing van die tradisionele metode, soos met sjampanje se tweede fermentasie in die bottel, oftewel Méthode Champenoise.
Die verskil tussen Cap Classique en vonkelwyn is, in eenvoudige terme, dat vonkelwyn ’n kunsmatige produk is, waar ’n stilwyn in ’n druktenk geplaas word en koolsuurgas (CO2) ingepomp word. Die wyn word uit die druktenk – onder dieselfde druk – gebottel.
..........
“Dit wil voorkom asof die groot sjampanjehuise meer op die top-gehalte en prys fokus en dit maak verskeie geleenthede oop vir Cap Classique, Francia Corta, Cava, Cremant en ander.”
..........
Die Cap Classique-proses is ’n natuurlike tweede gisting in die bottel, waar die borrels natuurlik ontwikkel. Die basiswyn kry suiker en gis by, sodat die gisting in die bottel kan plaasvind. Na die giskontak-tyd, word die gis na die nek van die bottel gedraai (remuage), waarna dit verwyder word en die finale kurk en draadjie opgesit word (disgorgement).
Cap Classique is duurder as vonkelwyn, omdat die proses langer neem (minimum 9 maande giskontak), die duurder bottel wat die druk moet weerstaan, en hoër verpakkingskostes.
Cap Classique kan in verskillende kategorieë verdeel word, soos versnit, Rosé, of Blanc de Blancs. Versnitte is gewoonlik twee of meer kultivars; Blanc de Blancs is net ’n versnit van wit druiwe (dit kan ook versny wees van een kultivar); en Rosé wat gewoonlik rooi druiwe bevat, maar soms ook ’n bietjie wit kultivars mag insluit.
Links: Pierre Jourdan Belle Nectar en Pierre Jourdan Blanc de Blancs
Dan is daar die suikerklassifikasies: Brut Zero of Brut Nature bevat 0-3 gram suiker per liter (g/l); Extra Brut 3-6 g/l; Brut 6-12 g/l; Extra Dry/Sec 12-17 g/l; Dry/Sec 17-32 g/l; Demi-Sec 32-50 g/l; en Doux met 50 en meer.
In Suid-Afrika word die term Cap Classique sedert 1992 gebruik – dieselfde jaar wat ’n eie Cap Classique Produsente Assosiasie (CCPA) gestig is met 14 lede.
Vandag se 109 lede ywer vir die uitbou van die Cap Classique-sektor en dat alle Cap Classiques aan bepaalde vereistes voldoen, soos ’n standaard vir die heelkorrel-parsmetode; dat dit mark toe gaan in dieselfde bottel waarin die gisting plaasgevind het; dat elke bottel die minimumdruk van 3 bar behou; en dat die bottels minstens nege maande lank, horisontaal in ’n donker kelder, op die gis moet verouder.
Die CCPA het pas hulle nuwe logo en slagspreuk, “Perfected by time”, bekend gestel. In die nuutste Platter’s by Diners Club South African wine guide 2020, het ’n nuwe Cap Classique vyf sterre behaal: die Pieter Ferreira Cap Classique Blanc de Blancs 2012. Dit is bekroon as die beste vonkelwyn vir 2020, en het die toekenning vir Nuweling Wynkelder van die Jaar aan die produksiespan besorg.
Die nuwe logo van die Cap Classique Produsente Assosiasie (CCPA).
Pieter Ferreira, keldermeester by Graham Beck Méthode Cap Classique, is geen nuweling nie. Inteendeel, hy is wêreldwyd bekend as “Bubbles”. Sy splinternuwe Cap Classique-etiket is met 97/100 punte beloon. Dis 100% Chardonnay wat 60 maande op die gismoer verouder het en, nadat die kurk ingesit is, vir nog ses maande verouder word.
Pieter is ook die voorsitter van die CCPA. Hy sê wynmakers eksperimenteer met langer gistingsperiodes, want die tekstuur en balans is soveel beter. “Giskarakter is tog wat die verbruiker wil ruik en proe,” vertel hy.
Hy stel vroeg volgende jaar ’n Rosé Vintage 2013 vry, om die duo volledig te maak. Met sy Cap Classique, streef Pieter daarna om die beste uitdrukking van 100% Chardonnay met die Blanc de Blancs en 100% Pinot Noir in die Rosé te vertoon. Die projek het as Pieter se aftree-projek begin, omdat hy vanjaar 30 jaar by Graham Beck vier en ook op 60 sou aftree. Die kelder het nou sy beleid aangepas, sodat Pieter op 65 kan aftree.
Daar is tans geen beperkings op die toegelate kultivars vir Cap Classique nie, vertel Pieter, maar meer as 90% word van Chardonnay en Pinot Noir gemaak, wat wel ’n bietjie Pinot Meunier sal insluit. Ander kultivars wat vir Cap Classique gebruik word is Pinotage, Chenin Blanc, Cabernet Franc en Shiraz.
Pieter vertel dat sy eie Cap Classique baie verskil van die Graham Beck Cap Classiques. Hy doen heelwat navorsing en analise om die geurprofiele van Chardonnay en Pinot Noir van verskillende geografiese areas te verstaan en koop dan druiwe van uitgesoekte blokke. Die Blanc de Blancs 2012 se druiwe kom van uitgesoekte blokke Chardonnay van Robertson en Darling.
..........
“Elunda Basson glo Cap Classique het ’n blink toekoms. Dit is besig om ’n wonderlike reputasie op te bou, as topkwaliteit-vonkelwyn.”
..........
Oor die afgelope 30 jaar het Graham Beck Wynlandgoed buite Robertson ’n reputasie opgebou as een van die land se voorste Méthode Cap Classique-produsente. Die Graham Beck 2009 Cuvée Clive is by die 2016 Champagne & Sparkling Wine World Championships in Londen aangewys as Suid-Afrika se beste. Die Cuvée Clive 2012 is aangewys as die beste Cap Classique en is 97/100 toegeken deur die hoogs gerespekteerde Britse wynmeester, Tim Atkin, se Suid-Afrikaanse verslag. Dit het ook Dubbel Goud by Veritas 2019 verower. Graham Beck het onlangs hulle 2014-oesjaar vrygestel.
Die 2009 Graham Beck Blanc de Blancs is een van die wêreld se mees-bekroonde Cap Classiques.
Bubbles het in 1984 aangesluit by Achim von Arnim van Haute Cabrière-landgoed buite Franschhoek, een van Suid-Afrika se eerste Cap Classique-spesialiste. Hy is sedert 1990 deel van die Graham Beck-familie, wat sedert 2016 wegbeweeg het van stilwyne en nou net Cap Classique maak. Die landgoed het tans sewe MCC’s in hul reeks.
Haute Cabriere, vooraansig teen die berg
Haute Cabriere-restaurant (Foto’s: Charles Russell)
Haute Cabriere-kelder (Foto: Charles Russell)
Pieter glo Cap Classique is die beste alternatief as jy nie Franse sjampanje drink nie. “Ons weerpatrone is baie meer stabiel en gee ons die geleentheid om elke jaar ’n oesjaar te verklaar. Ons het ’n geheime wapen: sonskyn. Ons Cap Classique voel net sagter en het baie mooi vrug en beter balans ná 15 maande teenoor sjampanje wat eers ná drie jaar balans kry!”
Achim von Arnim het in die tagtigerjare, toe hy nog keldermeester by Boschendal was, grond gekoop om wyne in die styl van die Champagne-streek te maak. Hy het Chardonnay en Pinot Noir aangeplant om sy eerste Cap Classique te maak en het dit na die plaas se eerste pionier, Pierre Jourdan, vernoem. Vandag staan die plaas onder leiding van sy oudste seun, Takuan.
Pierre Jourdan-reeks
Die landgoed is ook gewild danksy Saterdagoggende se sabrage, die tegniek om die prop met ’n lang swaard af te kap.
Nog ’n kelder wat ’n Cap Classique by sy reeks toegevoeg het, is Stellenbosch Hills. Die druiwe kom uit spog-wingerde en die Anna Christina MCC 2018 is ingesluit in die vlagskip Sense of Place-reeks, wat vroeër vanjaar bekend gestel is. Sense of Place, Stellenbosch Hills se vlagdraer-reeks wat die kollig fokus op die Stellenbosse wingerde se terroir, bestaan ook uit ’n 2017 gehoute Chenin Blanc, genaamd Kastanjeberg en ’n Kaapse versnit, Suikerboschrand 2015.
Anna Christina MCC
Die Anna Christina MCC 2018 word in beperkte hoeveelhede gemaak, met 100% Chardonnay van ’n top-presterende Stellenbosse wingerd.
Anna Christina was die Stellenbosse wyn-pionier, Antonie Vlotman, se lewenslustige oudste dogter. Vlotman was die stigter van die Vlottenburg-wynplaas, wat vandag die tuiste is van Stellenbosch Hills, die nuwe Cap Classique MCC se produsent. Hierdie vrolike wyn vier hierdie erfenis en die wynkelder se uitmuntende herkoms.
Die kelder se wynmaker, James Ochse, verklaar: “Stellenbosch is Cap Classique se geboorteplek en van die mees bekroonde vonkelwyne kom van hierdie streek,” sê hy.
“Die fokus op hierdie enkel-wingerd beteken dat net ’n baie klein hoeveelheid gemaak kon word. Die Chardonnay wat ons gebruik het, kom van ’n uitsluitlike produsent se beste druiwe.”
Wyn-en-kostoerisme skep 1,5 miljoen werksgeleenthede, sowat 9,2% van die nasioanle totaal. By die pas afgelope Wine & Food Tourism-konferensie by Spier Wynlandgoed, het Derek Hanekom, voormalige minister van Toerisme, genoem dat internasionale besoekers in 2018 met 1,8% gegroei het, met ’n 5,5% styging in die geraamde totale toerisme-inkomste van R108,90 miljard.
“Dis belangrik om te onthou dat ongeveer 25% van enige reisbegroting aan kos en drank spandeer word. In baie gevalle is kos en wyn nie die hoof-attraksie vir die toeriste nie, maar hierdie elemente maak of breek die toeris se ervaring.”
Die restaurant High Timber in Londen het verskeie Cap Classiques op hulle wynlys. Die mede-eienaar, Neleen Strauss, sê hulle het die volledige reeks Graham Beck MCC’s, Villiera, Le Lude, en ook Ken Forrester se Sparklehorse.
Ken Forrester wat Sparklehorse maak
“Graham Beck se borrels is baie gewild. Dis ongeëwenaarde waarde en is ook heerlik saam met kos. En die Jacques Bruere Cuvee Rose Brut is ook ’n treffer. Dis baie lekker.”
Sy vertel dat die Cap Classiques heelbo op die restaurant se wynlys pronk en vir hulself praat, al moet sy soms van die gaste in die regte rigting help! Sy sê Graham Beck se Blanc de Blancs is hul beste verkoper en hulle bedien dit per glas ook.
“Met Kersfees op ons, sal ons weer baie nuwe gaste aan Cap Classique voorstel. Dis baie beter waarde as Franse sjampanje en die ideale drankie om te geniet voor jy jou kos bestel en is natuurlik verruklik met nagereg,” vertel sy.
Ook wyn-aankopers sien verhoogde waarde in Cap Classique. Die hoogste prys vir ’n kis Cap Classique by vanjaar se Kaapse Wynmakersgilde-veiling in Oktober by Spier, was R5 800 (6 x 750ml) vir Silverthorn Wines Big Dog V Méthode Cap Classique 2014. Die gemiddelde prys vir ’n kis MCC was R3 995, wat hoër is as die gemiddelde prys van R3 800 vir ’n kis witwyn, by die veiling.
Greg Sherwood, senior aankoper van Handford Wines in Londen, het in 2007 Suid-Afrika se vierde wynmeester geword. Sy wynmeester-dissertasie is oor Méthode Cap Classique-produksie in Constantia gedoen.
“Dit het my passie geword toe ek saam met David van Niekerk by High Constantia wyngemaak en baie van sy uitstekende Clos Andre gedrink het. My dissertasie het gehelp om die idee te laat posvat dat die vallei uitstekend is vir MCC-produksie, en daarom kommersiële meriete dra. Nou het die tendens in Suid-Afrika ontplof en dis fantasties!”
Handford het altyd vier of vyf Cap Classiques op hul rak en die Graham Beck Blanc de Blancs en Simonsig Rosé Kaapse Vonkel bly die top-verkopers. Greg sê hoewel hy nie op hierdie stadium oorweeg om die aanbieding uit te brei nie, probeer hy af en toe ’n nuwe handelsmerk en bestel ’n paar kiste as eksperiment.
Greg Sherwood en Pieter Ferreira in Handford Wines in Londen
“Graham Beck het egter die prys, handelsmerk-status en kwaliteit.”
Greg glo die gewildheid van Cap Classique is toe te skryf aan ’n beter bewustheid: die vrug, laer alkohol en varsheid. Hy bied Cap Classique as alternatief vir Francia Corta, Cava, Cremant en Engelse vonkelwyne en intreevlak-sjampanje.
Engelse vonkelwyne het mense se opinie verander oor “net Franse sjampanje as daar iets te vier is”, vertel hy. “Die geweldige houvas is weg en nou probeer hulle ook top-gehalte Cap Classique. Dis ’n groot skuif. Dit wil voorkom asof die groot sjampanjehuise meer op die top-gehalte en prys fokus en dit maak verskeie geleenthede oop vir Cap Classique, Francia Corta, Cava, Cremant en ander.
Hy maan egter: “Britte wil nie te veel betaal nie. Sodra hierdie produkte oor ’n sekere pryskerf gaan, gaan hulle onmiddellik terug na sjampanje. Maar die lyne vervaag ook al meer op hierdie punt.”
Hy glo Cap Classique sal in Suid-Afrika al meer groei, mits die kwaliteit hoog bly en die pryse toeganklik. Met die styging in toeristegetalle na die wynlande, glo hy ook dat al meer Britte met hul terugkeer uit Suid-Afrika sal kom vra vir Cap Classique.
Allan Mullins, Woolworths Suid-Afrika se wyn-aankoper en bekende wynbeoordelaar, sê die supermark het hard gewerk om hulself as voorste Cap Classique-bestemmingswinkel te vestig. Die verkope styg jaarliks.
Daar is tans 34 Cap Classiques-etikette in hul reeks in ’n wye prysklas.
Simonsig Satin Nectar Rose
Hy sê Woolworths se doel is om restaurant-kwaliteit met die keuses en waarde van ’n supermark te bied. “Met wyn glo ek ons bied die opwinding van ’n boetiek-wynwinkel met die keuse en waarde van ’n supermark.” Net minder as 300 takke het hul eie wyn-afdelings.
Brut bly die gewildste styl, veral die Villiera Brut en Rosé, maar daar was die afgelope paar jaar ’n styging in Demi Sec-verkope en soms steek Rosé die Brut-aanvraag verby. “As jy oor ’n jaar weer hierdie vraag sou vra, glo ek die antwoord sal heeltemal anders wees,” vertel hy.
Daar is ’n stadige afname in sjampanje-verkope, vertel Allan. “Ek sou graag wou glo dis omdat ons Cap Classiques so goed is, maar om eerlik te wees, sjampanjes soos Moët en Veuve Clicquot verkoop op hul ikoniese naam, bemarking en sigbaarheid. Maar ons is die enigste plaaslike supermark wat eksklusiewe sjampanjes, gemaak volgens ons behoeftes, invoer.”
Allan sê voorts dat al meer kliënte vra vir die glans-name soos Le Lude, Silverthorn. Vanaf Februarie sal Pieter Ferreira Brut ook eksklusief by Woolworths te koop wees.
..........
“Kaapse Vonkel sal altyd almal se staatmaker wees, as gevolg van sy konstante kwaliteit.”
..........
Villiera Wynlandgoed was vir baie jare Woolworths se enigste leweransier van Cap Classique. Die supermark het in 1986 begin wyn verkoop en Allan het in 1990 aangesluit.
“Jeff Grier, wynmaker en mede-eienaar, het onlangs vir my gesê hy het 35 jaar gelede sy eerste Cap Classique gemaak en vyf jaar later sy eerste een vir Woolworths. Dit is ’n absoluut ongelooflike vennootskap.
“Ons is baie opgewonde oor ons Signature Series MCC 2013, ’n samewerking tussen my en Jeff. Met die eerste een het ek eers by die dosage betrokke geraak, maar met toekomstige vrystellings sal ek en Jeff vanaf die versnyding saamwerk,” vertel hy.
Langer op die gismoer is ’n gunsteling onder dié wat weet. Ander kelders wat Cap Classique veel langer as die vereiste nege maande op die gis verouder, sluit in Tokara, die bekroonde Stellenbosse familie-wynlandgoed, wat pas die tweede oesjaar van hul Méthode Cap Classique bekend gestel het.
Hierdie 100% Chardonnay is uit Tokara se koelklimaat Elgin-wingerde geskep. Die 2012-oesjaar kraai koning as die Blanc de Blancs Goue medalje-wenner by die Amorim Cap Classique Uitdaging 2019 én spog met 94/100 toegeken deur die hoogs gerespekteerde Britse wynmeester, Tim Atkin.
Tokara MCC
Te danke aan meer as vyf jaar op die gismoer, is die diepte van geure, elegansie en kompleksiteit van dié Cap Classique iets besonders. Wat die swierige Tokara MCC laat uitstaan, is die buitengewone Butterfly-bottel, wat spesiaal ontwerp is om die gravitas en finesse van dié Cap Classique te beklemtoon.
Die Amorim Cap Classique Uitdaging het vanjaar sy 18de bestaansjaar gevier en is die enigste kompetisie gerig op die eksklusiewe erkenning van die Cap Classique-kategorie van Suid-Afrikaanse bottelgegiste vonkelwyne.
Groepfoto van Amorim Uitdaging-wenners: Charl Schoeman (Simonsig: Beste Demi-Sec), Andiswa Mapheleba (Pongrácz: Beste Brut), Danielle Jacobs (Boschendal: Beste Museumklas en algehele wenner), Joaquim Sá (besturende direkteur Amorim SA), Elunda Basson (Steenberg: Beste Rosé), JP Colmant (Colmant: Beste Blanc de Blancs).
Ongeveer 134 inskrywings is ontvang vir vanjaar se Amorim Cap Classique Uitdaging, die meeste nog in die kompetisie se bestaan.
’n Museumklas-Cap Classique van Boschendal, die Franschhoek-wynlandgoed, se Jean le Long Prestige Cuvée 2008, is as vanjaar se algehele wenner bekroon. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Amorim Cap Classique Uitdaging dat ’n museumklas-wyn aangewys word as die kompetisie se algehele wenner.
Danielle Jacobs van Boschendal, algehele wenner, en Joaquim Sá, (besturende direkteur Amorim SA), met haar kampioen sabrage-swaard vir beste algehele Cap Classique.
Museumklas-wyne word geklassifiseer as wyne wat agt jaar of ouer is. Voor 2019 kon hulle nie in aanmerking kom vir die prys van algehele wenner nie.
Die Jean le Long word gemaak van 100% Chardonnay-druiwe wat verkry word van hooggeleë koelklimaatwingerde. Die wyn spandeer 60 maande op die gismoer in die bottel, met nog ’n jaar op die kurk voor dit vrygestel word.
Danielle doen die perfekte sabrage.
In die kategorie vir Brut-Cap Classique is die Pongrácz Desiderius 2011 aangewys as die wenner van die klastrofee.
Colmant Blanc de Blancs, ’n nie-oesjaarwyn van die gelyknamige Franschhoek-produsent, het die Blanc de Blancs-trofee gewen, met die Steenberg Pinot Noir Rosé MCC, wat die septer geswaai het in die Rosé-kategorie.
Sedert verlede jaar het die kompetisie die groeiende kategorie van Demi-Sec Cap Classique ingesluit, en vanjaar het die Simonsig Kaapse Vonkel Satin Nectar Rosé 2017 die eerste wyn geword wat ’n trofee wen in die Demi-Sec-kategorie.
Simonsig Kaapse Vonkel Satin Nectar
Amorim Cork, die wêreld se toonaangewende verskaffer van kurksluitings vir die wynbedryf, borg die Amorim Cap Classique Uitdaging sedert die heel eerste kompetisie. Die besturende direkteur van Amorim Suid-Afrika, Joaquim Sá, het by die toekenningseremonie gesê dat die wêreld se oë op Cap Classique gerig is.
“Deur hierdie kompetisie en weens ons maatskappy se wêreldwye aktiwiteite in die wynbedryf, praat mense van regoor die wêreld oor Cap Classique en kring die erkenning daarvoor wyer uit,” sê hy.
“Dit is te danke aan verskeie faktore: ideale wynstreke met terroir-uitdrukking wat geskik is vir die maak van wyne met kompleksiteit en individualiteit. Dan is daar ook die briljante wynmakers – sommige van hulle hier vandag – wat ’n doelgerigte visie het om die beste vonkelwyn moontlik te maak. Hulle het hierdie lewenslange strewe begin, en elke jaar kom hulle nader aan die doelwit deur alles te gee. Daar is dalk 50 miljoen borrels in een bottel Cap Classique, maar daar is net een siel, en dit is die een van die man of vrou wat dit gemaak het.”
Hy het vertel dat die jaarlikse Cap Classique-verkope in 2002, toe die kompetisie die eerste maal gehou is, geraak het aan 700 000 bottels.” Vandag word miljoene bottels jaarliks verkoop.
Steenberg is in 1682 gestig en is geleë in Constantia, Suid-Afrika se oudste wynboustreek. Steenberg se Méthode Cap Classique word sedert 2000 gemaak. Die Steenberg Pinot Noir Rosé MCC het die septer geswaai in die Cap Classique Uitdaging se Rosé-kategorie. Die wyn het baie mooi kersiegeure en goeie kompleksiteit. Die kleur is aantreklik met mooi gevormde borrels.
Steenberg Pinot Noir MCC
Elunda Basson, gerekende Cap Classique-maker wat vir meer as 20 jaar by Nederburg, Pongrácz en J.C. Le Roux werksaam was, en tans die keldermeester by Steenberg is, vertel: “Die oorspronklike idee agter die Cap Classique was om die millennium te vier.”
Elunda Basson van Steenberg
Vandag spog die landgoed met drie Cap Classiques: 100% Chardonnay Brut 1682, 100% Pinot Noir Rosé MCC , die vlagskip-versnit, Lady R (70% Pinot Noir en 30% Chardonnay). Steenberg bied ook ’n Sparkling Sauvignon Blanc.
Die landgoed bedryf ook twee restaurante. Elunda sê hulle sien al hoe meer gaste oorskuif na die plaaslike Cap Classique, eerder as na goedkoop sjampanje.
Steenberg Chardonnay MCC
“Cap Classique verbruikers is bekend met droër wynstyle en verkies meer volheid en karakter. Sommige van hulle ken ook Franse sjampanje en verstaan dat Suid-Afrikaanse Cap Classique in dieselfde styl gemaak word, maar beskou Cap Classique as iets unieks aan ons land, met baie beter waarde vir geld.”
Sy glo Cap Classique het ’n blink toekoms. Dit is besig om ’n wonderlike reputasie op te bou, as topkwaliteit-vonkelwyn. Sy sê: “Ander dele van die wêreld wat ook bottel-gegiste vonkelwyn maak, neem kennis van wat ons doen: dit beteken ons maak impak! Die groei in die hoeveelheid nuwe handelsmerke is ’n aanduiding van hoe gewild dié kategorie geword het.”
- Foto’s: verskaf, tensy anders aangedui