...
Sommige mense mag dit moontlik ’n “chick flick” noem, maar vir seuns tussen 16 en 97 moet dit dalk verpligte kykstof wees.
...
Happy ending
’n Nederlandse film met Engelse onderskrifte op Netflix, vrygestel onder die Engelse titel
Geskryf deur Joosje Duk
Regie ook Joosje Duk
Ouderdomsbeperking: 16
Met:
Gaite Jansen
Martijn Lakemeier
Joy Delima
Waarskuwing: Die film vra dat mense oor seks moet kommunikeer. Dit is wat in hierdie resensie sal gebeur. Maak asseblief toe as jy nie wil saampraat nie.
Hy wel, sy nie
Bettina Wyngaard se dialoog Onsigbaar is ’n baie goeie interteks tot Joosje Duk se film Happy ending. Kyk gerus na die manier waarop Nicole Holm die kortfilm geredigeer het.
Joosje Duk se aanslag is sagter, die einde is ook, wel, gelukkiger. Die boodskap is egter grootliks dieselfde.
In Duk se film is die manlike karakter, Mink (gespeel deur Martijn Lakemeier), ’n sagter, effens minder arrogante knaap. Die probleem is dat hy salig onbewus is dat sy geliefde nooit ’n orgasme kry saam met hom nie.
Mink is ’n oulike man.
Luna, sy meisie (gespeel deur Gaite Jansen), tel egter al die aantal kere wat hý ’n gelukkige einde had en sy nie: 132 keer op die herdenking van hulle eerste jaar saam.
Luna het twee baie stoute vriendinne en hulle is bewus van die probleem. Hulle gee vir Luna ’n stel boeie present.
Mink vind boeie verspot – hy hoef mos nie kinky te wees nie, hy is tevrede met hul verhouding. Die boeie laat die twee wel gesels. Hy kom agter sy is nie heeltemal tevrede nie. Hy weet nie wat om te vra nie, sy weet nie wat om vir hom te sê nie. Die vreemde gesprek draai dan in die rigting van ’n trio – of dan ’n threesome soos dit in Engels genoem word.
Kyk maar self.
Eve (gespeel deur die ongelooflike Joy Delima) beland dan saam met hulle in die bed.
Eve het veel meer ondervinding as Mink en Luna saam. Sy laat Mink kom, want sy weet hoe om te vra.
As jy nie weet wat om te vra nie
’n Deel van die mens se probleem is dat ons komplekse wesens is, maar nie met veel kennis gebore word nie.
Sommige goed kan ’n mens studeer en nalees, maar ander, soos hoe om jouself en ander seksueel gelukkig te maak, is moeiliker.
’n Groot deel van ons probleem is dat seks en voortplanting so deeglik aan mekaar gebind is dat talle mense nie eens besef penetrasie is maar een piepklein afdeling van seksuele genot nie.
As man moet ek maar ruiterlik erken dat ek nooit sonder hulp by ’n vrou se genotkol uitkom nie. Die klitoris is moeilik genoeg om te vind, maar wat om dan daarmee te maak?
Dit is pret, ook belangrik, om jonk-jonk te ontdek en te ervaar, maar dit verg dikwels ’n meer ervare persoon met baie geduld om jou te leer hoe om te vra, wat om te vra en selfs wat om te verwag. As jy so iemand raakloop, dan leer ’n mens baie. In ’n samelewing waar seksopvoeding bestaan uit ’n oproep tot ’n maagdelike troue en daarna ’n monogame huwelik is dit byna onmoontlik om sulke ervaring op te tel.
Happy ending beeld hierdie probleem goed uit.
Wanneer Mink en Luna wel ’n veel meer ervare persoon nooi om hulle een aand touwys te maak, leer Luna iets wat sy nie gedink het moontlik is nie. Mink? Wel. Hy is tevrede.
Wat dan volg, is eintlik waaroor die film gaan, en ek gaan daardie storie nie weergee nie.
Kyk self.
Happy ending is lig. Dit is redelik kuis – die (verskeie) sekstonele is smaakvol en konserwatief verfilm.
Ek sou hierdie film baie hoog aanbeveel vir jonk en oud, enkel of in ’n verhouding.
Seuns ouer as 16 en mans, veral, moet dit kyk en leer dat hulle moet vra. En weer vra. En weer vra.
Vroue en meisies oor 16 moet leer dat hulle die reg het om als te stop en te sê: “Nou eers my beurt. Joune kan wag.”
Jong mans sal nie na hierdie ou oom luister nie, maar dalk sal hulle twee keer dink wanneer hulle hierdie film gekyk het.
Ook in die kerksaal
Baie jare terug het ’n leeskring my genooi om oor Debbie Loots se Gelukkige eindes te gesels. Dit het redelik gou duidelik geword dat nie almal die boek vooraf gelees het nie, ook dat nie almal weet wat die term happy ending nou eintlik beteken nie.
So, hier is ek in die NG Kerk se saal besig om vroue, wat meestal ouer as ek is, in te lig oor die verskuilde betekenis van Loots se titel. Belangriker nog was die gesprek wat daarop gevolg het. Hulle het mý ontsettend veel geleer – soos dikwels by leeskringe gebeur.
Loots se boek is veel meer verwikkeld as Joosje Duk se Happy ending. Loots se roman is die lees werd. Jonathan Amid het ’n baie goeie resensie daaroor geskryf.
’n Mens moet egter nie Happy ending vlak kyk nie, al is dit lig. Sommige mense mag dit moontlik ’n “chick flick” noem, maar vir seuns tussen 16 en 97 moet dit dalk verpligte kykstof wees.
Happy ending is maklik. Dit is lig. Die einde sal baie mense gelukkig maak.
Dit wat voor die einde gebeur, sal hopelik ’n aantal mense toelaat om te gesels oor seks, sodat hulle ook meer gereeld hul eie gelukkige eindes kan nastreef.