Dirty lines: ’n besondere blik op die tagtigs

  • 0

Nota: Dié resensie handel oor volwasse vermaak. Hou verby as dit jou sal ontstel.

Titel: Dirty lines
Waar: Ses episodes op Netflix
Taal: Oorspronklik in Nederlands, ook beskikbaar in ander tale, soos Engels en/of met Engelse onderskrifte
Geskep deur: Pieter Bart Korthuis
Verteller: Marly Salomon, gespeel deur Joy Delima

Dirty lines is goed.

Nee, dis nie pornografie nie en daar is relatief min naaktheid in. Dit handel wel oor seks en pornografie.

Meer nog, dit gaan oor menswees gedurende die einde van die tagtigerjare.

’n Opsomming van die storie

In die laat tagtigs het die sogenaamde kommersiële foonlyne hulle opwagting gemaak in Nederland. Basies kon jy vir talle dienste betaal deur ’n sekere soort nommer te bel, en daardie betaling sou dan op jou foonrekening reflekteer. Ons het dit in Suid-Afrika ook gehad – ’n mens kon byvoorbeeld na musiek luister en dan aan die einde van die maand gewoon daarvoor betaal saam met al jou ander oproepe.

Hierdie diskrete vorm van betaling het die deur oopgemaak vir sekslyne. Selfs in Nederland is seks nog iets waaroor baie nie openlik praat nie; meer nog, mense is dikwels skaam om openlik vir seks te betaal. Met die “06-lyne” het alles verander.

Telefoonseks was skielik groot geld.

Onthou, dit was in die dae voor die internet. Vandag kan ’n mens inteken op sogenaamde etiese pornoruimtes soos Abbywinters.com met diskrete betalingsopsies, maar in die tagtigs was daar nie so iets nie.

Jy het ingebel, geluister, gemasturbeer en die rekening betaal aan die einde van die maand.

So gewild was foonseks dat Robert Long ’n lied, met die titel “Nul zes”, daaroor geskryf het.

Hallo! Welkom bij de wereld van de hete sekslijn
Wat voor toestel heb je? Druk maar even op de nul
Luisteren is een en als je twee drukt vind je seks fijn

Dirty lines is ’n soort kwasi-dokumentêr oor een van die baanbrekeroperateurs in hierdie industrie.

Die reeks handel oor Teledutch, een van die eerste en ook suksesvolste sekslynoperateurs in Nederland. Teledutch word bedryf deur Frank Stigter en sy broer Ramon. Johnny Santini, ’n wonderlike karakter, koop ook in as vennoot.

Baie gou word hierdie drie ontsaglik ryk. Want seks verkoop.

Gebaseer op ware gebeure

Dirty lines is fiksie, maar dit steun swaar op Fred Saueressig se boek 06 Cowboys, uitgegee deur Q in 2016.

Saueressig het as bemarkingsdirekteur gewerk by ’n maatskappy wat 06-sekslyne bedryf het en sy verslag lê die fondamente vir die fiktiewe Teledutch.

Regdeur Dirty lines sê Frank Stigter, die stigter van Teledutch: “Omzet is winst. BTW is vakantiegeld.” Hierdie aanhaling kom direk uit Saueressig se boek.

06 Cowboys vertel die verhaal van enorme winste, maar ook hoe daardie geld ewe vinnig geblaas is, soms selfs nog vinniger as wat dit kon inkom. Ons sien dit ook in Dirty lines.

Pieter Bart Korthuis, wat reeds ’n Emmy-benoeming agter sy naam kan skryf, het die tegniese aspekte van Saueressig se boek geneem en toe daarvan ’n diep menslike, uiters genotvolle reeks gemaak.

’n Vroulike perspektief

Korthuis se benadering tot die reeks is besonder slim. In plaas daarvan om op die manlike lus te konsentreer, skep hy ’n vroulike verteller, Marly Salomon. Die hele storie word deur haar oë vertel en soms tree sy in direkte gesprek met die kamera.

Salomon (gespeel deur Joy Dilema) woon as student steeds by haar hardwerkende, konserwatiewe ouers. Sy studeer seksuologie aan die universiteit en wil ’n berader word, maar hoe verloor ’n mens nou jou maagdelikheid as jou ouers elke oomblik van die dag oor jou waak? Hoe kan jy jou teoretiese kennis van seks gaan toets as jy nie ’n seun in jou kamer mag hê nie?

Salomon se wêreldwys vriendin Janna van Raalte oortuig haar dan om te probeer sakgeld verdien by ’n nuwe onderneming wat vroue betaal om pornografiese stories op band te lees.

Marly se eerste poging is helaas ’n mislukking, maar sy word op kamera vasgelê deur ’n TV-span. Soos Suid-Afrika in die laat tagtigs, het Nederland maar min TV-kanale gehad; so sien haar ouers en talle universiteitsvriende daardie aand vir die maagdelike Marly in die ateljee van Teledutch.

Nou is die gort gaar. Haar ma skop die meisie uit die huis – wat ’n skande is so ’n dogter nie? Haar universiteitsvriende kyk met nuwe agting na haar, maar die meeste kan haar nie help met kos en slaapplek nie.

So begin Marly Salomon as ’n konsultant werk by Teledutch.

Sy verdien goed, verloor uiteindelik haar maagdelikheid, begin ’n vuurwarm affair met haar dosent en skryf ten einde laas ’n PhD oor vroue se prikkels op pornografie.

Pornografie is meestal bekend as iets wat deur mans geniet word, maar in die regte hande en met die regte aanslag, werk sekere stimuli ook vir vroue. Deur die verhaallyn heen word interessante navorsing oor vroulike seksualiteit met die kyker gedeel. Dit is nooit steurend nie en lewer pittige kommentaar op mans.

Marly se belewenis van mans en haar base is sentraal. Soos die jare vorder beleef sy eerstehands hoe haar base, wat behoorlik swem in die geld, nie noodwendig gelukkig is nie.

Marly Salomon is ’n lieflike karakter en die aktrise Joy Dilema het myns insiens ’n blink loopbaan voor haar.

Disco, House-musiek en Ecstasy

Tydens die laat tagtigs het die wêreld House-musiek en Ecstasy ontdek.

Engeland was waar dinge gebeur het, Amsterdam het gevolg.

Die muur in Berlyn het nog nie geval nie.

Die internet was nog net ’n droom.

Nederland toe reeds was veel vryer as Suid-Afrika, maar Dirty lines gee ons tog ’n blik op ’n samelewing wat moes leer hoe om ’n nuwe wêreld in die oë te staar.

Die reeks se klimaks (uhm, ja, oukei) val saam met die val van die muur in Berlyn.

Soos ook in Suid-Afrika het daardie voorval in Nederland groot omwentelings veroorsaak.

In die “funksionele gesin” se slaapkamers vloei die trane

Daar is onlangs ’n versugting in die Volksblad gepubliseer wat vra dat meer tekste oor “funksionele gesinne” geskryf moet word, veral as daar “liefdevolle, hardwerkende ouers” in so ’n storie is.

As jy ook na so iets soek, kyk Dirty lines. Dis presies waaroor hierdie reeks gaan.

  • Marly, die hoofkarakter en verteller, se ouers is middelklas Nederlanders wat hulle dogter uiters preuts grootmaak en haar ook leer om nie hard te praat of aandag na haarself te trek nie.
  • Frank Stigter, die denker agter Teledutch, is vir jare lank ’n semisuksesvolle entrepreneur wat dit net nooit regkry om groot geld te maak nie. Hy is getroud met ’n baie oulike vrou en sy sukkel lank om swanger te raak. Die sukses van Teledutch gaan saam met sy vrou se swangerskap en Frank stap by geleentheid uit ’n baie belangrike sakegeleentheid omdat sy kind siek is.
  • Ramon Stigter is ’n tegnikus en is ook die tegniese brein agter Teledutch. Hy is getroud en het twee kinders.

Lieflik, nie waar nie?

Op die oppervlak, ja.

Marly se ouers is werklik die versinnebeelding van ’n kleinburgerlike bestaan. Die huis is klein, maar netjies. Die gesin se dogter is maagdelik en voorbeeldig. Die ouers werk ontsettend hard om haar ’n toekoms te gee. Hulle kan egter nie insien dat hulle beskerming juis is wat hulle dogter nie nodig het nie. Marly wil die wêreld verken, sy wil seks hê, maar sy wil ook bitter graag ouerliefde hê. Uiteindelik verloor sy haar ma. Haar pa, onbeholpe en verward, probeer vergoed met ’n bietjie sakgeld – dit terwyl sy dogter reeds aansienlik meer verdien as hy, maar sy dit nie aan hom kan verduidelik nie.

Frank is ’n seuntjie. Hy doen sy bes om ’n goeie ouer te wees, maar sy vrou kies uiteindelik om van hom te skei. Dit dryf hom na ’n selfdoodpoging, want al sy geld ten spyt, kan hy nie homself aanvaar vir wie hy is nie.

En Ramon Stigter? Hy is ’n toonbeeld van ’n toegewyde ouer en gesinsman. Ramon is ook gay.

Ramon Stigter is ’n hartseer karakter. Selfs in Nederland sou die skok op sy gesin te groot wees as hy uit die kas sou klim in die laat tagtigs. Die film verskaf wel die teenpool in mans wat hulself bevry het en vroue wat mekaar vind. Maar Ramon Stigter en sy gesin is gedoem om die kleinburgerlike samelewing se idee van ’n funksionele gesin uit te leef.

Robert Long het oor mense soos Ramon Stigter ook ’n lied geskryf. “Thorbeckeplein” is een van die raakste en seerste uitbeeldings van ’n gay man se lewe terwyl hy vasgevang is in ’n heteroseksuele huwelik.

Die een alternatief vir mans soos Ramon, poliamorie, is helaas nog nie iets waaroor openlik gepraat of geskryf is nie, dit was ook in die jare tagtig nie iets waaraan funksionele gesinne meegedoen het nie. In Anne+, wat eers baie onlangs gemaak is, word poliverhoudings openlik bepraat. Dit is egter dertig jaar te laat vir Ramon.

Terug na Robert Long, ’n stem vir die randfiguur in daardie jare. Luister gerus na “Waarom huil je nou?”, geskryf deur Long en vertolk deur Simone Kleinsma.

Die seksindustrie en die funksionele gesin

In Dirty lines is daar besonder diep en seer verhaallyne wat onder die oppervlak dopper, want die seksindustrie sou nooit bestaan het as die heteroseksuele, monogame huwelik almal kon gelukkig maak nie.

Dink mooi: Waarom sou enige een vir seks betaal as hy (of sy) alles in hulle huwelik kon kry?

Ek beveel hierdie ses episodes van kykgenot sonder skrome aan.

Lees ook:

Moderne verhoudings in Anne+

Broodnodige teater: ’n amper-resensie van Contested bodies or Doctor James Barry, Lord Charles Somerset, and I

Wat beteken die + in LGBTQIA+?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top