...
Ons ouers dink hulle verstaan ons, want hulle was ook mos jonk. Maar hulle verstaan glad nie, want hulle leef nie vandag nie en hulle het nie die vrae gevra wat ons vandag vra nie.
...
Titel: Anne+
Regisseur: Valerie Bisscheroux
Draaiboek: Maud Wiemeijer, Valerie Bisscheroux en Hanna van Vliet
Met: Hanna van Vliet (as Anne), Jouman Fattal (as Sara), Thorn de Vries (as Lou wat Thorn Roos de Vries speel) en Jade Olieberg (as Jip)
Tale: Nederlands met opsionele Engelse onderskrifte
Te sien: Netflix, ook in Suid-Afrika
“Ons ouers dink hulle verstaan ons, want hulle was ook mos jonk. Maar hulle verstaan glad nie, want hulle leef nie vandag nie en hulle het nie die vrae gevra wat ons vandag vra nie.” Dit sou my opsomming wees van ’n gesprek tussen twee van die karakters op ’n baie belangrike oomblik in die hoofkarakter se lewe.
Anne+ is ’n heerlike film om te kyk. Dit is pragtig, maar nie oppervlakkig nie.
...
Anne se pa vra basies om verskoning dat hy nie die opvoeding gebied het wat sy dogter graag sou wou gehad het nie, maar hy wys haar dan ook daarop dat die verlede reeds geleef is: Sy wat Anne is, moet nou haar eie besluite neem in die lig wat sy om haar het.
...
Die film daag ons ook uit om verby ons boksies te dink. Daar is heelwat seks en naaktheid in, maar alles is smaakvol gedoen.
En, ja, die + is belangrik.
In ’n onlangse artikel oor die + het ek besin oor hoe die jonger generasie alle boksies bevraagteken. In Anne+ sien ons dit voor ons afspeel.
Soekend, want verhoudings is nie meer dieselfde nie
Die huwelik is nie meer wat dit was nie. Verhoudings ook nie.
Dit is goed so.
In Bybelse tye is die vrou as ’n besitting geneem. Steeds is daar in talle kerke formuliere wat vroue vra om aan hulle mans onderdanig te wees in hulle huwelik.
Jongmense wil gewoon nie meer daardie kettings hê nie.
Die alternatief is egter nie voor die hand liggend nie, maar die soeke na iets anders is aan die gang. Anne+ is ’n mooi voorbeeld hiervan.
Daarom is Anne soekend. Sy soek antwoorde, sy soek haarself, sy soek haar plekkie in hierdie vreemde heelal.
Daarom die + in die titel. Daar is ’n mooi gesprek tussen haar en haar uitgewer waar die + verduidelik word.
’n Opsomming van die film (geen blatante pretbederwers nie)
Anne is net ouer as 20 en is in ’n verhouding met ’n beeldskone beroepsvrou, Sara.
Hulle kry ’n huis en trek saam in.
Die pakt wat hulle maak, is dat hul verhouding poliamoreus sal wees, maar dat hulle nie met ’n ander sal uitgaan sou dit hulle eie verhouding skade aandoen nie.
Anne werk in ’n koffiewinkel en skryf aan ’n roman wat reeds in beginsel by ’n uitgewery aanvaar is. Hierdie roman is ’n belangrike instrument in die film, want dit gee aan die karakters die geleentheid om kwessies (in die roman) aan te raak en daaroor te filosofeer sonder dat dit vir die kyker steurend is. Die gesprekke is noodsaaklik vir die roman, en daarom ook vir die storie. Baie slim.
Sara kry dan ’n wonderlike werksgeleentheid in Montreal. Sy gryp dit aan en Anne bly tydelik agter om die huis te laat gaan, die meubels te verkoop en haar roman klaar te skryf.
Vir Sara is dit alles nuut en opwindend. Sy gaan na iets toe. Sy ontmoet nuwe vriende, is gelukkig in haar nuwe werk en tel selfs ’n mooi meisiekind op om die aande minder alleen te maak terwyl sy vir Anne wag. Sy wen dus iets nuut en behou steeds die liefde van haar lewe.
Anne is skielik op haarself aangewese. Sy het alles om te verloor: haar vriende, haar uitgewer, haar werk, haar huis, en dalk ook haar roman. Ja, sy behou wel haar liefde, maar haar Frans is beroerd en in die vreemde sal sy heeltemal van voor af weer alles opnuut moet leer, nuwe vriende maak, ’n nuwe werk moet kry ... Sy sal wel haar Sara hê, maar niks anders nie.
Boonop hoor sy dat haar uitgewer ten einde laas nog nie tevrede is met haar roman nie. Dit het sterk begin, maar word rigtingloos teen die einde. Hulle wil dit steeds uitgee, maar Anne sal moet fokus om die verhaal rigting te gee.
’n Rigtinglose Anne moet dus ’n roman red wat rigtingloos is.
Sara se lewe het rigting, maar Anne en die karakter in haar roman nie.
Die belang van vriende
Anne se vriende sien dat sy nie haarself is nie, en probeer haar help. Ook haar pa besef dat sy ’n probleem het en daar vind dan (gegewe my opsomming van jongmense se siening oor hul ouers reg aan die begin van dié stuk) ’n ewe belangrike gesprek tussen pa en dogter plaas.
Anne se pa vra basies om verskoning dat hy nie die opvoeding gebied het wat sy dogter graag sou wou gehad het nie, maar hy wys haar dan ook daarop dat die verlede reeds geleef is: Sy wat Anne is, moet nou haar eie besluite neem in die lig wat sy om haar het.
Ek wil nie die storie verklap nie, maar dit is wanneer Anne begin gesels, begin praat, dat haar soeke begin rigting kry. (Die roman ook.)
Die + en die voorganger
Die film is ’n opvolg op ’n TV-reeks gebaseer op Anne se liefdeslewe tot sy vir Sara ontmoet het. Anne+Lily, Anne+Janna, en nog ’n aantal plusse soos die reeks gevorder het.
Die reeks was ’n prettige kyk op die liefdeslewe van ’n jong lesbiese vrou wat ’n string monogame verhoudings na mekaar het – prettig maar nie diepgaande nie; wel baie gewild.
Die film is anders, die + ook. Hier word gekyk na die soekendes wat hulleself buite boksies vind.
Anne ontmoet fopdossers en word uitgedaag om self haar manlike sy aan te spreek of te ontdek. Sy is egter nie baie manlik nie, maar wanneer sy die loopplank betree, is dit ’n mooi beeld.
In hierdie vreemde spasie begin gesels sy met ’n trans man. Sy verhoognaam is Lou, maar in die film speel hy eintlik homself, Thorn de Vries. Die merke op sy lyf waar hy sy borste laat verwyder het, is steeds duidelik sigbaar en word deel van die storie.
Kan Anne dalk op hom verlief word? Sy is dan lesbies? Kyk maar self.
Anne+, die film, is veel dieper en verwikkeld as die reeks.
Die karakter Anne word gekonfronteer met veel groter vrae. Grootword is helaas nie bloot bedoel vir kinders nie. Ouer mense moet ook steeds leer hoe om groot te word.
Hoewel die TV-reeks lig en vermaaklik is, hoef ’n mens dit nie voor die film te kyk nie. Die film is heeltemal losstaande en geen kennis van die reeks is nodig om die film te geniet nie. Dit is wel lekker om van die karakters in die reeks weer raak te sien in die film. Veral Jip speel ’n belangrike, hoewel klein, rol in die film, maar ’n hele paar ander gesigte is herkenbaar. Jip word ’n radiopersoonlikheid in die film en haar sterk innerlike kompas maak ook dat sy op sekere tye Anne se agterent so ’n bietjie kan skop.
Die TV-reeks is dus opsioneel, maar ek beveel wel die film aan. Oumense soos ek het nog baie te leer.
Anne+ is heerlike vermaak. Die karakters is alledaagse mense en die filmwerk bring ’n onmiddellikheid na die kyker. Vele nabyskote van karakters wat min grimering dra, laat dit voel of ek kyk na mense wat ek in die straat kan raakloop. Sien ook Lara, ’n vriendin van my, se opmerking. Ek deel dit met haar toestemming.
Wel is daar ook mooi skote van Amsterdam, en wanneer die fopdossers optree, word die tonele geredigeer soos vir ’n musiekvideo.
Kyk die film. Ouers en ouer tieners behoort dit ewe veel te geniet, mits hulle gemaklik is met seks en kaal lywe.