Het SA rede om te hoop op ’n vrolike feesgety?

  • 0

Skaars was my vorige Nuusvinke-bydrae geplaas, toe geskied daar verdere verwikkelinge wat betref twee verwysings in die rubriek. Dit noodsaak ons om na dié kwessies terug te keer.

Die vernaamste een was ’n verwysing na die soms wankelrige verhouding tussen die ANC en een bepaalde ander party wat saam met hulle die regering van nasionale eenheid (RNE) uitmaak, naamlik die DA. Die ander kwessie was die EFF se steunverlies en daarmee saam in die besonder die rol wat die nuwe MK-party van oudpres Jacob Zuma gespeel het om die ANC te verswak en die EFF as derde grootste party te onttroon.

Ons hanteer laasgenoemde eerste, want die verwikkeling met betrekking tot die EFF het die meeste wenkbroue laat lig. Behóórlik laat lig, want wie sou só iets kon voorspel, soos dat die party se nasionale voorsitter, Dali Mpofu, hom by Zuma se MK sou aansluit? Dit gebeur toe teen alle verwagtinge in. Maar dit was slegs die oortjies van die seekoei, want wat terselfdertyd bekend word, is dat Mpofu voor die Mei-verkiesing vanjaar ’n plan voorgelê het waardeur die EFF met MK en ander (linkse) partye sou saamsmelt – met Zuma wat dan as leier sou optree.

Hiervoor was “opperbevelvoerder”, oftewel “commander in chief” van die EFF, Julius Malema, amper vanselfsprekend nie te vinde nie. Wat is hierdie nonsies dan nou, het hy gemeen, aangesien hy die EFF ná sy skorsing uit die ANC opgebou het tot ’n prominente speler in die Suid-Afrikaanse politiek. En wie onthou nie hoedat hy en sy mede-leiersfigure in die EFF teen Zuma en sy staatskaping-sondebokskap uitgevaar het nie? Dit kon dus net ’n bose plan wees van sy voormalige “broeder”, Floyd Shivambu, wat die EFF geskok het met sy “oorlopery” na die Zuma-party en dae gelede as dié se sekretaris-generaal aangestel is.

Die ironie is dat Shivambu die vergadering namens Malema bygewoon het waar Mpofu se groot plan vir ’n verenigde linkse opposisiefront voorgelê is. Hiervoor het Shivambu ewe nee gesê, vertel Malema in ’n onderhoud oor Mpofu. Maar dat Mpofu – wat as ’n senior advokaat namens Zuma opgetree het in al sy staatskaping- en bedrogsake, asook sy moeilikheid met die Konstitusionele Hof – óók die EFF sou verlaat nadat Shivambu padgegee het, dié moes vir Malema gevoel het asof sy mondskerm met ’n verlinkse-haakhou in ’n boksgeveg uitgeslaan word.

Nou is Zuma se MK-strategie nie slegs gemik teen, soos hy dit graag stel, “die ANC van Cyril Ramaphosa” nie. Die politieke kannibaal wat hy net minder as ’n jaar gelede aan die land bekend gestel het, lek nou ook sy lippe af vir Malema se ekonomiese vryheidsvegters.

Dit is ’n vorm van skaak (’n spel waarin Zuma heel bedrewe is) wat ons gerus met meer aandag moet volg, skryf ene Khumo Kumalo pas op Times Live:

With the slow gutting of the EFF and the growing internal conflicts within the ANC, Jacob Zuma would only aim to make both President Cyril Ramaphosa and Julius Malema concede defeat to the brilliance of the mind that is Zuma. We ought to establish motive, though much of it may come off as conspiracy. It is important we provide significantly greater thought to the political chess being played.

In sy kommentaar bó raak Kumalo dan aan nóg ’n saak wat ter sprake gekom het in my vorige artikel: die turbulensie in ANC-geledere wat voortspruit uit die party se 40% vertoning in die vorige verkiesing en wat in werklikheid vererger is deur die besluit om ’n RNE met die DA en ’n aantal agter-in-die-ry-partye te vorm. Spesifiek in Gauteng en in KwaZulu-Natal broei die onmin, terwyl Zuma soos ’n wafferse maatskappy wat op die Johannesburgse Aandelebeurs gelys is, vyandige oornames uitvoer.

Dit hou implikasies in vir die ANC, EFF, sowel as die politieke toekoms van die land. Reeds word daar groot gewag gemaak daarvan dat die ANC in 2027 sy volgende verkiesingskonferensie hou en dat dit ’n einde sal bring, soos grondwetlik bepaal, aan Ramaphosa se twee termyne as ANC-leier. Of dit gaan beteken dat hy ook onseremonieel, kamstig in die belang van opvolgbeplanning, uit sy amp as staatshoof verwyder gaan word, is iets waarvoor RNE-vennote sal bid dat dit nie moet gebeur nie.

Maar die weë in die binnewerkinge van die ANC is die meeste van die tyd duister vir buitestanders – en soms ook vir diegene wat hulself aan die binnekant bevind. Die politieke kommentator Oscar van Heerden, wat geen geheim maak van sy ANC-kaderskap nie, het in sy boek Is the party over? (Jacana Media) voor 29 Mei se verkiesing vier scenario’s geskets vir ná die verkiesing. Eenvoudig gestel:

  • Die een (mees onwaarskynlike een) was dat die ANC op eie houtjie probeer regeer, ten spyte van sy lae steun, en jy dan ’n sogenaamde “hangende parlement” sou hê, waar geen besluite deurgevoer kan word nie.
  • ’n Ander een dat die ANC ’n naelskraapse meerderheid wen en dan sorg vir ’n “stabiele krisis”.
  • Nóg een (’n skrikwekkende vooruitsig vir baie mense) was dat die party met die EFF ’n koalisie sou vorm, wat ’n “populistiese draai” sou baan na “populistiese beleid” om die mag te behou.
  • Die vierde scenario is die naaste aan die een wat die ANC toe gekies het: Van Heerden het dit geskets as ’n moontlike “ANC-DA-koalisie” wat sou sorg vir ekonomiese groei en besliste besluitneming in die parlement. Maar dit sou ook vir die ANC ’n klomp moeilikheid op die hals haal, soos nou duidelik is, onder meer by wyse van struwelinge in sy alliansie met die SAKP en Cosatu.

Hierdie skuif deur Ramaphosa dra egter ook vrugte of bied “oorlewingsuurstof” aan sy party, want die DA- en ander RNE-ministers van ander partye se ingesteldheid tot doelgerigte dienslewering en letterlik ’n gehaas na resultate oplewer, gee ’n besonderse indruk van sy regering as ’n effektiewe, werkende een. Dit moet in sy guns tel.

Die koppestampery waarna in die vorige bydrae verwys is oor wie dan nou die eintlike “baas op die RNE-plaas” is, blyk tydelik in die kiem gesmoor te wees. Ook eers nadat Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, die DA se stel afgetrap het deur sy stelling dat hulle welkom is om die RNE te verlaat indien hulle dit goeddink oor, onder meer, ongelukkigheid betreffende die sogenaamde Bela-wet oor basiese onderwys. Hulle is nog binne en daar is nie enige aanduiding dat hulle dit wel ernstig oorweeg om te onttrek nie. Mag is krag en dit is wat ministeriële verteenwoordigers van ander partye in die RNE-kabinet ook nou geniet. Om sommer daarvan afskeid te neem gaan ’n swaar pil wees om te sluk.

Maar die MK- en EFF- en ander sogenaamde “progressiewe koukus”-wolwe lê en wag in die woud om hul opportunistiese verskyning te maak wanneer die eerste werklike krake in die RNE gaan begin wys. Hulle sal voorgee dat hulle ingryp namens die massas arm mense, wat kwansuis nie behoorlik deur Ramaphosa en vennote in ag geneem word nie, ter wille van die ekonomiese groei wat juis moet sorg dat daar behoorlike maatskaplike verligting vir die afgeskeeptes kom.

Ons het rede om uit te sien na ’n vrolike feesgety, wat omtrent ’n maand van nou af aanbreek, gestroop van die onsekerheid van ses maande gelede.

Lees ook:

Wie’s baas op die RNE-plaas?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top